DIE DOOD VAN DIE OPREGTES

alternate textBielám of Bileam is een van mees omstrede karakters in die Skrif. Hy was nie deel van die volk van Israel nie en sy naam beteken letterlik: “nie deel van die volk nie”. Die bekende Joodse historikus Philo het die volgende oor Bielám te sê gehad: “a man renowned above all men for his skill as a diviner and a prophet, who foretold to the various nations important events, abundance and rain, or droughts and famine, inundations or pestilence.” Daar is kommentators wat meen dat Bielám op ʼn stadium die koning van Edom was. Bielám was die seun van Beór en in Gen 36:32 lees ons dat ʼn sekere Bela, seun van Beór, die koning van Edom was. Dit kan wees dat die naam “Bela” (wat byna net soos “Bielám” gespel word) eintlik Bielám moes gewees het. Beide in die Skrif en in die Joodse literatuur word daar soms baie negatief oor Bielám gepraat. In die Joodse literatuur word hy uitgewys as “a man with an evil eye, a haughty bearing, and a greedy spirit.” 2 Pet 2:15 sê dat Bielám die loon van die ongeregtigheid (of onregverdige wins) liefgehad het. Judas 1:11 sê dat daar mense was wat die gemeenskap van gelowiges binnegedring het en hulleself in die verleiding van Bielám gestort het deur die guns van Yahweh in ongebondenheid te verander. ‘n Mens sien dieselfde gees nog duidelik aan die werk vandag. In baie kringe word die aspek van guns en genade só opgehemel, en die Torah só afgebreek en verkleineer, dat dit grens aan ongebondenheid. En só word derduisende mense nog steeds verstrengel in “die verleiding van Bielám”. Dit is egter ‘n tema vir ‘n ander dag.

Die perspektief van Numerie 22, 23 en 24 is dat Yahweh met Bielám gepraat het en dat Bielám, minstens in sommige opsigte, na die stem van Yahweh geluister het. Daarom kan ons ook leer uit sommige van die dinge wat Bielám in hierdie drie hoofstukke gesê het. Uitsprake soos hierdie: Al bied die koning vir my ‘n huis vol silwer en goud aan, ek kan nie die bevel van Yahweh oortree nie (Num 22:18); As die pad wat ek geloop het, verkeerd is in Yahweh se oë, sal ek terugdraai en dit regstel (Num 22:34); Slegs die woord wat Elohiem in my mond lê, sal ek praat (Num 22:38); Ek mag niemand vloek en verwens wat Yahweh nie vervloek en verwens het nie (Num 23:8); Elohiem is geen man dat Hy sou lieg nie … sou Hy iets sê en dit nie doen nie? (Num 23:19); As Yahweh seën, kan ‘n mens dit nie keer nie (Num 23:20) en Geseënd is hulle wat jou seën, Israel, en vervloek is hulle wat jou vervloek (Num 24:9).

Daar is nog ‘n uitspraak van Bielám wat absoluut die waarheid is en waarby ek graag wil stilstaan vandag. Num 23:10: “Wie het die stof van Yaákov getel? En wie, ooreenkomstig getal, die vierde deel van Yiesraél? Laat my die dood van die opregtes sterf, en laat my einde soos syne wees!” Yaakov en Israel word hier met die “opregtes” vereenselwig en dit stem ooreen met die boodskap van die res van die Skrif dat dit nog altyd Yahweh se plan was om die ware Israel só te vermeerder en uit te brei dat dit uiteindelik al die opregtes sou insluit en dat die getal van hierdie opregtes so ontelbaar soos die stof van die aarde sou wees. ‘n Mens dink hier byvoorbeeld aan Openbaring 7:9, “Na hierdie dinge het ek gesien, en kyk, daar was ‘n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale; hulle het gestaan voor die troon en voor die Lam, bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande.” Binne hierdie konteks het die woorde, “Laat my die dood van die opregtes sterf”, besonderse betekenis.

Wat bid ‘n mens as jy vra: Laat my die dood van die opregtes sterf? Daar is meer as een manier hoe ‘n mens hierdie vraag kan antwoord, maar daar is een aspek wat ek graag wil uitlig. As ‘n mens hierdie gebed bid, vra jy onder meer dat Yahweh, voordat jy te sterwe kom, in jou lewe DIT tot stand sal bring wat nog nie reg is nie en wat nog nie in plek is nie en wat nog nie in lyn met sy Woord is nie. In hierdie sin is daar in almal van ons ‘n NOG-NIE aspek teenwoordig. Daar is areas in ons lewens waar ons nog nie volkome voldoen aan die model van die opregtes nie. Dis nie te sê dat ons die dood met onsekerheid tegemoet gaan nie. Dis ook nie te sê dat ons hoop op die opstanding en die ewige lewe net ‘n halwe of ‘n voorwaardelike hoop is nie. Nee, ons hoop is volkome, want dis nie op onsself gefokus nie, maar Op Yahweh wat getrou is. En ons fondasie is onwankelbaar, want dis die fondasie van die apostels en die profete en die hoeksteen van die fondasie is Y’shua die Messias. Maar in ons hoop en ons voorbereiding vir die toekoms is daar geen ruimte vir valse gerustheid, selfregverdiging en “complacency” nie. Ons wil nie maande en jare voor ons dood terugsit in ons gemakstoele en vir onsself sê: “Jy het goed gedoen vir jouself en die toets van die opregtes geslaag nie.” Nêrens in die Skrif word só ‘n houding aangemoedig op goedgepraat nie. Daar is altyd nog areas waarin ons moet groei. Daar is nog meer in die geloof ingebou as dit wat ons dink of dit wat ons op die oomblik weet. Die vraag of iemand die dood van die opregtes binnegaan, word nie bepaal deur wat hy twee jaar of twee maande of twee dae voor sy dood gedoen en bely het nie, maar deur dit wat hy of sy tot reg aan die einde mee besig was en aan vasgehou het.

Van watter soort dinge praat ons hier? Wat is dit wat ons moontlik NOG NIE gedoen het, of bereik het of voltooi het nie? Watter areas van ons geloof is moontlik NOG NIE in pas met die geloof van die opregtes nie, as ons die Skrif as ons enigste kriterium neem? Kom ons kyk na ‘n paar sulke moontlikhede.

Wayiekkra (Lev) 26:18 “En as julle dan NOG NIE na My luister nie, sal Ek voortgaan om julle sewevoudig weens julle sondes te tugtig.” Dit kan wees dat ons nog nie geleer het om behoorlik na die stem van Yahweh te luister nie. Daar is ‘n kommerwekkende neiging onder gelowiges om te bely dat hulle net wil doen wat Yahweh sê, maar dan wag hulle om sy stem op vreemde maniere te hoor. Dis asof hulle dit net nie reg kry om eenvoudig te luister na sy woorde wat alreeds in die Skrif opgeteken is nie. Natuurlik is daar dinge wat moeilik is om te verstaan. Maar kom ons doen die dinge wat helder en duidelik uit die Skrif na ons toe kom. Dit is een van die beste maniere om seker te maak dat ons die dood van die opregtes sal sterf.

Devariem (Deut) 12:9 “Want julle het NOG NIE gekom in die rusplek en in die erfenis wat Yahweh jou Elohiem jou sal gee nie.” Daar kan verskeie redes wees waarom ons ook moontlik nog by die rusplek uitgekom het wat ons Vader vir ons wil gee nie. Daar kan ‘n broeiende, langdurige onrus in ons wees wat met verhoudings te make het wat skeef geloop het. Daar kan ‘n onrustigheid in ons wees wat gebore is uit die feit dat ons nog nie geleer het om ons hoop volkome op Yahweh te plaas nie (Ps 42:11 Wat buig jy jou neer, o my siel, en wat is jy onrustig in my? Hoop op Elohiem …!). Daar kan ‘n onrustigheid in ons wees wat met verwarring oor sekere aspekte van die geloof te make het (Ps 55:2 Luister na my en verhoor my; in my onrus dwaal ek rond en is verward). Of daar kan ‘n onrustigheid in ons wees omdat ons uitskreeu na aardse skatte en nie na die vrees van Yahweh nie (Spr 15:16 Liewer ‘n bietjie in die vrees van Yahweh, as ‘n groot skat en onrus daarby).

2 Kron 20:32-33 “En hy (Yahushafat) het … gedoen wat reg was in die oë van Yahweh. Net die hoogtes is nie afgeskaf nie: die volk het NOG NIE hulle hart op die Elohiem van hulle vaders gerig nie.” Dalk is dit van ons ook waar dat ons soos Yahushafat normaalweg doen wat reg is in die oë van Yahweh, maar dat ons nog nie ons harte volkome gerig op die Elohiem van ons voorlopers in die geloof nie. Dat ons Yahweh se aangesig soek, of die geheimenisse van die Woord probeer naspeur, oor hierdie of daardie rede, maar dat ons nog nie ons hele hart aan Hom oorgegee het nie. Dat sy opdragte nog nie ons harte verbly soos wat Psalm 19 sê nie en dat ons harte nog nie juig oor sy verlossing en sy guns soos Psalm 13 sê nie en dat ons harte nog nie bewoë raak oor Yahweh se woorde soos wat Psalm 45 sê nie.

1 Kor 3:1-2 “Ek kon met julle nie praat soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in die Messias. Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste kos nie, want julle was NOG NIE daartoe in staat nie.” Sommige gelowiges het al jare gelede die keuse van geloof gemaak, maar is eintlik nog klein kinders in die Messias. Hulle moet aanhoudend met melkkossies gevoed word. Hulle geestelike spysvertering kan nie vaste kos hanteer nie. Hulle belewenis van geloof is heeltemal van balans af en oordrewe op hulleself en hulle eie behoeftes en hulle eie emosies gefokus en ken nog nie die dimensie van “Yahweh, U is my rots, U is my verwagting, U is my lof en U is my toevlug” nie (Psalm 71:3,5,6 en 7). Hulle het nog nie die Messias (en die Skrif) se boodskap ten volle omhels van “Jy moet jou naaste presies net so lief hê soos wat jy jouself het” nie.

Kom ons begin vandag om die gebed te bid dat Yahweh vir ons die voorreg sal gun om die dood van die opregtes te sterf. En dat Hy deur sy Gees sal begin om die onvoltooide NOG-NIE areas in ons lewens een vir een uit te wys sodat ons hoop vir die toekoms werklik op die fondasie van sy Woord gebou kan wees en ons sekerheid, ‘n sekerheid in Yahweh en in sy Seun, Y’shua en nie ‘n soort sekerheid wat ons vir onsself – in desperaatheid – uitgewerk het nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »