DIE BELANGRIKHEID VAN TYD

alternate textDie Torah leesstuk van hierdie week sluit in die bekende Levitikus 23 waarin al die “moádei Yahweh” (die feeste of die vasgestelde tye van Yahweh) een vir een behandel word. In hierdie hoofstuk word die opdrag om die 50 dae tussen Ongesuurde Brode en Shavuot af te tel, ook gegee. Daar is minstens twee aspekte rakende die feeste in die algemeen, wat in hierdie hoofstuk na vore kom, wat vir ons geweldig belangrik is. (1) Die feeste is Yahweh se feeste, en (2) Die doel van die feeste is om ons te leer oor die belangrikheid van tyd. Die feeste word “moádei Yahweh” genoem: Yahweh se feeste. Nie opsionele feeste nie. Nie die Jode se feeste nie. Yahweh se feeste. Hoekom spesifiek Yahweh se feeste? Omdat daar tye is wat vir Hom belangrik is en wat Hy ingebou het in sy ontwerp vir hierdie wêreld. En Hy wil hê dat ons hierdie ontwerp, wat klem lê op die belangrikheid van tyd, moet leer ken en deel van ons lewens moet maak. ‘n Mens sien dit duidelik as jy kyk na die betekenis van die woord “moádei”, wat net ‘n ander vorm van “moád” en “moádiem” is. In die Strongs woordeboek word die volgende betekenisse aangegee: appointment, appointed time, established time, fixed time, solemn time, en season. Let op die herhaalde voorkoms van die woord “time”. Die feeste en die 50 dae aftelling van die Omer gaan oor tyd en die verstaan in die Skrif dat Yahweh se werke aan tye gekoppel word en dat ‘n mens eintlik nie kan sê dat jy Yahweh se werke omhels as jy nie ook sy tye kan omhels nie. En presies hóé belangrik hierdie vasgestelde tye in die Skepper se ontwerp vir die wêreld is, word geïllustreer deur die feit dat ons lees in Genesis 1:14 dat die Skepper op die VIERDE DAG van die skepping gesê het: “Laat daar ligte wees aan die lugruimte van die hemel (die son en die maan en die sterre), om skeiding te maak tussen die dag en die nag; en laat hulle dien as tekens sowel vir vasgestelde tye (moádiem), asook vir dae sowel as jare.”

Op die oomblik is die hele wêreld in ‘n seisoen waarin ons moet leer om met die uitdagings van ‘n wêreldwye pandemie saam te leef. Hierdie uitdagings strek oor baie fasette van ons lewe, maar die een faset wat nie een van ons kan ontduik nie, is die aspek van tyd. Ons tye en ons skedules en ons roosters lyk drasties anders as twee maande gelede. Ons werktye het verander, ons vrye tyd het verander, ons oefentye het verander, ons totale interaksie met die aspek van tyd het verander. Tyd is DIE grootste bepalende faktor in die besluite wat rondom COVID19 geneem word. Hoe lank moet mense in kwarantyn gehou word? Hoe lank gaan dit neem voordat die virus sy wyk neem? Hoe lank gaan dit vir die ekonomie neem om te herstel? Hoe lank voordat ‘n mens weer vrylik mag rondbeweeg? En hoe benut ‘n mens jou tyd sinvol? Sigarette en drank mag nie gekoop word nie (en mense wil slange vang daaroor), maar hoe koop ‘n mens die tyd uit? ‘n Mens kan glad nie meer sê: “Op so en so ‘n tyd gaan ek dit of dat doen nie.” Die Skrif praat van vasgestelde tye (“fixed times”) maar in hierdie pandemie tyd is “vasgestelde tye” en “fixed times” vir eers iets van die verlede. Geen tyd kan vasgemaak word nie. Niks is seker nie. Die Skrif praat van sekere dinge wat op die regte tyd sal plaasvind. Maar wat is deesdae die regte tyd? Almal wonder daaroor. Almal gis daaroor. En as gelowiges besef ons: Net Yahweh weet wanneer dit die regte tyd is … en boonop is ons tye in sy hand!

Ons is oor die halfpadmerk in die aftelling van die Omer, meeste van ons het baie tyd op hande en dit sal goed wees as ons in hierdie periode seker maak dat ons nie die geleentheid deur die vingers laat glip om, in die lig van die Woord, opnuut na te dink oor die betekenis van tyd nie. ‘n Rabbi met die naam, Joseph Soloveitchik, het êrens geskryf: “No fraction of time…should slip through the fingers, left unexploited; for eternity may depend upon the brief moment.” Die vraag is nie net hoe hanteer ons die onvervulde tye in ons lewe nie – die tye waarin dinge nie so vinnig gebeur soos wat ons gehoop het nie, die dae wat weke word; die weke wat maande word en die maande wat jare word. Die vraag is uiteindelik: Hoe hanteer ons elke “brief moment” van ons lewe? Het ons al werklik die kuns bemeester om die tyd uit te koop? Ons kla dikwels dat ons te min tyd het. Nou het meeste van ons tyd in oormaat. Kom ons gebruik die tyd om kwaliteit en integriteit (teenoor mense) en lojaliteit (teenoor Yahweh) by ons lewens te voeg. Kom ons gebruik dit met die oortuiging in ons harte: Eternity may depend on what I do with this brief moment! Die Hebreeuse verstaan van tyd is dat dit doelgerig is (met ander woorde: elke periode – hoe kort ook al – kan ingeruim word met met ‘n seker doel voor oë) en dat dit ryp in potensiaal is (met ander woorde: elke beskikbare periode – hoe kort ook al – is gelaai met onbeperkte moontlikhede, met voordele nie net vir jouself nie, maar ook vir ander).

Die tyd van die aftelling van die Omer strek vanaf Egipte tot by Sinai. Egipte staan vir binding en verslawing. Sinai staan nie net vir die wette en insettinge wat op die berg Sinai gegee is nie. Dit staan vir die seisoen van om deur Yahweh geleer te word en dat daardie lering (Hebreeus: Torah, afgelei van die woord “yarah” – to flow as water) soos ‘n stroom van lewende water in ons harte en ons verstand sal invloei, sodat ons gevul is met lewende water waarmee ons vir ander kan verfris en verkwik en versterk. In daardie sin is die tyd van die aftelling van die Omer ook ‘n “solemn time” en ‘n “appointed time” – dis ‘n tyd wat Yahweh self ingestel het, ‘n tyd van betekenis, ‘n tyd van doelgerigtheid – ‘n tyd wat bedoel is sodat ons die jukke van ons skouers kan afgooi, die gekla oor dinge waarvan ons nie hou nie, die verslaafdheid aan dinge wat nie veel beteken nie, die voortdurende vashaak by dinge – selfs geestelike dinge – wat ons nie kan naderbring aan Yahweh nie. Kom ons gebruik hierdie tyd om by Yahweh te leer – om ‘n groter eetlus vir sy woorde te hê, as ‘n eetlus vir kos. Kom ons gebruik hierdie tyd om die gewoontes en die leringe van Egipte af te skud. Gewoontes en leringe van mense, tradisies wat ons van kindsbeen af gehou het wat nie die toets van die Woord en van die Gees van Yahweh slaag nie.

Ons normale manier van dink oor tyd, is geweldig beperk. Ons hou van nature ons asems op sodat die einde van ‘n periode tog moet aanbreek. Kinders kan nie wag dat die tyd van presente kry moet aanbreek nie. Studente op skool en universiteit kan nie wag dat die einde van ‘n periode of die einde van die jaar moet aanbreek nie. Verwagtende vrouens en hulle mans kan nie wag dat die einde van die 9 maande aanbreek nie. Werkendes kan nie wag dat die dag van loon en salaris tog moet aanbreek nie. En as jy ‘n heerlike vakansie beplan het, kan jy nie wag dat die datum van vertrek tog moet aanbreek nie. Tyd is in daardie opsig vir ons soos ‘n uitgerekte, vervelige wagperiode wat gevolg word deur ‘n hoogtepunt en dan ‘n antiklimaks (omdat die hoogtepunt oor en verby is).

Dit lyk asof die Skrif met ‘n ander idee van tyd werk. Pesag en Ongesuurde Brode is ongetwyfeld een van die hoogtepunte van die jaarsiklus volgens die Skrif. Weke voor die tyd hou mense al asem op vir die aanbreek van Pesag. Weke voor die tyd word daar verwoed gespook om al die nodige voorbereidings vir Pesag te doen. Die dae en die weke word behoorlik afgetel. Maar wanneer begin die aftelling van die Omer? Die oomblik wanneer Pesag verby is. Wanneer ‘n mens normaalweg sou dink: Nou het ons klaar gewag en klaar getel – dan begin die volgende telling al weer. Waarom? Omdat dae aftel, in die idioom van die Skrif, nie ‘n manier is om vinniger by ‘n eindpunt te kom nie, maar ‘n manier is om, in die proses van vorentoe kyk, na jouself te kyk, na jou eie lewe te kyk, na jou broer en jou suster te kyk, na Yahweh en na sy Woord te kyk. Jou begeerte is nie dat die aftelling tog gou moet verbygaan nie. Jou begeerte is dat soos die dae minder word, jou eie lankmoedigheid meer sal word, jou hart vir mense groter sal word en jou liefde vir Yahweh oorvloediger sal word. En as Shavuot aangebreek het? Is dit dan die einde van die wag? Nee. In Joh 4:35 sê die Messias: “Sê julle nie: Dit is nog vier maande, dan kom die oes nie? Kyk, Ek sê vir julle, slaan julle oë op en aanskou die lande dat hulle al wit is vir die oes.” Hierdie vier maande is waarskynlik die vier maande tussen Shavuot en Yom Teruah – die volgende reeks feeste wat almal in die 7de maand plaasvind. So, die aftelling van die Omer is skaars verby, dan begin die volgende aftelling, die volgende seisoen, al weer. En as Yom Teruah en Yom Kippur en Sukkot eers verby is, dan begin die volgende seisoen onmiddellik: die bietjie meer as ses maande totdat dit weer Pesag is.

Die seisoene in die Skrif is nie lineêr soos wat ons gewoond is om aan sekere periodes te dink nie. Dit is deel van ‘n groter siklus om ons as gelowiges voor te berei vir die Finale Seisoen waarin TYD, soos ons die nou ken, nie meer sal bestaan nie. Daar sal nie meer ‘n see van skeiding wees nie. Daar sal nie meer dood wees nie. Daar sal nie meer nag wees. Daar sal nie meer tydelikheid en verganklikheid en onvolmaaktheid wees nie. Yahweh, wat in Homself die Begin en die Einde en die Ewige is, sal al ons angstigheid oor tyd wegneem en vir ons laat deel kry aan ‘n werklikheid sonder grense van tyd en plek en moontlikheid. Elke oomblik wat ons hier op aarde binne die tyd deurbring, is deel van ons voorbereiding vir hierdie DAG wanneer ons met Yahweh en met sy Seun, Y’shua verenig sal word. Die grootste dwaasheid wat ons as gelowiges hier op aarde kan begaan, is om onverantwoordelik en lineêr en kortsigtig met tyd om te gaan en dit weg te wens asof dit ‘n hindernis is wat ons net agter die rug moet kry. Yahweh het vir ons ‘n ruimte gegee waarbinne ons ons moet regmaak vir die ewigheid. En daardie ruimte het alles met TYD te make. In daardie sin is tyd die grootste gawe wat ons uit sy hand uit ontvang het!

Subscribe
Notify of
guest
0 Comments
Inline Feedbacks
View all comments
0
Would love your thoughts, please comment.x
()
x