DIT WAT OP DAARDIE PESAG GEBEUR HET

alternate textVerlede week het ons gefokus op die beskrywing in Johannes 12 toe Y’shua 5 dae voor Pesag (en dus ook 5 dae voor sy dood) op die vul van ʼn esel Jerusalem binnegegaan het. Ons het na die oorweldigende reaksie van die skare gekyk, met hulle palmtakke en uitroepe van sekere profesieë oor die Messias wat sou kom, en ons het tot die slotsom gekom dat die skare Y’shua daardie dag, 5 dae voor sy dood, as die Pesaglam geïdentifiseer het, net soos die Israeliete destyds in die woestyn ʼn lam sonder gebrek moes uitsoek en identifiseer, presies 5 dae voor Pesag. Verlede week was die klem op dit wat vóór daardie belangrike Pesag van Y’shua se dood plaasgevind het. Hierdie week fokus ons op dit wat óp die dag van sy dood plaasgevind het, beginnende by die vorige aand, toe Y’shua die Pesag eintlik ʼn dag vroeër saam met sy dissipels gevier het, omdat Hy geweet het dat Hy self die volgende dag as unieke, menslike Pesaglam geoffer sou word.

Dit word nie spesifiek vermeld nie, maar die toneel in Johannes 13, die hoofstuk direk na Johannes 12 waarna ons verlede week gekyk het, speel heel moontlik af een aand voor die ooreenstemmende aand toe die Pesagmaaltyd die eerste keer in Egipte plaasgevind het. Daardie eerste keer is die Pesag saam met ongesuurde brode en bitter kruie geëet. Exodus 12:11-13 beskryf duidelik hoe daardie Pesagmaaltyd, die aand direk voor hulle vertrek uit Egipte, geëet is. Ons ken heelwat van die besonderhede, want Exodus 12 beskryf dit in detail: “En so moet julle dit eet: Julle heupe moet omgord wees, julle skoene aan jul voete en julle staf in jul hand; baie haastig moet julle dit eet. ‘n Pesag van Yahweh is dit. Want Ek sal in hierdie nag deur Mietsrayiem trek en al die eersgeborenes in Mietsrayiem tref, van mense sowel as van diere. En Ek sal veroordelings uitdeel aan al die magtiges van Mietsrayiem, Ek, Yahweh. Maar die bloed sal vir julle ‘n teken wees aan die huise waarin julle is: as Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan (Hebreeus: “pasag” waarvan die begrip “pesag” afgelei is). En daar sal geen verderflike plaag onder julle wees wanneer Ek Mietsrayiem tref nie.”

Kom ons keer terug na Johannes 13. Y’shua en sy volgelinge is met ʼn maaltyd besig en daar is geen twyfel dat Pesag in almal se gedagtes is nie. Die maaltyd daardie aand is nie ʼn Pesagmaaltyd in die normale sin van die woord nie. Omdat Ongesuurde Brode nog nie aangebreek het nie, is die kanse goed dat die stukkie brood wat Y’shua daardie aand in ʼn sous gedoop het en aan Judas Iskariot gegee het, gewone brood was en nie ongesuurde brood nie. Lees ʼn mens egter hierdie hoofstuk saam met die ander hoofstukke in die Nuwe Testament wat verwys na die aand voor Y’shua se dood, lyk dit of dit dieselfde aand is. Dit wil sê, al was dit streng gesproke nog nie Ongesuurde Brode nie, het Y’shua ʼn Pesagmaaltyd in ʼn bovertrek in Jerusalem saam met sy dissipels geëet en sekere aspekte van die bekende betekenis van Pesag op Homself van toepassing gemaak.

Die eerste ding wat Y’shua doen, tot almal se verbasing, is om op te staan, sy bokleed uit te trek, ʼn doek te neem, water in ʼn bak te gooi en te begin om sy dissipels se voete te was. ʼn Mens kan jou beswaarlik indink wat deur die dissipels se gedagtes moes gegaan het toe hulle Meester, die een wat hulle alreeds as die Gesalfde van Yahweh erken en bely het, begin het om húlle voete te was. Die uitgesproke Petrus kan homself nie beteuel nie. “U sal my voete in der ewigheid nie was nie!” sê hy vir Y’shua. Y’shua se antwoord was eenvoudig: “As Ek jou nie was nie, het jy geen deel aan my nie”, waarop Petrus, wat soos gewoonlik nie uitgeskuif of oorgeslaan wil word nie, vinnig antwoord: “Nie net my voete nie, Meester, maar ook my lyf!” Wat het Y’shua daarmee bedoel dat mens deel kry aan Hom as jy toelaat dat Hy jou voete was? Ek dink nie dit verwys na die doop, soos sommige al beweer het nie, al weet ons die doop is ʼn manier om deel te kry aan dit wat Y’shua kom doen het. Die doop is egter glad nie hier ter sprake nie. Dit gaan oor ʼn kwaliteit wat daar by Y’shua was, wat Hy graag ook by sy volgelinge wou sien. Dis ʼn kwaliteit wat alles te make het met dit wat die volgende dag sou gebeur. En daardie kwaliteit gaan oor die bereidwilligheid om die minste wees, om jouself te gee, om op te offer – nie net van jou goed nie, maar ook van jouself – selfs jou lewe, as dit tot die redding van iemand anders kan lei. Die groot offer wat Y’shua gebring het deur ter wille van sondaars aan ʼn vloekhout te sterf, hoef nie deur ons nagedoen te word nie. Maar die gesindheid wat Y’shua daarin geopenbaar het, behoort deur ons nageleef te word. Voete-was is ʼn eenvoudige plek om by te begin. As ons sê dat ons opreg dankbaar is vir wat Y’shua daardie Pesag as die volmaakte Pesaglam vir ons gedoen het; as ons sê dat ons graag deel aan daardie offer, en aan Hom, wil hê – dan is dit die mees gepaste reaksie vir ons om sy voorbeeld te volg en eers net bereid te wees om mekaar se voete te was. Dit sal begin om die hindernisse uit die weg te ruim sodat diensbaarheid en offervaardigheid al hoe makliker kom en uiteindelik deel van ons leefstyl kan word!

Dit wat die dissipels daardie aand in die bovertrek beleef het, moes ʼn ongelooflike impak op hulle lewens gehad het. In Lukas 22 word beskryf dat Y’shua brood geneem het, Yahweh daarvoor gedank het en dit toe voor die oë van sy dissipels gebreek het met die woorde: “Dit is my liggaam wat vir julle gegee word; doen dit as herinnering aan my.” Hoeveel keer tevore het die dissipels nie al met Pesag brood gebreek en daardeur jaar na jaar die Uittog uit Egipte herdenk nie? Maar hierdie keer is daar iemand by hulle wat vir hulle sê: “Dit is my liggaam wat vir julle gegee word.” Moes hulle nou vergeet van Egipte en wat daar gebeur het? Nee, natuurlik nie. Maar vir die eerste keer verstaan hulle dat wat 1400 jaar gelede gebeur het, alreeds heengewys het na hierdie Een wat nou in lewende lywe voor hulle sit. Die ongesuurde brood van daardie eerste Pesag en die brood wat later in die woestyn geëet is – manna wat Yahweh gegee het om sy volk aan die lewe te hou – het alles heengewys na die Een wat sou kom, die Brood van die lewe, wat sy liggaam vir ons gegee het, sodat ons kan lewe. En Y’shua voeg by: “Doen dit, as herinnering aan my.” Doen wat? Doen die Pesag, natuurlik. Ons moet verstaan dat Y’shua nie ʼn nuwe fees of ʼn nuwe gebruik hier instel nie. Nee, hy moedig sy volgelinge aan om voort te gaan om die bestaande fees te vier, jaar na jaar, soos dit voorgeskryf is in die Torah, maar om in hulle onderhouding van hierdie fees, die ontsettende belangrike insig van Hom as die Brood van die lewe, te inkorporeer.

En om die diepste betekenis van Pesag selfs nog sterker na vore te bring, neem Y’shua die beker wat gewoonlik ʼn groot rol met Pesag speel en Hy sê vir sy dissipels: “Hierdie beker is die nuwe verbond in my bloed wat vir julle uitgestort word.” Die Jode het gewoonlik vier bekers met Pesag gebruik, en hulle het geglo dat die vier bekers die vier begrippe in Ex 6:6-8 wat al vier met redding te make het, simboliseer. In Engels kan dit só vertaal word: (1) I shall take you out…” (2) “I shall rescue you…” (3) “I shall redeem you…” (4) “I shall bring you…” Lukas 22 (en die ander gedeeltes wat hierdie maaltyd beskryf) maak geen melding van vier bekers nie. Dis in elk geval nie ʼn voorskrif van die Skrif dat daar vier bekers moet wees nie. Hier is daar net een beker, maar dis duidelik ook ʼn beker van verlossing – EEN verlossing wat die vier aspekte van Exodus 6, en nog meer, insluit. In watter opsig sluit dit nog méér in as die verlossing uit Egipte? Dit word aan die nuwe verbond en aan die bloed van Y’shua verbind. Vir eeue lank het die Jode uitgesien na die aanbreek van die nuwe verbond – hulle profete het oor en oor daarvan gepraat. Ook hierdie groepie dissipels het ʼn verwagting van die nuwe verbond gehad. En nou hoor hulle dat die nuwe verbond deur die bloed van hulle Vriend en hulle Meester beseël gaan word! Nie die bloed van ʼn dier nie, maar die bloed van hierdie besonderse mens, hou die sleutel vir Yahweh om sy beloftes van ʼn nuwe verbond te vervul.

Wat is dit wat Yahweh voorheen gesê het Hy met die aanbreek van die nuwe verbond gaan doen? Die profeet Jeremia het gesê dat Hy die volk se ongeregtighede gaan vergewe en die Torah op hulle harte gaan skryf, sodat hulle nie van sy weë sal afwyk nie (Jer 31). Die profeet Jesaja het gesê dat nasies wat Israel nie geken het nie, na Israel toe sal hardloop, “ter wille van Yahweh jou Elohiem en van die Afgesonderde van Yiesraél, omdat Hy jou voortreflik gemaak het” (Jes 55). Die profeet Esegiël het gesê dat Yahweh versoening sal bewerk vir die sondes wat voorheen gepleeg is en sy kneg Dawid vir ewig as heerser oor sy volk sou aanstel (Eseg 16 en 37). Dit is net ʼn paar van die dinge wat deur die profete oor die nuwe verbond (ook bekend as die “ewige verbond”) geprofeteer is. Het al hierdie dinge onmiddellik tot stand gekom toe Y’shua daardie Pesag aan die vloekhout gesterf het? Nee, maar die een wat moes sterf om hierdie verbond of hierdie testament in werking te laat tree, het gesterf. Die volle implikasies en die volle reikwydte van hierdie verbond strek tot ver in die toekoms wanneer Yahweh op ʼn drastiese manier in die geskiedenis van hierdie wêreld sal ingryp en hierdie selfde Gesalfde, Y’shua, as Heerser sal aanstel en elke enkele belofte wat Hy deur die profete oor eeue heen aan sy volk gegee het, sal vervul.

Het die dissipels se lewens handomkeer verander nadat hulle daardie aand hierdie onthulling oor die aanbreek van die nuwe verbond by Y’shua gehoor het? Ja en nee. Sekerlik moes sommige van die los drade daardie aand vir hulle bymekaar gekom het. Hulle kon al die tyd aanvoel dat hierdie Y’shua iemand besonders was. Nou het hulle geweet. Nog nooit voorheen het hulle die betekenis van Pesag só verstaan soos hulle dit daardie aand verstaan het nie. En tog was Petrus nog steeds Petrus en Judas nog steeds Judas. Kort daarna verraai Judas vir Y’shua en Petrus verloën Hom drie keer. Die dissipels stry onder mekaar oor wie die belangrikste is en kry dit nie eens reg om wakker te bly en vir ʼn kort rukkie saam met Y’shua in die tuin van Getsemane te waak nie. Maar hulle bly sy dissipels. Op een of ander wonderbaarlike manier, deur hulle geloof in Y’shua, beteken Pesag daardie dag vir hulle ook dat Yahweh, ter wille van sy Seun, hulle sondes en hulle tekortkominge vergewe – dat die doodsengel by hulle verbygegaan (of ge-“pasag”) het – en dat hulle met ʼn nuwe hoop en ʼn nuwe verwagting die toekoms tegemoet kan gaan.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »