DIE TORAH VAN VRYHEID

alternate textHierdie week se Parashah begin met die opdrag om regters (“shofetim”) en opsigters (“shoterim”) in die midde van die volk aan te stel. Hoekom moes daar regters wees? Waarom moes daar plek gemaak word vir onderlinge beoordeling en toesighouding in die midde van die volk? Sou dit nie ʼn negatiewe klimaat skep en tot opstandigheid en selfs rebelsheid aanleiding gee nie? Sou dit nie ʼn demper plaas op die vryheid wat mense graag wil hê om die Skepper spontaan en uit eie vrye wil te dien en te volg nie? As mens deur die Parashah lees, word daar ʼn hele aantal redes gegee waarom dit noodsaaklik was dat daar ʼn stelsel van toesighouding, dissipline en beoordeling in die midde van die volk moes wees. Kom ons kyk na sommige van hierdie redes:

1. Dit was Yahweh se wil dat die volk geregtigheid moes najaag (nie volgens húlle definisie van geregtigheid nie, maar volgens SY definisie daarvan) – Deut 16:20
2. Dit wat Yahweh haat, moes ook deur die volk gehaat word – Deut 16:22
3. Dit wat vir Yahweh ʼn gruwel was, moes vir die volk ook ʼn gruwel wees – Deut 17:1
4. Dit wat verkeerd was in Yahweh se oë, moes ook in hulle oë verkeerd wees – Deut 17:2
5. Dit wat Yahweh nie beveel het nie, moes nie deur die volk gedoen word nie – Deut 17:3
6. Die kwaad moes uit die midde van die volk uitgeroei word – Deut 17:7
7. Daar moes nie links of regs van die Torah afgewyk word nie – Deut 17:11
8. Die volk moes leer om Yahweh alleen te vrees – Deut 17:19
9. Die bedenklike gebruike van ander nasies moes nie nagevolg word nie – Deut 18:9
10. Die volk moes in alle opsigte volmaak voor Yahweh lewe – Deut 18:13 (Sommige vertalings gebruik hier die woord “opreg”, maar die woord “tamiem” beteken eintlik “volmaak”).

Baie mense sal beswaar teen hierdie lysie aanteken. Sommiges sal sê dis juis die rede waarom dit so gevaarlik is om die Torah as grondslag vir jou geloof te gebruik – dit stel ʼn maatstaf en ʼn standaard wat onmoontlik is om te bereik en wat jou uiteindelik tot moedeloosheid sal dryf. Mense wat krities is oor die 10 aspekte hierbo sal voortgaan en daarop wys dat Y’shua gekom het om vir ons van genade en vryheid te leer en ons van die verpligting te onthef om streng volgens die kriteria van die Torah te leef. Die feite is egter dat elkeen van die 10 redes hierbo, in een of ander vorm, ook in die Nuwe Testament as motivering aan gelowiges voorgehou word om aan Yahweh gehoorsaam te wees:

1. Mat 5:6 Geseënd is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word.
2. Openb 2:6 Maar dit het jy, dat jy die werke van die Nikolaïete haat, wat Ek ook haat.
3. Luk 16:15 En Hy het vir hulle gesê: Dit is julle wat julself regverdig voor die mense, maar Elohiem ken julle harte; want wat by die mens hoog geag word, is ‘n gruwel voor Elohiem.
4. 1 Pet 3:11 Hy moet afwyk van wat verkeerd is, en doen wat goed is; hy moet vrede soek en dit najaag.
5. Efes 5:6 Laat niemand julle met ydel woorde verlei nie, want daardeur kom die toorn van Elohiem oor die kinders van die ongehoorsaamheid.
6. Joh 5:28-29 Want daar kom ‘n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling.
7. Jak 1:25 Maar hy wat diep insien in die volmaakte Torah van die vryheid en daarby bly, hy sal, omdat hy nie ‘n vergeetagtige hoorder is nie, maar ‘n dader van die werk, geseënd wees in wat hy doen.
8. Heb 12:28 Daarom, omdat ons ‘n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so Elohiem welbehaaglik dien met eerbied en vrees.
9. 2 Kor 6:17 Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, sê Yahweh; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem.
10. Mat 5:48 Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemel volmaak is.

Dis opvallend hoe dikwels die aspek van “vryheid” in die moderne tyd gebruik word om die Torah onder verdenking te probeer plaas. En tog word die Torah op twee plekke in die Messiaanse Skrifte “die Torah van vryheid” genoem (Jak 1:25 en Jak 2:12). As mens die skrywer van Psalm 119 kan glo, dan het die Torah vir hom ook vryheid beteken, want hy skryf onder meer: “Die Torah van u mond is vir my beter as duisende stukke goud en silwer” (vers 72) en “As u Torah nie my verlustiging was nie, dan het ek omgekom in my ellende” (vers 92). Die spreukeskrywer het ook vryheid in die Torah gevind, want hy skryf: “As daar geen openbaring is nie, word die volk bandeloos; maar hy wat die Torah onderhou, geseënd is hy” (Spr 29:18). Die profeet YeshaYahu (Jesaja) beskryf ʼn mens wat sonder die Torah probeer lewe as iemand wat sonder daglig in sy lewe is: “Tot die Torah en tot die getuienis! As hulle nie praat ooreenkomstig hierdie woord nie, is hulle ‘n volk wat geen daglig het nie” (Jes 8:20) en die profeet YermeYahu (Jeremia) profeteer van ʼn tyd wanneer Yahweh opnuut sy volk se sonde sal vergewe en sy Torah op hulle harte sal skryf. Wanneer dit gebeur sal hulle ʼn ongekende innerlike motivering ervaar om aan Hom gehoorsaam te wees: “En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken Yahweh; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, sê Yahweh; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie” (Jer 31:34).

Uit hierdie gedeeltes is dit duidelik dat die Torah van die begin af aan mense gegee is sodat hulle vryheid in hulle lewens kan ervaar. Die begrip “vryheid” in die Skrif het duidelik nie die populêre betekenis van “vry van die verpligting om die Vader se reëls te gehoorsaam” nie. In Rom 8:21 gebruik Shaúl die begrip “vryheid” as die teenoorgestelde van “slawerny van die verganklikheid (van hierdie aardse lewe)”. Met ander woorde: die hoogste vorm van vryheid is om só te lewe dat jy die onverganklike of die ewige lewe sal beërwe. In Gal 5:13 skryf hy aan die gelowiges dat hulle tot vryheid geroep is, maar dat hulle nie hulle vryheid moet gebruik as aanleiding vir die vlees nie, maar liewer as dryfveer om mekaar in liefde te dien (een van die twee groot pilare waarop die Torah gebou is). In 1 Pet 2:16 skryf Kefa aan die gelowiges dat hulle vry mense is, maar dat hulle nie hulle vryheid ontvang het as ʼn “dekmantel vir boosheid” nie, maar as ʼn aansporing om “diensknegte van Elohiem” te wees. In 2 Pet 2:19 skryf dieselfde apostel weer oor vryheid en oor die manier waarop vryheid soms misbruik, en soms totaal verkeerd verstaan word: “Hulle belowe vryheid, terwyl hulle self slawe van die verdorwenheid is; want (as iets of iemand ʼn mens oorwin het), het jy daarvan ‘n slaaf geword.”

Ons lewe in ʼn era waarin reëls en dissipline en opsieners wat hulle sout werd is, meer die uitsondering is as die reël. Die oomblik as daar van enige vorm van regspraak of beoordeling gepraat word, sit jy dadelik met ʼn klomp mense en groepe wat nie saamstem nie of ontevrede is. Dieselfde het ook oor die eeue heen gebeur met ʼn Skrifgedeelte soos Kol 2:16-17: “Moenie dat enige iemand julle oordeel in voedsel en in drank nie, hetsy met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of ‘n Shabbat nie, wat ‘n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam van die Messias.” Die populêre manier waarop hierdie twee verse normaalweg benader word, is (1) om die klem baie sterk te laat val op die woorde “moenie dat iemand julle oordeel nie”; (2) om “fees, nuwemaan en Shabbat” in ʼn negatiewe lig te stel en (3) om die laaste deel só te vertaal: “die werklikheid is die Messias” (in plaas van: “die liggaam van die Messias”). As ʼn mens die teks (en die konteks waarin dit staan) behoorlik bestudeer, sien jy egter dat Shaúl heeltemal ʼn ander punt probeer maak. Wat hy in werklikheid sê is dit: As dit kom by sekere aspekte van die Torah soos feeste, nuwemane en die Shabbat, moet jy nie toelaat dat enige Jan Rap en sy maat jou beoordeel nie. Waarom nie? Omdat die Torah ʼn skaduwee van die toekomstige dinge is – dis ʼn kleedrepetisie, ʼn voorbereidingsproses van die lewe wat kom. Nie enige persoon is toegerus om die gelowiges wat besig is om hulleself voor te berei vir die lewe wat nog kom, die grootste en belangrikste gebeurtenis van alle tye, te beoordeel nie. Wie is dan toegerus? Net die liggaam van die Messias – daardie groep mense wat ʼn pad saam loop, verbind aan die Messias en ernstig om op geen manier hulle erfenis in gevaar te stel nie.

Wedersydse beoordeling en vermaning en skaaf aan mekaar is nie net opsioneel nie, dis verpligtend. Dis ʼn vereiste binne die Torah van vryheid. Maar hulle wat buite staan – op ʼn afstand – en kritiek uitspreek en veroordeel, het nie ʼn mandaat ontvang om dit te doen wat hulle doen nie. Ons verantwoordelikheid is teenoor mekaar en daardie verantwoordelikheid is nie iets wat ligtelik opgevat kan word nie. Binne die liggaam van die Messias gee mens om vir mekaar, bou mens mekaar op, doen jy moeite met mekaar, loop jy nie draaie om mekaar nie en – bo alles – herinner mens mekaar voordurend aan Hom wat gesê het: “Geregtigheid, geregtigheid moet jy najaag … sodat jy in alle opsigte volmaak voor My kan staan!” en aan sy Seun wat hierdie geregtigheid helder en duidelik aan ons gedemonstreer het!