LESSE VAN MELAATSHEID

alternate text is 64 verse in die Skrif wat een of ander vorm van die woord “melaats” gebruik en presies die helfte hiervan (32) kom voor in Levitikus 13 en 14. Die ander 32 verse is versprei oor die hele Skrif en sluit onder meer in: (1) Die melaatsheid van Naäman, die leërowerste van die koning van die Arameërs, wat dit as benede sy waardigheid beskou het om homself sewe maal in die Jordaanrivier te onderdompel – 2 Kon 5; (2) die melaatsheid van die vier Israeliete wat in ‘n tyd van hongersnood in die nag die kamp van die Arameërs binne gegaan het en na hartelus geëet en gedrink het omdat die Arameërs verward was en uit hulle kamp gevlug het – 2 Kon 7; (3) Die melaatsheid van die koning van Israel wat twee name gehad het (AzarYah en UzziYah) en wat gedink het hy het die reg om die rol van ‘n priester oor te neem – 2 Kon 15 en 2 Kron 26; (4) Die melaatsheid van die man in Galilea wat na Y’shua gekom het en met kinderlike geloof vir hom gesê het: “Meester, as U wil, kan U my reinig” – Mat 8, Mark 1 en Luk 5 en (5) die melaatsheid van die tien mans, waarskynlik van die streek van Samaria wat, toe hulle Y’shua sien aankom, kliphard uitgeroep het: “Y’shua, Meester, wees ons barmhartig!” – Luk 17. Verlede week het ons gesien dat melaatsheid, minstens in die geval van Mieryam, die suster van Mosheh, verbind word aan die sonde van kwaadspreek, gerugte versprei en ander mense in ‘n slegte lig stel. Die vyf voorbeelde van melaatsheid hierbo bring vyf verdere perspektiewe na vore wat nogmaals bevestig dat siekte dikwels ‘n instrument in die hand van Yahweh is waarmee Hy een of ander belangrike aspek van onsself, of van die wêreld rondom ons, of van sy wil vir ons lewens, onder ons aandag wil bring. Kom ons kyk kortliks na elkeen van hierdie vyf voorvalle van melaatsheid.

Naäman was ‘n vername man wat groot veldslae vir die Arameërs gewen het. ‘n Klein dogtertjie van Israel wat as gevangene weggevoer is vertel vir sy vrou van die profeet Elisha en na ‘n hele reeks gebeurtenisse kom Naäman by Elisha aan. “Gaan was jou sewe maal in die Yarden (Jordaan)” laat weet Elisha vir hom deur ‘n boodskapper. Naäman vervies hom vir die profeet en ry vererg daar weg sonder om iets te doen. Só laat hy hom nie verneder nie! Die profeet het hom nie eens verwerdig om met hom te praat nie. Geen genesingsritueel nie. Geen aanroep van die Naam van die Elohiem van Israel nie. Geen optrede wat pas by iemand van sy status nie. Nee wat, dis nie vir hom nie. En hy is daar weg. Totdat sy eie dienaars met hom praat, hy hom na alles toe tog maar sewe maal in die Yarden onderdompel, en tot sy verbasing ontdek dat sy hele liggaam gesond is. Hoeveel keer in die geskiedenis het die profete se gepraat nie op dowe ore geval nie? Die probleem is dat profete gewoonlik nie sê wat mense wil hoor nie. Die profete sê bly weg van afgode af, maar die mense hoereer agter die vreemde magtiges aan – nie net in die geheim nie, maar in die openbaar, tartend en uitdagend. Die profete sê hou die Shabbat en eerbiedig dit as ‘n teken dat Yahweh hulle Elohiem is, maar die mense hanteer dit soos enige ander dag en gaan eenvoudig hulle gewone gang. Die profete sê wandel in die insettinge van Yahweh, maar die mense wandel in duisternis (Jes 9:2), wandel agter hulle eie gedagtes aan (Jes 65:2), wandel in die verharding van hulle eie bose hart (Jer 3:17) en wandel in die insettinge van hulle vaders wat Yahweh nie geëer het nie (Eseg 20:18). Naäman leer ons dat Yahweh se weë nie ons weë is nie en sy gedagtes nie ons gedagtes nie. Dit is óns wat moet aanpas by Hom – nie Hy wat moet aanpas by ons nie!

Die vier melaatses wat in desperaatheid in ‘n tyd van hongersnood die kamp van die Arameërs binne gegaan het en die verrassende ontdekking gemaak het dat die Arameërs gevlug het en alles net so in die kamp gelos het, kon hulle eie oë nie glo nie. Eers het hulle self fees gevier en geëet en gedrink en van die skatte vir hulleself geneem en toe vir hulle eie mense daarvan gaan vertel. Toe hy hiervan hoor het die koning van Israel gedink dis ‘n lokval, maar by nadere ondersoek besef hy wat gebeur het: 2 Kon 7:6-7 “Want Yahweh het die leër van die Arameërs ‘n gedruis van waens en ‘n gedruis van perde, ‘n gedruis van ‘n groot leërmag laat hoor, sodat hulle die een vir die ander gesê het: Kyk, die koning van Israel het die konings van die Getiete en die konings van die Mietsrayimiete teen ons gehuur om ons te oorval. Daarom het hulle in die skemer klaargemaak en gevlug, maar hulle tente en perde en esels, die kamp soos dit was, net so gelos; en hulle het vir hul lewe gevlug.” Hierdie hele verhaal word letterlik van voor (vers 1) en van agter (vers 18) omring deur hierdie woorde van Elisha en die reaksie van die adjudant van die koning van Israel: “So sê Yahweh: Môre omtrent sulke tyd sal ‘n seáh fynmeel ‘n shekel, en twee seím gars ‘n shekel kos in die poort van Shomeron. Maar die adjudant op wie se arm die koning geleun het, antwoord die man van Elohiem en sê: Al maak Yahweh ook vensters in die hemel, sou dit kan gebeur?” – ‘n duidelike weerspieëling van die ongeloof van die adjudant. Die vier melaatses leer ons dat niks vir Yahweh te wonderbaar is nie (Gen 18:14); dat sy hand nooit te kort is nie (Num 11:23); dat Hy geweldig is en nogtans niks as té gering ag nie (Job 36:5); dat geen plan vir Hom onuitvoerbaar is nie (Job 42:2); en dat wat by mense onmoontlik is, nie vir Hom onmoontlik is nie (Mat 19:26) en dat Hy in staat is om ver meer te doen as wat ons ooit kan bid of dink (Efes 3:20).

Koning UzziYah (ook genoem AzarYah) van Yehudah was 16 jaar oud toe hy koning geword het en het 52 jaar lank in Jerusalem as koning regeer. Hy was een van die min wat (minstens aan die begin) ‘n positiewe getuigskrif ontvang het: 2 Kron 26:4 “En hy het gedoen wat reg was in die oë van Yahweh.” Hy het baie wonderlike dinge gedoen, maar dis veral hierdie woorde wat uitstaan: 2 Kron 26:5 “En hy het Elohiem gedurig gesoek in die dae van ZegarYah … En in die dae dat hy Yahweh gesoek het, het Elohiem hom voorspoedig gemaak.” Maar toe kom daar ‘n draaipunt en in 2 Kron 26:16 lees ons hierdie woorde: “Maar toe hy sterk geword het, was sy hart hoogmoedig, sodat hy baie verkeerd gedoen en ontrou gehandel het teen Yahweh sy Elohiem; want hy het in die tempel van Yahweh gegaan om offerrook te laat opgaan op die reukaltaar.” Die priesters het hom hieroor gekonfronteer, maar hy het kwaad geword en terwyl hy met ‘n wierookpan langs die reukaltaar in die tempel staan, slaan sy voorkop sigbaar uit met ‘n kors van melaatsheid. Hy word uit die tempel verwyder en moes die res van sy lewe in afsondering gaan bly. Sy naam beteken “my sterkte is van Yahweh” of “my hulp is van Yahweh” en vir die grootste deel van sy lewe het hy volgens hierdie reël gelewe. Maar toe gaan sy grootheid na sy kop toe en sy hart word hoogmoedig en verwaand. UzziYah herinner ons aan die woorde van Spreuke 16:18 “Trotsheid kom voor die vernietiging, en hoogmoed kom voor die val” en leer ons dat nederigheid en eer hand aan hand gaan (Spr 18:12) en dat dit die nederiges en eenvoudiges en ootmoediges is wat die koninkryk sal beërwe.

Die melaatse man wat vir Y’shua ontmoet het toe Hy van die Berg van Saligsprekinge afgekom het, leer vir ons almal ‘n eenvoudige maar baie waardevolle les: Daar is niks wat in Yahweh se oë soveel waarde het as kinderlike geloof nie. Lukas plaas hierdie gebeurtenis binne ‘n ander konteks as Matteus, om die belangrikheid van geloof te beklemtoon. Dit word eers voorafgegaan met ‘n demonstrasie van Kefa (Petrus) se geloof toe hy bloot op Y’shua se woord die vissersnette uitgegooi het nadat hy die hele nag nie ‘n enkele vis gevang het nie en toe soveel vis getrek het dat die nette wou skeur. En dan word die genesing van die melaatse man opgevolg met nog ‘n demonstrasie van geloof – die geloof van die mans wat hulle verlamde vriend met ‘n bed deur die dak laat afsak het sodat Y’shua hom kon aanraak en genees. Die melaatse man van Galilea leer ons dat as ons in geloof nie kan verander en soos kinders word, ons nie die koninkryk van Elohiem sal ingaan nie (Mat 18:3) en dat nie net aan Avraham nie, maar ook aan die geestelike nasate van Avraham, dit alleen geloof is wat vir mense tot geregtigheid gereken sal word (Rom 4:9).

Die tien melaatse mans wat vir Y’shua ingewag het toe Hy op reis was tussen Galilea en Jerusalem, was desperaat om aangeraak te word en het uitgeroep: “Y’shua, Meester, wees ons barmhartig!” Al tien word genees, maar net een draai om terug na Y’shua toe om dankie te sê en aan Elohiem lof toe te bring vir die genesing wat hy ontvang het. Luk 17:18 gee vir ons die reaksie van Y’shua: “Was daar niemand onder hulle te vinde wat omgedraai het om Elohiem lof toe te bring behalwe hierdie een nie?” En dan koppel Y’shua die melaatse man se optrede van dankbaarheid aan geloof. Luk 17:19 En Hy sê vir hom: Staan op en gaan; jou geloof het jou gered. Meeste mense dink die genesing van die tien melaatses gaan bloot oor dankbaarheid. Y’shua sê NEE – dit gaan eintlik oor geloof en om aan Yahweh erkenning en eer toe te bring. Geloof is nie net hierdie stille oortuiging binne-in jou dat dinge reg is tussen jou en jou Skepper nie. Geloof kom na vore wanneer ons spesifiek aan Yahweh lof toebring. Daar mag ander godsdienste wees wat die begrip geloof in ‘n ander sin gebruik. Daar mag ‘n lewensuitkyk daarbuite wees wat mense bloot aanmoedig om altyd dankbaar en waarderend te wees. Dis reg en só moet ons ook wees, maar die geloof waarvan die Skrif praat, is spesifiek gekoppel aan Yahweh en aan die Een wat Hy gestuur het vir die verlossing van hierdie wêreld. Joh 14:1 “Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in Elohiem, glo ook in My.” Ons veroordeel nie die geloof van enige mens nie, maar vir ons is Y’shua die Leidsman en die Voleinder van ons geloof en Yahweh die Een wat ons lof verdien en aan Wie ons dit op praktiese maniere moet wys. Dit is die inhoud van ons getuienis en die essensie van ons hoop op die lewe na die dood.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »