HOE KONSEKWENT IS ONS?

alternate textDie afgelope week of drie was daar behoorlik ‘n herrie los toe Woolworths besluit het om alle Christelike tydskrifte soos Joy!, Lig, Juig en Leef van sy rakke te verwyder. Volgens ‘n verklaring wat hulle uitgereik het, was dit suiwer ‘n ekonomiese besluit en die enigste rede was dat hierdie tydskrifte eenvoudig nie goed genoeg verkoop het nie. Soos ‘n mens kan verwag was sommige Christene briesend hieroor en het gedreig dat hulle nooit weer enige item by Woolworths sou koop nie. Die uitroepe en opskrifte in nuusblaaie was soms skreeusnaaks. Een opskrif het gelui: “Woolworths loses its faith”. Iemand het glo op Facebook gesê dat “the battle of Woolworths VS God” is vir hom een van die tekens dat die einde naby is en hy het hy besluit om téén Woolworths te kies. Een joernalis het tong in die kies gesê “Woolworths must faith the facts and repent”.

Die ironie is dat Woolworths op die ou end tóg aan die druk toeggee het en wel “repent” het. Errol Naidoo, wat voorheen ‘n pastoor by die “His People” kerk was en nou ‘n Direkteur van “Family Policy Institute”, ’n toenemend invloedryke drukgroep vir Christelike belange, het eers ‘n epos aan Simon Susman, uitvoerende hoof van Woolworths, gestuur en gevra dat Woolworths sy besluit moet herroep. Toe Susman nie wou toegee nie, het Naidoo sy gereelde nuusbrief per epos aan duisende kerke en groepe regdeur Suid Afrika gestuur en gevra dat hulle epos briewe van beswaar aan Susman moes stuur. Naidoo het sy nuusbrief op Woensdag 20 Oktober uitgestuur. Teen 6 uur die aand, daardie selfde dag, het Woolworths sy besluit herroep en die Lig en die Lewe en die Juig en die Joy was weer terug in elke Woolworths, en in meeste Christene se lewens!

As ek aan hierdie hele petalje dink, kan ek nie help om die vraag te vra nie: “Hoe konsekwent is ons regtig?” Soms voel ons ook mos sterk oor ‘n sekere saak en dan voel ons lus om bietjie stof op te skop. Wat is dan nou daarmee verkeerd? Die antwoord is natuurlik: Niks nie. Die vraag is net: Hoe konsekwent is ons? Is ons nie maar almal geneig om stof op te skop oor ons eie geliefkoosde en holruggeryde “topics”, maar terselfdertyd ‘n koue skouer te draai na ander aangeleenthede wat eintlik baie belangriker en baie groter is as daardie een waaroor ons so sterk voel nie? Is ons nie maar almal geneig om stof op te skop wanneer dit ons eie sakke en ons eie eer en ons eie kinders raak, maar wanneer dit iemand anders se kinders of iemand anders se eer raak, dan voel ons skielik nie meer so sterk oor ons saak (of oor hulle saak) nie?

Het Joy en sy lesers enige oog geknip toe daar meer as een keer die afgelope jaar artikels in daardie tydskrif verskyn het waarin die geloof van mense wat terugkeer na die Skrif deur die Shabbat te eer en die Torah te hou, bevraagteken en gekritiseer is? Het Errol Naidoo al ooit sy invloedryke Christelike drukgroep gebruik om beswaar te maak daarteen dat nie eens een persent van die mense van Suid Afrika die Shabbat hou nie? Het enige van die Christene wat so ‘n bohaai opgeskop het toe ‘n kettingwinkel (wat eintlik in kos en klere spesialiseer) besluit het om sekere tydskrifte nie meer te verkoop nie, al ooit ‘n vinger verroer om beswaar te maak teen die verkoop van varkvleis of seegarnale? En wat was Woolworths se eintlike probleem? Is dit die feit dat die vier tydskrifte in hulle winkels wat die swakste verkoop, nou net mooi (toevallig) die vier Christelike tydskrifte was, of was dit ‘n geval van: Ons verkoop nie juis Moslem, of Hindoe of Joodse tydskrifte nie – so kom ons verwyder liewer die Christelike tydskrifte, voordat daar moeilikheid kom? Solank ons net kan aanhou om munt te slaan uit die Christelike feesseisoen wat ons pad is en geld maak uit ons Kersfees “winskopies” …

Miskien is dit hoog tyd dat ek en jy ‘n slaggie goed kyk na ons eie agendas en ons eie motiewe wanneer ons so haastig is om op ‘n jollielorrie te klim wat alreeds gelaai is met ‘n koor van beswaardes en briesendes. Moet ons nie met Yahweh se oë na hierdie wêreld en sy dinge probeer kyk nie? Moet ons nie eers seker maak of ons eie sake en ons eie lewe in orde is nie? Moet ons nie in hierdie hele proses die voorbeeld van die Messias navolg nie? Kom ons kyk na wat die Skrif in hierdie opsig vir ons te sê het.

Luk 16:13 Geen huiskneg kan twee meesters dien nie; want hy sal òf die een haat en die ander een liefhê, òf die een aanhang en die ander een verag. Julle kan nie Elohiem en Mammon dien nie.

Een, allesoorheersende fondament wat al ons woorde, dade en gedagtes bepaal.

Joh 7:22-23 Daarom het Mosheh julle die besnydenis gegee – nie dat dit van Mosheh is nie, maar van die vaders – en op die Shabbat besny julle ‘n mens. As ‘n mens die besnydenis op die Shabbat ontvang, sodat die Torah van Mosheh nie verbreek mag word nie, is julle kwaad vir My, omdat Ek ‘n mens op die Shabbat volkome gesond gemaak het?

Die Shabbat (Torah) is vir die mens gemaak, nie die mens vir die Shabbat (Torah) nie.

Mat 7:3-4 En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broer, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? Of hoe sal jy vir jou broer sê: Laat my toe om die splinter uit jou oog uit te haal, en kyk, in jou eie oog is die balk!

Kyk eers krities na jouself en na jou eie tekortkominge, dán na die van ander.

Mat 23:3-4 Alles wat hulle dan vir julle mag sê, onderhou en doen dit; maar volgens hulle werke moet julle nie doen nie, want hulle praat en doen nie. Want hulle bind pakke saam wat swaar en moeilik is om te dra, en sit dit op die skouers van die mense, maar self wil hulle dit nie met hulle vinger verroer nie.

Moenie van ander dit verwag wat jy self nie bereid is om te doen nie.

Rom 2:3-4 En meen jy, o mens wat hulle oordeel wat sulke dinge doen, en dit self doen, dat jy die oordeel van Elohiem sal ontvlug? Of verag jy die rykdom van sy goedertierenheid en verdraagsaamheid en lankmoedigheid, omdat jy nie besef dat die goedertierenheid van Elohiem jou tot bekering wil lei nie?

Dink aan Yahweh se geduld met jou, voordat jy uit ongeduld ander veroordeel.

Rom 2:22-23 Jy wat sê dat ‘n mens nie owerspel mag pleeg nie, pleeg jy owerspel? Jy wat ‘n weersin in die afgode het, pleeg jy tempelroof? Jy wat jou op die Torah beroem, onteer jy Elohiem deur die oortreding van die Torah?

Beroem jou op die Torah, as ‘n bron van getuienis, nie as basis van veroordeling.

Joh 10:34-36 Y’shua antwoord hulle: Is daar nie in die Torah geskryf: Ek het gesê, julle is elohiem nie? As dit hulle elohiem noem tot wie die woord van Elohiem gekom het, en die Skrif nie gebreek kan word nie, sê julle vir Hom wat die Vader afgesonder en in die wêreld gestuur het: U praat lasterlik – omdat Ek gesê het: Ek is die Seun van Elohiem?

Moenie die Skrif “breek” in ‘n poging om jou eie siening te bevorder nie.

Definisie: A standing together, as the parts of a system, or of conduct, agreement or harmony of all parts of a complex thing among themselves, or of the same thing with itself at different times; congruity; uniformity; as the consistency of laws; consistency of opinion; consistency of behavior or of character.

There is a harmony and consistency in all Yahweh’s works – also an inherent consistency in his Word.

A man’s life is always more forcible than his speech. When men take stock of him they reckon his deeds as dollars and his words as pennies. If his life and doctrine disagree the mass of onlookers accept his practice and reject his preaching. – C.H. Spurgeon.