LAAT JULLE STEMME HOOR!

alternate textDie fees wat vanaand (21 September 2017) begin, staan bekend as die Trompettefees of Yom Teruah, wat letterlik eintlik maar net “Dag van die harde geroep of die harde geluid of die harde geskal” beteken. Die Jode (of Yehudiem) het reeds gisteraand met die fees begin en hulle noem dit Rosh Hashanah wat “Begin van die Jaar” beteken. Dis eintlik ʼn bietjie verwarrend, want ons trek nou by die sewende maand van die Skriftuurlike jaar, op grond daarvan dat Yahweh in Exodus 12:2 uitdruklik vir Mosheh gesê het dat die maand Aviev (die maand waarin Pesag gehou word) “rosh hashanah” of die eerste maand van die jaar moet wees. Die Yehudiem het hulle eie redes waarom hulle die eerste dag van die sewende maand só noem, waarop ons nie nou sal ingaan nie.

Baie mense wonder oor waarom die naam van hierdie fees met ʼn harde geroep of ʼn harde geluid (van ramshorings of trompette) geassosieer word. Veral as ʼn mens in gedagte hou dat die ramshoring by ander feeste en selfs gewone nuwemaansdae ook geblaas word. Wat baie insiggewend is, is dat die woord “teruah” in 33 verse in die Skrif gebruik word – soms om na hierdie fees te verwys, soms bloot om die volk op te roep om met ʼn harde gejuig Yahweh se lof te besing – maar in minstens 18 van hierdie 33 verse word die woord gebruik om die volk tot stryd of tot oorlog of tot protes op te roep!

Vir baie mense wat die Skrif bestudeer, is die ontsettende groot rol wat oorlog en stryd in die Skrif speel, ʼn misterie en selfs ʼn verleentheid. Sommige sogenaamde “kenners” het selfs al die Skrif oorgeskryf en omtrent alles wat met oorlog te make het, weggelaat, eenvoudig omdat hulle meen dit rym nie met die idee wat hulle van ʼn “God van liefde” het nie. Maar daar is geen manier dat ʼn mens oorloë en konfrontasie in die Skrif kan weg-wens of weg-vertaal nie. Die harde geskal van die ramshoring het van die vroegste tye af duidelik die boodskap in hierdie wêreld ingestuur dat die weë van hierdie wêreld op soveel maniere indruis teen die weë van Yahweh en dat Hy, wat Yahweh is, nie daaroor gaan stilbly nie, en dat hulle wat aan Hom behoort, ook nie daaroor behoort stil te bly nie. Hy is liefdevol en goed en barmhartig en kan vergewe soos wat geen mens kan vergewe nie, maar Hy is ook volmaak en regverdig en konsekwent en verlaag nie sy standaarde omdat die wêreld sy standaarde verlaag het nie. Juis dáárom roep Hy sy volk op om hulleself met “teruah” of ʼn harde gedreun aan sy kant te skaar en hulle stemme van protes in hierdie wêreld te laat hoor. Protes oor dit wat afwyk van sy Woord en sy Ontwerp vir die inwoners van hierdie wêreld. ʼn Harde geluid van teenkanting teen die toenemende tendens om prominente beginsels van sy Woord te degradeer of dit as onrealisties, onbillik of onwetenskaplik af te maak. Om minstens een keer ʼn jaar die ramshoring te blaas en daarmee hoorbaar en simbolies te verklaar dat ons Yahweh se weë kies en ons distansieer van enige soort optrede wat nie die toets van sy Woord kan deurstaan nie.

In die deel van die geskiedenis van Israel wat in die Skrif beskryf word, het die volk hulleself dikwels op dieselfde soort plek bevind as wat ons ons vandag bevind. Daar is baie voorbeelde wat ʼn mens kan uitlig, maar kom ons kyk net kortliks na één so ʼn tyd. Ongeveer 900 jaar voor Messias was Asa die koning van die Suidelike Koninkryk. Dit was nie ʼn goeie tyd vir die mense van die “Suide” nie (wat hoofsaaklik uit die stamme van Yehudah en Benyamien bestaan het). In 2 Kronieke 15:5-6 word hierdie tyd beskryf: “En in daardie tye was daar geen vrede vir wie uit- of ingegaan het nie, maar groot beroering oor al die inwoners van die lande; en nasie het teen nasie en stad teen stad gebots, omdat Elohiem hulle deur allerlei nood in verwarring gebring het.” Yahweh vervul ʼn profeet met die naam van AzarYah met sy Gees en stuur hom na die koning toe. Ons weet niks anders van hierdie profeet nie en ʼn mens kry byna die idee dat hierdie profeet net vir hierdie een, groot sending geroep is. Sy naam “AzarYah” beteken “Yahweh sal help, of Yahweh kan help” en dit is presies wat in hierdie hoofstuk gebeur: Die volk verkeer in ʼn absolute krisis – daar is nie vrede nie; daar is nie geregtigheid nie; daar is nie eensgesindheid nie; daar is nie helderheid oor wat reg is nie. En in hierdie droewige tyd gryp Yahweh in en steek Hy sy hand na sy volk toe uit om hulle te help, soos wat net Hy kan help.

Die profeet sê ʼn paar dinge vir Asa, maar die belangrikste hiervan is die woorde van 2 Kronieke 15:2: “Yahweh is met julle as julle met Hom is, en as julle Hom soek, sal Hy Hom deur julle laat vind; maar as julle Hom verlaat, sal Hy julle verlaat.” Asa maak sy hart oop vir die Woord van Yahweh, gee opdrag dat alle verfoeisels uit die land verwyder word en die altaar weer herstel word en dat almal wat deel is van die koninkryk (ook die vreemdelinge wat onder hulle gewoon het) op ʼn bepaalde dag in Yerushalayiem bymekaar kom. Daar word onder meer 700 beeste en 7000 skape geoffer – dieselfde hoeveelheid skape wat 200 jaar later geoffer is in die tyd van GiezkiYah (Hiskia) toe die volk in die tweede maand van die jaar ʼn Pesag (met blydskap “soos nog nooit tevore nie”) gehou het, omdat hulle nie gereed was om dit op die eerste maand van die jaar te hou nie.

Alles dui egter daarop dat hierdie byeenkoms in Asa se tyd dieselfde hoogtes as die byeenkoms in GiezkiYah se tyd bereik het. Vers 12 sê dat hulle ʼn hernude verbond aangegaan het om Yahweh met hulle hele hart en hulle hele siel te soek. Vers 15 sê dat hulle ook met hulle totale wil na Hom gesoek het. En dan die wonderwerk – dit waarop hulle hulle hoop geplaas het en wat hulle met hulle hele hart begeer het: “Yahweh het Hom deur hulle laat vind, en aan hulle rus verskaf rondom” (vers 15b).

Maar nou is die vraag: Hoe maak ʼn groep mense van etlike duisende so ʼn verbintenis met Yahweh? Hoe kan soveel mense op een slag ʼn verbond met Yahweh aangaan en uit mond verklaar dat hulle na Hom toe terugkeer en kies om sy pad te loop? Die antwoord lê opgesluit in vers 14: “En hulle het vir Yahweh gesweer met ‘n groot stem en met gejuig (“teruah”) en met trompette en ramshorings.” Hier het ons ʼn ontsettende mooi illustrasie van die onbeskryflike simboliek van die geblaas van die ramshoring. Dis ʼn openbare en gesamentlike verklaring van ons begeerte om na Yahweh toe terug te keer, om onsself van die mens-gesentreerde en wettelose gees van ons dag los te skeur en weer ʼn slag of vir die eerste keer aan die Gees van Yahweh te onderwerp. Dis ʼn hoorbare en ʼn sigbare verklaring dat ons in ʼn vaste verbond met Hom staan (Hy is ons Elohiem en ons is deel van sy volk) en dat ons ons verbonde en ons verbintenisse met die magte in hierdie wêreld wat teen sy Woord indruis, verbreek. Dis ʼn gedenkwaardige aankondiging (voor getuies) dat ons Hom hiervandaan met ons hele hart en siel en met ons totale wil sal soek. Sovele mense is vinnig om te sê dat hulle die Vader met hulle hele hart en hulle hele siel soek, maar niks kom ooit daarvan nie, omdat die wil nie bykom nie en daar nooit ʼn wilsbesluit geneem word om Hom eerste te stel nie. Die ramshorings is vanaand ʼn tasbare aansporing om so ʼn wilsbesluit te neem. Kom ons gebruik hierdie geleentheid om op te staan vir die waardes en die waarheid van die Woord van Yahweh. Dit sal ons dalk in botsing bring met andere rondom ons. Die geluid van die ramshoring, en dit waarvoor dit staan, word nie in alle kringe ewe gemaklik aanvaar nie. Maar dit sal ook vir ons vrede bring wat alle verstand te bowe gaan en bo alles die wete dat ons Yahweh gevind het en daarom nie meer hoef rond te skarrel soos iemand wat totaal verward is in hierdie wêreld nie!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »