KIES DIE LEWE

alternate textSherlock Holmes is bekend vir sy slim speurwerk en vir sy gevatte sêgoed in sy gesprekke met sy vriend en assistent, Dr Watson. In een van die beroemde gesprekke waarin hierdie twee ʼn moordraaisel probeer oplos het, het Sherlock Holmes vir Dr Watson gesê: “Ek wil jou aandag vestig op die buitengewone insident van die hond in die nag,” waarop Dr Watson geantwoord het: “Maar die hond het daardie nag niks gedoen nie.” Waarop Sherlock Holmes toe geheimsinnig geantwoord het: “En dit is juis die buitengewone insident, my liewe Watson!” As alles daarop dui dat ʼn sekere ding moes gebeur, en dit gebeur nie, is dit iets waaraan ʼn mens gewoonlik moet aandag gee. Net so ook, as ʼn mens verwag dat iets gesê moes word, en dit word nie gesê nie, is dit ʼn saak wat normaalweg opgevolg behoort te word. So is dit ook wanneer ʼn mens die Skrif lees. In die leesstuk van hierdie week is daar kort-kort ʼn verwysing na Mosheh wat binnekort sou sterf, maar die klem is glad nie op sy dood, op sigself nie. Daar word baie minder oor sy dood gesê as wat mens sou verwag. Die klem is veel meer op die vraag hoe die volk voor Yahweh sou wandel wanneer Mosheh nie meer daar is nie. “As julle, terwyl ek nog vandag by julle lewe, rebels was teen Yahweh – hoeveel te meer dan na my dood!” (Deut 31:27).

Waarom sê die Torah so min oor die dood en oor wat met die persoon gebeur wat sterf en oor die lewe na die dood? Volgens Deuteronomium 34:6 weet niemand eens waar Mosheh begrawe is nie. Waarom verskil die Skrif se beskouing van die dood so drasties van byvoorbeeld die beskouing van die Egiptenare met hulle piramides en sfinks en hulle mummies en hulle absolute obsessie met die dood? Waarom word daar in ʼn boek soos Prediker (Kohelet) nie meer oor die lewe na die dood gesê nie? Dis tog duidelik dat hierdie boek oor die sterflikheid en die verganklikheid van die mens handel en dat die refrein van hierdie boek, “Alles is tevergeefs en ʼn gejaag na wind” byna smeek dat daar meer oor die lewe na die dood gesê moet word. En tog val die klem in hierdie boek glad nie op die dood en die lewe na die dood nie. Hoekom het niemand ooit vir Job, wat soveel smart hier op aarde moes deurmaak, gesê nie: “Jy, en andere wat ook soos jy moet swaarkry, sal beloon word in die lewe hierna”?

Die antwoord lê opgesluit in Deut 30:19 “Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag”. Die lewensuitkyk wat in die Skrif na vore kom, fokus baie sterk op die lewe, en nie op die dood nie en is in skrille kontras met die lewensuitkyk van talle wat òf heeltemal doods-behep òf totaal doods-onkundig is. Sommiges se lewenstyl word aangevuur deur ʼn oordrewe vrees vir die dood. Hierdie mense sê vir hulleself: “Ek moet so veel as moontlik dinge doen en bereik, en dan ook so vinnig as moontlik, voordat die dood toeslaan en alles verby is.” Die bekende filosoof-sielkundige van die vorige eeu, Sigmund Freud, het gesê dat die “death-instinct” (“thanatos”) een van die twee grootste dryfvere in die lewens van mense is (die ander een, volgens hom, is die “sexual-instinct” of “eros”). Niks is daarmee verkeerd om vol-uit te lewe en jou lewe met baie aktiwiteite te vul nie, maar as ʼn mens voortdurend voortgedryf word deur ʼn vrees vir die dood, eerder as ʼn keuse vir die lewe, gaan jou besige lewe jou emosioneel aftakel en jou weghou van die “shalom” en die vervulling wat Yahweh vir elkeen van ons bedoel het.

Die Skriftuurlike beginsel van “Kies die lewe”, beteken nie “Ontken die realiteit van die dood” nie. Dit beteken nie jy moet feesvier en handeklap en iemand se lewe “celebrate” wanneer hy sterf nie. Nee, die dood bly ʼn realiteit, wat ons telkens herinner aan ons eie tydelikheid en kortstondigheid. Vir elke indiwidu is sy of haar dood nog steeds “the end of life on earth as we know it”. Dit is steeds ʼn afsnypunt en ʼn drastiese skeiding tussen die een wat gesterf het en hulle wat nog lewe. Daarom was die volk vir 30 dae lank in rou nadat Mosheh gesterf het. Die rouproses is iets wat ons almal nodig het, as ons iemand aan die dood afgestaan het. As jy, as die een wat agterbly, dit probeer oorslaan of vermy, is die kanse goed dat jy langer as normaal gaan neem om die dood van jou geliefde te verwerk. Daarom moet ʼn begrafnis of die rouproses nie afgerammel of afgeskeep of “opgejazz” word nie. Om die lewe te kies beteken om die dood reg te verstaan en om nie weg te deins of in ontkenning te gaan wanneer die dood oor jou pad, of oor die pad van jou familie, kom nie.

Die vraag is egter: Wat is die regte verstaan van die dood? In die eerste plek behoort ons eerlik daaroor te wees dat niemand van ons, duskant die graf, die dood ten volle kan ken of verstaan nie. Dit is juis wanneer dit by die onderwerp van die dood kom, dat ons net ten dele ken en net ʼn klein bietjie verstaan en dat ons verstaan grotendeels gebaseer is op wat in die Skrif oor die dood gesê word. Ons kan ons nie verlaat op die gesigte en visioene en drome wat mense oor die dood gehad het nie. Ons kan selfs nie ons verstaan van die dood bou op die getuienisse van mense wat ʼn skyndood-ervaring gehad het en wat ʼn sogenaamde “kykie” in die hiernamaals gehad het nie. In Job 38:17 het Yahweh vir Job gesê dat die poorte van die dood nie vir hom (of, by implikasie, vir enige mens) “ontbloot” is nie. Ons behoort versigtig te wees vir mense of standpunte wat daarop aanspraak maak dat hulle méér oor die dood weet as wat in die Skrif aan ons openbaar word.

Soms word daar ook oor die dood gepraat op ʼn manier wat die indruk skep dat daar tussen die Ou Verbond en die Nuwe Verbond ʼn verandering in die staat of status van afgestorwenes plaasgevind het. Is dit waar? Het daar in Mosheh se tyd iets anders met ʼn gelowige gebeur as hy gesterf het as wat daar in die tyd ná die Messias gebeur het? Baie duidelik is dit nie die geval nie. Selfs ná die opstanding van die Messias het gelowiges nog steeds gesterf en het die volle impak van die dood hulle en hulle families getref, net soos in die tyd van Adam en Mosheh en Dawid en die profete. Die mens het nog steeds teruggekeer na die aarde waaruit hy geneem is (Gen 3:19 In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer). Die stem van die een wat sterf het nog steeds stil geword sodat hy of sy Yahweh nie meer kon loof nie (Ps 115:17 Die dode en almal wat na die stilte neerdaal, sal Yah nie loof nie). Mense se dood was nog steeds ʼn slaap in die stof van die aarde, wat sou voortduur tot op ʼn dag van ontwaking of opstanding (Dan 12:2 En baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot oneer, vir ewig afgryslik).

Ongetwyfeld het die dood en die opstanding van Y’shua die Messias die wêreld se verskil gebring vir hulle wat in Hom glo – nie wat betref die staat waarin hulle verkeer wanneer hulle sterf nie, maar wat hulle hoop en hulle verwagting betref terwyl hulle nog gelewe het, en hulle gewaarborgde eindbestemming, nadat hulle gesterf het. Die dood is vir hulle nog steeds ʼn realiteit, maar die opstanding uit die dood – op die Dag wanneer die Messias weer kom, nie op die presiese oomblik wanneer hulle sterf nie – is vir hulle nog ʼn groter realiteit. Daarom kan hulle soos Shaúl sê: Dood waar is jou oorwinning en waar is jou angel? (1 Kor 15:55). Die hele 1 Korintiërs 15 gaan oor die grootsheid van Y’shua se opstanding wat uiteindelik ook ons opstanding waarborg. Dit ondersteun glad nie die siening wat so dikwels op begrafnisse gehoor word dat die gelowige die volle pakkie van die dood vryspring en direk na sy dood die strate van goud in die hemel betree nie.

Talle kere in die Nuwe Verbond word die dood van ʼn gelowige as ʼn SLAAP voorgestel met die implikasie dat ons by ons dood in ʼn staat van onbewustheid ingaan, wat sal voortduur tot op die dag van ons opstanding. Maak dit ons hoop en ons verwagting minder? Nee, dit maak dit vaster, want dit is op die ware feite van die Woord gebaseer. Ons respekteer die dood, maar ons vrees dit nie bo alle dinge nie. Wanneer ons besef dat ons dae hier op aarde tot ʼn einde kom, kan ons selfs soos Shaúl sê dat ons verlang om heen te gaan en met die Messias te wees (Fil 1:23). Ons weet immers dat ons dood-slaap voordat Hy kom, soos ʼn oogwink sal wees en dat ons vereniging met Hom ʼn suiwerder vorm van verlossing en herstel sal wees as wat ons nog ooit hier op aarde beleef het.

Maar in die tussentyd, aan hierdie kant van die dood, maak ons die keuse soos wat Mosheh destyds aan die volk voorgestel het: Ons kies die lewe, sodat ons kan lewe, ons en ons nageslag. Ons kies om op hierdie lewe te fokus en met ons voete vas op die aarde geanker te bly en nie só obsessief oor die lewe na die dood te raak dat ons voortdurend “a pie in the sky” najaag en soos mense raak wat nie ʼn greep op die aardse realiteite rondom hulle kan kry nie. Ons kies die lewe wat Yahweh aan ons voorgehou het en ons kies om die pad te loop en die dinge te doen wat na hierdie lewe toe lei. En ons kies teen die dinge wat hierdie lewe van ons kan wegneem of dit vir ons kan bederf. En een van die wonderlikste aspekte van hierdie keuse is om op die groot gunsbewyse van Yahweh te fokus – dinge wat Hy vir ons gegee het om die lewe vir ons kosbaar en ryk te maak – soos onder meer die gawe van sy Seun. In hierdie wêreld is daar ʼn Dief wat net daarop uit is om te steel en te slag en te verwoes. Maar die Een wat Yahweh na hierdie wêreld as gawe gestuur het, het gekom sodat ons die lewe kan hê en dit in oorvloed (Joh 10:10)!