DIT WAT VOOR DAARDIE PESAG GEBEUR HET

alternate textDie vraag word soms gevra waarop ons vandag behoort te fokus, wanneer ons die Pesag vier. Behoort ons te fokus op die eerste Pesag, toe die Israeliete uit Egipte getrek het of behoort ons liewer die fokus te laat val op die belangrike en deurslaggewende Pesag (kom ons noem dit die tweede Pesag) toe Y’shua as die Lam van Elohiem aan ʼn folterpaal vasgespyker is? Ons kan natuurlik nie namens ander mense antwoord nie. Veral nie namens mense wat nie in Y’shua as die Seun van Elohiem glo nie. Maar as ons wel glo dat Y’shua is wie Hy gesê het Hy is en wie talle van sy destydse volgelinge gesê het Hy is, dan dink ek die antwoord op hierdie vraag behoort te wees: Ons behoort op die eerste Pesag te fokus – die een in Egipte – maar ons behoort eweneens op die tweede Pesag, later in Jerusalem te fokus, toe daar op dieselfde dag honderde jaaroud rammetjies geslag is, maar ook ʼn mens tereggestel is – ʼn unieke gebeurtenis waaroor die profeet YeshaYahu (Jesaja) 700 jaar tevore die volgende geprofeteer het: “Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel … soos ‘n lam wat na die slagplek gelei word en soos ‘n skaap wat stom is voor sy skeerders” (Jes 53:5-7). Die eerste Pesag is simbolies van ons bevryding uit Egipte. Die eerste Pesag skep die platform vir die konsep dat die bloed van ʼn lam die redding van mense kan beteken. En die tweede Pesag bring die diepste betekenis van daardie eerste Pesag op die sterkste denkbare manier na vore: Deur die dood van Y’shua, die Mens-lam, kan mense (wat in die woorde van YeshaYahu, almal gedwaal het soos skape) bevry word van die (Egipte-tipe) kettings waarin hulle voorheen gebind was en kan hulle letterlik uit die kloue van die dood gered word. Die eerste Pesag val nie weg omdat die tweede Pesag gebeur het nie. Nee, die eerste Pesag bly staan om ons jaar na jaar aan die grootsheid van hierdie ontsaglike verlossingsdaad van Yahweh te herinner!

Joh 12:1 sê vir ons dat Y’shua 6 dae voor Pesag in Bet-Anyah (Betanië) gekom en saam met ʼn groepie gelowiges geëet het. Dis interessant dat Yahuganan (Johannes) spesifiek vermeld dat Elázar (Lasarus – die een wat kort tevore deur Y’shua uit die dood opgewek is) ook onder hierdie groepie gelowiges was. Dis byna of Yahuganan sy lesers se aandag reeds voor die Pesag op die opstanding uit die dood wou vestig, want die tyd wat binnekort sou aanbreek, sou nie net die uur wees waarin Y’shua as “die koringkorrel in die grond val en sterf” nie (Joh 12:24), dit sou ook wees: “die uur waarin die Seun van die mens verhoog word” (Joh 12:23).

In Joh 12:12 lees ons van ʼn besonderse gebeurtenis wat die volgende dag plaasgevind het, dit wil sê 5 dae voor Pesag. ʼn Mens kan nie anders as om hier ʼn raakpunt te sien met Ex 12:3 nie: “Op die tiende van hierdie maand (dit wil sê: 5 dae voor Pesag) moet hulle elkeen ‘n lam neem ooreenkomstig die families, ‘n lam vir ‘n huisgesin.” Vyf dae voor Pesag moes die lam uitgesoek en geïdentifiseer word. Vyf dae voor Pesag vind daar iets in Jerusalem plaas, wat op ʼn duidelike manier aantoon dat Y’shua se koms, en veral sy dood, iets met die dieper betekenis van Pesag te make het en dat Hy as Pesaglam geïdentifiseer is: ʼn Groot aantal mense wat na Jerusalem toe gekom het vir die fees en wat gehoor het dat Y’shua op pad was, ontmoet Hom langs die pad met palmtakke en met groot opgewondenheid en roep uit: “Geseënd is hy wat kom in die Naam van Yahweh, die koning van Yiesraél!” Hierdie woorde kom net so uit Psalm 118:26 en staan in ʼn konteks wat deur en deur Messiaans is. Mens kan dit duidelik sien as jy begin lees by Psalm 118:22 “Die steen wat die bouers verwerp het, het ‘n hoeksteen geword. Dit het van Yahweh gekom; dit is wonderbaar in ons oë. Dit is die dag wat Yahweh gemaak het; laat ons daaroor juig en bly wees. Ag, Yahweh, gee tog verlossing; ag, Yahweh, gee tog voorspoed! Geseënd is hy wat kom in die Naam van Yahweh!” Daardie dag, vyf dae voor Pesag, het daardie skare feesgangers, wetend of onwetend, op ʼn manier opgetree wat onmiskenbaar die vervulling van een van die belangrikste profesieë in die Skrif was:

Hulle het Y’shua geïdentifiseer as die hoeksteen wat deur die bouers verwerp is. En hierdie identifikasie was nie maar net iets wat terloops gebeur het nie. Nee, hulle het geweet hier is iets wat van Yahweh af kom – en dit was wonderbaarlik in hulle oë – net soos wat daar in Psalm 118 geprofeteer is. Vir hulle was daardie dag ʼn dag wat Yahweh gemaak het – ʼn dag om oor te juig en bly te wees. Hulle het besef dat hulle oë die verlossing sien wat Yahweh gegee het – ʼn antwoord op die versugting waarmee die volk vir honderde jare lank dag en nag voor die aangesig van Yahweh gekom het. En die spontane uitroep “Geseënd is hy wat kom in die Naam van Yahweh” was die manier waarop hierdie feesgangers gesamentlik bely het: Ons glo dat hierdie Een die beloofde Messias is! Ons glo dat Hy die vervulling van die profesieë is! Ons glo dat die Pesag wat oor 5 dae gaan plaasvind, ʼn Pesag gaan wees soos wat ons nog nie voorheen beleef het nie!

En dan gebeur daar nog iets wat opnuut bevestig dat hierdie groep feesgangers hulle nie misgis het nie. Êrens vind iemand ʼn jong esel en Y’shua gaan Jerusalem binne op die rug van hierdie esel. Al vier die Evangelies verwys na hierdie esel waarop Y’shua geklim het en twee van hulle (Matteus en Johannes) koppel dit aan die profesie van ZegarYah (Sagaria) 9:9 “Verheug jou oorvloediglik, o dogter van Tsion! Juig, o dogter van Yerushalayiem! Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en ‘n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op ‘n esel – op ‘n jong esel, die vul van ‘n eselin.” Dat hierdie vers na die koms van die Messias verwys, kan nie ontken word nie, maar die konteks van ZegarYah 9 bevestig dit selfs nog meer. In Sag 9:11 word verklaar: “Ook sal Ek, wat jou betref, o Tsion, kragtens die bloed van jou verbond jou gevangenes loslaat uit die put sonder water.” Beide die bloed van die verbond en die loslaat van gevangenes, is konsepte wat deur en deur aan Pesag verbind kan word. In Sag 9:16 lees ons: “En Yahweh hulle Elohiem sal hulle in daardie dag verlos as die kudde wat sy volk is; want hulle is kroongesteentes wat hulle skitterend verhef oor sy land.” Een van die Engelse vertalings van hierdie laaste gedeelte, klink só: “for like the jewels of a crown they shall shine on his land”. Voor die koms van hierdie nederige Koning was die mense van die land soos gevangenes wat hulle in ʼn put sonder water bevind. Maar nou het alles verander – nou is hulle soos die edelgesteentes in ʼn sierlike kroon wat skyn oor die land waarin hulle redding gevind het.

In Joh 12:28 lees ons hierdie woorde: “Vader, verhoog u Naam! Daar het toe ‘n stem uit die hemel gekom: Ek het dit verhoog, en Ek sal dit weer verhoog.” Hierdie stem was so hoorbaar en tasbaar dat sommige van die omstanders gedink het dat dit ʼn donderslag was. Wat vir ons belangrik is, is dat Yahweh self deur ʼn hoorbare teken, in aanloop tot daardie besonderse Pesag, bekendgemaak het dat Hy sy Naam weer sal verhoog, net soos wat Hy dit in die verlede verhoog het. Hoe het Hy sy Naam in die verlede verhoog? Elke keer as Hy ʼn besondere daad van verlossing voor die oë van sy volk gedoen het, beginnende by daardie eerste Pesag toe Hy sy volk deur ʼn sterke hand uit die greep van Farao verlos het en hulle uit Egipte uitgelei het. Hoe sou Hy sy Naam in die nabye toekoms verhoog? Deur hierdie Seun van Hom 5 dae later ʼn dood te laat sterf wat tot die redding van derduisende mense sou lei. Daarom sê Y’shua vir sy omstanders: “Hierdie stem het nie om My ontwil gekom nie, maar om julle ontwil.” Daardie besonderse Pesag sou só deurslaggewend wees dat Y’shua in Joh 12:31 en 32 verklaar: “Nou is dit die oordeel van hierdie wêreld, nou sal die owerste van hierdie wêreld buitentoe gedryf word. En Ek, as Ek van die aarde verhoog word, sal almal na My toe trek.” Wat met daardie Pesag gebeur het, het verreikende implikasies vir Satan, die owerste van hierdie wêreld. En nie net dit nie, dit het ook verreikende implikasies vir dit wat met ʼn mens ná sy dood gebeur: As jy Y’shua as die Pesaglam aanvaar, het jy die werke van die Bose in jou lewe gefnuik en sal Y’shua jou na Hom toe trek – daar waar Hy ná sy dood ʼn posisie ingeneem het aan die regterhand van Yahweh die Allerhoogste.

Word daar met Pesag nie te veel klem op Y’shua geplaas en te min klem op Yahweh nie? Die gevaar is sekerlik daar. En om dit te verhoed sê Y’shua vir sy hoorders: “Wie in My glo, glo nie in My nie, maar in Hom wat My gestuur het. En wie My aanskou, aanskou Hom wat My gestuur het” (Joh 12:44-45). En om seker te maak dat daar hoegenaamd geen misverstand is oor die verhouding tussen Homself en sy Vader nie, voeg Y’shua by: “Want Ek het nie uit Myself gepraat nie; maar die Vader wat My gestuur het, Hy het My ‘n gebod gegee wat Ek moet sê en wat Ek moet praat. En Ek weet dat sy gebod die ewige lewe is. Wat Ek dan praat – net soos die Vader vir My gesê het, so praat Ek” (Joh 12:49-50). As ons graag Pesag op die regte manier wil hou, sal ons goed doen om aan Pesag te dink as een van Yahweh se feeste. Hy is die een wat reeds op die vierde skeppingsdag verklaar dat die funksie van die son en die maan en die sterre is onder meer om die siklus van die vasgestelde tye (oftewel die feeste) te bepaal. Hy is die soewereine Skepper en Onderhouer en Administrateur van hierdie wêreld. Wat Hy met die feeste wil bereik – ook dit wat Hy met daardie besonderse tweede Pesag wou bereik, berus by Hom en by sy Woord alleen en by sy unieke plan met hierdie wêreld. Ons kan vandag ook maar net soos Y’shua verklaar: Ek weet dat sy gebod die ewige lewe is. Kom ons hou hierdie gebod van Hom en vertrou Hom om daardeur aan ons die ewige lewe te gee!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »