NEDERIGHEID II

alternate textDie tema van nederigheid is van die grootste belang vir mense wat die Woord van Yahweh ernstig opneem. Die grootste enkele rede hiervoor is dat die teenpool van nederigheid, hoogmoed, so ‘n groot realiteit (en so ‘n groot versoeking) in ons lewens en in hierdie wêreld is en so dikwels die rede is dat ons swaarkry met sekere beginsels van die Woord. Sonder dat ons dit uitspreek of teenoor onsself erken, is daar in ons harte dikwels dieselfde soort misleiding wat in Jes 47:10 aan Babilon verbind word: “Jou wysheid en jou kennis het jou verlei, sodat jy in jou hart gesê het: Ek is dit, en niemand anders nie!” Sommige vertalings vertaal dit so: “I am, and there is no one besides me.” Ontleders van hierdie soort blatante arrogansie, noem dit “the delusional belief that in this life we need only ourselves, thinking that we can take the world by force, without regard for the needs of others”.

Die uitdaging voor ons is om die teenoorgestelde roete te volg en in nederigheid na onsself, ander mense rondom ons, en ons Skepper te kyk. In die verlede het gelowiges wat oor nederigheid gepraat en geskryf het, dikwels ‘n prentjie van nederigheid geteken wat nie deur almal as positief en aanloklik beskou is nie. In die 13de eeu het die Italiaanse Bonaventúre gesê: “Therefore, since all things which have been made … were produced from nothing, it is a truly wise man who recognizes the nothingness of himself and of others.” ‘n Amperse tydgenoot van Bonaventúre, Francis van Assisi, het gesê: “Do not hold yourselves to be anything of yourselves, so that you may be entirely acceptable to One Who gives Himself entirely to you.” In die Joodse Great Book of Commandments wat ook uit die 13de eeu dateer, word gesê: “I am obligated to view my self as a worm who hides beneath the dust in shame.” Die hervormer, Martin Luther het byna op dieselfde trant as sy Rooms Katolieke voorgangers gepraat toe hy gesê het: “God created the world out of nothing, and as long as we are nothing, He can make something out of us.”

Teen hierdie ekstreme siening van nederigheid waarin ‘n mens jouself absoluut as van geen waarde ag nie, het mense in die verlede al heftig beswaar aangeteken en volgehou dat ‘n mens ‘n gebalanseerde en eerlike siening van jouself moet hê. Eerder as om onsself te onderwaardeer (“underestimate”), moet ons ‘n gesonde en realistiese siening van ons eie waarde en ook ons eie beperkinge hê. Die vraag is net: Wat is ‘n gesonde en Skrif-getroue siening van onsself? Dis vir my baie duidelik dat ons ons in hierdie opsig nie te veel aan die stemme in die wêreld daarbuite kan steur nie. In die wêreld waarin ons leef word begrippe soos selfvertroue, self-aktualisering en self-bemagtiging só sterk beklemtoon dat dit byna neerkom op die vergoddeliking van die mens. En ‘n mens hoor talle geluide uit vakgebiede soos die sielkunde en die filosofie wat saamstem met hierdie verheerlikte siening van die mens en wat baie sterk beswaar aanteken teen die tradisionele siening van nederigheid. Die Duitse filosoof, Nietzsche (wat as een van die grondleggers van Naziisme beskou word) , noem die Middeleeuse beskrywing van nederigheid “the Jewish-Christian slave morality” en sê hy assosieer daardie nederigheid met “dog-like people who allow themselves to be maltreated”. Spinoza, die Spaans-Nederlandse filosoof het gesê: “Humility is not a virtue … it is a sadness which arises from the fact that a man considers his own lack of power.” Die Skotse filosoof David Hume, plaas nederigheid op een vlak met tipiese “klooster-praktyke” soos selibaat, vas, boetedoening, afsondering en selfopgelegde stilte en sê dat hierdie tipe eienskappe “serve no manner of purpose; neither advance a man’s fortune in the world, nor render him a more valuable member of society; neither qualify him for the entertainment of company, nor increase his power of self-enjoyment”.

Waar laat dit óns wat graag wil weet watter vorm van nederigheid die Skrif in gedagte het? Daar is ‘n element van nederigheid wat nie erken word deur mense wat nie die dinamika van ‘n lewende verhouding met Yahweh ken nie. Nederigheid is nie net ‘n emosie nie. Dis ook nie net ‘n aangeleerde manier van praat of ‘n beheerste manier van optree nie. Dis beslis ook nie net ‘n sinnelose keuse om mense toe te laat om oor jou te loop en op jou te trap nie. Dis meer ‘n soberheid en gematigheid (Engels: “temperance”), ‘n soort innerlike balans, wat meer en meer gestalte in jou lewe aanneem namate ‘n mens jou eie plek binne die groter geheel van die skepping verstaan. Vir ons as gelowiges, is dit vanselfsprekend dat ‘n mens slegs jou eie plek binne die groter geheel van die skepping kan verstaan, as jy Yahweh en sy grootheid leer ken het en die dimensie leer ken het van wat dit beteken om sy woorde te hoor en te doen, en sy betrokkenheid in jou lewe te ervaar en volledig te erken.

Die sleutel hierin is dat ons kennis van Yahweh en sy Woord nie bloot geskiedenis moet wees (iets wat vóórheen in ons lewe gebeur het) nie. Want as ‘n mens eers agteroor sit en op jou louere rus, het jy reeds die deur wawyd oopgemaak vir hoogmoed om by die een deur in te kom en nederigheid om by die ander deur uit te gaan. Ons moet aanhou om Yahweh te soek en Hom te behaag en sy hand in ons lewens raak te sien. Ons moet dankbaar wees vir elke klein deurbraak en ons oë op Hom gefokus hou in elke vorm van teëspoed wat ons beleef. So sal nederigheid vir ons vanself kom – die byproduk van ‘n daaglikse en volgehoue erkenning dat ons lewens in sy hand is en dat ons in alles (in goeie en slegte tye) van Hom afhanklik is. Nederigheid is die voortdurende weiering om los van, of weg van, Yahweh te bestaan. Dit beteken egter nie die weiering om voluit te lewe en onsself te wees nie en iemand het eenkeer tereg gesê: “Humility is a virtue, not a neurosis. . . . A humility that freezes our being and frustrates all healthy activity is not humility at all, but a disguised form of pride.”

In die Skrif word nederigheid dikwels met wysheid verbind. Spreuke 11:2 “Kom die vermetelheid, dan kom die skande, maar by die nederiges is wysheid.” Spreuke 15:33 “Die vrees van Yahweh is die tug van die wysheid, en nederigheid gaan aan die eer vooraf.” Hierdie is nie menslike wysheid nie. Dis nie blote slimmigheid om konflik te vermy of om ‘n goeie indruk te maak nie. Dis die vrees-van-Yahweh soort wysheid waarin ander mense die lig van Yahweh en die Gees van Yahweh in ons kan raaksien, sonder dat ons iets hoef voor te gee wat ons nie is nie. Dis nie die “skyn van wysheid” wat bestaan uit “eiesinnige toegewydheid en nederigheid wat geen waarde het nie” waarvan Shaúl in Kol 2:23 praat nie. Dis wysheid wat spruit uit ware kennis van Yahweh, soos dit in Jer 9:23-24 verwoord word: “Laat die wyse hom nie beroem op sy wysheid nie, en laat die sterke hom nie beroem op sy sterkte nie, laat die ryke hom nie beroem op sy rykdom nie; maar laat hy wat wil roem, hom hierop beroem dat hy verstaan en My ken, dat Ek Yahweh is wat goedertierenheid, reg en geregtigheid op die aarde doen.”

Nederigheid is die eerlike en opregte verwondering oor die byna ondenkbare dat die grote en magtige Skepper van die heelal Homself neerbuig en bemoeienis wil maak met onvolmaakte mense wat hopeloos te veel van hulleself dink, wat dikwels hulle rug op Hom draai, wat sy Woord links en regs verdraai en wat so maklik die onskriftuurlike mode-giere van hierdie wêreld najaag en die groot en bulderende stemme van ons dag napraat. Daarom vra die skrywer van Psalm 8 “Wat is die mens dat U aan hom dink?” en, op dieselfde trant, Job 7:17 “Wat is die mens, dat U hom so hoog stel en dat U op hom ag slaan?” en so ook Ps 144:3 “Wat is die mens dat U hom ken, die seun van Adam dat U op hom ag slaan?” Mag Yahweh verhoed dat ons nooit sal ophou om ons te verwonder daaroor dat so ‘n groot Elohiem wat na só ‘n groot skepping moet omsien en só ‘n groot verlossingsplan moet laat werk, kans sien om persoonlik by jou en my lewens betrokke te raak nie!

Die mees gepaste manier om af te sluit is deur te kyk na Y’shua wat hierdie uitnodiging aan sy volgelinge gerig het: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart (Mat 11:28-29).” As nederigheid bloot daarin bestaan het dat mens gedurig op jou eie sondigheid moet fokus, sou Y’shua nooit gesê het “Leer by My oor nederigheid nie”. Y’shua het soms dinge gedoen wat nie inpas by almal se idee van nederigheid nie. Soms het Hy sy teenstanders uitgedaag om te sê in watter opsig Hy gesondig het (Joh 10:32). Soms het Hy Homself met die tempel van Yahweh gelykgestel (Mat 12:6; Joh 2:19). Soms het Hy heftig beswaar aangeteken teen mense se dubbele standaarde (Mat 23). Soms het Hy diegene wat die bedoeling van die Torah oortree, van die tempel af weg gejaag (Mark 11:17). Soms het Hy Homself die “deur” genoem waardeur almal in Yahweh se huis moet ingaan (Joh 10). Verder het Hy uitsprake gemaak soos dat Hy meester van die Shabbat is (Mat 12:8); dat dit in sy mag is om die Vader aan mense te openbaar (Mat 11:27); dat Hy en sy Vader een is (Joh 17) en dat aan Hom alle mag in die hemel en die aarde gegee is (Mat 28).

Waarin het sy nederigheid dan gelê? In sy onvoorwaardelike gehoorsaamheid aan Yahweh (Fil 2:8). In sy weiering om sy eie bestaan op enige manier los van, of weg van, sy Vader te verstaan (“Het u nie geweet dat Ek in die dinge van my Vader moet wees nie?” Luk 2:49). In die erkenning dat Hy niks uit Homself kan doen nie (Joh 5:30), dat Hy nie van Homself getuig nie (Joh 5:37), dat Hy nie sy eie wil soek nie (Joh 5:30), dat Hy nie in sy eie Naam na mense toe kom nie (Joh 5:43), dat Hy nie mense na Homself toe kan trek nie (Joh 6:44), dat Hy altyd doen wat Yahweh welgevallig is (Joh 8:29), dat Hy nie uit Homself gekom het nie (Joh 8:42), dat Hy altyd sy Vader eer (Joh 8:49), dat Hy Homself nie verhoog nie (Joh 8:54), dat sy Vader groter as almal is (Joh 10:29), dat Hy nie uit Homself praat nie (Joh 12:49-50), dat Hy altyd die gebooie van sy Vader bewaar (Joh 15:10) en dat dit sy begeerte is dat die Vader altyd in sy lewe grootgemaak word (Joh 14:13). As hierdie voorbeeld van die Messias ons nie aanspoor tot nederigheid nie, sal niks nie. Diegene wat hulle rug hierop draai en alewig hunker na iets groters uit die lewe, loop gevaar om eendag ook die woorde van Mat 7:23 te hoor: Gaan weg van My af – Ek het julle nooit geken nie. Julle was nie bereid om My in my nederige afhanklikheid van my Vader te ken nie en daarom ken Ek julle nie in julle hoogmoedige verheffing van julleself nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »