LEGENDES EN WAARHEDE OOR AVRAHAM

alternate textDie leesstuk van hierdie week begin met die mededeling dat Yahweh aan Avraham verskyn het by die terpentynbome van Mamre. Hierdie woord “verskyn” laat ‘n mens dink aan die begrip “Shekinah” wat soms gebruik word om te sê dat die Allerhoogste met sy grootheid en majesteit Homself aan mense openbaar en selfs onder hulle kom woon. ‘n Mens sien dit byvoorbeeld in Ex 25:8: Ook moet hulle vir My ‘n afgesonderde plek maak, dat Ek in hulle midde kan woon. (Die woord “woon” kom van die Hebreeus “shakan”, die stamwoord van “shekinah”). Daar word soms gesê Shekinah “denotes the manifestation of the Almighty upon the stage of this world, although He abides in the faraway heaven.” Dit is gebruiklik om Shekinah met lig in verband te bring en daar word geglo dat die woorde van die priesterlike seën “Yahweh sal sy aangesig oor jou laat skyn” eintlik beteken: “Mag Hy vir jou die lig van sy Shekinah laat sien!”

Daar is ‘n bekende legende oor die Shekinah wat vir Avraham ook insluit. Heel aan die begin, in Adam se tyd, só lui die legende, kon die Shekinah hier op aarde gevind word. Toe Adam gesondig het, het die Shekinah na die eerste hemel verskuif. Toe Kain gesondig het, het dit na die tweede hemel verskuif, en so het die patroon homself herhaal: Generasie van Henog – derde hemel; generasie van die Vloed – vierde hemel; generasie van die Toring van Babel – vyfde hemel; generasie van Sodom – sesde hemel en die generasie van Egipte (in die tyd van Avraham) – sewende hemel. Maar, sê die legende, deur die gehoorsaamheid en regverdigheid van sewe manne het die Shekinah weer ‘n plek hier op aarde gevind. Avraham het dit teruggebring na die sesde hemel; Yietsgak (Isak) na die vyfde hemel; Yaakov (Jakob) na die vierde hemel; Levi na die derde hemel; Kehat na die tweede hemel; Amram na die eerste hemel en Mosheh was die persoon deur wie se toedoen die Shekinah weer hier op aarde (in die tabernakel of tentwoning) gevind kon word.

Gen 21:8 vorm deel van hierdie week se leesstuk: “En die kind het opgegroei en is gespeen. En Avraham het ‘n groot maaltyd berei op die dag toe Yietsgak gespeen is.” Die Talmoed bevat ‘n legende wat uitbrei op hierdie maaltyd wat Avraham vir sy seun berei het: “(On that day) Satan said before the Holy One, blessed be He, “Sovereign of the Universe! You have graciously bestowed offspring upon this old man at the age of a hundred years; and of all the feast he made, he did not think of offering a single dove or pigeon unto You!” He replied to Satan, “Did he not do it all only for the sake of his son? If I were to tell him to sacrifice his son unto Me, he would immediately obey.” Hierdie fiktiewe gebeurtenis sluit natuurlik aan by die gebeure van die volgende hoofstuk (Gen 22) toe Avraham “op die proef gestel is” (vers 1 – nie “versoek” is om sonde te doen nie, wat by uitstek Satan se manier van doen is) en hierdie woorde moes aanhoor: “Neem jou seun, jou enigste, wat jy lief het, Yietsgak, en gaan na die land MoriYah en offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal aanwys” (vers 2). Selfs die Yehudiem gee toe dat MoriYah waarskynlik ooreenstem met die latere Jerusalem en een van die berge “rondom Jerusalem”. Vers 14 noem dit “die berg van Yahweh” – die plek wat Yahweh uitgekies het om sy Shekinah op ‘n nuwe manier bekend te stel – die plek waar Y’shua van Nasaret 18 eeue later deur sy lering en sy werke getoon het dat Hy die Seun van die lewende Elohiem is. Die plek waar die Allerhoogste hierdie Een wat Hy lief het, opgeoffer het ter wille van die redding van sy volk en sodoende nuwe, letterlike gestalte aan die naam “MoriYah” (“gesig of visie of verskyning van Yahweh”) gegee het!

Hoe belangrik die ou rabbis dit ook al geag het om nie die Shekinah van Yahweh te weerstaan of te verdryf nie, daar was een aspek wat in hulle oë selfs nog belangriker was – vir die eenvoudige rede dat dit iets konkreet was wat ‘n mens kon doen, wat ongetwyfeld die goedkeuring van die Almagtige geniet het. Hierdie aspek word “hospitality to needy strangers” genoem en daar is twee bekende stellings hieroor: “Greater is the reception of strangers than the reception of the Shekinah” en “Let your house be open wide, and let the poor be the members of your household”. Daar is veral twee figure uit die Skrif wat met hierdie eienskap van gasvryheid teenoor vreemdelinge verbind word – Job en Avraham. Van Job word gesê “that he made four doors to his house so that the poor should not be troubled to go round it to find the entrance”. Van Avraham word gesê dat hy ‘n tamarisk boom in Beërsheba geplant het (Gen 21:33). Die woord vir “tamarisk” kan volgens die ou rabbis ook “rusplek” of “blyplek” beteken en hulle verklaar dit só: “This is a lodging-place where Abraham used to
receive passers-by, and when they had eaten and drunk he would say, Stay the night and bless the Almighty.” Dit blyk ongetwyfeld dat Avraham se huis altyd vir verbygangers oopgestaan het en dat hy een van die beste voorbeelde in die Skrif is van die waarheid wat in Heb 13:2 verwoord word: “Vergeet die gasvryheid nie, want daardeur het sommige, sonder om dit te weet, boodskappers (engele) as gaste geherberg.”

Daar is ook ‘n legende rondom Avraham wat illustreer dat Yahweh se volk nie hulle vertroue in waarsêery en sterretekens moes plaas nie. Toe Avraham gehoor het dat hy op honderdjarige ouderdom ‘n seun sou kry, was hy eers baie skepties en het gedink dat daar êrens ‘n misverstand was. Hy het hom tot die Allerhoogste gewend en gesê: “Meester, U bedoel sekerlik dat iemand wat in my huis gebore is, my nasaat sal wees.” Toe kom die antwoord na hom toe: “Nee, Ek bedoel dat een wat uit jou eie lendene sal voortkom, jou nasaat sal wees.” “Maar Meester” antwoord Avraham, “ek het na die sterre gekyk en daar is geen aanduiding dat ek ‘n kind gaan voortbring nie!” En weer eens hoor Avraham ‘n duidelike antwoord: “Weg met jou sterrekunde! Die planete het geen invloed oor Israel nie!”

Avraham word ook as belangrikste voorbeeld gebruik van wat dit beteken om jou voor Yahweh te verootmoedig en jou aan Hom te onderwerp. Volgens die Talmoed het die Skepper aan Israel gesê: “I love you because, even when I bestow greatness upon you, you humble yourselves before me. I honored Abraham, yet he said to Me, “I am but dust and ashes” (Gen. 18:27); I did the same for Moses and Aaron, yet they said, “And what are we?” (Exod. 16:8); and for David, yet he said, “But I am a worm and not a man” (Ps. 22:7). The other peoples behaved differently. I gave prestige to Nimrod, and he [arrogantly] said, “Come, let us build us a city” (Gen. 11:4); and to Pharaoh, who said, “Who is YHWH?” (Exod. 5:2); and to Sennacherib, who said, “What makes YHWH different from the gods of other nations?” (2 Kings 18:35); and to Nebuchadnezzar, who said, “I will ascend above the heights of the clouds” (Isa. 14:14); and to Hiram, king of Tyre, who said, “I sit in the seat of Elohim, in the heart of the seas” (Ezek. 28:2).

In die Joodse geskrifte word Avraham se optrede in Genesis 18 (teenoor die drie onbekende gaste wat hom besoek het) op aangrypende wyse gesien as voorloper en gelykenis van Yahweh se optrede teenoor sy volk en, by implikasie, sy optrede teenoor almal wat oor die eeue heen hulle vertroue in Hom sou plaas. Wat ons uit hierdie hoofstuk leer is dat “by the measure with which a man measures, is it meted out to him.” In vers 4 lees ons dat Avraham ‘n bietjie water laat haal het om vir sy gaste te gee. Yahweh, op sy beurt, “caused a well to ascend for his offspring in the wilderness”. In dieselfde vers word gesê dat Avraham sy gaste laat rus het onder ‘n boom. Wat het Yahweh gedoen? “The Holy One, blessed be He, spread seven clouds of splendour for his descendants; as it is said, ‘He spread a cloud for a covering, and fire to give light in the night.” Vers 5: “Laat ek ‘n stukkie brood gaan haal, en versterk u hart.” Wat gebeur later? “The Holy One, blessed be He, caused manna to descend forty years.” In vers 7 word gesê dat Avraham na die trop beeste toe gehardloop het om ‘n maaltyd vir sy gaste voor te berei. En in die tyd van Mosheh: “The Holy One, blessed be He, drove along quails for his descendants (“’n wind wat van Yahweh kom het die kwartels oorgedryf na hulle toe” – Num 11:31). In vers 8 staan daar: “Avraham self het by hulle (letterlik: “oor hulle”) onder die boom bly staan.” Net so, in Egipte “the Holy One, blessed be He, protected his descendants in Egypt that they should not be smitten by the plagues”. En in vers 16 hoor ons dat Avraham “saam met hulle gegaan het om hulle weg te bring” – ‘n voorloper van die feit dat die volk nooit alleen was nie en dat “the All-present accompanied his descendants in the wilderness forty years”.

Wat die Joodse geskrifte nie vir ons sê nie, maar wat soos ‘n paal bo water staan in die boodskap aangaande Y’shua die Messias, is dat die ware kinders van Avraham hulle is wat die werke van Avraham doen (Joh 8:39); dat die kinders van Avraham méér insluit as net die fisiese nasate van Avraham (Rom 9:7-8) en dat geloof in Y’shua die Messias ‘n mens laat deel kry aan die beloftes wat Yahweh aan Avraham gemaak het (Gal 3:29). Een ding is seker: as ons onsself met Avraham vereenselwig, vereenselwig ons ons nie met ‘n sekere godsdiens of kerk of denominasie nie. Nee ons vereenselwig ons met die waarheid en met die Een wat hierdie waarheid aan ons bekend gemaak het en met die beginsels van geregtigheid wat ons voortdurend by Hom kan leer. ‘n Naamgenoot van die Avraham van die Skrif, Abraham Lincoln, het eenmaal gesê “My concern is not whether the Almighty is on our side; my greatest concern is whether we are on His side, for He is always right.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »