DIE DOOD VAN ‘N GELOWIGE

alternate textElke keer as ‘n mens ‘n doodstyding hoor of met ‘n familie in aanraking kom wat van ‘n geliefde moes afskeid neem, besef jy hoe broos en verganklik die mens is en hoe onafwendbaar die dood is. Daar is nie nog ‘n gebeurtenis in ons verwysingsraamwerk wat só ‘n groot impak maak op ‘n mens se emosies en jou totale mens-wees, as die dood van iemand wat jy geken en liefgehad het nie. Daar is ook niks in hierdie lewe wat jou werklik kan voorberei vir die intense pyn en die onmeetbare gevoel van verlies as iemand naby aan jou skielik nie meer dáár is nie. Tog is daar nie heeltemal niks wat ‘n mens kan doen om jou vir die dood van ‘n dierbare voor te berei nie. Ek het die afgelope tyd opnuut weer besef dat die dood ‘n wesenlike deel van ons bestaan is en dat ons heeltemal te min met mekaar oor die dood praat. Om die onderwerp van die dood te vermy, gaan niemand help om hom- of haarself vir die dood van ‘n geliefde voor te berei nie. Maar die heel belangrikste rede waarom ons nie oor die dood behoort te swyg nie, is omdat die Skrif nie oor die dood swyg nie.

Die Skrif laat ons nie in die duister oor die dood nie. Die Skrif stuur ook nie verwarrende boodskappe oor die dood uit nie. Natuurlik weet geen lewende mens presies wat daar aan die anderkant van die dood gebeur nie, maar die Skrif sê vir ons genoeg oor hoe ons as gelowiges na die dood moet kyk en hoe ons aan ons geliefdes moet dink wat deur die dood van ons weggeneem is. Die groot vraag is of ons siening van die dood in lyn is met die Skrif se siening van die dood. Is dit waarop ons ons hoop plaas, dieselfde as waarop die vroeë volgelinge van die Messias hulle hoop geplaas het? En dit waarin ons ons troos en versterking vind wanneer iemand deur die dood van ons weggeruk is – is dit in lyn met die Woord? Troos ons mekaar met waarhede wat op die Woord gebaseer is of troos ons mekaar met wanvoorstellings oor die dood? Dit sal jammer wees as ons ons troos probeer vind in idees wat nie klop met die leer van die Skrif nie. Dis nie die soort troos wat ons as gelowiges soek nie, want dis net die waarheid wat ‘n mens kan vrymaak. Dis ook net die waarheid wat jou emosionele wonde van rou oor die dood kan genees.

Die grootste kopskuif wat ons almal oor die dood behoort te maak, is dat ons nie moet dink dat ‘n gelowige wat gesterf het, nie regtig gesterf het nie. Dat gestorwenes onmiddellik ná hulle dood hier op aarde in die hemel verder lewe en besig is met dinge soos sing en dans, terwyl hulle bewus is van alles waarmee ons nog hier op aarde besig is. Dit is nie wat die Skrif oor die gestorwenes sê nie. Mense wat gesterf het, ook gelowiges, gaan in ‘n toestand in wat meer as 60 keer in die Skrif met die woord “slaap” beskryf word. Meer as 60 keer – in die Ou Testament en die Nuwe Testament! In Afrikaans word die woord “ontslaap” dikwels gebruik, maar dis dieselfde woord as “slaap”. As jy sterf, slaap jy. Na jou afsterwe is jy nie bewus van wat rondom jou of op ander plekke gebeur nie. Die wat gesterf het en nog nie opgestaan het nie, kan Yahweh nie loof nie (Ps 6:5; Ps 30:9; Ps 115:17). Jy gaan in die rus in van ‘n diepe slaap waarin jy van geen tydsverloop, geen emosie en geen aardse gebeurtenis bewus is nie. As jy sterf as gelowige in die Messias, gaan jy opgewek word wanneer die Messias weer kom en met Hom verenig word om daarna vir altyd by Hom te wees (1 Tes 4:15-17). In daardie sin is hulle wat in die Messias gesterf het, beter daaraan toe as die wat nog lewe. Hulle hoef nie te wag vir sy koms nie. Hulle hoef nie nog uit te hou en swaar te kry tot by sy koms nie. Hulle gaan in ‘n diepe slaap in en die volgende waarvan hulle bewus is, ná die benoudheid van hulle eie dood, is die onbeskryflike gebeurtenis van hulle eie opstanding uit die dood, die bekleding met ‘n onverganklike liggaam en die vereniging met hulle Meester, Y’shua. Dit is wat Shaúl bedoel as hy sê dat vir ‘n gelowige wat swaarkry, is die sterwe wins en iemand wat swaarkry kan werklik verlang om heen te gaan en met die Messias te wees – nie op die oomblik as hy sterf nie, maar op die oomblik as die Messias weer kom en daardie gelowige uit sy doodslaap opgewek sal word

Wat is ons grootste versekering as gelowiges in die lig daarvan dat ons weet dat niemand van ons “mag het oor die dag van ons dood nie” (Pred 8:8)? Die Skrif het op hierdie vraag net een antwoord. Ons versekering is dat Y’shua die dood oorwin het en dat Hy vir ons ook oorwinning oor die dood moontlik gemaak het. Watter soort oorwinning? Dieselfde soort oorwinning wat Hy beleef het, naamlik die opstanding uit die dood. Hy was die eersteling uit die dood (1 Kor 15:20,23; Hand 26:23; Kol 1:18). Hulle wat in Hom glo, sal die res van die oes van opstandelinge uitmaak. ‘n Eersteling is die waarborg dat daar nog baie sal kom. Ons sal uit die dood wakker word, soos wat Hy uit die dood wakker geword het. 1 Kor 6:14 sê dat dit Elohiem is wat Y’shua opgewek het en dat Hy ons ook sal opwek deur sy krag. 2 Kor 1:9 sê dat ons vertroue nie op enigiets van onsself moet wees nie, maar op Elohiem wat die dode opwek. Die dissipels se verstaan was dat Lasarus opgewek sou word met “die opstanding op die laaste dag” (Joh 11:24). Shaúl se hoop was daarop gevestig dat hy die toekomstige opstanding uit die dood kon bereik, nie die oombliklike verplasing hemel toe ná sy dood nie (Fil 3:11). Toe hy in Hand 23 voor die Joodse Raad moes verskyn het hy vir hulle gesê dis oor die hoop op die opstanding uit die dode dat hy voor hulle verskyn (vers 6). In 2 Tim 2:18 sê hy dat mense wat verkondig dat die opstanding alreeds plaasgevind het (of elke keer plaasvind as iemand sterf), keer die geloof van sommiges om. Kefa (Petrus) skryf dat wedergeboorte beteken dat ‘n mens ‘n lewende hoop ontvang wat op die fondament van Y’shua se opstanding gebou is (1 Pet 1:3). Dan 12:13 beskryf dat as jy sterf, dan rus jy en jy sal weer opstaan, aan die einde van die dae, en so jou bestemming bereik. By hierdie verse kan ons nog baie ander ook byvoeg, wat almal bevestig dat ons as gelowiges die dood tegemoet kan gaan met die wete dat ons opstanding uit die dood gewaarborg is, omdat Y’shua uit die dood opgestaan het. Wanneer ons gelowige maat of geliefde van ons weggeneem is deur die dood, is ons grootste enkele troos die feit van die opstanding wat sal plaasvind wanneer Y’shua weer kom.

In Jes 25:8 word geprofeteer dat Yahweh die dood vir ewig sal vernietig, en dat Hy al die trane van die gesigte van sy volgelinge sal afvee. Het hierdie profesie al in vervulling gegaan? Nee, dit het nie. Die dood is nog met ons. Daar is nog steeds baie trane wat hier op aarde gestort word. Maar Y’shua se opstanding is die waarborg en die bewys dat hierdie profesie nie leë woorde is nie en dat daardie dag beslis gaan kom. Daarom staan daar in die volgende vers, Jes 25:9: “En hulle sal in daardie dag sê: Kyk, dit is onse Elohiem op wie ons gewag het, dat Hy ons kan verlos; dit is Yahweh op wie ons gewag het: laat ons juig en bly wees oor Hom.”

In 1 Kor 15 tref ons die bekende woorde aan: “Dood, waar is jou oorwinning, dood waar is jou angel?” (vers 55). Hoe dikwels hoor ‘n mens nie dat hierdie woorde aangehaal word om te “bewys” dat die gelowiges vir alle praktiese doeleindes “oorstap” vanuit die dood na die lewe toe nie. Maar dis glad nie wat 1 Kor 15 sê nie! Wanneer gaan hierdie woord van 1 Kor 15:55 vervul word? Die antwoord word gegee in die vorige vers, vers 54: “Wanneer hierdie verganklike (mens) met onverganklikheid beklee word en hierdie sterflike (mens) met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskryf is: Die dood is verslind in die oorwinning.” Word ons met onverganklikheid beklee op die dag as ons sterf? 1 Kor 15 se antwoord is ‘n duidelike NEE. Ons sal met onverganklikheid beklee word op die dag as Y’shua weer kom. 1 Kor 15:51-52 “Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word.” 1 Kor 15:22-23 “Soos (die gelowiges) in Adam sterf, so sal hulle ook almal in die Messias lewend gemaak word … volgens ‘n bepaalde orde: as eersteling die Messias, daarna die wat aan die Messias behoort by sy koms.”

Die voorgestelde Messiaanse leesstuk saam met hierdie week se Parashah is Joh 19 – die hoofstuk wat Y’shua se dood beskryf. Ons weet almal hoe absoluut sentraal Y’shua se dood vir ons geloof en ons verstaan van die Woord is. Het Y’shua werklik gesterf of was sy dood “anders”, of dalk “ligter”, as dit wat ons met ons eie dood sal beleef? Dis nie eens nodig om te probeer antwoord nie. Y’shua se dood was eerder swaarder as wat ons ooit sal ken. Het Y’shua ook na daardie “plek” gegaan wat as die “doderyk” bekend staan toe Hy gesterf het? Verseker. Kefa (Petrus) se verstaan was dat Yahweh sy Seun se siel nie in die doderyk agtergelaat het nie en Hom daarom laat opstaan het (Hand 2:27-31). Y’shua se eie verstaan was dat hy met sy dood die sleutels van die doderyk in besit geneem het (Openbaring 1:18). Matteus se verstaan was dat Y’shua drie dae en drie nagte “in die hart van die aarde” was (Mat 12:40). Y’shua het nie op strate van goud gaan dans toe Hy gesterf het nie. Hy was nie in die paradys nie. Nog nie. Hy het gesterf soos ander mense sterf en is na drie dae opgewek. Daarom is dit duidelik dat Hy nie vir die misdadiger langs Hom gesê het nie: Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die paradys wees. Nee, die komma moet een woord aangeskuif word: Ek sê vir jou vandag, jy sal saam met My in die Paradys wees. Ons is dit aan mekaar verskuldig as broers en susters om nie stil te bly oor wat die Skrif werklik oor die dood sê nie. Ons is dit aan mekaar verskuldig om nie ons broers en ons susters te troos met mites en idees wat nie uit die Skrif kom nie. Die allesoortreffende verwagting van die eindtyd opstanding van die gelowiges is een van die mees sentrale boustene van ons geloof. Ons is dit aan mekaar verskuldig om nie ‘n streep hierdeur te trek wanneer ons mense wat vir ons kosbaar is, probeer onderskraag wanneer hulle in hulle donker tyd van hartseer en rou probeer oorleef nie. Veral in só ‘n tyd, is dit net die waarheid wat werklik kan vrymaak en net egte hoop wat werklik kan troos!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »