JUIG EN WEES BLY IN YAHWEH!

alternate textIn aansluiting by die patroon wat ons die afgelope drie weke gevolg het, staan ons vandag weer stil by die Haftarah gedeelte van hierdie week se Torah leesrooster. Hierdie hoofstuk is Joel (of Yahuél) hoofstuk 2, vanaf vers 15. In vers 15 lees ons die volgende woorde: “Blaas die ramshoring op Tsion, sonder ‘n vasdag af, roep ‘n vergadering saam!” Hierdie vers sluit aan by die breë inhoud van Yom Kippur – die blaas van die ramshoring, die uitroep van ʼn vasdag en die byeenkoms van die gemeente. Die twee verse wat volg (vers 16 en 17), beskryf die verskillende groepe mense (of verskillende benaminge van mense) wat op hierdie dag saamgeroep moet word en moet deelneem aan die vasdag: die volk, die gemeente, die oudstes, die kinders, die suigelinge, die bruide, die bruidegoms en die priesters. Niemand moes van hierdie dag en die ontsettende belangrike betekenis van hierdie dag uitgesluit word nie.

In vers 18 hoor ons ʼn kort, maar kragtige uitspraak wat vir ons sê dat hierdie vasdag nie tevergeefs was nie – dat dit verreikende gevolge gehad het vir die verhouding tussen Yahweh en sy volk: “Toe het Yahweh geywer vir sy land en sy volk verskoon.” Yahweh het vir sy land geywer. Die woord wat hier gebruik word (“kanah”) hou verband met ʼn soortgelyke woord (ook uitgespreek as “kanah”) wat beteken: om te koop en te verlos en regop te laat staan en as eiendom te besit – op só ʼn manier dat dit andere tot jaloesie dryf! Hoe kon so iets binne die bestek van een vasdag gebeur? Dit is moontlik omdat daar nog iets op hierdie dag gebeur het – Yahweh het sy volk verskoon. Die woord wat hier gebruik word (“chamal”), beteken om te spaar (to spare), om medelye te hê (to have compassion) en (by implikasie) om te vergewe (to forgive or to pardon). Ons tref dieselfde woord aan in Maleagi 3:17: “En hulle sal My tot ‘n eiendom wees, sê Yahweh van die leërskare, op die dag wat Ek skep, en Ek sal met hulle medelyde hê soos ‘n man medelyde het met sy seun wat hom dien.” Met die afgelope Yom Kippur het ons die voorreg gehad om hierdie medelye van Yahweh in aksie te sien en aan ons eie lyf te voel!

Van vers 19 af verander die toon en die gemoedstemming in hierdie hoofstuk van vas en ootmoed na blydskap, versadiging en oorvloed – byna soos die natuurlike verandering van emosies vanaf Yom Kippur na die Huttefees, 5 dae later. Net soos in die eerste paar verse, tref ons in vers 19 en verder ook ʼn lysie aan van die verskillende groepe mense (of verskillende benaminge van mense) wat in die periode ná die vasdag voordeel trek uit die feit dat Yahweh vir sy land geywer het en sy volk verskoon het – veral in vers 28 tot 32: die seuns, die dogters, die ou mense, die jongelinge, die diensknegte, die diensmaagde, die vrygeraaktes of die oorblyfsel (“remnant”) en (samevattend) “elkeen wat die Naam van Yahweh aanroep”. Aan die een kant kan mens aanvoel dat Yahweh hierdie seën op soveel mense as moontlik wil uitstort, maar aan die ander kant is daar ook die realiteit dat ʼn groot aantal mense uiteindelik nie deel sal uitmaak van die daardie besonderse groep mense wat in vers 23 “die kinders van Tsion” genoem word nie – eenvoudig omdat hulle hul nie met Tsion, en dit waarvoor Tsion staan, assosieer nie. Daarom sal daar uiteindelik net ʼn oorblyfsel gered word. Wat sal die vernaamste kenmerk van hierdie oorblyfsel wees? Dit sal bestaan uit hulle wat die Naam van Yahweh aanroep (vers 32)!

Wanneer dit kom by die oorvloed en die seën wat vir die kinders van Tsion bestem is, kan ons op geen manier die Naam van Yahweh buite rekening laat nie. Dit kom duidelik in hierdie gedeelte na vore: “O aarde, juig en wees bly, want Yahweh doen groot dinge” (vers 21); “Juig en wees bly in Yahweh julle Elohiem” (vers 23); “Dan sal julle oorvloedig eet en versadig wees en die Naam van Yahweh julle Elohiem prys” (vers 26); “En julle sal weet dat Ek Yahweh julle Elohiem is” (vers 27); “En elkeen wat die Naam van Yahweh aanroep, sal gered word” (vers 32). Toe Kefa (Petrus) in Hand 2 met die skare mense gepraat het wat vir Shavuot na Jerusalem gekom het, en die skare onder andere vir hom gevra het wat hulle moes doen om vanuit die verkeerde en korrupte geslag mense van daardie tyd gered te word, het hy drie gedeeltes van die Tanach (Ou Testament) aangehaal – en in al drie die gedeeltes het die Naam van Yahweh ʼn prominente plek ingeneem: Ps 16 (vers 8: “Ek stel Yahweh voortdurend voor my”); Ps 110 (vers 1: “Yahweh het vir my Meester gesê: Sit aan my regterhand”) en Joel 2 – dieselfde hoofstuk waarby ons nou stilstaan – en die vers waarop Kefa besondere klem geplaas het, was Joel 2:32 “Elkeen wat die Naam van Yahweh aanroep, sal gered word.”

In die res van Joel 2 word daar verskeie aspekte uitgelig wat te make het met die oorvloed en die seën wat Yahweh vir sy uitverkorenes bestem het. Elkeen van hierdie aspekte sluit aan by die boodskap van blydskap en vreugde oor die redding van Yahweh, wat so kenmerkend is van die tyd wat volg op Yom Kippur. Kom ons kyk vervolgens na ʼn paar van hierdie aspekte:

“Kyk, Ek stuur vir julle koring en mos en olie, sodat julle daarvan versadig word” (vers 19). Verlede week het ons uit Hoshea 14 gehoor dat Yahweh ʼn dringende oproep tot sy volk gerig het om terug te keer na Hom toe. Hy het vir hulle ʼn sterk motivering gegee om terug te keer na Hom, wat veral uit 5 aspekte bestaan het: (1) Hulle sal groei soos ‘n lelie (2) Hulle sal wortels hê soos die Libanon (3) Hulle sal skoonheid hê soos ʼn olyfboom (4) Hulle sal herleef soos koring, en (5) Hulle sal floreer soos ʼn wingerdstok. Nou sien ons in Joel 2 dat Yahweh op geen manier sy beloftes vergeet nie. Dieselfde tipe seëninge wat Hy gebruik het om die volk te motiveer om terug te keer na Hom toe (oorgedra deur beelde soos lelies, olywe, koring en druiwe), word nou weer gebruik. Nou is dit nie meer ʼn tegniek om die volk aan te spoor om na Hom toe terug te keer nie. Nee, nou word hierdie beelde (koring en mos en olie) ʼn werklikheid. Die redding en die seën wat belowe is, word nou aan hulle geskenk. Die weivelde spruit uit, die bome dra vrugte, die vyeboom en die wingerdstok lewer hulle drag (vers 22); die dorsvloere is vol koring en die parskuipe loop oor van mos en olie (vers 24). Yahweh hou by sy woord en gee wat Hy belowe het – selfs nog méér, want in vers 26 staan daar: “Julle sal oorvloedig eet (die woord “achal” – “om te eet” – word twee keer direk na mekaar gebruik) en versadig wees (“saba” – “to be filled to satisfaction”) en die Naam van Yahweh julle Elohiem prys wat wonderbaar (“pala” – “too distinguished or too high to understand”) met julle gehandel het.”

Twee keer word daar in Joel 2 gesê dat die aarde en die diere van die veld (in die tyd ná die aanbreek van die Dag van Yahweh) nie hoef te vrees nie (vers 21 en 22). Waarom nie? Omdat Yahweh groot dinge gaan doen en groot uitkoms gaan bring – selfs op só ʼn manier dat die aarde en die diere van die veld daarby gaan baat en nooit weer aan iets soos droogte of tekort blootgestel sal word nie. Selfs in die woestyn gaan daar ʼn oorvloed van vrugte en bome en struike wees. En twee keer word daar in Joel 2 gesê dat, as hierdie redding eers deurgebreek het, Yahweh se volk in ewigheid nie beskaamd sal staan nie (vers 26 en 27). Almal sal eenvoudig wéét dat Yahweh in die midde van sy volk is en dat Hy hulle Elohiem is. Oor Sy teenwoordigheid en Sy grootheid en Sy redding sal daar nie meer ʼn sweempie van twyfel bestaan nie!

In vers 23 vind ons een van die mees interessante (en dalk ook: een van die mees onbekende) profetiese verwysings na die Messias wat sou kom: “En julle, kinders van Tsion, juig en wees bly in Yahweh julle Elohiem, want Hy gee julle die leraar tot geregtigheid en laat op julle neerdaal die reën, die vroeë reëns en die laat reëns, soos voorheen.” Woord en Getuienis (en enkele ander vertalings) bevat hier die woorde: “Hy gee julle die leraar tot geregtigheid”. Meeste ander vertalings se weergawe van hierdie gedeelte is min of meer as volg: “He gives you the early rain according to righteousness.” Al die vertalings stem egter saam dat ons in hierdie vers ʼn verwysing het na beide die vroeë reëns en die laat reëns. Sommige vertalings sluit die vers af met die woorde “die laat reëns, soos vroeër” en ander vertalings sluit af met “the latter rain, in the first month”. Waarom is daar sulke opvallende verskille tussen die verskillende vertalings? Die antwoord is eenvoudig: Omdat sekere Hebreeuse woorde meer as een betekenis kan hê (die woord “moreh” kan byvoorbeeld “vroeë reëns” of “leraar” beteken). Wat egter opvallend is van hierdie vers, as mens eers ʼn bietjie dieper daarin delf, is dat die vroeë reëns (wat ook “leraar” kan beteken) met ʼn woord verbind word wat met “geregtigheid” vertaal kan word en die dat die laat reëns (aan die einde van die vers) met ʼn woord verbind word wat met “eersteling” (“rishon” en “reshiet” wat ook vertaal kan word met “vroeër” of “eerste”) te make het. Yahweh belowe vir sy volk dat Hy vir hulle die vroeë reëns EN die laat reëns sal stuur. Is dit nie dalk een van die duidelikste plekke in die Skrif waar daar vir ons ʼn leidraad gegee word dat die Messias TWEE KEER na die aarde sou kom nie? Hy het gekom – eers as die Vroeë Reëns (in die gestalte van ʼn Leraar van geregtigheid) en later as die Laat Reëns (in sy hoedanigheid as die Eersteling uit die dood), om die oes te kom insamel en hulle wat in Hom as die Gesalfde van Yahweh geglo het, en ook soos Hy uit die dode opgewek word, saam met Hom te neem en in die teenwoordigheid van sy Vader, en húlle Vader, in die hemel te stel.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »