PLEKKE VAN ONTMOETING

alternate textIn die tweede vers van hierdie week se Parashah (Torah leesstuk: Gen 28:10 tot 32:3) staan daar hierdie woorde (in die Woord en Getuienis vertaling):  “Daarna kom hy (Yaákov) by ‘n plek waar hy die nag oorgebly het, want die son was al onder.  En hy neem een van die klippe van die plek en sit dit onder sy hoof, en hy gaan lê en slaap op daardie plek” (Gen 28:11).  Wat hierop volg is die bekende gebeure waarin Yaákov, op weg van Beérsheva na Garan, droom van ‘n leer uit die hemel met boodskappers wat afkom en opgaan, Yahweh wat aan hom verskyn en die belofte van ‘n groot nageslag aan hom bevestig, gevolg deur die episode met Lavan (Laban) se dogters Leáh en Ragel en al die drama wat Yaakov met hierdie oom van hom gehad het en die feit dat hy eers na meer as 14 jaar met sy nuwe familie van Lavan kon wegtrek.

Die plek waar Yaákov hierdie besondere ontmoeting met Yahweh gehad het, is ‘n groot punt van bespreking.  Die vertaling, “daarna kom hy by ‘n plek”, is streng gesproke nie heeltemal reg nie.  In die Hebreeuse teks staan daar letterlik:  “Daarna “pagha” hy ín (of óp of bý) die plek en hy het die nag daar oorgebly …”  Later meer oor hierdie woord “pagha”, maar let daarop dat dit eintlik die plek is en nie ‘n plek nie.   Wat meer is, in dieselfde vers word daar nog twee keer ook na “die plek” of “daardie plek” verwys.  Watter plek is dit?  As mens in ‘n vertelling eenvoudig na ‘n plek verwys as “die plek” of “daardie plek”, dan beteken dit gewoonlik dit is ‘n plek wat reeds bekend is of ‘n plek waar daar reeds voorheen iets belangrik gebeur het.  Baie kommentators meen dat dit dieselfde plek is waar Avraham sy seun (en Yaákov se pa), Yietsgak (Isak) moes offer (Genesis of Bereshiet 22).  Hierdie plek word in Bereshiet 22 ook minstens drie keer “die plek” (Heb: “ha-makom”) genoem en dit is die “ha-makom” in die Skrif wat (in tydsverloop) die naaste is aan die plek wat hier Bereshiet 28 ter sprake kom.  Boonop word daar in Bereshiet 22 spesifiek gesê dat dit ‘n plek is wat Yahweh self vir Avraham (en vir sy nageslag?) uitgewys het – ‘n plek wat in die Skrif as MoriYah en ‘n deel van Yerushalayiem geïdentifiseer word en wat die plek of die berg is waarop Shelomoh (Salomo) later die tempel in Jerusalem gebou het (2 Kron 3:1).  Net ‘n klein entjie hiervandaan – basies nog dieselfde “plek” – het ‘n Vader later (net soos Avraham) ook sy Seun as offer gegee en die diepste en grootste betekenis van MoriYah (“Yahweh sal voorsien”) aan hierdie wêreld gedemonstreer.

Toe Yahweh vir Avraham ‘n plek uitgewys het om sy seun, Yietsgak, te gaan offer, was dit nie sommer net enige plek nie.  Dit was dié plek wat Hy reg van die begin af uitgekies het om sy grootheid en sy almag en sy groot guns aan sy volk, en aan almal wat later by sy volk sou aansluit, te kom demonstreer.  Die Skrif dui aan dat Yahweh op hierdie selfde plek ‘n grondsteen neergelê het, wat niemand kan verskuif nie, en wat reg deur die geskiedenis keer op keer na vore sou tree as ‘n plek van beslissing en ‘n plek van ontmoeting.  “So sê die Meester Yahweh: Kyk, Ek lê in Tsion (of in Yerushalayiem of in MoriYah) ‘n grondsteen, ‘n beproefde steen, ‘n kosbare hoeksteen wat vas gegrondves is …” (Jes 28:16).  Geen wonder Yaákov het een van die klippe van daardie plek geneem en met sy kop op die klip aan die slaap geraak nie!  Die plek het nog nie eers behoorlik ‘n naam gehad nie – eers later sou ‘n agter-agter kleinkind (Dawied) ‘n stuk dorsvloer vir 50 shekels silwer by Arauna koop en dit “Yerushalayiem” noem.  Min wetende dat Yahweh al lankal sy grondsteen daar neergesit het!  Min wetende dat daar offers gebring is, lank voordat die Leviete in Shelomoh se tyd begin het om hulle offers daar te bring.  Nie net deur mense soos Avraham en Yaákov nie, maar selfs deur iemand soos Malkitsedek, die hoëpriester vir wie Avraham sy tiendes gegee het en wat ook as die koning van “Shalem” bekend gestaan het (Gen 14:18; Heb 7:1).  Psalm 76:2 sê duidelik dat Shalem dieselfde plek as Tsion is, die plek waar die Elohiem van Yiesraél sy Tent laat verrys het.

Daar is ‘n tweede aspek van Gen 28:11 wat ook nie so duidelik in meeste vertalings na vore kom nie.  In die Hebreeuse teks staan daar nie bloot dat Yaákov by die plek “gekom” het nie.  Daar staan dat hy ge-“pagha” het.  Die woord “pagha” beteken normaalweg iets soos “ontmoet; iets of iemand tref met ‘n slag; bid of intree vir iemand.”   Hoe ‘n mens ook al die vers vertaal, die bedoeling is duidelik:  Yaákov het ‘n besondere sterk ontmoeting met Yahweh gehad by daardie plek.  Die Yehudiem sê dat die gebruik om drie keer per dag te bid, kom van drie gebeurtenisse in die lewens van die drie groot voorvaders, Avraham, Yietsgak en Yaákov.  By Avraham leer ons om in die oggend te bid:  Gen 19:27  En Avraham is vroeg in die môre na die plek waar hy voor die aangesig van Yahweh gestaan het.  By Yietsgak leer ons om in die namiddag te bid:  Gen 24:63  En Yietsgak het teen die aand (wanneer dit begin donker word) uitgegaan om te peins in die veld.  En by Yaákov leer ons om ná sonsondergang te bid:  Gen 28:11  En hy (Yaákov) het ‘n beslissende ontmoeting (met Yahweh) gehad by die die plek en die nag daar oorgebly, want die son was al onder.

Soos Avraham en Yietsgak en Yaákov, het ons ook plekke in ons lewens wat ons kan uitwys en waarvan ons kan sê:  Dit is ‘n plek waar ek Yahweh ontmoet het.  Dit kan ‘n plek wees wat vir ons soos ‘n “MoriYah” is – ‘n plek waar Yahweh voorsien het, soos wat Hy vir Avraham voorsien het toe hy gedink het dis die einde van Yietsgak, die seun van sy belofte.   Ons was in die nood, ons was met ons hande in ons hare, ons was aan die einde van ons krag – toe kom Yahweh en Hy voorsien op ‘n manier wat ons geloof oneindig versterk en ons in lof en aanbidding voor Hom laat neerbuig.  Of dit kan ‘n plek wees soos Yietsgak se “Beérsheva” – ‘n plek waar daar baie putte is en diep, donker gate, maar waar ons ook die belofte of die bemoediging of die eed (die “sheva”) van Yahweh gehoor het soos wat Yietsgak dit by Beérsheva gehoor het.  Of dit kan ‘n plek wees wat vir ons soos Yaákov se “Bet-El” is – ‘n plek waar ons die teenwoordigheid van Yahweh só tasbaar beleef het en só aangeraak is deur ‘n woord of ‘n openbaring of ‘n droom dat ons eenvoudig gevoel het vir ons was daardie plek “Bet-El” – ‘n huis of ‘n plek van Elohiem.

