‘N HART OM TE VERSTAAN

alternate textEk het die afgelope week die voorreg gehad om ʼn egpaar te ontmoet wat gehoor-gestremd is, maar wat ook die Name van die Vader en die Seun en die betekenis van die Shabbat en die feeste leer ken het. Die vrou kan glad nie hoor nie en kommunikeer baie moeilik met mense wat nie gebaretaal ken nie. As die man die heeltyd na jou lippe kyk, kan hy met die hulp van ʼn gehoorapparaat hoor en verstaan en gemaklik kommunikeer, mits jy hard en duidelik praat. Maar hy het ʼn passie vir die Woord en die hart van ʼn evangelis en sy groot begeerte is om die waarheid en die verlossende boodskap van die Woord met alle mense te deel, maar gehoor-gestremde mense in die besonder, omdat hy hulle leefwêreld en hulle taal so goed ken en verstaan. Ek het nog nie baie horende mense ontmoet wat die Skrif so deeglik ondersoek en so in hulle harte koester soos hierdie man nie. En my gesprek met hom en sy vrou het my laat dink aan die profesie wat meer as een keer in die Skrif na vore kom: “En in daardie dag sal die dowes Skrifwoorde hoor, en uit donkerheid en duisternis sal die oë van die blindes sien” (Jes 29:18 – sien ook Jes 32:3 en Jes 35:5).

Die tema van horende mense wat nie kan hoor nie en siende mense wat nie kan sien nie, kom baie gereeld in die Skrif voor. Almal van ons het ook al sulke mense ontmoet. Hulle kan sien en hulle kan hoor, maar wanneer dit by sekere waarhede van die Skrif kom, is hulle siende blind en horende doof. Dis asof daar ʼn sluier oor hulle oë is en asof iemand proppe in hulle ore gesteek het. Dinge wat so duidelik in die Skrif is dat selfs ʼn kind dit kan verstaan, kan hulle nie verstaan nie. In die Torah leesstuk van hierdie week word daar ook na hierdie tema verwys, onder meer in Deut 29:4: “Maar Yahweh het julle nie ‘n hart gegee om te verstaan en oë om te sien en ore om te hoor tot vandag toe nie.” Snaaks dat die toestand van horende doof en siende blind nie net by indiwidue voorkom nie, maar dat dit ook kollektief by ʼn groot groep mense kan voorkom: kerke, gemeenskappe en selfs ʼn hele volk, soos die volk Israel. Voor hulle intog in die Beloofde Land, kon die grootste gedeelte van die volk net eenvoudig nie “hoor” en “sien” (met ander woorde: “in hulle harte verstaan”) waarmee Yahweh in hulle lewens besig was nie.

Dit lyk darem (volgens Deut 29) asof die oë en die ore van die volk op hierdie punt, reg teen die einde van die 40 jaar in die woestyn, oopgegaan het. Dit het egter nie lank gehou nie, want telkens daarna, tot vandag toe, het hulle deur lang periodes gegaan waarin hulle oë en ore opnuut weer met ʼn sluier bedek is en hulle doodeenvoudig nie in hulle harte die woorde en die weë van Yahweh kon verstaan nie. Dit word dikwels deur profete en ander waarnemers in die Skrif bevestig en dit het hoofsaaklik gebeur omdat die volk herhaaldelik hulle rug op Yahweh gedraai het en Hom nie as hulle Elohiem en Verlosser geëer en gehoorsaam het nie. Toe YeshaYahu (Jesaja) as profeet geroep is, het Yahweh hierdie (byna vreemde) opdrag aan hom gegee: “Maak die hart van hierdie volk vet en maak hulle ore toe en bestryk hulle oë, sodat hulle nie sien met hul oë en met hul ore nie hoor en hul hart nie verstaan nie, en hulle hul nie bekeer en gesond word nie” (Jes 6:10). Interessant genoeg kom presies dieselfde tema ook voor Jer 6:10 (dieselfde hoofstuk en dieselfde vers as in Jesaja): “Wie sal ek toespreek en waarsku, dat hulle kan hoor? Kyk, hulle oor is onbesnede, sodat hulle nie kan luister nie. Kyk, die woord van Yahweh is vir hulle ‘n oneer, hulle het daar geen behae in nie.”

Ons Maker het ons geskape met die kapasiteit om te kan hoor en te kan sien (selfs al is ons fisies blind of doof, of albei). As ons egter herhaaldelik ons rug draai op sy Woord, en volhardend weier om sy opdragte te gehoorsaam en konsekwent die leringe van mense (of ons eie hardkoppige oortuigings) navolg en nie die leringe van die Allerhoogste nie, gaan ons ʼn punt bereik waar ons al hoe minder kan sien wat Hy doen en al hoe minder kan hoor wat Hy sê (al is daar fisies niks met ons oë en ons ore verkeerd nie). Mense kan soms vurig met mekaar verskil oor die besnydenis en diegene wat nie met hulle eie standpunte saamstem nie, selfs verdoem. Die Skrif leer egter duidelik dat die ergste vorm van onbesnedenheid is om onbesnede van oor en onbesnede van hart te wees. Ons het reeds gesien dat Jer 6:10 (hierbo) waarsku teen hierdie toestand. So ook Lev 26:41en 42: “As hulle hulle onbesnede hart verneder en boete doen vir hul ongeregtigheid, sal Ek dink aan my verbond met Yaákov”; Deut 10:16 “Besny dan die voorhuid van julle hart en verhard julle nek nie verder nie”; Deut 30:6 En Yahweh jou Elohiem sal jou hart besny en die hart van jou nageslag, om Yahweh jou Elohiem lief te hê met jou hele hart en met jou hele siel, dat jy kan lewe”; Jer 9:25-26 “Kyk, daar kom dae, sê Yahweh, dat Ek straf sal uitoefen op almal wat besny is, wat nogtans onbesnede is … die hele huis van Yiesraél is onbesnede van hart”; Hand 7:51 “Julle hardnekkiges en onbesnedenes van hart en ore, julle weerstaan altyd die Afgesonderde Gees; net soos julle vaders, so ook julle.”

ʼn Mens dink in hierdie verband aan ʼn vers soos Spr 20:12 “’n Oor wat hoor, en ‘n oog wat sien – Yahweh het hulle altwee gemaak”. Dit is H‎‎‎ý wat ons laat sien en laat hoor – nie net fisies nie, maar veral op die vlak van geloof. Maar om reg te hoor, en met die hart te hoor, gebeur nie vanself nie. Die Messias het dikwels vir sy hoorders gesê: “Wie ore het om te hoor, laat hom hoor!” (Matt 11:15; Matt 13:9,43; Mark 4:9,23; Mark 7:16; Luk 14:35). En in die sewe briewe in Openbaring kom dit soos ʼn refrein na ons: “Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê” (2:7,11,17,29 en 3:6,13,22). Ek dink dit begin by die gebed: “Vader, gee my ʼn oor om te kan hoor; maak my oë en my hart wawyd oop sodat ek kan sien en kan hoor soos wat U wil hê ek moet sien en hoor, nie soos wat ek by mense geleer het om te sien en te hoor nie.” As dit die eerlike gebed van jou hart is, moet jy nie verbaas wees as jy dinge in die Woord begin raaksien wat jy voorheen nog nooit raakgesien het nie en daar ʼn wêreld vir jou oopgaan wat jy voorheen nie geken het nie. Soos die volk Israel in die laaste paar hoofstukke van Deuteronomium het ons ook tot by die drumpel van die Beloofde Land gekom. Maar voordat ons kan ingaan, moet ons oë en ons ore ons harte eers oopgaan vir dit wat Hy vir ons wil wys en wil leer. In vergelyking met die groter prentjie van wat Hy vir ons van die grondlegging van die wêreld af beplan en gereed gemaak het, kan ons ook maar net op hierdie punt sê, soos Deuteronomium 29:4 sê: “Tot vandag toe het ons nie ʼn hart gehad om te verstaan, en oë om te sien en ore om te hoor nie.”

En as ons vandag hier met ʼn breë glimlag sit en dink: “Genadiglik het my oë en ore al oopgegaan”, dan kom die woorde van 1 Kor 2:9 tot ons almal om ons uit die slaap van oorgerustheid wakker te skud: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, dit het Elohiem berei vir die wat Hom liefhet.” Hoe sal ons ooit by daardie punt kom waar ons die volle prentjie sien, soos Yahweh dit sien of alles gehoor het wat Hy wil hê ons moet hoor? Selfs al lees ons dieselfde vers of dieselfde boek in die Skrif 10 keer of 100 keer, oor en oor, is die kanse goed dat ons dalk nog nie alles gehoor het wat ons moes hoor nie. Selfs al verbly ons ons oor die kennis van die Vader se Naam, het ons sonder enige twyfel nog nie naastenby deurgedring tot die volheid wat daar in sy Naam opgesluit lê nie. Selfs al het ons oë na jare van blindheid oor die blywende betekenis van die Shabbat, stadig maar seker begin oopgaan, is daar ongetwyfeld nog sóveel wat ons moet leer oor die ware rus waarsonder ons nie kan leef nie. En selfs al sien ons die misleiding en die vergissing raak in baie van die leerstukke wat deur kerke verkondig word, is dit nog nie te sê ons oë en ons ore is fyn genoeg ingestel op die soort wysheid wat die Skrif van praat nie – ʼn wysheid waaroor Spreuke 3 die volgende te sê het: “Die ontvangs daarvan is beter as die van silwer, en die verwerwing daarvan beter as van goud; dit is kosteliker as korale, en niks wat jy begeer kan daarmee vergelyk word nie.”

Naby aan die einde van sy lewe is die apostel Shaúl (Paulus) in huisarres in Rome geplaas. Die laaste hoofstuk van Handelinge (hoofstuk 28) beskryf dat baie mense na hom in sy huis gekom het “en in ‘n kragtige getuienis het hy vir hulle die koninkryk van Elohiem uitgelê; en van die môre vroeg tot die aand toe het hy uit die Torah van Mosheh en uit die profete hulle probeer oortuig aangaande Y’shua” (vers 23). Sommiges het sy boodskap geglo en dit aangeneem, maar andere het dit verwerp en daar was selfs ʼn duidelike weerstand teen sy boodskap dat Y’shua die beloofde Messias was. Dis interessant om te kyk na Shaúl se reaksie op hierdie weerstand onder die lede van sy eie volk: “Tereg het die Afgesonderde Gees deur YeshaYahu … gesê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie. Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor, en hulle oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie. Laat dit dan aan julle bekend wees dat die verlossing van Elohiem aan die heidene gestuur is, en hulle sal luister” (vers 25-28). Besef ons dat ons vandag die vervulling van hierdie profesie is? Besef ons hoe bevoorreg ons is? Toe Y’shua oor hierdie selfde profesie van YeshaYahu gepraat het, het Hy gesê: “Julle oë is geseënd, omdat hulle sien; en julle ore, omdat hulle hoor … baie profete en regverdiges het begeer om te sien wat julle sien, en het dit nie gesien nie, en om te hoor wat julle hoor, en het dit nie gehoor nie” (Matt 13:16-17). Wat gaan ons maak met hierdie onuitspreeklike voorreg – iets wat andere voor ons van gedroom het en na gehunker het? As ons die woord gehoor het wat ons aan die hart gryp en waarvan ons diep in ons harte weet: Dis die waarheid! – moet ons seker maak dat ons daardie woord nie by ons laat verbygaan nie, sodat dit later as ʼn getuienis teen ons opgeroep kan word nie. Nee, laat ons daardie woord in ons hart opneem, want die Woord verseker ons: “My seun, as jy my woorde aanneem en my gebooie by jou bewaar … dan sal jy die vrees van Yahweh verstaan en die kennis van Elohiem vind” (Spr 2:1-5).

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »