HY MAAK REG WAT GEBREEK EN VERDEEL IS

alternate textDie gebeure rondom Korag, Datan en Aviram en die 250 leiers wat teen Mosheh en Aharon in opstand gekom het en uiteindelik, saam met hulle families op ʼn bonatuurlike manier byna letterlik deur die aarde ingesluk is en deur vuur verteer is (Num 16), is een van die verhale in die Skrif wat soms aangehaal word om sogenaamd te “bewys” dat die Elohiem van die Ou Testament ʼn wrede en ʼn bloeddorstige Elohiem is en glad nie dieselfde eienskappe openbaar as die Elohiem van die Nuwe Testament, wat net liefdevol, genadig en vergewend is nie. En om die argument van hierdie “anti-Ou-Testament” skare nog verder te versterk, lees ons in dieselfde hoofstuk dat Yahweh ʼn plaag onder die volk gestuur het en dat daar net die volgende dag nog 14700 mense gesterf het. Is die Elohiem van die Ou Testament werklik so wreed soos wat mense soms te kenne gee en is Hy verskillend van die Een wat ons in die Nuwe Testament leer ken? Kom ons kyk wat sê die Skrif regtig.

Die opstand van Korag het nie sommer net terloops en sonder enige spesifieke rede plaasgevind nie. Daar is sommiges wat meen dat Korag deur ʼn oor-ambisieuse gees en jaloesie aangevuur is en dat daar iets van ʼn persoonlike vendetta agter sy optrede gelê het. Waaroor gaan hierdie persoonlike vendetta? Natuurlik kan ons nie honderd persent seker wees nie, maar dis bekend dat Korag deel van die familie van Kehat was en dat Kehat een van die drie seuns van Levi was. Korag was dus ʼn Leviet, terwyl Mosheh en Aharon (ook nasate van Kehat) deel van die priesterlike familie was. Tot ʼn sekere mate het die priesters voorregte en status geniet wat selfs die Leviete nie met hulle gedeel het nie en is met funksies vertrou waarmee die Leviete nie vertrou is nie. Dit kan wees dat Korag nie tevrede was met die feit dat hy van dieselfde stam as Mosheh en Aharon gekom het, maar kragtens die spesifieke voorskrifte rondom priesters en Leviete, eintlik tweede viool moes speel nie. Dis egter nie al nie. Korag se oupa, Kehat, het vier seuns gehad: Amram, Yieshar, Gevron en Uziél. Mosheh en Aharon was die seuns van die oudste seun, Amram, en hulle twee het die top posisies in die “hiërargie” van priesters en Leviete beklee. Die tweede oudste seun van Kehat was Yieshar (Korag se pa) en Korag sou dalk gehoop het dat hy wat Korag was, as die owerste van die familie van die Kehatiete aangestel sou word, aangesien Mosheh en Aharon reeds twee belangrike poste beklee het. In Num 3:30 lees ons egter dat Elitsafan, die seun van Uziél (die jongste seun van Kehat!!) as die owerste van die familie van die Kehatiete aangestel is. Vir Korag was dit dalk ʼn bitter pil om te sluk en kon ʼn rol gespeel het in sy besluit om teen Mosheh en Aharon te rebelleer.

tabernacle01Selfs Datan en Aviram se betrokkenheid by hierdie opstand is glad nie toevallig nie. Datan en Aviram was deel van die stam van Ruven en Ruven se families het (saam met twee ander stamme) kamp opgeslaan aan die suidekant van die tentwoning. Die families van die drie seuns van Levi, Ghershon, Kehat, Merari, en die priesters (as ʼn afsonderlike groep), moes ook onderverdeel word en onderskeidelik aan die Weste, Suide, Noorde en Oostekant van die tentwoning kamp opslaan (soos in die prent hier langsaan gesien kan word). Die familie van Kehat het, net soos die familie van Ruven, aan die suidekant, gebly en ʼn mens sou kon sê Datan en Aviram bure was van Korag, wat saam met die res van Kehat se familie ook aan die suidekant gebly het. Daar is ʼn sterk moontlikheid dat Korag, vóór die gebeure van Numerie 16, dikwels met Datan en Aviram oor sy ontevredenheid met Mosheh en Aharon gepraat het en hulle dalk selfs teen Mosheh aangehits het. Daar is selfs ʼn sterk Joodse tradisie wat sê dat Datan en Aviram die twee manne was wat in Egipte met mekaar baklei het en wat vir Mosheh gesê het: “Wie het jou as regter tussen ons aangestel” toe hy probeer het om vrede tussen hulle te maak. Daar was ʼn sterk aanloop tot die verdeeldheid wat in Numerie 16 kop uitgesteek het en Yahweh wou dit eens en vir altyd duidelik stel dat Hy nie verdeeldheid in die midde van sy volk duld nie, omdat Hy by uitstek die Een is wat reg maak wat gebreek is, bymekaar bring wat verstrooi is en verenig wat verdeel is. Hierdie eienskap van Yahweh is ʼn eienskap wat ons konsekwent in die Skrif aantref en een van die dinge wat vir die mense wat aan Yahweh verbind is, die grootste prioriteit behoort te wees.

Yahweh is in die eerste plek teen verdeeldheid omdat HY – in sy wese – totaal onverdeeld is. Hy is Een – nie net in die sin dat Hy die enigste, ware Elohiem is nie, maar ook in die sin dat Hy sy eer en sy grootheid met niemand deel nie en selfs nie in Homself verdeeld is, sodat daar verwarring onder mense kan bestaan oor hoe daar oor Hom gedink moet word nie. Persoonlik meen ek dat mense deur die geskiedenis heen die een-wees en die uniekheid van Yahweh uit die oog verloor het, of eenkant toe geskuif het, en mensgemaakte voorstellings van Hom gemaak het wat die indruk kan skep dat daar ʼn verdeeldheid binne-in die Almagtige self is. Hy is net een, soos wat die volk wat Hy vir Hom uitgekies het net een is, soos wat die Torah net een is, soos wat die Weg van verlossing net een is en soos wat die plan wat Hy vir hierdie wêreld het, net een is. Om skeiding te maak en te verdeel, is soms nodig in hierdie wêreld, maar is in wese nie deel van wie Yahweh is en wat Hy vir ons begeer nie. Die enigste dag van die ses skeppingsdae waarvan Yahweh nie gesê het dat dit goed was nie, was die tweede skeppingsdag toe Yahweh skeiding moes maak tussen die waters onderkant die lugruimte en die waters bokant die lugruimte. Maar die heel eerste ding wat van die nuwe hemel en die nuwe aarde in Openbaring 21 gesê word, is dat die see nie meer daar sal wees nie en dat die skeiding van die tweede skeppingsdag dus in ʼn heel besondere sin opgehef sal word.

Vandag beleef ons verdeeldheid en onenigheid op verskeie vlakke. Dit bestaan tussen die groot geloofsgroepe in hierdie wêreld, byvoorbeeld tussen Christene, Moslems en Jode. Sommiges probeer hulle bes om eenheid tussen hierdie groepe te bewerkstellig en beroep hulle op die Skrif om hulle pogings te regverdig. Die Skepper is teen verdeeldheid, en die Skrif is teen verdeeldheid, sê hulle, daarom moet ons alle vorme van verdeeldheid uit ons samelewing verwyder. Maar wag ʼn bietjie. Was daar nie verdeeldheid tussen Israel en die volkere wat nie in Yahweh geglo het nie? Het hulle nie juis gehoor dat hulle hulle moes afsonder en in geen opsig die praktyke van hulle bure moes navolg nie? Daar is ʼn verskil tussen ʼn huis wat in homself verdeeld is en ʼn wêreld wat verdeeld is omdat sonde só ʼn houvas daarop gekry het, en die afwykende praktyke daarin op so ʼn groot skaal plaasvind, dat dit ʼn Babelse verwarring veroorsaak as mens hierdie uiteenlopende leefstyle en oortuigings in dieselfde kamp probeer plaas. Daarom het Yahweh self by die toring van Babel ingegryp en die mense daar uitmekaar gedryf sodat elkeen met diegene kon assosieer wat sy of haar taal gepraat het.

Vandag weet ons dit gaan nie oor die fisiese taal wat ons praat nie. Dit gaan oor die taal van ons hart. Ons harte praat dieselfde taal as ons met hart en siel aan dieselfde Elohiem en aan dieselfde Woord verbind is. En wanneer ons eers eenmaal só aan hierdie grote en gedugte en regverdige en goedgunstige Elohiem verbind is, moet ons in ons verhouding met mekaar seker maak dat ons nie die deur oopmaak vir verdeeldheid of onenigheid of ʼn agteraf gekonkel nie. Een van die grootste geskenke wat Yahweh aan ons gegee het, is om een met mekaar te kan wees, net soos wat Y’shua een met sy Vader is. Ons mag nie hierdie eenheid in gevaar stel of minag nie. In die Messiaanse Skrifte word die gelowiges telkens daaraan herinner dat daar net een Elohiem (Yahweh) is, net een Leermeester (Y’shua), net een geloof, net een doop, net een hoop en net een eindbestemming vir almal wat aan Yahweh behoort. Ons het reeds daarop gewys dat daar verdeeldheid tussen die groot geloofsgroeperinge bestaan. Dit is te verstane en sal altyd so wees. Wat nie so maklik is om te verstaan nie, is dat daar soms ook verdeeldheid inkruip by groepe waar almal dieselfde oortuigings deel, en presies dieselfde taal praat. Laat ons nie vergeet wat met Korag gebeur het nie en ook die ander vermanings van die Skrif ter harte neem: “Wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is, en strewe ernstig om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede” (Efes 4:1-3); “Ek het hulle die grootheid gegee wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is” (Joh 17:22); “En die menigte van die wat gelowig geword het, was een van hart en siel” (Hand 4:32); “Maak my blydskap volkome deur eensgesind te wees en dieselfde liefde te hê, een van siel, een van verstand” (Fil 2:2).

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »