DIE VERHEWE EEN

alternate textDie Torah lesing van hierdie week kom uit Shemot (Exodus) 18-20 en dit word aangevul met een gedeelte uit die profetiese boeke, YeshaYahu (Jesaja) 6, en een gedeelte uit die Nuwe Verbond (Matteus 6-7, wat deel uitmaak van die “Bergrede” of “Sermon on the Mount”).   Soms is dit nie so maklik om die goue draad raak te sien wat deur die drie gedeeltes van die (gekombineerde) weeklikse Torah lesing loop nie.  ‘n Mens aanvaar dat die drie gedeeltes só gekies is dat hulle by mekaar aansluit – en veral dat die gedeeltes uit die Profete en uit die Evangelies soos ‘n kommentaar sal wees, wat sal help om die gedeelte uit die Torah beter te kan verstaan.  Kom ons probeer om deur te dring tot by die goue draad wat hierdie week se drie gedeeltes aan mekaar verbind.

Shemot 18-20 begin met Yetro, Mosheh se skoonpa, wat hom aanraai om leiers uit die volk aan te stel om sommige van die minder ernstige probleme van die volk te help oplos, sodat hy wat Mosheh is, kan fokus daarop om vir die volk meer effektief te leer wat dit beteken om in die weë van Yahweh te wandel.  Van die vroegste tye af het mense gesukkel om in die weë van Yahweh te wandel.  Waarom is dit so?   Omdat Yahweh soveel groter en soveel meer en soveel anders as ons mense is.  As ons Hom benader, is ons geneig om te dink dat Hy maar net soos een van ons is.  Maar wat Mosheh en die volk moes leer, is dat Yahweh die Verhewe Een is (wat opvallend is, is dat die Naam van hierdie week se Leesstuk “Yetro” is en dat die Naam “Yetro” letterlik “die Verhewe Een” beteken).  In die volgende hoofstuk, Shemot 19, sê Yahweh onder meer vir die volk:  “Julle sal vir My ‘n koninkryk van priesters en ‘n afgesonderde nasie wees” (vers 6).  Hoe nou?  Hoe kan gewone, sondige mense ‘n koninkryk van priesters en ‘n afgesonderde nasie wees – net soos wat Yahweh afgesonderd is?  Eerstens sal hulle moet leer wat dit beteken dat Hy die afgesonderde en Verhewe Een is.  Daarom sê Mosheh in vers 22:  “Die priesters wat naby Yahweh kom, moet hulleself afsonder, sodat Yahweh nie teen hulle losbreek nie.”  Maar nie net die priesters nie – ook die gewone mense.  Vers 24: “Die priesters en die volk mag nie deurbreek om na Yahweh toe op te klim nie, sodat Hy nie teen hulle losbreek nie.”   Die donderslae en die blitse aan die voet van die berg Sinai en die asembenemende geluid van die ramshoring en die versengende vuur en die rook en die feit dat die hele berg letterlik gebewe het, bevestig aan die volk dat die Een wat hier teenwoordig is, nie hulle pasmaatjie of speelmaatjie is nie.  Die heel eerste les wat mens moet leer as jy aanmeld om in die weë van Yahweh te wandel, is dat Hy die afgesonderde en Verhewe Een is en dat (in die woorde van die profeet YeshaYahu) sy gedagtes nie ons gedagtes is nie en sy weë nie ons weë nie.

