HOOP EN VERLUSTIGING

alternate textDie boodskap van hoop wat soos ‘n goue draad deur die Skrif loop, mag dalk vir sommiges na iets klink wat net te abstrak, irrelevant en onprakties is.  Om net te kan sê dat jy jou hoop vestig op iets wat ver in die toekoms lê, iets waaraan jy nie nou kan raak nie en iets wat nie jou onmiddellike nood verlig nie, maak vir baie mense nie sin nie.  Daarom soek en begeer hulle nie so ‘n soort hoop nie.  In wese stem hulle saam met wat die filosoof Aristoteles sowat 2300 jaar gelede gesê het:  “Hoop is dieselfde as om te droom terwyl jy wakker is” – en ook met dit wat Benjamin Franklin sowat 250 jaar gelede gesê het: “He that lives upon hope will die fasting”.

Daar is egter geen twyfel dat die aspek van hoop ‘n wesenlike verskil aan ‘n mens se kwaliteit van lewe kan bring nie.  “What oxygen is to the lungs, such is hope to the meaning of life” het iemand eenmaal gesê.   Ons het hoop nodig om die gawe van lewe wat Yahweh aan elkeen van ons gegee het, ten volle te kan benut.  En ons hoef nie net vir onsself te dwing en te forseer om teen alle logika in, te bly hoop nie.  Ons hoef nie altyd soos Avraham teen hoop op hoop te bly glo nie.  As gelowiges het ons baie dinge aan ons kant om ons te help om makliker te kan hoop.   Ons kan hoop omdat ons deur die Skrifte bemoedig word, soos Rom 15:4 sê.   Ons kan hoop omdat Yahweh aan ons verligte oë van die verstand gegee het, soos daar in Efes 1:18 staan.  Ons kan hoop omdat die Vader ons liefgehad het en vir ons ‘n ewige troos gegee het, soos 2 Tes 2:16 dit stel.  En ons kan hoop omdat die lewende Elohiem ons alreeds alles ryklik gegee het om te geniet, soos Shaúl aan Timoteus skryf in 1 Tim 6:17.  Dit wat Hy, Yahweh, vir ons gedoen het en gegee het, veral deur sy Seun, Y’shua, maak dit vir ons net soveel makliker om te kan hoop op die dinge wat nog in die toekoms moet gebeur.

Daar is veral een aspek wat in hierdie verband nie uit die oog verloor mag word nie.  Hoop is nie iets wat jy doen terwyl jy jouself terugtrek en êrens in die stilte jou handjies vou en wag dat iets gebeur nie.  Hoop word gevoed en aangewakker, wanneer ‘n mens jou in Yahweh en in sy Woord en in sy gawes verlustig.  Hoop het nodig om gereeld gevoed en versterk te word en dit gebeur veral wanneer ‘n mens jou diepste begeerte en jou hunkering rig op die goedheid en die vettigheid wat in oorvloed in die Woord van Yahweh na vore kom, en jou daarin verlustig om met die dinge van Yahweh besig te wees.  ‘n Teksvers wat hierdie beginsel treffend illustreer, is Mieshleh (Spreuke) 11:23  “Die begeerte van die regverdiges is net ten goede, maar die hoop van die afvallige is ‘n strafoplegging van toorn.”   Let daarop dat hierdie vers ‘n onderskeid tref tussen die begeerte van die regverdige en die hoop van die afvallige.  Die afleiding kan hieruit gemaak word dat die begeerte van die regverdige beter is as die hoop van die afvallige.  Die begeerte na Yahweh en na sy dinge, is net ‘n veel beter opsie as om bloot net intellektueel te hoop, sonder om jou in Yahweh te verlustig.  Nie dat begeerte en hoop mekaar uitsluit nie, maar om te kan hoop, sonder om moedeloos te word, benodig ons die dimensie van verlustiging!

Die woord in Hebreeus wat normaalweg met “verlustig” vertaal word, is die woord “anag”.  Die basiese betekenis van hierdie woord is “to be soft or pliable or delicate”.  Sommige woordeboeke gebruik selfs die woord “effeminate” om die betekenis van hierdie woord uit te bring.  Daar is ‘n waarheid wat hierin na vore gebring word wat ons almal moet raaksien:  Geloof is nie net koue feite nie.  Geloof is nie net die aanvaarding van intellektuele waarhede en die verdediging, ten alle koste, van hierdie waarhede waarby jy glo jou, en andere se geloof, moet staan of val nie.  Geloof het ook ‘n sagte en delikate, ons kan byna sê “vroulike”, kant.  Hierdie faset van geloof word in die Skrif met woorde soos verlustiging, verkwikking, begeerte en hunkering uitgedruk.  Kom ons kyk na sommige van hierdie verse en probeer vir onsself uitmaak hoe elkeen van hierdie verskillende vorme van “verlustiging” daartoe kan lei dat ons beter, en met groter oortuiging, kan hoop in hierdie wêreld.

Job 20:17,29 Hy kan hom nie verlustig in riviere, in vloeiende strome van heuning en dikmelk nie … Dit is die deel van die afvallige mens van die kant van Elohiem en die erfdeel wat vir hom bestem is deur El.

Job 22:23-26 As jy tot die Almagtige terugkeer, sal jy gebou word; as jy die onreg verwyder uit jou tent.  En gooi die gouderts in die stof en tussen die rotse van die spruite die goud van Ofier.  Dan sal die Almagtige jou gouderts wees en stawe silwer vir jou.  Want dan sal jy in die Almagtige jou verlustig en jou aangesig tot Eloha ophef.

Ps 37:3-4 Vertrou op Yahweh, en doen wat goed is; bewoon die aarde en beoefen getrouheid, en verlustig jou in Yahweh; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart.

Ps 119:47-48 En ek wil my verlustig in u gebooie wat ek liefhet, en my hande ophef na u gebooie wat ek liefhet, en u insettinge oordink.

Ps 119:92-93 As u Torah nie my verlustiging was nie, dan het ek omgekom in my ellende.  Ek sal u bevele tot in ewigheid nie vergeet nie, want deur hulle het U my lewend gemaak.

Jes 55:2-3 Waarom weeg julle geld af vir wat geen brood is nie, en julle arbeid vir wat nie kan versadig nie?  Luister aandagtig na My en eet die goeie, en laat julle siel hom in vettigheid verlustig.  Neig julle oor en kom na My toe, luister, en julle siel sal lewe; Ek wil met julle ‘n ewige verbond sluit: die bestendige gunsbewyse van Dawied.

Jes 58:13 As jy jou voet weerhou van die Shabbat – om nie jou sake op my afgesonderde dag te doen nie, en as jy die Shabbat ‘n verlustiging noem en die afgesonderde dag van Yahweh hooghou; en as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie geleentheid vir jou sake soek of ydele taal praat nie; dan sal jy jou verlustig in Yahweh, en Ek sal jou laat ry oor die hoogtes van die aarde en jou laat geniet die erfdeel van jou vader Yaákov; want die mond van Yahweh het dit gesê.

Jes 66:10-11 Wees bly saam met Yerushalayiem en juig oor haar, almal wat haar liefhet!  Wees vrolik saam met haar, baie vrolik, almal wat oor haar treurig gewees het!  sodat julle kan suig en versadig word aan die bors van haar vertroostinge; sodat julle kan uitdrink en julle verlustig in die oorvloed van haar voortreflikheid.

Rom 7:22-23 Want ek verlustig my in die Torah van Elohiem na die innerlike mens; maar ek sien ‘n ander wet in my lede wat stryd voer teen die Torah van my gemoed en my gevange neem onder die wet van die sonde wat in my lede is.

Wat is die vernaamste rede waarom ons ons in Yahweh en in sy dinge verlustig?  Hoe word hierdie begeerte en hierdie emosie in ons opgewek?   Die antwoord op hierdie vraag kom (minstens gedeeltelik) na vore in YermeYahu (Jeremia) 31:20, wat deel uitmaak van die klassieke hoofstuk in die Voor-Messiaanse Skrifte (of Ou Testament) wat profeties vooruit-kyk na die aanbreek van die nuwe verbond:

Jer 31:20 Is Efrayiem vir My ‘n dierbare seun of die kind van my verlustiging? (my troetelkind)?  Want so dikwels as Ek teen hom praat, dink Ek nog altyd aan hom; daarom is my ingewande oor hom in beroering; Ek sal My beslis oor hom ontferm, sê Yahweh.

Die woord wat hier met “verlustiging” vertaal word, is ‘n interessante  Hebreeuse woord, die woord “shashua”, wat basies beteken “to look upon in delight, to fondle, to play”.  Dieselfde woord word in Ps 119:143 gebruik:  “Benoudheid en angs het my getref, maar u gebooie is my verlustiging.”  Soms is dit ménse wat hulle in Yahweh (of in sy gebooie) verlustig, maar die inisiatief gaan uit van Yahweh, wat Hóm in mense verlustig.  Dis hoe Yahweh oor Efrayiem gevoel het en nog steeds voel – Efrayiem wat vandag as breë term gebruik kan word vir die  gelowiges uit nie-Joodse nasies wat “teruggekeer het” na Yahweh en begeer om die vergete en verwaarloosde aspekte van die geloof van hulle voorvaders weer in ere te herstel.  As Hy so oor óns voel en oor óns dink, kan ons nie anders as om ook so oor Hóm en oor sy Woord te voel nie.  En dit alleen behoort ons HOOP weer op koers en op dreef te bring!