HOOP WAT ‘N VERSKIL MAAK

alternate textOns het die afgelope paar weke probeer om ons eie verstaan van die dood meer in lyn te bring met die Skrif se voorstelling van hierdie gebeurtenis wat so ‘n wesenlike deel van ons bestaan hier op aarde uitmaak. Ons het gaan kyk na hoe ‘n mens behoort te dink aan die periode tussen die dood van ‘n gelowige en die dag van sy opstanding. Ons het ‘n duidelike patroon in die Skrif ontdek dat dit waarna die gelowiges nog altyd, regdeur hulle aardse lewe, die meeste uitgesien het en dit waarmee hulle die meeste bemoedig en versterk is, was daardie onbeskryflike Dag van die opstanding – ‘n dag waarvan die Skrif sê: “Daar word gesaai in verganklikheid, maar daar word opgewek in onverganklikheid” (1 Kor 15:42). En verlede week het ons by die gebed van Bileám stilgestaan, “Laat my tog die dood van die opregtes sterf”. Dis ‘n gebed wat onder meer behels dat ons by Yahweh pleit dat Hy ons by die plek sal uitbring waar ons, voordat ons te sterwe kom, dít in ons lewe kan regstel, wat nog nie reg is nie. Verhoudings wat nog nie in plek is nie, gesindhede wat nie die gesindheid van die Messias weerspieël nie, groei in sekere areas van ons lewe wat nog nie behoorlik plaasgevind het nie, ons harte wat nog nie volkome op Yahweh gerig is nie – enige aspek waarvan die Gees van Yahweh ons ook al mag oortuig, wat mag veroorsaak dat ons nie ten volle gereed is vir die dag van ons dood nie.

Een van die merkwaardige gedeeltes waarna ons verlede week gekyk het, was Ps 71:3,5,6 en 7: “Yahweh, U is my rots, U is my verwagting, U is my lof en U is my toevlug”. Die Hebreeuse woord vir “verwagting” in hierdie gedeelte is “tikvah” – ‘n woord wat dikwels ook met “hoop” vertaal word. Hierdie besonderse woord kom van “kavah” wat letterlik beteken: “to bind together, to intertwine, to collect and to gather.” Om te hoop, lê nie net op die onsigbare vlak nie. Ons kan aan hoop dink as ‘n gevlegte koord of ‘n tou wat ons aan die saak verbind waarop ons ons hoop geplaas het. Dit kan nie sommer verbreek word nie. Hoop is nie net iets wat losserig en vaagweg in die lug bly hang nie. Hoop is ‘n verbindingskoord tussen ons en die realiteite van die toekoms wat op Yahweh se beloftes gebaseer is. In die boek Joshua (hoofstuk 2) word beskryf hoedat Ragab die twee verspieders met ‘n koord teen die mure van Jerigo laat afsak het. Die woord vir “koord” in daardie hoofstuk is “tikvah” – dieselfde woord wat op baie ander plekke vir “hoop” gebruik word. Die merkwaardige is dat hierdie koord letterlik Ragab se hoop verteenwoordig het – die hoop en die verwagting dat wanneer die Israeliete Jerigo sou inneem, hulle haar en haar mense se lewens sou red. Sy het ook ‘n koord gehad om aan vas te hou – nes die verspieders. In die tussentyd moes sy wag en stil wees en vertrou. Dit is wat HOOP vir haar beteken het. Maar die koord was die waarborg dat haar lewe gered sou word. En dit is wat uiteindelik gebeur het: die koord van hoop het gemaak dat sy nie net gered is nie, maar saam gevleg is in die stamboom van die Messias en die familie van Elohiem! Die Skrif dui aan dat Ragab die moeder van Boaz was, en Boaz was Obed (of Oved) se pa, Isai (of Yieshai) se oupa en Dawid se oupagrootjie!

Die tweede voorgestelde leesstuk vir hierdie week is 1 Kon 19. In hierdie gedeelte lees ons van Elia se diepe depressie toe hy ná die oorwinning oor die Baál profete onder ‘n besembos gaan sit het en gewens het dat hy mag sterf. ‘n Mens kry die idee dat hy net ‘n punt bereik dat alles vir hom te veel geraak het en hy sy HOOP totaal verloor het. Maar Yahweh het hom nie uitgelos nie. Op een stadium verskyn Yahweh aan hom op verskillende maniere: Eers in ‘n wind, toe in ‘n aardbewing en toe in ‘n vuur. In hierdie drie verskynings is daar ‘n teenstrydigheid: Daar word vir ons aan die een kant gesê dat Yahweh in of deur hierdie drie elemente aan Elia verskyn het, maar aan die ander kant staan daar na elke verskyning: in die wind, en in die aardbewing en in die vuur, was Yahweh NIE. Die punt is, Yahweh was dáár, maar Elia kon Yahweh nie sien of beleef nie. Sy gemoed was te laag. Sy hoop was aan skerwe. Daar was te veel wasigheid en donkerte rondom hom. En net soos ons ook dikwels in sulke tye, kon Elia net nie met Yahweh konnekteer nie. Maar dan lees ons in 1 Kon 19:12 dat Elia ná die drie elemente die gesuis van ‘n sagte koelte beleef het (Engels: “a still small voice”) en toe is dit asof daar ‘n deurbraak kom. Toe hoor hy uiteindelik die stem van Yahweh en hy skep moed oor die 7000 wat in Israel agtergebly het en nie die knie voor Baál gebuig het nie.

Wat is dit in die gesuis van die sagte koelte wat so ‘n drastiese verskil by Elia gebring het? Nie eers ‘n bonatuurlike aardbewing kon hom tot verhaal bring nie, maar “a still small voice” maak die wêreld se verskil! Wat was in daardie gesuis, daardie byna onhoorbare ritseling wat rondom hom plaasgevind het? Volgens die Hebreeuse teks weet ons dit was ‘n geluid wat Elia gehoor het, maar die geluid word met twee woorde beskryf wat nie maklik is om te vertaal nie. Die een woord is “demamah” wat afkomstig is van die woord “damam” wat beteken: “to stop, to cease, to be astonished, to be quiet, to wait.” Hier het ons weer die aspek van stil wees, en wag. Dieselfde woord “damam” kom in Psalm 62:5 voor: “Wees net maar stil (damam) tot Elohiem, my siel, want van Hom is my verwagting (tikvah)!” Dis net as ‘n mens stil word dat jy die sagte geluid van Yahweh se stem kan hoor en weer jou “tikvah”, jou hoop en jou verwagting kan terugkry!

Ps 71:5 “Want U is my verwagting (tikvah), Meester Yahweh, my vertroue van my jeug af.” Dis to snaaks hoe ‘n mens in jou donker tye dikwels vergeet hoe getrou Yahweh nog altyd was – van jou jeug af – en hoe Hy nog altyd, keer op keer op keer, uitkoms op die regte tyd gebring het.

Spr 23:18 “Waarlik, daar is ‘n toekoms, en jou hoop (tikvah) sal nie verydel word nie.” Daar is dinge wat ons hoop maklik kan vertroebel of laat vervaag, soos teleurstelling, terugslae en veral die negatiewe gedagtes wat teleurstelling by ons ontketen. Geloof beteken om hierdie gedagtes te weerstaan en die koord van hoop weer met albei hande vas te gryp!

Jer 29:11 “Ek weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, sê Yahweh, gedagtes van vrede en nie van rampspoed nie, om julle ‘n hoopvolle toekoms te gee.” Hoe dikwels hoor ‘n mens nie dat gelowiges hierdie vers aanhaal in hulle tye van nood nie. Wat ons egter dikwels uit die oog verloor, is wat net daarna staan, in Jer 29:13: “Julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart.” Om werklik te kan hoop, moet ons harte nie op ‘n ander plek as by Yahweh wees nie!

Jer 31:16-17 “Bedwing jou stem van geween en jou oë van trane … jou nakomelinge sal uit die land van die vyand terugkom – daar is ‘n verwagting (tikvah) vir hulle.” Die hoop en die verwagting wat Yahweh gee, is net so ‘n werklikheid en net so ‘n wesenlike deel van ons lewe as gelowiges, as die werklikheid van hartseer en trane.

Hos 2:14-15 “Ek sal haar lok en haar in die woestyn lei en na haar hart praat … en vir haar die dal (letterlik “diepte”) van Agor (letterlik “swaarkry”) gee as ‘n deur van hoop (tikvah).” Die groot voordeel wat dit inhou as ‘n mens Yahweh beter leer ken, is dat jy stelselmatig leer om in te sien dat daar in die woestyn, in die dieptes en swaarkry en donker tye, altyd ‘n deur van hoop is!

Rom 4:18 “Avraham het teen hoop op hoop geglo dat hy (volgens die woord van Yahweh) die vader sou word van baie nasies.” Een van die vernaamste eienskappe van hoop is dat dit op geloof gebou is en dat geloof ‘n bewys is van die dinge wat ons nie kan sien nie. Ons hoef nie voorspoedig te wees, geld te besit, sigbare bewyse te hê of tekens te sien om te kan hoop nie. (Rom 8:24 Ons is gered in hoop; maar die hoop wat gesien word, is geen hoop nie; want wat iemand sien, waarom hoop hy dit nog?)

Kol 1:4-5 “Ons het gehoor van julle geloof in die Messias Y’shua en julle liefde tot al die afgesonderdes, vanweë die hoop wat vir julle weggelê is in die hemel … wat julle sowel as die hele wêreld bereik het; en dit dra vrug.” Hierdie vers bevestig dat die hoop wat vir ons in die hemel weggelê is en soos ‘n skat ontsluit sal word op die Dag van die opstanding, die enkele grootste faktor is wat ons gedrag as gelowiges hier op aarde dikteer en beïnvloed. Ons kan sterk wees in beproewing omdat daar vir ons ‘n hoop weggelê is in die hemel. Ons kan ons geloof in die Messias behou, omdat daar vir ons ‘n hoop weggelê is in die hemel. Ons kan ons medegelowiges, die afgesonderdes, liefhê omdat daar vir ons ‘n hoop weggelê is in die hemel. En ons kan binne en buite seisoen vrug dra in hierdie wêreld, omdat daar vir ons ‘n hoop weggelê is in die hemel! Dit het absoluut noodsaaklik geword dat ons nie meer net aan hoop dink en daaroor praat en daarvan lees nie, maar dat ons dit met albei hande vasgryp, soos wat ‘n mens ‘n tou vasgryp, en dat ons hierdie tou gebruik om teen die hindernisse uit te klim wat besaai lê oor die pad wat ons in hierdie wêreld moet loop.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »