OM TE DOEN WAT GEDOEN MOET WORD

alternate textVerlede week se tema, “Om te sien wat Hy vir ons wys”, het ons onder meer uitgebring by die twee name wat die Skrif gebruik vir die plek waar Avraham sy seun, Yietsgak, moes offer: MoriYah, wat beteken “Gesien deur Yah” en “Yahweh-Yir’eh”, wat beteken “Yahweh sal mense laat sien”. Wat opvallend is, is dat hierdie een plek twee name het wat byna dieselfde is, maar ook nie dieselfde is nie. Die effense verskil wat daar tussen hierdie twee name bestaan, herinner ons daaraan dat ons dinge nie altyd sien soos wat Yahweh dit sien nie. Ons manier van sien, as mense, is meeste van die tyd beperk en vertroebel. Ons verstaan dikwels nie soos wat ons moet verstaan nie. En dis dikwels ons verstaan van dinge wat met GELOOF te make het, wat aansienlik verskil van die manier van verstaan wat in die Skrif na vore kom. Die goeie nuus wat egter in die twee name MoriYah en Yahweh-Yir’eh opgesluit lê, is dat Yahweh uiteindelik vir ons beter en helderder en suiwerder sal laat sien! Die vraag is of ons bereid is om ons eie idees een kant toe te skuif en toe te laat dat Hy ons leer oor wat GELOOF regtig beteken.

Avraham word in die Skrif dikwels as model voorgehou wanneer dit kom by sake wat met geloof te make het:

Gen 15:6 En hy het in Yahweh geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken. Rom 4:3 Want wat sê die Skrif? Avraham het in Yahweh geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken. Gal 3:6-7 Net soos Avraham in Yahweh geglo het, en dit is hom tot geregtigheid gereken. Julle verstaan dan dat die wat uit die geloof is, hulle is kinders van Avraham. Jak 2:23 En die Skrif is vervul wat sê: En Avraham het Yahweh geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken, en hy is ‘n vriend van Elohiem genoem. Heb 11:8 Deur die geloof het Avraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek na die plek wat hy as ‘n erfenis sou ontvang.

Avraham se onvoorwaardelike gehoorsaamheid aan Yahweh om uit Garan weg te trek, word as geloof-in-aksie gereken. So ook die feit dat hy op 99-jarige ouderdom nie getwyfel het daaraan dat Yahweh sy belofte sal hou en aan hom en Sarah (wat, menslik gesproke, lankal nie meer vrugbaar was) ʼn seun sal gee nie. So ook sy volgehoue intrede en voorspraak vir die mense van Sedom. En veral die manier hoe hy dit hanteer het toe hy in Genesis 22 opdrag ontvang het om sy seun, Yietsgak, prys te gee en aan Yahweh te offer. Vir eeue lank word Avraham se geloof as voorbeeld geneem en word gelowiges geleer om in die geloof te lewe, soos Avraham dit gedoen het.

Ek is nie so seker of Avraham se geloof deur almal reg verstaan word nie. Soms sê mense hulle is geïnspireer deur Avraham se geloof en dan doen hulle dinge wat Avraham nooit sou gedoen het nie. Of hulle hou op om gewone, alledaagse (en dikwels onaangename) dinge te doen, wat Avraham nooit sou ophou om te doen nie. Soms vergeet mense dat dieselfde Jakobus (Yaákov) wat geskryf het dat Avraham se geregtigheid in sy geloof opgesluit was, het ook geskryf dat geloof sonder werke nutteloos is. En Y’shua, wat deur meeste van ons as die Leidsman en Voleinder van ons geloof geëer word, het by geleentheid vir die Yehudiem gesê: “As julle die kinders van Avraham was, sou julle die werke van Avraham doen” (Joh 8:39). Avraham is een van die grootste geloofsreuse wat hierdie wêreld nog gesien het, maar laat ons nie die fout maak om te dink dat Avraham nie gedoen het wat gedoen moes word in elke enkele praktiese situasie waarin hy hom bevind het nie.

In die Parashah van hierdie week (Gen 23-25) gaan dit hoofsaaklik oor twee groot gebeurtenisse: (1) Avraham koop ʼn stuk grond met ʼn grot sodat hy sy vrou, Sarah, daar kan begrawe en (2) Avraham stuur sy dienaar, waarskynlik Eliézer, terug na die gebied waar Avraham se familie nog steeds gebly het, sodat hy ʼn vrou vir sy seun, Yietsgak, kan gaan soek. Interessant genoeg, gaan hierdie twee episodes juis oor die twee groot beloftes wat Avraham van Yahweh ontvang het – die belofte van ʼn land om in te woon en die belofte van ʼn groot nageslag. Die besit van ʼn klein stukkie grond (met ʼn grot) binne die land wat Yahweh aan hom belowe het, is die eerste baba treetjies op pad na die vervulling van die belofte van ʼn volle land om in te woon – ʼn belofte wat nie minder nie as 5 keer aan Avraham gegee is (Gen 12:7; 13:14-17; 15:7; 15:18-21 en 17:7-8). En die moeitevolle en noukeurige soektog na ʼn vrou vir Yietsgak is die eerste baba treetjies op pad na die vervulling van die belofte van ʼn groot nageslag – ʼn belofte wat ook net mooi 5 keer aan Avraham gegee is (Gen 12:2; 13:16; 15:5; 17:4-5 en 22:17). Die getal 5 het in die Skrif seker nie net een betekenis of konnotasie nie. Party mense sê dis die getal van guns of “genade” – onder meer omdat daar 5 boeke in die Torah is (persoonlik verstaan ek dit nie, want hoevele is daar nie wat ook elke nou en dan sal uitroep: Ons is nie onder die wet nie, maar onder die genade). Maar die konnotasie wat ek graag in die getal 5 sal wil sien is dat die jou hand (met 5 vingers) en jou 5 sintuie en die 5 lobbe van jou brein (of jou gesonde verstand) verteenwoordig. Wanneer die beloftes van Yahweh ter sprake is, is die werk van jou hande en die waarneming van jou sintuie en goeie en gesonde oordeel op geen manier uitgesluit nie.

Wat ons moet raaksien, is dat Avraham se verstaan van geloof nie beteken het dat hy sy hande gevou het om te wag dat Yahweh sy beloftes vervul nie. Nee, hy was sy hele lewe lank bedag daarop om met sy brein en sy sintuie en sy hande waar te neem en te doen wat gedoen moes word. Sy verstaan van geloof het hom op geen manier uit voeling gelaat met die realiteite van hierdie wêreld nie. Die seuns van Get het hom laat verstaan dat hy enige plek in hulle grondgebied verniet kon kry om vir Sarah daar te begrawe en ʼn mens kan Avraham byna verskoon as hy gedink het dis Yahweh se gratis voorsiening. Maar Avraham dring absoluut aan daarop om vir die grond te betaal, want hy ken die realiteite van sy wêreld. Na ʼn lang en vermoeiende gesprek is dit dan ook presies wat hy doen en die grond word op ʼn wettige manier op sy naam oorgeplaas. Hy weet iets soos ʼn stuk grond val nie sommer net in ʼn mens se skoot nie. Geloof is vir hom nie iets geesteliks, iets abstrak wat los staan van die eise van elke dag nie. Nee, geloof word weerspieël in ʼn houding van vasberadenheid en oortuiging wat na vore kom in die manier waarop jy doen wat jou hand vind om te doen.

Selfs wat die belofte van ʼn nageslag betref, het Avraham nie gewag dat daar iets uit die lug uit val nie. Al was hy 137 jaar oud, het hy ook in hierdie opsig gedoen wat die situasie vereis het. Hy stuur sy dienaar om lang reis te onderneem (ʼn afstand van meer as 600 km wat waarskynlik langer as 2 weke sou neem) om ʼn vrou vir Yietsgak te gaan soek. Geen geld en geen moeite moes ontsien word nie. Die belofte van ʼn nageslag moes vervul word en Avraham het geweet hy het nog ʼn rol om te speel. Avraham het met alles wat hy het, vasgehou aan die twee groot beloftes wat hy van Yahweh ontvang het. Hy het onwrikbaar daarin geglo. Maar hierdie soort beloftes gebeur nie skielik of maklik of sonder menslike betrokkenheid nie. Stadig maar seker het Avraham die les geleer dat die beloftes van Yahweh ook ʼn uitnodiging ingesluit het: Neem hierdie beloftes, bêre dit in jou hart en raak met jou hart betrokke in die omstandighede en die wêreld rondom jou. Rol op jou moue en doen wat gedoen moet word! Die uitkoms is in Yahweh se hande en daarom is dit gewaarborg. Maar die beloftes kan nie ontvang word as daar nie by ons die houding is wat daar ook by Y’shua die Messias was nie: Joh 5:17 En Y’shua het hulle geantwoord (nadat hulle beswaar gemaak het dat Hy ʼn man op die Shabbat gesond gemaak het wat dringend genesing nodig gehad het): My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.

Avraham se geloof word vir ons ingekleur deur een plek wat met twee name aan ons bekendgestel word: MoriYah (Yahweh sien reeds) en Yahweh-Yir’eh (Yahweh sal ons ook laat sien). Tot tyd en wyl ons nog nie sien wat Yahweh lankal reeds sien nie, het ons ʼn aardse liggaam ontvang en leef ons in ʼn fisiese wêreld, omring deur onvolmaakte mense en word ons daagliks gekonfronteer met ongewilde en ongemaklike keuses en situasies. Maar dis juis ons geloof wat ons nie laat terugdeins nie. Die feit dat ons beloftes oor ʼn verre toekoms uit Yahweh se hand ontvang het, beteken nie ons word onthef van ons skeppingsopdrag ten opsigte van die onmiddellike toekoms nie – die opdrag om te werk en te voorsien en te oorleef. Geloof beteken nie passiwiteit nie. Dit beteken die moed om moue op te rol en nie van stryk af gebring te word nie. ʼn Sekere rabbi het eenkeer ʼn baie waar woord gespreek: “The future will happen, but it is we – inspired, empowered, given strength by the promise—who must bring it about.” Yahweh het reeds ons oë oopgemaak om baie van die misleidende leringe van mense eenkant toe te skuif en terug te keer na die suiwer geloof soos dit in die Skrif vir ons uitgespel word. Mag dit ook waar wees van ons wanneer dit kom by geloof in die alledaagse rompslomp van hierdie lewe. Ons het een van twee keuses: Ons kan hierdie rompslomp afmaak as nie-geestelik en minderwaardig en benede ons status as Koningskinders; of ons kan dit aanpak met die vlam van geloof brandend in ons harte, met die verwagting dat Hy my die werk van my hande sal laat geniet en met die wete dat ek my nie tevergeefs vermoei het nie omdat ek deel is van ʼn geslag wat deur Yahweh geseën is (Jes 65:22-23)!