DIE BEREIDHEID OM TE LEER

alternate textDie Shabbat tussen Yom Teruah en Yom Kippur word deur die Joodse rabbi’s genoem: Shabbat Shuvah. Dit beteken min of meer: “The Shabbat of Turning” of “The Shabbat of Return” of “The Shabbat of Repentance”. Die Torah gedeelte wat tradisioneel op dié dag gelees word, is Devariem (Deut) 31:1-30. Die woord “shuvah” kom egter nie in Devariem 31 na vore nie. “Shuvah” kom net een keer in die Skrif voor en dit is in YeshaYahu (Jes) 30:15 waar ons lees: “Want so sê die Meester Yahweh, die Afgesonderde van Yiesraél: In terugkeer (“shuvah”) en rus lê julle verlossing, in stil wees en vertroue bestaan julle krag; maar julle wou nie.” Die tien dae tussen Yom Teruah en Yom Kippur is bedoel om ‘n tyd van terugkeer te wees …

As ons ontdek dat ons op ‘n plek in ons lewe is waar een of ander skadelike gewoonte ‘n wurggreep op ons het, moet ons terugkeer!

As ons ontdek dat ons totale wese en ons tyd in beslag geneem word deur iets wat ons van Yahweh weghou, moet ons terugkeer!

As ons ontdek dat ons ons te veel aan mense gesteur het en te min aan die Woord en die opdragte van Yahweh, moet ons terugkeer!

As ons ontdek dat ons oor ‘n lang tyd so ver van Yahweh af weggeval het dat ons nie eens meer begeer om voor Hom stil te raak nie, moet ons terugkeer!

As ons ontdek dat daar ‘n kanker van woede of bitterheid, of selfs net geïrriteerdheid teenoor mense in ons harte ingekom het, moet ons terugkeer!

Elkeen van ons sal nog iets hê wat ons by hierdie lysie kan byvoeg. Maar kom ons keer vir ‘n oomblik terug na Deut 31. Die woord “shuvah” kom nou wel nie daar voor nie, maar kom ons kyk of daar nie in hierdie gedeelte, nogtans van een of ander vorm van “terugkeer” gepraat word nie. Daar is veral een gedeelte wat in hierdie opsig my oog vang: Vers 12: “Laat die volk byeenkom, die manne en die vroue en die kinders en jou vreemdeling wat in jou poorte is, dat hulle kan hoor en dat hulle kan leer om Yahweh julle Elohiem te vrees en sorgvuldig al die woorde van hierdie Torah te hou.” Hier word ‘n merkwaardige ding gesê: Ons moet leer om Yahweh te vrees! Dit gebeur nie oornag nie! Dit gebeur oor ‘n lang tydperk. Maar dit moet gebeur! Ons moet toeneem in ons vrees vir Yahweh, nie verflou nie. Ons vrees vir Hom moenie wegkwyn, net omdat ons die pad al ‘n bietjie langer gestap het en in die proses al hoe meer afgestomp geraak het vir die skerpheid en die dringendheid van sy Woord nie.

Ek dink ons behoort nou reeds te kan sien van watter soort terugkeer hier gepraat word. Al word die woord “shuvah” nie hier gebruik nie, is daar tog ‘n duidelike oproep om terug te keer. Ons moet terugkeer na ons eerste liefde en ons eerste lojaliteit en na daardie vrees vir Yahweh wat ons reg aan die begin gehad het. Aan die begin het die grafiek ‘n sterk opwaartse kurwe gehad. Ons was entoesiasties en ywerig en ingeskerp op die Woord en gefokus op ons Vader in die hemel. Maar toe word ons geleidelik weer meegevoer deur ander realiteite van hierdie wêreld en stadig maar seker maak ons groeikurwe ‘n draai en begin hy weer ondertoe te beweeg. Dis nodig dat die kurwe weer ‘n draai boontoe maak, terug na Yahweh toe! Ons sal moet leer om Yahweh te vrees. Dis ‘n proses. Dit vra dissipline. Dit vra toewyding. Dit is harde werk. Maar dis nie opsioneel nie. Ons mag nie ophou om leerlinge te wees nie. Ons kan nie halfpad uitsak en omdraai nie. En ons durf nie plek gee vir ‘n “unteachable spirit” in ons harte nie!

Die aktiwiteit waarmee die Messias seker vir die grootste persentasie van sy aardse lewe mee besig was, was die aktiwiteit om mense rondom Hom te leer. ‘n Volgeling van die Messias is per definisie iemand wat aangemeld het om ‘n leerling van Y’shua te wees. Nie net die eerste jaar vandat jy die pad begin stap het nie, of die eerste twee of drie jaar nie. Nee, jou hele lewe lank, en die kurwe moet in sy geheel ‘n opwaartse neiging hê, al is dit nie ongewoon dat dit soms ‘n draai na die verkeerde kant toe maak nie. Ons is mense en mense kan struikel en soms platgeslaan word. Maar Yahweh het ons geskape met ‘n onvernietigbare drang om op te staan en vorentoe te loop en vinniger te beweeg en verder te leer.

Iets wat baie mense nie in die Skrif raaksien nie, dalk omdat hulle nie glo dat dit moontlik is nie, is dat die Messias self ook ‘n leergierige gees gehad het. Daar is twee woorde in Grieks wat met “leer” vertaal kan word. Die eerste woord is “didasko” en dit beteken “leer” in die sin van “teach”. Die tweede woord is “manthano” en dit beteken “leer” in die sin van “be taught”. Die Messias het altwee hierdie dinge gedoen. Selfs die Messias het geleer en gegroei en in gehoorsaamheid toegeneem! Hy het dit self by meer as een geleentheid gesê. In Joh 7:16 hoor ons Hom hierdie woorde sê: “My leer is nie myne nie, maar van Hom wat My gestuur het.” In Joh 8:28 sê Hy weer: “Net wat my Vader My geleer (“didasko”) het, dit praat Ek”. In Heb 5:8 staan daar: “Hy, al was Hy die Seun, het gehoorsaamheid geleer (“manthano”) uit wat Hy gely het.” Y’shua se begeerte was om die wil van sy Vader meer en meer te leer ken, sodat Hy dit so goed as moontlik kon uitvoer. Hierin was hy vir elkeen van ons ‘n uitstekende voorbeeld. Daarom het Hy reeds as 12 jarige in die tempel gaan vertoef om te leer en vir sy ouers gesê: Het julle nie geweet dat Ek in die dinge van my Vader moet wees nie? In YeshaYahu (Jes) 50, wat allerweë as ‘n Messiaanse gedeelte beskou word, staan daar in vers 4: “Die Meester Yahweh het My ‘n geoefende tong gegee, dat Ek kan weet om die vermoeide te verkwik met woorde; Hy wek elke môre, Hy wek my oor om te hoor soos die leerlinge”. Is dit dalk moontlik dat hierdie vers aandui dat Y’shua nie net ‘n geoefende tong gehad het (waarmee Hy andere geleer het) nie, maar dat Hy ook ‘n geoefende oor gehad het (waarmee hy bereid was om te leer)? Die volgende vers laat hieroor geen twyfel nie: Jes 50:5: “Die Meester Yahweh het my oor geopen, en Ek was nie rebels nie; Ek het nie agteruitgewyk nie.”

Dalk het ons hier een van die grootste redes waarom ons soms “agteruitwyk” en dit dan so moeilik vind om weer terug te kom tot by daardie plek waar ons soos ware “talmidiem” (leerlinge) by die voete van Yahweh sit en bereid is om by Hom te leer. Ons ore is nie geopen soos wat die Messias se ore geopen was nie. Ons het rebelsheid in ons – iets wat die Messias nooit gehad het nie. Die nederigheid wat nodig is om Yom Kippur binne te gaan, is dieselfde nederigheid wat die Messias regdeur sy lewe geopenbaar het. Daar is ‘n bekende gedeelte in die Messiaanse Geskrifte wat dikwels verkeerd vertaal en verstaan word. Ek praat van Filippense 1:5-7 “Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in die Messias Y’shua was. Hy, wat in die gestalte van Elohiem was, het gelykheid aan Elohiem nie as iets geag wat aangegryp moet word nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die folterpaal. Daarom het Elohiem Hom ook grootliks verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is.”

Baie mense kan nie hoor en leer by wat hierdie gedeelte sê nie omdat hulle dit vanuit ‘n “Trinity” perspektief probeer verstaan. ‘n Sleutelwoord in hierdie gedeelte is die woord “aangegryp”. Dit is ‘n vertaling van die Griekse woord “harpadzo” wat nie “vasklou” beteken nie, maar ‘n beweging van een plek na ‘n ander veronderstel – gewoonlik van onder na bo. Met ander woorde die uitdrukking “Hy wat in die gestalte van Elohiem was” veronderstel dat Y’shua die vorm of die karakter van Yahweh openbaar het, terwyl Hy op aarde was, met Yahweh wat in die hemel is. Hy het nie soos die eerste Adam hier van die aarde af probeer om gelykheid met Yahweh aan te gryp (of deur rebelsheid te bekom) nie, maar het verkies om die vorm of die karakter van ‘n dienskneg aan te neem. Hy het verkies om die pad van “humbleness” te loop, wat ingesluit het ‘n pad van gehoorsaamheid en ‘n voortdurende bereidheid om te leer. Ons kan in alle opsigte by Hom leer. Y’shua is nie Yahweh nie. As dit so was sou ons moedeloos gebly het, want watter mens kan regtig die Almagtige se voorbeeld navolg? Ons kan egter die Messias se voorbeeld navolg. Hy was ‘n mens soos ons. ‘n Mens gestroop van enige sweempie van trots en hoogmoed. ‘n Mens wat volhardend sy Vader gesoek het en geleer het om sy Vader in alles te vrees. Daar is nie iets beter as om Hom as Leermeester te hê nie. En as ons ernstig is oor “shuvah” (terugdraai, berou), MOET ons bereid wees om ons te laat leer en ons te laat oortuig en ons te laat verander.