Sommiges meen dat Gen 28:11 eintlik só vertaal moet word:  “Daarna het hy ‘n ontmoeting met Die Plek gehad en die nag daar oorgebly …”   Maar hoe kan ‘n mens ‘n ontmoeting met ‘n plek hê?  Jy kán, as jy bely en weet dat Yahweh self in plekke wat Hy uitkies, teenwoordig kan wees.  Dan is jou ontmoeting met daardie plek, eintlik niks anders nie as ‘n ontmoeting met Yahweh.  Jy sal die plek onthou – wat die plek se naam is en waar dit geleë is en die tyd dat jy daar was en die mense wat saam met jou daar was, en selfs nog meer konkrete en tasbare inligting oor daardie plek.  Maar hierdie konkrete en tasbare feite is eintlik maar net ‘n manier vir ons as mense om te verwys na iets waaraan ons nie kan vat of raak nie en iets wat ons eintlik nie in menslike terme kan beskryf nie.  En hierdie “iets” is wat met die Hebreeuse woord “pagha” bedoel word.  ‘n Ontmoeting of ‘n interaksie of ‘n beïnvloeding wat plaasgevind het.  ‘n Impak wat Yahweh op jou lewe gehad het, ‘n konneksie wat gemaak is, wat jou lewe onherroeplik verander het.  Soms gebeur dit uit die bloute uit, maar dis meer die uitsondering as die reël.  As jy begeer om sulke pagha-momente te beleef, moet jy die voorbeeld van die aartsvaders volg en tyd opsy sit vir gebed en vir meditasie en vir ontmoeting met die Allerhoogste.  Selfs tyd om soos Avraham eenvoudig voor die aangesig van Yahweh te gaan staan – soms ter wille van jouself en jou eie tergende probleme, maar soms ook ter wille van ander en die nood van ander mense .  Almal van ons het plekke van ontmoeting met ons Verlosser in ons lewe nodig.  En hoe meer ons plek en tyd daarvoor máák en inruim in ons daaglikse programme, hoe meer gaan “pagha” deel van ons lewe word.

Tussen al die verskillende plekke in ons lewens hier op aarde waar ons ons ontmoetings met Yahweh het, mag ons egter nie die Een Plek vergeet wat hy uitgekies om sy Naam vir ewig daar te laat woon nie.  1 Kon 9:3  “En Yahweh sê vir hom: Ek het jou gebed en jou smeking gehoor wat jy voor my aangesig uitgespreek het; Ek het hierdie huis wat jy gebou het, afgesonder deur my Naam daar te vestig tot in ewigheid; en my oë en my hart sal daar altyd wees.”   Ps 137:5-6  “As ek jou vergeet, o Yerushalayiem, laat my regterhand dan homself vergeet! Laat my tong kleef aan my verhemelte as ek aan jou nie dink nie, as ek Yerushalayiem nie verhef bo my hoogste vreugde nie.”  Dis hier, in Jerusalem, waar daar honderde jare lank offers tot eer van Yahweh, die Almagtige gebring is.  Dis hier waar die feeste gehou is, waar die ark van die verbond bewaar is en waar die lig van die menorah die wêreld ingestuur is.  Dis hier waar Y’shua aan ‘n folterpaal gesterf het en drie dae later uit die dood opgestaan het.  Dis hier waar Stefanus die eerste martelaar vir sy geloof in die Messias geword het – onder meer omdat hy geglo het dat Y’shua uit die dood opgestaan het.  Dis hier waar Shaúl minstens twee jaar lank gevange gehou is – onder meer omdat hy geglo het dat Y’shua uit die dood opgestaan het.   Dis hier waar Yaákov, die broer van Y’shua, leier van die vroeë gelowiges in die Messias (en naamgenoot van Yaákov, die seun van Yietsgak) doodgemaak is, hoofsaaklik omdat hy geglo het dat Y’shua uit die dood opgestaan het.  En dis hier waar Y’shua sy voete sal neersit wanneer Hy weer kom en die oorblywende deel van Yahweh se plan met hierdie wêreld sal voltrek.

Laat ons Jerusalem nie vergeet nie en nooit ophou om vir haar vrede by Yahweh in te tree of te “pagha” nie!  (Ps 122:1-9).

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »