OM DIE LEWE TE KIES

alternate textDie Instituut vir Sekerheid Studies het die afgelope week die 2013/14 Misdaad Statistieke vir Suid-Afrika bekendgemaak. Die resultate van hierdie verslag is, om die minste te sê, verbysterend. Sommige ontleders het na aanleiding van die moord statistiek gesê Suid-Afrika het nou in ‘n volbloed “war-zone” verander. 47 mense word per dag in Suid-Afrika vermoor en, asof dit nie genoeg is nie, is daar nog ‘n verdere 47 pogings tot moord wat gemiddeld elke dag in ons land plaasvind! Ons moordsyfer is 5 keer hoër as die gemiddelde syfer in die res van die wêreld. In die res van die wêreld word daar jaarliks 6 mense per 100 000 vermoor. In Suid-Afrika is hierdie syfer 32 mense – dit wil sê as daar ‘n miljoen mense in Kaapstad woon, kan jy verwag dat meer as 320 van hulle in een jaar vermoor gaan word! (Die korrekte syfer vir die breër Kaapstad is nader aan 4 miljoen, d.w.s. meer as 1200 mense wat in een jaar net in Kaapstad vermoor word!) Verder vind daar elke dag 172 seksuele misdade plaas wat by die polisie aangemeld word. Die Mediese Navorsingsraad bereken dat net een uit elke nege verkragtings by die polisie aangemeld word. ‘n Mens kan maar self jou sommetjies maak. Verdere syfers wat aan die lig gekom het, is: Aanranding met die oog om ernstig te beseer: 502 per dag; Roof met verswarende omstandighede: 327 voorvalle per dag (dit sluit NIE gewone huisbraak in waarin geen wapens gebruik is nie); Kaping van motorvoertuie: 31 kapings (“hijackings”) per dag (dit sluit NIE gewone motordiefstal in nie); Huis inbraak met die oog om goedere te steel (sonder die gebruik van wapens of geweld): 714 gevalle per dag, wat by die polisie aangemeld word …

Niemand hou daarvan om na sulke morbiede statistieke te luister nie. Niemand kan gerus voel om in ‘n land te woon waar daar stadig maar seker ‘n klimaat van geweld ontstaan het waarin ‘n mens nie meer net vrylik en onbevange kan woon en beweeg, of selfs net kan ontspan nie. As ‘n mens kyk na hierdie prentjie van ons land se misdaad statistieke, kan jy nie anders as om te dink aan die vloeke waarvan die Skrif praat nie. Nie net die vloeke wat oor ‘n mens kom as jy jou rug draai op reg en geregtigheid nie, maar ook die vloeke wat oor ‘n land kom as die reg nie gehandhaaf word nie en die Woord van Yahweh nie eerbiedig word nie. Luister net na sommige van hierdie vloeke wat in Deut 27 (verlede week se Torah lesing) uitgespreek word:

Vervloek is hy wat sy vader of sy moeder verag (minagting van gesag – en gevolglik rebellie)
Vervloek is hy wat sy naaste se grenslyn verlê (minagting van ander se eiendom – en gevolglik diefstal)
Vervloek is hy wat ‘n blinde op die dwaalweg lei (minagting van die waarheid – en gevolglik leuens)
Vervloek is hy wat die reg van vreemdeling, wees en weduwee verdraai (minagting van geregtigheid – en gevolglik onbillike optrede)
Vervloek is hy wat met die vrou van sy vader gemeenskap het (minagting van seksuele waardes – en gevolglik seksuele vergrype)
Vervloek is hy wat ‘n omkoopgeskenk aanneem (om ‘n onskuldige persoon te benadeel – minagting van integriteit – en gevolglik korrupsie)
Vervloek is hy wat sy naaste in die geheim doodmaak (minagting van lewe – en gevolglik aanranding en moord)

In die Torah lesing van hierdie week (Deut 29:9 – 30:20) word daar ses keer na die woord “vloek” of “vloeke” verwys (29:20; 29:21; 29:27; 30:1; 30:7 en 30:19). Die vernaamste en die hoogtepunt hiervan is die laaste twee verse van die hele parashah:

Deut 30:19-20 Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle; die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag, deur Yahweh jou Elohiem lief te hê, na sy stem te luister en Hom aan te hang; want dit is jou lewe en die lengte van jou dae, sodat jy kan woon in die land wat Yahweh aan jou vaders Avraham, Yietsgak en Yaákov met ‘n eed beloof het om dit aan hulle te gee.

Die woord wat in hierdie gedeelte vir “vloek” gebruik word, is “kelalah” wat van “kalal” afgelei is. Die betekenis van hierdie woord help ‘n mens om te verstaan waarom daar vloeke oor ‘n mens of oor ‘n land kom. Twee woordeboeke wat ek geraadpleeg het, gee die volgende betekenisse van “kalal”:

(1) “To make light; to bring into contempt; to despise; to make dispicable; to dishonour.” Dan is daar ‘n tweede vlak van betekenis wat ten nouste aansluit by die eerste:

(2) “To be light; to be trifling; to be of little account; to be insignificant; to be dispicable; to be lightly esteemed.”

Daar is ‘n duidelike konnotasie tussen die twee vlakke van betekenis en ‘n merkbare lyn wat mens kan deurtrek na indiwidue of nasies wat voor die keuse te staan kom oor wat hulle met die gebooie en insettinge van Yahweh gaan maak. Yahweh spreek ‘n vloek uit oor hulle wat sy opdragte en sy waardes verag – hulle wat ligsinnig daaroor is, hulle rug daarop draai en dit verwerp. Wat hierdie mense in werklikheid gedoen het, was om te vloek by die aanhoor van die Torah. Hoe beperk was ons idee van “vloek” nie nog altyd gewees nie! Ons het groot geword met die idee dat “vloek” beteken om ‘n kragwoord te gebruik, of selfs die Vader se Naam te gebruik (al het ons tóé nie eens geweet wat sy Naam eintlik is nie). Maar in werklikheid beteken die werkwoord “vloek” om Yahweh se gebooie te minag en ligsinnig en traak-my-nie-agtig oor sy Woord te wees!

Wat sal gebeur met iemand wat in sy hart vloek by die aanhoor van die Torah? Oor so ‘n mens en oor so ‘n nasie, spreek die Allerhoogste ook ‘n vloek uit. Oor so ‘n mens en oor so ‘n nasie word oneer en veragting en vernedering gebring. Oor hulle geld die tweede vlak van die definisie van “kalal” – in Yahweh se oë word hulle as “light”, “trifling”, “insignificant”, “despicable” en “of little account” gereken! Uit die aard van die saak sal daar in ‘n land oor wie daar so ‘n vloek hang, individue wees wat NIE hulle rug op Yahweh gedraai het nie en wat NIE ligsinnig oor sy Woord was nie. As indiwidue is hulle dus nie ook vervloek nie. Maar hulle sal ook swaarkry en ly onder die vloek wat rus op daardie land. Hulle sal ook noodgedwonge moet pluk van die wrange vrugte wat voortspruit uit die keuse wat die grootste gros van die land, en veral die leiers van die land, en hulle voorgangers, wat voor hulle in die land gewoon het, gemaak het om Yahweh en sy Woord as “insignificant” en “of little account” te brandmerk!

Wat staan ons te doen as ons weet dat ons deel is van só ‘n land? Ons wat verstaan dat Yahweh (met die hemel en die aarde as getuies) ook aan óns die lewe en die dood en die seën en die vloek voorgehou het, soos Deut 30:19 en 20 dit stel? Die antwoord is dáár, reg voor ons oë – ons moet terdeë ag slaan op die woorde van hierdie gedeelte: “Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag, deur Yahweh jou Elohiem lief te hê, na sy stem te luister en Hom aan te hang.” Daar is ‘n mooi woordspeling opgesluit in die gebruik van die woord “kies” in hierdie konteks. Die keuse lê tussen SEËN (“barag” of “barug”) en VLOEK (kalal). Wat ons moet doen, is om te kies (“bagar”). Watter keuse wil Yahweh hê moet ons maak? Kyk na die woorde en jy sal sien “bagar” (kies) en “barag” (seën) bevat so te sê dieselfde klanke. Dis byna of die getroue, liefdevolle hemelse Vader by sy kinders pleit, nie om “kalal” te “bagar” nie, maar om “barag” te “bagar” – daarom dat die twee woorde byna dieselfde klink. Hoe “bagar” ‘n mens in die praktyk? Hoe maak jy ‘n keuse vir Yahweh, as jy bly in ‘n land wat in effek téén Hom gekies het? Kyk na die woord “bagar”. Hierdie woord klink ‘n bietjie soos “begeer” en miskien is dit nie toevallig nie. Ons moet begeer om Yahweh te behaag. Ons moet begeer om ons lewens op die fondasie van sy Woord te bou. Ons moet begeer om die waardes van sy Torah aan andere bekend te stel. Ons moet begeer om geregtigheid te herstel waar dit verbrokkel het en wonde te verbind waar die afgryslike gevolge van die vloek wat daar op ons land gekom het, letsels in mense se lewens gelaat het. En bo alles moet ons begeer om self tot inkeer te kom, en andere tot inkeer te roep, sodat die vloeke in ons gemeenskappe omgekeer kan word en die seën van Yahweh weer deel kan word van ons lewens. Dis wat dit beteken om die lewe te kies, Yahweh lief te hê, na sy stem te luister en Hom aan te hang!