REDDING VIR JOUSELF

alternate textWanneer ‘n mens die Torah lesing van hierdie week (Gen 12-17) begin lees, lyk dit alles op die oog af na die normale manier waarop meeste van die Parashot in die Torah begin:  Gen 12:1  En Yahweh het aan Avram gesê: “Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys.”  Daar is net een aspek wat nie heeltemal so “normaal” lyk nie.  Die woorde: “Gaan jy uit jou land …”.   Normaalweg sou mens immers verwag dat dit bloot sou wees:  “Gaan uit jou land …”.  In Engels vind ons in meeste letterlike vertalings die woorde “Go forth yourself…” en nie net “Go forth …” nie.  Baie mense wat Hebreeus verstaan, sê selfs dat die Hebreeuse uitdrukking “Lech lecha” waarmee hierdie Parashah begin, vertaal moet word as : “Go to yourself …”   Waarom is dit?  Waarom het Yahweh vir Avram gesê dat hy “vir homself” uit die land moes gaan, of selfs nog meer letterlik, dat hy die land moes verlaat sodat hy “na homself” toe kon gaan?

‘n Mens dink in hierdie opsig aan dit wat in verlede week se Parashah (oor die Toring van Babel) uitgestaan het en die boodskap wat in een of ander vorm omtrent 12 keer in die Skrif herhaal word:  Gaan uit haar uit, my volk, en moenie deel neem aan die verwarring en die vermenging wat aan Babel gekoppel word nie!  Vir wie se onthalwe moet mens uit Babel uit weggaan?  Doen jy dit vir jou voorouers wat lankal dood is?  Nee.  Doen jy dit ter wille van hulle wat IN Babel is en wat geen begeerte het om weg te trek nie?  Nee.  Doen jy dit omdat dit die populêre of die gemaklike ding is om te doen?  Nee.  Jy doen dit ter wille van jouself.  Jy doen dit omdat jy siek en sat is vir die verwarring en die vermenging en die verval – weg van Yahweh se Woord af.  Jy doen dit ter wille van jou eie behoud en jou eie redding.  Omdat jy weet jou redding lê nie by ‘n stad of by ‘n stelsel of by ‘n indrukwekkende struktuur nie, maar by Yahweh.   En jy doen dit omdat jy weet verwarring en vermenging, aan die een kant, en redding en bevryding, aan die ander kant, is soos twee pole wat mekaar afstoot – dit kan nie inpas binne dieselfde ruimte nie.

Die plek waaruit Avram moes wegtrek toe Yahweh vir hom in Bereshiet (Genesis) 12 met die woorde “lech lecha” tot sy sinne geruk het, staan bekend as “Ur van die Chaldeërs” – ‘n plek wat nie net in dieselfde streek as Babel geleë is nie, maar wat heel moontlik ‘n verbintenis met Babel en sy afgode gehad het en wat vir Avram ook ‘n plek van verwarring en vermenging was.  Joshua 24:2 sê vir ons dat Avram se eie pa, Terag, ander magtiges gedien het – op die plek waar Avram ‘n groot deel van sy lewe deurgebring het.  Daar bestaan geen twyfel dat Avram vir homself uit die land van die Chaldeërs (of die Kasdiem) moes wegtrek nie.

Sommige kommentators wys daarop dat die pleknaam “Ur” ook ‘n Hebreeuse woord is wat “smeltoond” (Engels: “furnace”) beteken.  Volgens hierdie verstaan het Yahweh dus in Gen 15:7 (wat óók deel is van hierdie week se Parashah) nie net vir Avram gesê “Ek is Yahweh wat jou uitgelei het uit Ur van die Kasdiem om jou hierdie land in besit te gee” nie, maar heel letterlik:  “Ek is Yahweh wat jou uitgelei het uit die smeltoond van die Kasdiem om jou hierdie land te gee.”   Is dit vreemd dat Avram eers in ‘n smeltoond was voordat hy die land ontvang het?  Nee.  Israel was eers in slawerny, en daarna 40 jaar in die woestyn, voordat hulle die beloofde land ontvang het.  Dawid was eers ‘n voortvlugtige voordat hy as koning aanvaar is.  Y’shua was eers aan die ergste vorm van lyding blootgestel voordat Hy tot die regterhand van Yahweh verhoog is.  Dis die patroon wat hom gereeld in die Skrif herhaal en Yahweh gebruik dit om in te gryp in iemand se lewe en vir hom of vir haar te sê:  Dis die dinge wat alles met JOU gebeur het.  Nou steek Ek my hand na jou toe uit om jou te red en jou te bewaar en jou te seën.  Dis vir jou dat Ek dit doen!

Ek kan my voorstel dat Avram nooit gemaklik was met dit wat hy rondom hom in Ur van die Chaldeërs beleef het nie.  Yahweh het ‘n manier om sy hand op iemand te lê en hom of haar voor te berei vir die pad wat Hy met daardie persoon wil loop, nog lank voordat daar ‘n ware ontmoeting plaasvind en nog lank voordat die eintlike verlossing in werking tree.  Byna asof daar ‘n mate van afsondering is, nog voordat die persoon die wilsbesluit geneem het om afgesonder vir Yahweh te lewe.  In hierdie verband is daar ‘n legende oor Avram wat in sommige van die ou Joodse geskrifte opgeteken is.  Volgens die legende was Avram se vader, Terag, letterlik ‘n vervaardiger en ‘n handelaar van afgode en het hy op ‘n keer op reis gegaan en vir Avram gevra om toesig te hou oor sy besigheid. Daar kom toe ‘n man by die winkel aan en vra of hy ‘n afgod kan koop.  Avram vra toe vir die man hoe oud hy is.  Vyftig jaar oud, sê die man.  “Dit is ‘n skreiende skande dat ‘n man wat 50 jaar oud is voor ‘n afgod wil neerbuig wat net een dag oud is” sê Avram vir die man en die man is daar weg sonder sy afgod.  Later kom ‘n vrou daar in met ‘n bord meel en vra dat Avram die meel aan die afgode in die winkel moet offer.  Die volgende oomblik gryp Avram ‘n stok en slaan al die afgode stukkend met die stok – almal behalwe die grootste een.  Hy plaas toe mooi netjies die stok in die grootste afgod se hand en toe sy pa by die huis kom en vir Avram vra waarom al die afgode stukkend is, antwoord Avram:  “Die afgode het onder mekaar baklei om eerste gevoer te word en toe het die grootste een ‘n stok gevat en al die ander daarmee stukkend geslaan.” Baie woedend sê Terag toe vir Avram:  “Jy hou my vir die gek!  Almal weet dat ‘n afgod nie ‘n sin vir reg en verkeerd het nie.”  “Presies,” antwoord Avram, “Dis hoekom ek niks met hulle te doen wil hê nie.”

Volgens die legende het Terag toe uit woede vir Avram aan Nimrod oorgegee wat die koning van Shinar oftewel, die koning van Babel was (Gen 10:10)!  Terag het gehoop dat Nimrod Avram sou oorreed om soos die res van sy mense, minstens voor een afgod neer te buig.  Eers het Nimrod voorgestel dat Avram die vuur aanbid.  Avram sê toe water is sterker as vuur.  Toe Nimrod voorstel dat hy dan die water aanbid, is Avram se antwoord dat die wolke sterker as die water is want wolke dra water.  “Aanbid dan die wolke”, sê Nimrod, waarop Avram antwoord:  “Die wind is sterker as die wolke, want wind kan wolke wegdryf.”  Toe Nimrod besef dat Avram altyd ‘n teen-antwoord sal vind, het hy vir Avram letterlik in ‘n vuur (of ‘n smeltoond!) gegooi en die Elohiem van Avram uitgedaag om hom uit die vuur te red en sodoende te bewys dat die afgode niks beteken nie.  Avram se pa, Terag, en sy broer, Haran, het bygestaan toe dit alles gebeur het.  Haran kon nog nie besluit wie se kant hy moes kies nie – die kant van Nimrod se afgode of die kant van Avram se Elohiem nie.  Toe Avram ongedeerd uit die vuur uitkom, vra Nimrod vir Haran aan wie se kant hy is.  Toe Haran sê hy kies die Elohiem van Avram, het Nimrod vir Haran in die vuur gegooi en so het Haran in sy pa se teenwoordigheid gesterf, soos wat in Gen 11:28 geïmpliseer word.

Hierdie verhaal is net ‘n legende en het heel waarskynlik nooit werklik plaasgevind nie.  Maar dit help mens om te verstaan van waar af Avram gekom het en watter impak dit op hom moes gehad het toe hy daardie dag in die land van die Chaldeërs ‘n Stem gehoor het wat vir hom gesê het:  “Lech lecha” – “Gaan uit, vir jouself!”  Die ou Joodse Rabbis het selfs nog dieper na hierdie woorde “Lech lecha” gekyk.  Hulle wys daarop dat daar in Hebreeus vyf letters is wat op twee verskillende maniere geskryf kan word – afhangende daarvan of die letters in die middel of aan die einde van die woord staan.  Hierdie vyf letters is kaf (כ en ך), mem (מ en ם), nun (נ en ן), peh (פ en ף) en tsade (צ en ץ).  Al vyf hierdie letters, in dieselfde volgorde as wat hulle in die alfabet voorkom, sê die ou rabbis, hou verband met die misterie van verlossing, soos dit deur die geskiedenis ontvou het.  Met die letter “kaf” het Elohiem vir Avram uit die land van die Chaldeërs verlos (“kaf” – wat soms soos ‘n Afrikaanse “g” uitgespreek word – kom twee keer voor in “lech lecha”).  Met die letter “mem” is Yietsgak (Isak) uit die land van die Filistyne verlos, toe die Filistynse koning in Gen 26:16 vir Yietsgak gesê het:  “Gaan weg van ons, want jy het vir ons veels te magtig (“mimenu me’od”) geword.” Met die letter “nun” is Yaákov uit die hand van Esau verlos, toe hy Yahweh in Gen 32:12 gesmeek het:  “Red my tog (“hatsileini na”) uit die hand van my broer.”  Met die letter “peh” het Elohiem vir Israel uit Egipte verlos, toe Hy vir Mosheh in Ex 3:16 gesê het:  “Ek het terdeë ag geslaan (“pakod pakadeti”) op wat julle in Mietsrayiem aangedoen is.”   En met die letter “tsade” sal Elohiem in die toekoms sy volk uit die hand van hulle vyande verlos, want in Sag 6:12 word geprofeteer van ‘n “Spruit” – Engels “Branch” – (“tsemach) wat sal uitspruit (“yietsmach”) en die tempel van Yahweh sal bou en ‘n groot priester sal wees en ook uitermate verhoog sal word.

Die meeste Yehudiem kan nie insien dat hierdie “tsemach” vir ‘n kort rukkie reeds op aarde was, dat Hy reeds tot ‘n posisie reg langs die troon van Yahweh verhoog is en as Hoëpriester volgens die orde van Melgisedek lankal reeds besig is om aan die tempel van Yahweh te bou nie.   Die meeste Yehudiem verstaan ook nie heeltemal waarom hierdie proses van vyf opeenvolgende reddingsdade eers behoorlik op dreef gekom het toe Yahweh die vyfde letter van die alfabet, met ‘n numeriese waarde van 5,  (die letter “heh”) by die name van Avram en Sarai bygevoeg het nie (sodat hulle Avraham en Sarah geword het).  ‘n Mens kan hieroor verskil, maar ek reken dat minstens een van die redes vir hierdie naamsverandering was, dat Hy die enigste letter wat twee keer in sy eie Naam voorkom, by die name van hierdie twee voorlopers in die geloof wou voeg – as ‘n duidelike bewys dat Hy hulle wou verlos, nie net ter wille van hulleself (lech lecha) nie, maar ook ter wille van Hom – ter wille van die eer van sy Naam, sodat elkeen wat ná Avraham en Sarah ware redding sou ontvang, die krag en die diepe betekenis van sy Naam sou erken en vir geen oomblik sou skroom om sy Naam met vrymoedigheid op hulle lippe te neem en met hulle leefstyl te vereer nie.  Hoe kan ons redding “VIR ONSSELF” wees as ons juis nie op onsself fokus nie, maar op Hom en op sy Naam?  Want redding is alleen uit Hom, nie uit onsself nie.  My hulp is van Yahweh, wat hemel en aarde gemaak het …