IN DIE BEGIN

alternate textDie Torah leesprogram wat gebruik word om deur die eerste vyf boeke van die Skrif in een jaar te lees, begin vandag weer reg van voor af. Elke jaar se leesprogram word gewoonlik só opgestel dat dit eindig in die week waarin Yom Hashemini plaasvind – die fees wat ons die afgelope week gevier het. Die gedeelte uit die Torah vir elke week, word ‘n Parashah genoem (meervoud: Parashot). Gewoonlik word daar nog een of twee gedeeltes saam met die Parashah van elke week gelees – afhangende daarvan of die lesers Y’shua as die Messias aanvaar en die Nuwe Verbond of die Messiaanse boeke as deel van die Skrif beskou. Op die leesprogram wat ons gebruik, word die gedeelte uit die res van die Ou Verbond die “Haftarah Portion” genoem en die gedeelte uit die Nuwe verbond, die “Messianic Portion”. Vandag gaan ons probeer om hierdie week se “Parashah Portion” (Gen 1:1-6:8), “Haftarah Portion” (Jes 42:5-43:10) en “Messianic Portion” (Joh 1:1-18) in breë trekke bymekaar uit te bring en te soek na die goue draad wat vanaf die skepping, deur die profete en tot by die geboorte van die Messias loop.

Kom ons begin by die begin. Letterlik. Al drie hierdie gedeeltes stel dit onomwonde dat Yahweh, in sy almag en in sy wysheid, reg aan die begin dáár was en reg aan die begin sy skeppingswerk gedoen het. Gen 1:1 “In die begin het Elohiem die hemel en die aarde geskape”. Jes 42:5 “El, Yahweh (is die Een) wat die hemel geskape en hulle uitgesprei het, die aarde uitgespan het saam met wat daaruit voortkom, wat aan die aardbewoners die asem gee en die gees aan wie daarop wandel.” Joh 1:1-3 “In die begin was die woord, en die woord was by Elohiem, en die Woord was Elohiem (of: die woord was magtig). Die woord was in die begin by Elohiem. Alle dinge het daardeur (ontstaan, en sonder die woord het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.” Reg aan die begin was Elohiem, of Yahweh, die Een wat met sy woord (die uitspreek van sy volmaakte wysheid en van sy gedagtes en sy begeertes vir hierdie wêreld) geskep het, soos wat dit in Psalm 33:4-11 verduidelik word: “Die woord van Yahweh is reg; al sy werke is getrou … deur die Woord van Yahweh is die hemele gemaak en deur die Gees van sy mond hulle hele leër … want Hy het gepraat, en dit was; Hy het gebied, en dit staan … die raad van Yahweh bestaan vir ewig, die gedagtes van sy hart van geslag tot geslag.”

Dit is duidelik dat die “Woord van Yahweh” en die “gees van sy mond” wat betrokke was by die skepping, nie iets of iemand apart van Yahweh was nie. Hy, Yahweh, is die enigste Skepper. Dit is sy woord en sy Gees waarmee Hy (alleen) geskape het. Sy woord en sy gees is net ‘n ander manier om te sê: idees en gedagtes en planne en uitsprake wat van Hom – van Yahweh af – kom. Ons behoort nie te probeer om sy Seun, Y’shua, by die skepping in te lees of terug in tyd te projekteer, net omdat Y’shua ook met die woord van Yahweh in verband gebring word nie. Die woord of die gedagtes of die raadsplan van Yahweh, wat reg aan die begin daar was – selfs nog vóór die skepping – het ongetwyfeld die absolute sleutelrol van Y’shua in Yahweh se verlossingsplan vir hierdie wêreld ook ingesluit. Dit is hoe Yahweh werk. Op die regte tyd (in die geskiedenis) openbaar Hy aspekte van sy verlossingsplan wat reeds van die grondlegging van die wêreld af bestaan het. Daarom staan daar in Hand 15:18 “Aan Elohiem is al sy werke van ewigheid af bekend” en in Mat 13:15 “Ek sal my mond open … en Ek sal uitspreek dinge wat verborge was van die grondlegging van die wêreld af”. Hierdie manier van praat kom gereeld in die Skrif voor en is deel van die Hebreeuse manier van dink wat ons eers moet verstaan, voordat ons kan verstaan waarom daar onder meer na Y’shua verwys word as die “woord wat vlees geword het”. Kom ons kyk na drie verdere voorbeelde. Heb 4:3 verklaar dat Yahweh se werke van die grondlegging van die wêreld af vasgestel is. In Luk 11:50 word daar verwys na die bloed van die profete wat vergiet is van die grondlegging van die wêreld af. En in Opb 13:8 word gesê dat die Lam (verwysende na Y’shua) reeds voor die grondlegging van die wêreld geslag is. Nou kan mens eers ten volle verstaan wat Kefa (Petrus) bedoel het toe hy in 1 Pet 1:20 geskryf het: “Die Messias is wel vooruit geken, voor die grondlegging van die wêreld, maar is in hierdie laaste tye geopenbaar om julle ontwil.”

Daar is twee vrae in hierdie verband wat kort-kort na vore kom en wat mense soms laat wonder of geloof nog ‘n plek het in hierdie moderne wêreld waarin ons leef. Die eerste vraag is: Het die skepping regtig so gebeur soos dit in Genesis beskryf word? … en die tweede: Het daar regtig iemand soos Y’shua van Natsaret op aarde geleef en is dit nodig om in Hom te glo? Die onlangse ontdekkings van fossiele naby Johannesburg wat glo miljoene jare oud is en die identifisering van ‘n oer-spesie wat soos ‘n mens lyk, bekend as Homo Naledi, het baie vrae by Skrif-gelowiges ontketen. Wat maak ons met die Skrif se beskrywing van die Skepping? Wat maak ons met die datums en geslagsregisters in die Skrif wat die indruk skep dat die skepping van die mens nie meer as 6000 gelede plaasgevind het nie, en boonop, dat die skepping van die mens oombliklik, sonder enige proses van ontwikkeling, plaasgevind het? Kom ons kry net weer ons perspektief reg. Die Skrif wat ons bestudeer om Yahweh se wil vir ons lewens en sy plan met hierdie wêreld te ontdek, is nie ‘n biologie handboek of ‘n wetenskaplike dokument of selfs ‘n stuk geskiedskrywing nie. Die skrywers was gewone, feilbare mense, wat na hulle wêreld gekyk het soos wat almal rondom hulle, na die wêreld gekyk het. Hulle het nie ‘n wetenskaplike of akademiese benadering gevolg nie. En selfs al het hulle, sou hulle bevindinge, soveel duisende jare gelede, totaal anders as ons s’n vandag gewees het. Vir een of ander rede dink mense Yahweh moes tog die skrywers van die Skrif se oë geopen het dat hulle dinge kon sien soos wat dit regtig is (selfs al het niemand anders dit so gesien nie). Maar dis nie hoe Yahweh werk nie. Nie tóé nie, en ook nie vandag nie. Hy gebruik mense mét hulle swakhede en mét hulle tekortkominge. Hy kan met ‘n krom stok ‘n reguit hou slaan! Enige iemand wat probeer om die Skrif in kompetisie met die wetenskap te plaas, probeer van die Skrif iets maak wat dit nooit kan wees nie en gaan bedroë daarvan afkom. Beteken dit dat Yahweh net gedeeltelik geskape het? Nee, beslis nie!! Nee, Hy bly die soewereine Skepper van hemel en aarde – in die mees direkte en letterlike sin van die woord. Weet ons presies hóé Hy geskape het? Nee, want indien wel, sou ons aan Hom gelyk gewees het. Moet Hy minder van die eer vir die skepping ontvang omdat Homo Naledi op die toneel verskyn het? Nee, op geen manier nie! Alles wat Hy in ons lewens doen, bevestig dat sy gedagtes nie ons gedagtes is nie en dat ons Hom nie bevat of kan afbaken of sy werke kan voorspel of ontrafel nie. Wat nie beteken dat ons Hom nie kan liefhê of kan vereer nie. En wat ook nie beteken dat sy lering en sy Woord onbetroubaar is nie.

En dan die tweede vraag wat ons hierbo gevra het: Het daar regtig iemand soos Y’shua van Natsaret op aarde geleef en is dit nodig om in Hom te glo? Ons het nou gesê die Skrif gee nie voor om ‘n handboek van geskiedenis te wees. Die Skrif self, en ander bronne buiten die Skrif, laat egter geen twyfel dat daar werklik iemand soos Y’shua van Natsaret hier op aarde geleef het nie. Tacitus, ‘n bekende Romeinse historikus, het ongeveer in 115 n.M. in sy Annale geskryf: “A class hated (by Nero and the Romans) for their abominations, (was) called “Christianoi” by the populace. “Christos”, from whom the name had its origin, suffered the extreme penalty during the reign of Tiberius at the hands of one of our procurators, Pontius Pilate”. Suetonius, nog ‘n Romeinse historikus, het êrens in sy werke kommentaar gelewer op die tydperk toe Claudius die Romeinse keiser was. Hy het onder meer geskryf: “Because the Jews at Rome caused continuous disturbances at the instigation of Chrestus, he (Claudius) expelled them from the city”. Chrestus is ‘n alternatiewe spelling vir die Griekse woord “Christos” of die Hebreeuse “Maschiach” of die Afrikaanse “Messias” en Hand 18:2 beskryf (in lyn met hierdie stelling) hoedat Aquila en Priscilla Rome in die tyd van Claudius moes verlaat a.g.v. die vervolging van die Jode. Ons derde buite-Skriftuurlike bron is die gesamentlike getuienis van twee bekende persone uit die eerste eeu n.M: Julius Africanus (‘n akademikus) en Thallus (‘n historikus). Africanus het kritiese kommentaar gelewer op die feit dat Thallus voorheen geskryf het dat die duisternis wat oor Judea gekom, op die dag van Pesag toe Y’shua tereggestel is, die gevolg van ‘n sonsverduistering was. Die punt wat Africanus gemaak het, is dat ‘n sonsverduistering nie met volmaan (Pesag) kan plaasvind nie en dat die duisternis werklik ‘n bonatuurlike wonderwerk was. In die mond van twee of drie getuies staan ‘n saak vas … (Mat 18:16)!

Daar hoef by ons geen twyfel te bestaan nie: Y’shua van Natsaret het werklik hier op aarde geleef en hulle wat in die Messiaanse geskrifte oor Hom geskryf het, het nie die verhaal uit hulle duime gesuig nie! Kan ons die res van die dinge glo wat hierdie skrywers oor Hom gesê het? Dat Hy die Lam van Elohiem is wat die sonde van die wêreld op Hom geneem het? Dat Hy, soos sy Naam aandui, die Verlossing van Yahweh is en dat daar geen ander Naam is waardeur Yahweh wil hê dat mense gered moet word nie? Dat Hy die vervulling van meer as honderd profesieë is van Iemand wat die blindes sou laat sien en die gevangenes uit hulle kerkers sou uitlei? Dat Hy gesterf het en uit die dode opgestaan het en gegaan om plek te berei vir almal wat hulle visier stel op die groot, toekomstige koninkryk wat duidelik en pertinent in die Skrif verkondig word? Vandag wil baie mense eers konkrete, wetenskaplike, swart-op-wit bewyse hê voordat hulle bereid is om te glo. Soos Tomas. Vir wie Y’shua uiteindelik gesê het: Omdat jy my gesien het, het jy geglo. Geseënd is die wat nie gesien het nie, en tog geglo het. Mag ons ook soos die ou omie, Shiemón, wees, van wie die Skrif sê dat die Gees van Yahweh op hom was en dat hy die vertroosting van Yiersraél verwag het, en boonop dat die Gees aan hom openbaar het dat hy nie sou sterf voordat hy die Messias van Yahweh sou sien nie. Toe hy die jong Y’shua in sy arms geneem het, het hy ten aanhore van almal in die tempel uitgeroep: “Nou laat U, Meester, u dienskneg gaan in vrede volgens u woord, omdat my oë u verlossing gesien het, wat U berei het voor die oë van al die volke – ‘n lig tot verligting van die nasies en tot grootheid van u volk Yiesraél” (Luk 2:29-32).

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »