GEEN GESNEDE OF NAGEMAAKTE BEELD

alternate textDis nie so maklik om die onderskeid tussen die eerste en die tweede gebod raak te sien nie. ʼn Mens kan aanvoel dat beide met afgodediens te make het. Ons sou afgodediens kon beskryf as die verering of aanbidding van iets of iemand in die plek van Yahweh. Kom ons kyk na Exodus 20:3-6:

Ex 20:3 Jy mag geen ander magtiges voor my aangesig hê nie. (4) Jy mag vir jou geen gesnede beeld of enige gelykenis maak van wat bo in die hemel is, of van wat onder op die aarde is, of van wat in die waters onder die aarde is nie. (5) Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, Yahweh jou Elohiem, is ‘n jaloerse El wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat; (6) en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou.

Vers 3 word as die eerste gebod beskou. Vers 4 – 6 word as die tweede gebod beskou. Daar is egter geen rede waarom ons nie vers 5 en 6 (wat eintlik deel is van die tweede gebod), saam met die eerste gebod ook moet lees nie. Met ander woorde, ʼn mens verstaan die eerste gebod beter as jy dit só lees: “Jy mag geen ander magtiges voor my aangesig hê nie … Jy mag jou voor hulle nie neerbuig en hulle nie dien nie; want Ek, Yahweh jou Elohiem, is ‘n jaloerse El wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat; en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou.”

Nou wat is dan eintlik die verskil tussen die twee? In kort sou ons kon sê: Die eerste gebod word oortree wanneer ʼn mens iets aanbid wat deur Yahweh geskape is (soos byvoorbeeld die son, die maan, ʼn mens of ʼn dier) en die tweede gebod word oortree wanneer ʼn mens iets aanbid wat deur die mens nagemaak of gereproduseer is (soos byvoorbeeld die son, die maan, ʼn mens of ʼn dier). Meer as 200 jaar gelede het iemand met die naam Thomas Watson dit so beskryf: “God is to be adored in the heart, not painted to the eye…. To set up an image to represent God, is debasing him. If any one should make images of snakes or spiders, saying he did it to represent his prince, would not the prince take it in disdain? What greater disparagement to the infinite God than to represent him by that which is finite; the living God, by that which is without life; and the Maker of all by a thing which is made?” In die Skrif word daar baie ernstig teen hierdie gebruik gewaarsku, onder meer ook deur die profete:

Jes 2:8 Ook is hulle land vol afgode; voor die werk van hul hande buig hulle hul neer, voor wat hulle vingers gemaak het; Eseg 14:3 Seun van Adam, hierdie manne het hulle drekgode in hulle hart opgeneem en die struikelblok tot hulle ongeregtigheid voor hulle aangesig neergesit – sou Ek My dan werklik deur hulle laat raadpleeg?

Dit lyk asof hierdie vers in die boek Esegiël (Yegezkel) vir ʼn mens ʼn aanduiding gee van twee verskillende maniere waarop mense ʼn plek gee aan afgode in hulle lewens: (1) Hulle kan afgode of drekgode in hulle hart opneem, of (2) Hulle kan afgode of drekgode voor hulle aangesig neersit. Die implikasie is duidelik: Jy kan een van die twee doen, of jy kan al twee gelyktydig doen. Die gevolg is egter dieselfde: Yahweh sal Hom nie deur so iemand laat raadpleeg nie. Hy sal so iemand se gebede nie verhoor nie. Sommiges sal sê: Dis darem té drasties – ʼn Elohiem van liefde sal nooit so drasties optree nie. Maar kom ons luister weer na die gebod: “Ek, Yahweh jou Elohiem, is ‘n jaloerse El wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat; en Ek bewys barmhartigheid (liefde) aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou.” Wanneer dit kom by die eerste twee gebooie (en trouens elke ander gebod) moet ons waak daarteen om nie die erns van die gebod uit te kanselleer deur dit af te speel teen die liefde en die barmhartigheid van die Almagtige nie!

Baie mense worstel met die vraag of die tweede gebod ons verbied om foto’s te neem, prente teen ons mure te hang en ons kinders met speelgoed diere te laat speel. As mens konsekwent wil wees, kan jy hierdie lysie nog baie langer maak. Dink aan handvervaardigde modelle van die menslike anatomie wat in dokters se spreekkamers voorkom en in die opleiding van mediese studente gebruik word. Dink aan wêreldkaarte en aardbolle en klere en materiale met ʼn blom-motief of ʼn dier-motief en muntstukke met uitbeeldings en seëls en boeke met prente en al die visuele hulpmiddels wat gebruik word gesonde en gestremde mense te help om ʼn beter begrip van hulle wêreld te kry. Word al hierdie dinge deur die tweede gebod verbied? As dit is hoe die tweede gebod verstaan moet word, dan word die tweede gebod deur die Skrif self oortree en dan is die Torah inkonsekwent en in stryd met homself. Dieselfde woord “asah” wat in Exodus 20 vir die maak van beelde gebruik word, word op ander plekke in die Torah ook gebruik:

Ex 25:18 Maak (“asah”) ook twee gerubs van goud. Van dryfwerk moet jy hulle maak, aan die twee ente van die versoendeksel; Ex 28:33 En maak (“asah”) aan die soom daarvan granaatjies van pers en purperrooi en bloedrooi kleur; Num 21:8 Daarna sê Yahweh: Maak (“asah”) vir jou ‘n giftige slang en sit dit op ‘n paal; dan sal elkeen wat gebyt is en daarna kyk, lewe.

Die verbod gaan duidelik oor méér as bloot die namaak of nateken of nabootsing van artikels wat in die skepping voorkom. Dit gaan nie oor die maak, of die vervaardiging of die kunswerk, op sigself nie. Dit gaan oor die doel waarvoor dit gemaak of uitgebeeld word en die manier hoedat dit gebruik word en die plek wat dit in die lewe inneem van die persoon wat dit besit. In 2 Konings 18:4 lees ons dat koning GiezkiYah dieselfde koperslang wat Mosheh laat oprig het om vir die volk genesing te bring, laat afbreek het omdat die volk begin het om dit as hulle magtige te beskou en offerrook daarvoor laat opgaan het.

As mens wil sien hoe lyk die oortreding van die tweede gebod, kan jy ver terugkyk in die geskiedenis – die geskiedenis van die volk Israel, maar ook die geskiedenis van die kerk. ʼn Mens kan kyk na die rol wat beelde van die vroegste tye af, selfs binne-in die aanbiddingsplekke van die gelowiges gespeel het. Die verskoning dat die beelde van engele en van Maria en van die Messias nie self aanbid word nie, maar net hulpmiddels is in die aanbidding van die Allerhoogste, is nie baie oortuigend nie. Die volk Israel het ook gedink die goue kalf is net ʼn hulpmiddel in hulle aanbidding van die Allerhoogste maar daardie episode word uitgelig as een van die donkerste oomblikke in die bestaan van die volk. Die tweede gebod gaan pertinent daaroor dat jy jou voor niks (selfs nie iets in die hemel) mag neerbuig en dit vereer of aanbid soos wat jy vir Yahweh behoort te vereer en te aanbid nie. Die kerk, en die Rooms Katolieke kerk by name, het die twyfelagtige reputasie dat hy hierdie gebod ooglopend oortree het en dit later soos ʼn warm patat moes hanteer en selfs ʼn keer of wat uit hulle amptelike lys van tien gebooie uitgelaat het!

ʼn Mens kan ook kyk na die groot bohaai wat daar wêreldwyd oor die simbool van die kruis opgeskop word. Is dit ook net ʼn hulpmiddel in ons aanbidding van die Allerhoogste of bloot ʼn herinnering aan die dood van die Messias? Ek betwyfel dit. En ek sê dit as iemand wat vandag tot my spyt moet erken dat ek meer as twee dekades gelede self ʼn groot kampvegter daarvoor was om meer simbole, onder andere ook die kruis simbool, in die kerke in te bring. Toe het ek nog nie verstaan dat Yahweh, die Allerhoogste, werklik ʼn jaloerse Elohiem is en dat Hy verkies om Homself nie in mensgemaakte beelde aan ons te openbaar nie, maar deur sy eie woorde en deur sy eie werke in die lewens en die geskiedenis van die mensdom. Ek het toe ook nie verstaan dat die hout of die paal (Grieks: “stauros”) waaraan die Messias gesterf het, nooit bedoel was om só as simbool verhef te word dat mens later nie meer ʼn onderskeid kan tref tussen Y’shua wat (as die Messias) gesterf en opgestaan het en Yahweh wat alleen as die Skepper van hemel en aarde aanbid moet word nie. Mense wat met alle mag en geweld aan die kruis probeer vashou en selfs voor die kruis neerbuig en buitengewone krag in die simbool van die kruis inlees, en wat sê die kruis is soos ʼn voortdurende herinnering aan die dood van die Messias, behoort vir hulleself hierdie vraag te beantwoord: Wat sou hulle gedoen het as die Messias met ʼn geweer doodgeskiet is, of op ʼn ander manier tereggestel is? Sou hulle dan ʼn klein geweertjie om hulle nek gedra het of ʼn elektriese stoel in hulle huise ingebring het? Sou hulle nog steeds soveel waarde aan die kruis geheg het as hulle geweet het dat die kruis as ʼn simbool vir die vroeë gelowiges (voor die tyd van Konstantyn) byna geen betekenis gehad het nie en boonop ʼn sterk konnotasie gehad het met Tammuz, die antieke, heidense afgod voor wie die vroue in Esegiël 8 neergebuig en gehuil het – ʼn praktyk wat as ʼn gruwel in Yahweh se oë beskou word?

Die tweede gebod gaan egter oor veel méér as net die beelde in kerke en die hangertjies om mense se nekke. Dit gaan oor dit wat ons met ons eie hande gemaak het en dit wat ander mense met hulle hande gemaak het of met hulle verstand uitgedink het, en wat in die plek gestel word van Yahweh, die Almagtige. Hoe weet ons dis iets wat in sy plek gestel word? Die profeet Yegezkel het vir ons ʼn belangrike leidraad gegee: Ons moet vasstel of dit iets is wat ons in ons hart opgeneem het. As dit nodig is, moet ons tyd neem en uitvind of dit so is. Want die enigste een (of die enigste iets) waarvoor daar ten diepste plek is in ons hart, is Yahweh die Almagtige. Hy is die Een wat ons met ons hele hart en met ons hele siel en met ons hele verstand moet liefhê. En Hy is die enigste Een (of die enigste iets) wat in ons eie hart (ons eie mens-wees) se diepste behoeftes en begeertes kan vervul. Laat ons nie die leuen glo dat iets of iemand anders vir ons dit kan bied wat Yahweh alleen vir ons kan bied nie!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »