DIT IS DIE NAAM

alternate textDit is besonders insiggewend dat die Torah leesstuk (“Parashah”) wat bekend staan as “Name” (na aanleiding van Shemot / Exodus 1:1 “Dit is die name van die seuns van Yiesraél …) dieselfde Parashah is waarin die Skepper sy Naam YAHWEH aan Mosheh (Moses) bekend gemaak of geopenbaar het. Dat hierdie nie maar net ʼn terloopse of toevallige openbaring was nie, word onderstreep deur die feit dat die Almagtige op ʼn bonatuurlike manier aan Mosheh verskyn het – deur ʼn doringbos wat brand, maar nie uitbrand nie – en deur die opdrag dat hy sy skoene moes uittrek “want die plek waar jy op staan, is afgesonderde grond” (Ex 3:5). So, hierdie was nie sommer net iets wat in die verbygaan gebeur het nie. Enige mens wat hierdie gebeurtenis geringskat of buite rekening laat, gaan swaar kry om die res van Yahweh se bemoeienis met sy volk, en trouens die res van die Skrif, behoorlik te verstaan. In hierdie gedeelte (Ex 1:1 tot 6:1), wat die Yehudiem (Jode) van die vroegste tye af “Parashah Shemot” genoem het (“shemot” beteken “name”), word daar ʼn duidelike boodskap uitgestuur dat name in die algemeen, maar veral die Naam van die Skepper, geweldig belangrik is en altyd ʼn sleutelrol gaan speel in mense se verstaan van die Skrif.

Parashah “Shemot” is die eerste volledige uiteensetting in die Skrif van die Vader se Naam – waar dit vandaan kom (“Ek is wat Ek is”) en watter rol dit in die toekoms behoort te speel in die lewens van hulle wat hulle met hierdie Een vereenselwig (“This is my name forever, the name you shall call me from generation to generation” – Ex 3:15 NIV). Maar Mosheh was natuurlik nie die eerste een wat hierdie Naam gehoor of gebruik het nie. Ons lees op ʼn hele aantal plekke (lank voor hierdie Parashah) dat Avraham en Yietsgak en Yaákov (Abraham, Isak en Jakob) by verskeie geleenthede die Naam Yahweh aangeroep het. Noag het drie seuns gehad – Shem, Gam en Yafet – en al die nasies wat later die aarde sou bevolk, is uit hierdie drie seuns gebore. Dit is geen verrassing nie dat die volk wat later Yiesraél of Israel genoem sou word, die nageslag van “Shem” sou wees – die seun wie se naam letterlik “NAAM” beteken (“Shemot” of “name” is bloot die meervoud van “shem”). Die volk wat die nageslag van hierdie seun van Noag sou word, is heel letterlik “die Volk van die NAAM”, oftewel die volk wat behoort aan die Een met die Naam bo alle ander name. Die feit dat “Shem” die oer-voorvader van die Jode is, beteken nie Yahweh wou hê hulle moes Hom as die Almagtige “Hashem” (letterlik: “die Naam”) noem (soos dit vandag die algemene gebruik is) nie. Nee, dit beteken eerder dat Yahweh van die begin af wou hê dat sy volk op sy Naam moes fokus – op die krag van sy Naam, op die betekenis van sy Naam en op die aanroep van sy Naam. Nie een van hierdie drie aspekte kom tot sy reg as jy die geopenbaarde Naam vervang met “Hashem” of met “Adonai” nie, en beslis ook nie as jy dit vervang met “Here” of met “Lord” of met “Nkosi” of iets dergeliks nie.

Ons het nou gesien dat daar ʼn lang aanloop was tot Parashah Shemot waar Yahweh sy Naam aan Mosheh bekend gemaak het. Mosheh se oer-voorvader se naam was Shem (wat “naam” beteken) en Shem se nageslag (almal Mosheh se eie voorgeslag) het gereeld die Naam van Yahweh aangeroep. Kom ons kyk nou wat direk na Parashah Shemot gebeur. Parashah Shemot eindig met Exodus 6:1. In Exodus 6:2-3 lees ons hierdie woorde: “Verder het Elohiem met Mosheh gepraat en vir hom gesê: Ek is Yahweh. En Ek het aan Avraham, aan Yietsgak en aan Yaákov verskyn as El, die Almagtige, maar met my Naam Yahweh, het Ek My nie aan hulle bekend gemaak nie?” Is dit toevallig dat die eerste woorde wat ons teëkom, ná die leesstuk waarin Yahweh sy Naam aan Mosheh geopenbaar het, JUIS hierdie woorde is: “Ek is Yahweh”? En dat Hy Homself weereens met Avraham, Yietsgak en Yaákov assosieer, net soos Hy teenoor Mosheh gedoen het toe Hy sy Naam aan hom bekend gemaak het (“Sê vir hulle: Yahweh, die Elohiem van julle vaders, die Elohiem van Avraham, die Elohiem van Yietsgak en die Elohiem van Yaákov, het my na julle gestuur” – Ex 3:15)? Ek dink nie so nie. Die punt is net dit: As jy na die verskillende nasies toe gaan, het elkeen van hulle magtiges of gode wat hulle aanroep en aanbid. Maar daar is net EEN wat die magtige of Elohiem van Avraham, Yietsgak en Yaákov is, en sy Naam is Yahweh. Oor hierdie feit moet daar geen verwarring en onsekerheid bestaan nie! Om Hom bloot God of Here of selfs Hashem te noem en om sy Naam reg deur die Skrif met sulke afgewaterde terme te vervang, asof dit sy Naam is, dra nie juis by om die verskriklike Babelse verwarring uit die weg te ruim oor wie nou eintlik die Elohiem van Avraham en Yietsgak en Yaákov is nie.

Dit is baie interessant om ʼn lysie te maak van die plekke in die Skrif waar Yahweh spesifiek die Elohiem van Avraham, Yietsgak en Yaákov genoem word. Ek kon tien plekke opspoor – vyf in die Ou Verbond en vyf in die Nuwe Verbond. Vier van die vyf plekke in die Ou Verbond (of die Tanag) waar Yahweh só beskryf word, kom voor in die Parashah van hierdie week, Parashah Shemot (Ex 3:6; Ex 3:15; Ex 3:16 en Ex 4:5). Die vyfde keer dat Yahweh só beskryf word (in die Tanag) is in 2 Kron 30:6 waar koning GiezkiYah (Hiskia) een van die grootste reformasies in die geskiedenis van Israel van stapel gestuur het en ʼn Pesag (Pasga) byeenkoms gereël het – vir beide die Suidelike en die Noordelike koninkryk. Die boodskap waarmee hy sy boodskappers oor die hele gebied van Israel uitgestuur het, het só geklink: “Kinders van Yiesraél, bekeer julle tot Yahweh, die Elohiem van Avraham, Yietsgak en Yiesraél, dat Hy Hom mag wend tot die vrygeraaktes wat vir julle oorgebly het uit die hand van die konings van Ashur.” Ons weet nou al dat wanneer hierdie formule gebruik word (met ander woorde: wanneer Yahweh as die Elohiem van Avraham, Yietsgak en Yaákov voorgestel word) gaan dit oor die krag en die betekenis en die aanroep van sy Naam. Die volk het hiervan vergeet en totaal hiervan afgedwaal. Daarom was dit nodig dat hulle hulle weer tot Hom bekeer. Daarom was die eerste woorde wat GiezkiYah by daardie Pesag byeenkoms gesê het: “Mag Yahweh wat goed is, versoening doen …” En daarom het hy dit opgevolg met hierdie woorde: “Daar is versoening en genesing vir elkeen wat sy hart daarop gerig het om Yahweh, die Elohiem van sy vaders, te soek.”

Meeste mense vandag het nie die vaagste idee hoeveel genesing daarin opgesluit lê as jy jou hart daarop sit om Yahweh, die Elohiem van Avraham, Yietsgak en Yaákov te soek nie. Een van die grootste oorsake daarvan dat mense vandag geestelik verward en verdwaald en onvervuld is, is die feit dat hulle verward is oor die Een wat hulle aanbid, of behoort te aanbid. Daardie Een het homself duidelik bekend gestel en geopenbaar, maar menslike tradisies en taboes (soos: Jy mag nie sy Naam gebruik nie, want dis te heilig om uit te spreek) het gemaak dat sommiges net aanhou ronddwaal en afdwaal en wanneer hulle wél soek, soek hulle by die verkeerde plekke en kom hulle nog steeds nie uit by die unieke Een wat Homself as Yahweh, die Elohiem van Avraham, Yietsgak en Yaákov geopenbaar het nie. En hulle verwarring word aangesterk met stellings soos: “Wat jy Hom noem, maak nie saak nie, solank jy net glo” of “Eintlik is Hy nie één nie, maar drie-in-een” of “Eers was Hy die Elohiem van Avraham, Yietsgak en Yaákov, maar nou is Hy net die Elohiem van almal wat in Jesus glo”.

Drie van die vyf plekke in die Nuwe Verbond waar daar van Yahweh, die Elohiem van Avraham, Yietsgak en Yaákov gepraat word, is die drie ooreenstemmende plekke in die Evangelies (Mat 22:32; Mark 12:26 en Luk 20:37) waar Y’shua die skare oortuig van die dwaling van hulle wat sê dat daar geen opstanding is nie. Sy argument is eenvoudig. Die Skrif sou nooit ná die leeftyd van die aartsvaders na Yahweh as die Elohiem van Avraham, Yietsgak en Yaákov verwys het, as daar nie ʼn opstanding uit die dood was nie. Yahweh is nie die Elohiem van dooies nie, maar van lewendes. Daarom kan Hy met reg die Elohiem van Avraham, Yietsgak en Yaákov genoem word – nie omdat hulle vandag lewe nie, maar omdat hulle vanweë hulle geloof déél sal hê aan die opstanding uit die dood en daarom is hulle, in beginsel, en by wyse van ʼn vaste waarborg, deel van die lewendes, en nie deel van die dooies nie. Wat mens dikwels nie raaksien as jy hierdie drie gedeeltes lees nie, is dat al drie ʼn direkte verwysing is na Yahweh se verskyning aan Mosheh by die brandende doringbos en na die feit dat Hy dáár pertinent sy Naam aan Mosheh bekendgestel het en Hom met sy Naam, Yahweh, aan Avraham, Yietsgak en Yaákov verbind het. Soms sê mense dat Yahweh se Naam nie in die Nuwe Verbond voorkom nie. Dit is eenvoudig nie waar nie. Ons síén dikwels nie sy Naam nie, omdat die Griekse taal waarin die teks vandag na ons toe kom, dit nie wys nie, maar sy Naam is dáár en sy Naam is gebruik – selfs al was daar tóé al ʼn onskriftuurlike tradisie dat die Vader se Naam te heilig is om uit te spreek. Daar is baie bewyse in die Nuwe Verbond dat nie net die gewone gelowiges nie, maar ook die Messias, dikwels nie gehuiwer het om die Naam van Yahweh aan te roep nie.

Die laaste twee plekke waar daar van Yahweh, die Elohiem van Avraham, Yietsgak en Yaákov gepraat word, is albei in Handelinge en ons kan afsluit met die laaste van hierdie twee wat voorkom in die toespraak van Stefanus, kort voordat hy ter wille van sy geloof gestenig is, in Hand 7. Daar is 60 verse in hierdie hoofstuk, wat grotendeels ʼn opsomming is wat Stefanus vir die skare gegee het oor die pad wat Yahweh in die tyd van die Ou Verbond met sy volk geloop het. In die eerste 29 verse is daar geen duidelike verwysing na die Vader se Naam, Yahweh, nie. Stefanus praat oor Yahweh, maat hy noem nie sy Naam nie. Maar die oomblik as Stefanus begin vertel (van vers 30 af) van Mosheh se ontmoeting met Yahweh by die brandende doringbos, gebruik hy Yahweh se Naam – en dan verder nie minder nie as 5 keer (moontlik selfs 6 of 7) in die res van die hoofstuk. Dis duidelik dat iemand soos Stefanus geweet het dat daardie ontmoeting by die brandende doringbos oor die Naam van Yahweh gegaan het en oor die impak wat dit op die volk gehad het en selfs oor die implikasies wat dit vir hom, Stefanus, ingehou het. Skielik kan hy nie ophou om oor Yahweh te praat en sy Naam uit te roep voor hierdie Jode vir wie so iets totaal verbode is nie. Skielik het hy die mannemoed om vir die lede van die Joodse Raad te sê: “Julle hardnekkiges en onbesnedenes van hart en ore, julle weerstaan altyd die Afgesonderde Gees; net soos julle vaders, so ook julle.” En uiteindelik het hy die geloofsversekering om in die uur van sy dood uit te roep: “Kyk, ek sien die hemel geopen en die Seun van die mens aan die regterhand van Yahweh staan.” Wat is dit wat so ʼn innerlike sterkte en so ʼn oortuiging in ʼn mens teweeg bring? Dit is die Naam – die Naam bo alle ander Name wat ons aan die Almagtige en aan die aartsvaders en aan sy volk en aan sy magtige dade oor die geskiedenis heen, verbind.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »