OORLEWING IN DIE WILDERNIS

alternate textDie leesstuk van hierdie week (Numerie 1:1 – 4:20) word “Bamiedbar” genoem, wat “In die woestyn” of “In die wildernis” beteken. Bamiedbar (of Bemiedbar) is ook die Hebreeuse naam van die vierde boek van die Torah, beter bekend as Numerie. Die veertig jaar periode waarin die volk in die woestyn rondgeswerf het, word tot vandag toe nog as simbool gebruik vir enige verlengde periode van swaarkry of beproewing waarin ‘n mens in hierdie lewe mag verkeer. Mense sê soms hulle was in ‘n woestyn-tyd as hulle vir ‘n tyd lank alleen was, of soekend was of deur dinge in hulle lewe geworstel het. En baie mense sal saamstem: “The Promised Land always lies on the other side of a Wilderness”.

Die wildernis was vir die volk van Israel ‘n verskriklike plek. Min of meer in die middel van hierdie boek wat, saam met die boek Klaagliedere, seker die mees morbiede naam van al die boeke in die Skrif ontvang het, tref ons hierdie twee verse aan: Num 16:31-32 “En toe hy al hierdie woorde klaar gepraat het (KJV: And it came to pass, as he had made an end of speaking all these words…), skeur die grond wat onder hulle was, en die aarde het sy mond oopgemaak en hulle verslind saam met hul huisgesinne en al die mense wat aan Korag behoort het en al die goed.” Dis die bekende voorval waarin Korag, Datan en Avieram en 250 leiers onder die volk teen Mosheh en Aharon in opstand gekom het en Korag en sy hele familie letterlik deur die wildernis-aarde ingesluk en verswelg is en die 250 opstandige leiers deur vuur uit die hemel verteer is.

Die vertaling van Woord en Getuienis wys dit nie so duidelik nie, maar die King James Version gebruik hier ‘n uitdrukking wat dikwels in die res van die Skrif voorkom: “And it came to pass …” Die Hebreeuse woord vir “And it came to pass” is “Vayehi” en daar is sommige van die ou rabbis wat geglo het dat elke keer as in die Skrif as hierdie woord gebruik word, beteken dit dat iets sleg (selfs iets onheilspellend) gebeur het of gaan gebeur. Ek is nie so seker of dit altyd so is nie, want “Vayehi” kom omtrent 1000 keer in die Skrif voor en vir my lyk dit nie of dit elke keer ‘n slegte gebeurtenis aandui nie, maar dis beslis wáár in ‘n hele aantal plekke in die Skrif, soos onder andere in hierdie gedeeltes in Genesis:

Gen 4:8 En Kayien het vir sy broer Hevel gesê, Kom ons gaan in die veld; en toe hulle in die veld was (and it came to pass, when they were in the field…), het Kayien teen sy broer Hevel opgestaan en hom doodgemaak.
Gen 6:1-2 Toe die mense op die aarde begin vermeerder (And it came to pass, when men began to multiply…) en daar vir hulle dogters gebore is, sien die seuns van Elohiem dat die dogters van die mense mooi was, en hulle het vir hulle as vroue geneem …
Gen 11:2 En toe hulle wegtrek na die ooste (And it came to pass, as they journeyed from the east…), vind hulle ‘n laagte in die land Shienár; en daar het hulle gaan woon … En hulle sê: Kom, laat ons vir ons ‘n stad bou en ‘n toring waarvan die spits tot aan die hemel reik.

Wat het dit met vandag se leesstuk en met die volk se omswerwinge in die wildernis te make? Iemand wat kommentaar gelewer het op Parashah “Bamiedbar” het gesê die eerste vyf boeke van die Skrif gaan oor twee reise: (1) Die reis vanaf ‘n sekere plek en (2) Die reis tot by ‘n sekere plek. En dan maak hy hierdie stelling, wat wáár is op byna elke terrein van die lewe: Die reis “vanaf” is altyd baie makliker as die reis “tot by”. In ons eie land se politieke situasie het ons gesien dat die proses om uit Apartheid uit te kom, relatief baie makliker was as die proses om tot by Geregtigheid, Vertroue en Samehorigheid te kom (iets wat ná 24 jaar nog nie naastenby in Suid Afrika gestalte gevind het nie). Om van iets weg te beweeg waarvan jy nie hou nie, kan binne ‘n relatief kort tydjie, met relatief min moeite gebeur. Maar om hierdie proses deur te voer en tot by die eindbestemming te beweeg en deur te druk totdat jy by daardie plek uitgekom het waaroor jy so lank gedroom het, is heeltemal ‘n ander storie. Dit is die groot verskil tussen Avraham en sy pa, Terag. Terag kon wegtrek uit Ur van die Chaldeërs en selfs vorder tot by Garan. Maar dáár het hy sy hakskene in die grond geslaan en nie verder beweeg nie. Dis was sy seun, Avraham, wat deurgedruk het tot by Kanaän en uiteindelik die beloftes van Yahweh ontvang het. Om te vertrek is maklik. Om by jou bestemming aan te kom, is baie moeiliker.

Dis die grootste, enkele gevaar van lewe in die wildernis – die onvermoë om deur te druk tot by die eindbestemming. Die tragiese realiteit is dat baie mense in die wildernis tydperke van hulle lewens, ‘n “vayehi” – leefstyl aankweek: Kom ons kyk maar wat gebeur. “Let’s see what will come to pass”. Die basis van die woord “vayehi” is die woord “hayah” wat beteken “om te wees of te bestaan of te gebeur”. Dis eenvoudig nie genoeg om net maar te “wees” of te “bestaan” nie. Nie binne die wildernis nie en ook nie daarbuite nie. Dis eenvoudig nie genoeg om ‘n houding in te neem van “Wat moet gebeur, sal gebeur” nie. Soos die bekende liedjie: Que Sera, Sera (“Whatever will be, will be”). Die ou rabbis het beslis geweet waarvan hulle praat: As jy jou op “vayehi” verlaat, kan jy byna seker wees daar is iets sleg, selfs iets onheilspellend net om die draai. Maar as jy, soos Hebreërs 11:10 dit beskryf, die stad verwag waarvan Elohiem self die Boumeester en die Oprigter is en, soos Heb 12:2 dit beskryf, die oog gevestig hou op Y’shua, die Leidsman en Voleinder van die geloof, gaan die dinge wat rondom jou en met jou gebeur (“the things that come to pass”), jou nie so maklik van stryk af bring nie.

Die gesindheid en lewensuitkyk waarvan Hebreërs praat, (die gesindheid van lewe met ‘n verwagting en lewe met die oog op jou bestemming) word weerspieël deur ‘n woord wat in die leesstuk van hierdie week voorkom, in Num 3:13 “Ek het al die eersgeborenes in Yiesraél vir My afgesonder, mense sowel as diere; hulle moet myne wees. Ek is Yahweh.” Die onderstreepte gedeelte is die vertaling van twee Hebreeuse woorde: “Li yihyu”. Die eerste woord “li” kan as “myne” vertaal word. Die tweede woord “yihyu” is ‘n verbuiging van dieselfde woord “hayah” waarvan “vayehi” afgelei word. Terwyl ons nog hier op aarde (en in baie opsigte: in die wildernis) is, het ons ‘n keuse: “Va-yehi” of “Li-yihyu”. Die eerste opsie is passief, byna lamsakkig. Wat moet gebeur, sal gebeur. Kom ek om, so kom ek om. Die tweede opsie is pro-aktief: Ek wil nie net leef of bestaan nie. Ek wil Yahweh s’n wees. Ek wil aan Hóm behoort. Ek wil vir Hóm leef. Ek wil Hóm eerste stel.

Sommiges sal beswaar maak en sê: Num 3:13 praat net van die eersgeborenes – dis net húlle van wie Yahweh gesê het: Hulle moet Myne wees. Ons kan nie net sommer ewe skielik hierdie vers op ander ook van toepassing maak nie. Of kan ons? Dieselfde Hebreërs wat in hoofstuk 11 en hoofstuk 12 vir ons beskryf hoe ons kan seker maak dat ons nie in ‘n “vayehi” mentaliteit verval nie, sê ook: “(Hou julle oog op) die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemel opgeskryf is” (Heb 12:23). Wie is hierdie gemeente van eersgeborenes wat in die hemel opgeskryf is? Dis dieselfde eersgeborenes of eerstelinge waarvan Jak 1:18 praat: “Volgens sy wil het Hy ons voortgebring deur die woord van die waarheid, sodat ons as eerstelinge van sy skepsele kan wees.” Die eersgeborenes waarvan hierdie twee verse praat is die finale oorblyfsel van die ware Israel (Onthou: Israel is Yahweh se eersgebore seun – Ex 4:21 en Jer 31:9 – maar andere kan by Israel ingeënt word, en van hierdie wilde lote wat ingeënt word sê Rom 11:16: “As die eerstelinge afgesonder is, dan die deeg ook; en as die wortel afgesonder is, dan die takke ook”). Van die begin af was dit Yahweh se bedoeling dat daar minstens ‘n oorblyfsel sou wees uit die hele volk van Israel (en hulle wat by Israel bygevoeg of ingeënt sou word), wat soos die eersgeborenes van Numerie 3, volledig aan Hom behoort en hulle lewens volledig aan Hom wy.

Ek en jy wat in Y’shua, die eersgebore Seun van Yahweh, glo, is geroep om die lewenstyl van ‘n eersgeborene aan te neem. ‘n Lewenstyl wat deur “Li-yihyu” gekenmerk word: Vir My moet julle bestaan; aan My moet julle behoort; na My toe moet julle groei. Dis slegs met so ‘n lewenstyl en ‘n sterk fokus op die eindbestemming (en die Een wat dáár vir ons wag) dat ons dit sal regkry om die wildernis te oorleef en die Beloofde Land in te gaan. In Openbaring 14:3-4 lees ons hierdie woorde: “En hulle het ‘n nuwe lied gesing voor die troon en voor die vier lewende wesens en die ouderlinge; en niemand kon die lied leer nie, behalwe die honderd vier en veertig duisend wat van die aarde vrygekoop is. Dit is hulle wat hulself met vroue nie besoedel het nie, want hulle is maagdelik rein; dit is hulle wat die Lam volg waar Hy ook heengaan; dit is hulle wat gekoop is uit die mense as eerstelinge vir Elohiem en die Lam.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »