SHAVUOT 2015

alternate text“Shavuot” kom van die woord “sheva” wat in Hebreeus twee betekenisse kan hê: (1) Om iets sewe maal te doen en (2) om ‘n eed te neem, te sweer of iets te belowe. Hierdie twee betekenisse hou baie sterk met mekaar verband, want in die antieke tye het jy ‘n eed geneem of gesweer deur iets genoeg (tot sewe maal toe) te herhaal sodat daar by die hoorder geen twyfel is dat jy dit gesê of belowe het nie. Shavuot (die dag wat volg ná 7 maal 7 dae) kan gesien word as ‘n dag wat mens herinner aan die sterkste vorm van belofte of eedswering wat daar kan wees: beloftes wat nie net sewe keer herhaal is nie, maar sewe maal sewe keer!! “Yom Shavuot” is nie net die Dag van Sewes, of die Dag van Weke nie – nee dis ook die Dag van Eedsweringe of Beloftes. Dit verteenwoordig ‘n DAG (Heb: “Yom”, met die numeriese waarde van 50!! – dink aan die talle verwysings in die Skrif na die Dag van Yahweh) waarop talle beloftes van die Almagtige in vervulling gaan en waarop Hy jaar na jaar vir sy volgelinge ondubbelsinnig wys dat Hy ook in die toekoms sal doen wat Hy gesê het!!

As mens Handelinge 2 lees en fokus op die woorde waarmee Kefa (Petrus) die mense op daardie Yom Shavuot toegespreek het, kan jy duidelik sien dat hy Shavuot verstaan het as ‘n Dag van Beloftes of ‘n Dag van Eedsweringe: Hy begin sy toespraak met ‘n belofte wat Yahweh gemaak het (“In die laaste dae, sê Elohiem, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees …”) en daarna volg hy dit op met minstens nog 13 beloftes of eedsweringe wat in verband met die Messias in die Tanag gemaak is. En asof dit nie genoeg is nie, voeg hy by: “Elohiem het vir Dawied met ‘n eed gesweer dat Hy die Messias uit sy lendene sou verwek” (Hand 2:30) en “Die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is” (2:39). Vandag weet ons: die beloftes van Yahweh aangaande sy Seun en ook aangaande sy seën (wat op ons wag in die toekoms) kom ons en ons kinders ook toe!!

Die boek Bereshiet (Genesis) het 50 hoofstukke – gelykstaande aan die aantal dae wat afgetel word tussen Pesag en Shavuot. Daar is één dag in hierdie 50 dae periode wat spesiaal deur die Yehudiem uitgesonder word en as afsonderlike feesdag ingeruim word – die 33e ste dag wat as Lagh BaOmer bekendstaan. Die 33ste hoofstuk van Bereshiet is nogal ‘n interessante een: Die vertel die verhaal waar Yaákov en Esau mekaar weer ontmoet het nadat daar ‘n groot breuk tussen hulle ontstaan het omdat Yaákov in Esau se plek die eersgeborene se seën van sy pa ontvang het. Met die oog op hierdie herontmoeting het Yaákov ‘n groot getal van sy vee as geskenk vooruit aan Esau gestuur. Esau wou eers nie die geskenk aanvaar nie, want (het hy gesê): “Ek het baie” (Heb: “Yesh li rav” – Gen 33:9). Yaákov se reaksie was baie betekenisvol. Hy sê vir Esau dat Yahweh hom uitsonderlik geseën het en dan voeg hy hierdie woorde by: “Ek het volop” (Heb: “Yesh li kol” – Gen 33:11). Eintlik beteken die woord “kol” meer as net volop. Dit beteken ALLES!! En boonop is die numeriese waarde van “kol” ook 50, die getal van Shavuot!

Die getal 7 binne die Hebreeuse verstaan, is ‘n besonderse getal. So ook getalle wat veelvoude van 7 is, soos 49. Dit beteken volkomenheid en versadiging of vervulling, in die sin van iets wat, menslik gesproke, sy volle kapasiteit of sy versadigingspunt bereik het. Die getal 8 (een méér as 7) of 50 (een méér as 49), verteenwoordig ‘n nuwe realiteit – ‘n realiteit wat ons natuurlike en menslike realiteit oorskry en ver te bowe gaan – die realiteit van die bonatuurlike en die ewige. Die baie (“rav”) wat Esau gehad het, was soos 7 of 14 of 49 – baie in ‘n menslike sin, maar nog nie álles nie. Die VOLOP en die ALLES (“kol” = 50) wat Yaákov gehad het, was méér as wat menslik gesproke moontlik was. Dit het die bonatuurlike dimensie gehad van die beloftes van Yahweh, ‘n dimensie wat aan doodgewone mense ‘n verbintenis met die ewigheid en lewe na die dood gee!

Omdat Shavuot ‘n oesfees is, word dit dikwels verbind aan die boek en die persoonlikheid van Rut waar die temas van die gars- en die koringoes deurgaans na vore kom en ‘n groot gedeelte van die boek afspeel in die periode tussen Pesag en Shavuot. Shavuot word ook verbind aan die persoon van Dawied omdat Rut die grootmoeder van Dawied was en omdat “Dawied” die heel laaste woord in die boek Rut is. Die Yehudiem het ‘n tradisie wat sê dat Dawied op Shavuot gebore is en ook op Shavuot gesterf het. In die eerste boek van Konings (1 Melagiem 2:33) lees ons hierdie treffende, kort sinnetjie wat vir ons ‘n samevatting is van die ryke betekenis van Shavuot: “Maar oor Dawied (Heb: “UleDawied”, 5 letters met ‘n totale numeriese waarde van 50!) en sy nageslag en sy huis en sy troon sal die vrede van Yahweh wees tot in ewigheid.” Mag ons wat Yahweh se beloftes gehoor het en daaraan vashou met alles wat ons het, hierdie vrede ervaar wat alle verstand te bowe gaan en mag dit ons voortdurend laat vorentoe kyk na daardie Dag wanneer hy alles in vervulling sal bring!