DIE BEGEERTES VAN REGVERDIGES

alternate textVerlede week het ons by die tema van HOOP stilgestaan en uitgevind dat hoop in die Skrif nie ‘n abstrakte en onduidelike begrip is nie. Hoop is net so werklik as om aan `n tou vas te hou wat aan die een kant stewig veranker is en wat jou in staat stel om steiltes uit te klim en hindernisse te oorkom en nie in tye van swaarkry te voel dat jy niks het om aan vas te hou nie. Die hoop van ‘n gelowige is radikaal anders as die hoop van iemand wat nie sy vertroue in Yahweh stel nie. Ons lees van hierdie onderskeid in Spreuke 11:23 “Die begeerte van die regverdiges is net ten goede, maar die hoop van die afvallige is ‘n strafoplegging van toorn.” Die normale patroon is dat die afvalliges min of meer hulle hoop plaas op presies die teenoorgestelde as waarop die regverdiges hulle hoop plaas. Die regverdiges plaas hulle hoop op lemand wat groter as hulleself is en op iets wat kragtiger as hulle eie ambisies is. Die afvalliges, in hulle selfgesentreerdheid, plaas meestal hulle hoop op iets wat vir hulleself voordeel kan bring, maar vir ander rampspoed kan beteken (“strafoplegging van toorn”). Die woord wat met “strafoplegging van toorn” vertaal word, hou verband met “woede”. Die afvallige gryp dikwels na hoop in tye van woede: Soos in: “Ek hoop jou planne kom tot niks!” of “Ek hoop jou besigheid misluk!”. Daarteenoor gryp die regverdige na hoop, vanuit die oortuiging dat Yahweh uiteindelik iets buitengewoon, iets besonders, iets goeds tot stand sal bring — nie iets slegs oor andere sal bring nie. Kortweg gestel: Die afvallige se hoop gaan dikwels gepaard met woede; die regverdige se hoop is altyd ‘n hoop ten goede!

Spreuke 11:23 noem hierdie hoop ‘n begeerte ten goede. Tussen gesonde hoop en gesonde begeerte is daar ‘n direkte verband. Net soos daar ‘n verkeerde soort hoop is, is daar ook ‘n verkeerde soort begeerte. Daar word ongeveer 200 keer in die Skrif begrippe gebruik wat met begeer of begeerte of begeerlikheid vertaal kan word, en in ‘n groot aantal hiervan is dit die verkeerde soort begeerte wat ter sprake is. Maar dit beteken nie dat begeertes aityd verkeerd is nie. Die vermoë om te kan begeer, is iets wat ons van Yahweh ontvang het. Net so ook het ons van Hom die verantwoordelikheid ontvang om ons begeertes reg in te span en in die regte rigting te kanaliseer, sodat dit ons werklik kan help en kan oplig en sodat Hy, as ons Skepper, daarin geëer en grootgemaak kan word.

Die heel eerste woord in enige Hebreeuse woordeboek, behalwe die letter “Alef”, is die woord “Ab”, wat uitgespreek word as “Av” en wat baie mense ken as die woord vir “vader”. Die Aramese ekwivalent van hierdie woord, is die bekende “Abba”. Wat meeste van ons dalk nie geweet het nie, is dat “av” van ‘n ander Hebreeuse woord, “avah”, afkomstig is – ‘n woord wat letterlik “begeer” beteken. Wie weet beter wat ons ten diepste begeer as ons hemelse Abba? Wie anders kan ons diepste begeertes hoor en waar maak, as ons hemelse Abba? Dis net vanselfsprekend dat die Een wat vir ons begeertes gegee het, die Een wat ons met begeertes geskape het, na ons toe kom en met ons praat en met ons handel op die manier en op die patroon van ‘n Vader! Ek is selfs huiwerig om te sê “‘n aardse vader” want Hy doen dit beter as ‘n aardse vader. Hy ken ons begeertes beter en die manier hoe Hy ons begeertes hanteer, is ver beter as wat ‘n aardse Vader sou doen.

Die uitdaging is natuurlik om ons begeertes in lyn te bring met ons Abba se begeertes. 1 Joh 2:16 praat van begeertes wat nie ooreenstem met die begeertes van ons hemelse Abba nie: “Alles wat in die wêreld is – die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe – is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.” Twee keer in hierdie vers word die Griekse woord “epithumia” gebruik. Dis ‘n woord wat dui op ‘n soort passie wat uit selfsugtige begeerte of uit vurigheid of uit woede (net soos in Spr 11:23) gebore is. Dis nie die soort begeerte wat ons Abba by ons wil sien nie. In Joh 8:44 het Y’shua vir sommige van die Yehudiem gesê dat hulle die duiwel as vader het en dat hulle die begeertes van die vader navolg en nie die begeertes van Yahweh nie. As Yahweh ons aanmoedig om ons begeertes na Hom toe te bring, is dit nie ‘n blanko tjek wat Hy vir ons gee wat ons kan invul soos wat ons lus het nie. Hy skenk aan ons hierdie voorreg op die basis van die plek wat Hy in ons lewens inneem as Vader — ‘n Vader wat net die beste vir sy kinders wil gee. As Vader ken Hy ons egter ook en weet Hy dat ons soms kortsigtig en selfsugtig is. Daarom sê Jak 4:3 “Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring (oftewel: “om julle eie selfsugtige begeertes te bevredig”). Kom ons kyk na sommige van die waarhede oor “begeertes” wat ons veral in die boek Psalms aantref:

Ps 10:17 Yahweh, U het die begeerte van die ootmoediges gehoor; U sal hulle hart versterk, u oor sal luister. Die woord vir begeerte in hierdie vers is “ta’avah” — afgelei van dieselfde woord “avah” waarvan die woord vir “vader” ook afgelei is. Hoe weet ons dat Yahweh na ons begeertes luister as ons in ootmoed en in diepe afhanklikheid tot Hom nader? Ons weet dit omdat Hy ons Vader is. Hy is die “av” wat ons opregte “avah” oftewel “ta’avah” die beste ken en dië beste kan vervul. En deurdat Hy daarna luister en dit vervul, sal hy ons harte versterk. Die begeertes wat ons teenoor Hom uitspreek, verdwyn nie maar net in die wind nie. Uiteindelik loop dit daarop uit dat ons bemoedig en uit die as uit opgelig word!

Ps 20:4-5 Mag Hy u gee na u hart en al u voornemens vervul! Ons wil juig oor u oorwinning en die vaandels opsteek in die Naam van onse Elohiem. Mag Yahweh al u begeertes vervul! Die vorige vers het gesê Yahweh sal die harte versterk van diegene wat hulle begeertes na Hom toe bring. Hierdie vers sê Hy sal gee na hulle hart — met ander woorde: Hy kyk diep in ons harte is en gee vir ons wat ons werklik nodig het. Al wat ons nog moet doen, selfs voordat ons die vervulling van ons begeertes gesien het, is om te oor die oorwinning wat Hy sal gee en om vaandels op te steek in die Naam van Yahweh. Hoe doen `n mens dit? Die hele idee agter die simboliese handeling van vaandels of baniere op te rig, is die aspek van “to be conspicuous”. ln kort beteken dit: “Do something, anything, noticeable, remarkable, prominent, outstanding, and striking that will remind the people of this world that Yahweh listens to the desires of his people!”

Ps 27:4 Een ding het ek van Yahweh begeer, dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van Yahweh, om die lieflikheid van Yahweh te aanskou en te ondersoek in sy tempel. Hierdie vers gaan nie daaroor dat `n mens moet ophou om te lewe en jouself in `n klooster moet terugtrek en daar na `n soort “lieflikheid” te soek wat jy nie op `n ander plek sal kry nie. Nee, dit gaan oor die één begeerte wat altyd lewend en brandend in die lewe van elke gelowige behoort te wees: Dat ons nooit sal ophou om na Yahweh te soek nie. Dat ons nooit genoeg van sy lieflikheid sal kry nie. Dat ons nooit by `n punt sal kom waar ons dink NOU ken ons Hom goed genoeg nie. Daar is nie iets beters om in hierdie lewe te begeer nie!

Ps 37:4-5 Verlustig jou in Yahweh; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart. Laat jou weg aan Yahweh oor en vertrou op Hom, en Hy sal dit uitvoer. Seker een van die bekendste gedeeltes in die Skrif. Hoeveel keer het mense nie al in hulle diepste nood na Psalm 37 gegryp nie? Daar is iets hierin wat ons maklik kan mis. Yahweh sal ons die begeertes van ons hart gee, as ons ons weg aan Hom oorlaat. Letterlik beteken dit: As ons óns weg sý weg maak en sý weg óns weg. Die kombinasie woord wat hier gebruik word (“dargega”), kom in 7 ander plekke in die Psalms voor en elke keer praat dit van Yahweh se weg of sy weë. Die begeertes van ons hart sal nooit volledig vervul word, as ons nie groot erns maak met Yahweh se weë nie. Solank as wat ons gaan aanhou om verskonings te soek waarom Yahweh se weë nie vir ons belangrik is nie, so lank gaan ons voel dat ons begeertes nie waarlik vervul word nie.

Ps 147:11 Yahweh het ‘n begeerte na die wat Hom vrees, wat op sy goedertierenheid hoop. ls dit nie onbeskryflik om te verneem dat die Almagtige self ook begeertes het en dat ons wat Hom vrees, die fokuspunt van sy begeerte is nie?! Hy het `n begeerte na dié wat Hom vrees. Daar is iets wat die Skepper nadertrek na mense wat Hom vrees en sy aangesig soek en hulle hoop op Hom stel. Niks in hierdie wêreld kan vir ons meer beteken as dit nie!

Ons kan nie anders as om `n bekende gedeelte uit die Nuwe Testament hier by te voeg nie: Fil 4:6- 7 Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by Elohiem. En die vrede van Elohiem, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in die Messias Y’shua. Die teenoorgestelde van besorgdheid, of ongesonde bekommernis, is om jou begeertes by Elohiem bekend te maak. Hoe? Met gebed en smeking en met danksegging. Voortdurend, sonder ophou. Nie omdat ons ons eie wil op Hom wil afdwing nie, maar omdat ons aan iets méér kan vashou as waaraan die weduwee in Y’shua se gelykenis kon vashou. Sy het haar smekinge gerig aan die adres van `n onregverdige (Luk 18:1-8). Ons kan ons smekinge rig aan Een wat absoluut regverdig is en boonop ons Vader! As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid! (Mat 7:11).

Subscribe
Notify of
guest
0 Comments
Inline Feedbacks
View all comments
0
Would love your thoughts, please comment.x
()
x