Van YeshaYahu (Jesaja) gepraat, sy ontmoeting met hierdie Verhewe Een (in Jesaja 6) was ‘n gebeurtenis wat ‘n fenomenale impak op sy lewe gehad het.  Die hoofstuk begin eenvoudig waar die profeet verklaar dat hy op ‘n sekere dag vir Yahweh sien sit het op ‘n hoë en verhewe troon, terwyl sy some die tempel gevul het.  Hoe dit gebeur het dat die profeet so ‘n visioen gehad het, weet ons nie.  Maar wat hy daardie dag gesien en beleef het, het hom ondubbelsinnig daarvan oortuig dat geen mens, en trouens niks van hierdie aarde, met die Allerhoogste vergelyk kan word nie.  Daar het serafs bokant sy troon gestaan – elkeen met ses reusagtige vlerke.  ‘n Seraf beteken letterlik ‘n wese met ‘n vlammende of brandende voorkoms.  Hierdie serafs het aanhoudend uitgeroep:  “Afgesonder, afgesonder, afgesonder is Yahweh van die leërskare.  Die hele aarde is van sy grootheid vol!”   Die geluid van hierdie geroep van die serafs was so deurdringend en allesoorheersend dat die drumpel van die gebou gebewe het en alles in rook gehul was.  YeshaYahu was vreesbevange en hy kon maar net uitroep:  “Wee my, ek is verlore!  Want ek is ‘n man onrein van lippe en woon onder ‘n volk wat onrein van lippe is; want my oë het die Koning, Yahweh van die leërskare, gesien!”  Met ‘n simboliese gebaar van reiniging, maar ook van toerusting vir die groot taak wat op die profeet gewag het, neem een van die serafs ‘n gloeiende kool en raak daarmee YeshaYahu se lippe aan.  Nooit weer sou hierdie profeet twyfel aan die grootheid en die suiwerheid en die onvergelyklikheid van die Een wat Hy daardie dag ontmoet het nie.  Maar die ontmoeting het so ‘n ontsaglike uitwerking op hom gehad dat, toe Yahweh die vraag vra “ Wie sal Ek stuur?  En wie sal vir ons gaan?”, het YeshaYahu, sonder om een oomblik te huiwer, geantwoord:  “Hier is ek, stuur my.”

En dan, sowat 800 jaar later, speel ‘n toneel hom af teen een van die berge langs die See van Galilea.  Die Man aan die woord is ‘n sekere Y’shua van Natsaret en in sy boodskap wat later as die Bergrede bekend sou staan, praat Hy met outoriteit, maar ook met ontsag oor die groot gaping wat daar bestaan tussen die koninkryke van hierdie wêreld en die manier van doen in hierdie wêreld, aan die een kant, en die koninkryk van die hemel aan die ander kant – en veral die morele kompas van die Een wat aan die spits staan van die koninkryk van die hemel, verhewe en afgesonder en absoluut regverdig.  Die manier waarop jy dinge doen hier op aarde, leer hierdie Y’shua in Mat 6 en 7, moenie daarop ingestel wees om mense te beïndruk nie.  Nee, dit moet gedryf word deur die onafgebroke wete dat daar Iemand in die hemel is wat verhewe is bo die sake van hierdie wêreld.  Iemand wat absoluut regverdig is.  Iemand wat absoluut getrou is.  Iemand wat absoluut goedgunstig is. Hy alleen is die Een wat waarlik aan mense se doen en late hier op aarde sin en betekenis kan gee.  As jy bid, sê Y’shua (nog steeds in Matteus 6), begin dan jou gebed met die woorde:  “Ons Vader wat in die hemel is …”  Moet nooit uit die oog verloor dat jy ‘n hemelse Vader en ook ‘n hemelse bestemming het nie.  Moet nooit toelaat dat die aardse gedrang en die aardse patroon en die aardse teleurstellings die laaste sê het in jou lewe nie.  Y’shua gaan voort met sy model gebed:  “Laat U Naam afgesonder word …”  Daar is nie ‘n groter Naam as die Naam van Yahweh nie.  Die een wat hierdie Naam misken en ignoreer, kan nie eerlik bid “Laat U Naam afgesonder word” nie.  Maar dan ook:  Die een wat hom of haar met die Naam van Yahweh assosieer en dood eenvoudig die aardsgebonde patroon van die afvallige wêreld navolg, het nog nie mooi gaan dink aan die woorde “Laat u Naam afgesonder word” nie.

“Laat u koninkryk kom” is die volgende bede van hierdie gebed.  Waarom is dit nodig dat ons sal aanhou om so te bid?  Omdat die koninkryke en die regerings en die stelsels van hierdie wêreld so ver verwyder is van die koninkryk wat Hy van die begin af vir ons in gedagte gehad het.  En omdat ons manier van doen so ver verwyder is van sy manier van doen – Hy wat die absoluut regverdige en Verhewe Een is.  Hier op aarde kan ons vir niks beter vra as om gereeld ‘n deposito van hemelse waardes en hemelse gawes te ontvang nie.  En dan:  “Laat u wil geskied – soos in die hemel, net so ook op die aarde …”   Om te kan sin maak tussen alles in hierdie wêreld deur wat chaoties en onverstaanbaar en korrup en onregverdig is, moet ons daarna streef om nie ons eie wil en ons eie, selfsugtige ambisies na te jaag nie, maar die wil van Hom wat verhewe is bo alles wat ons hier beleef – Hy wat ‘n plan het wat Hy gaan deurvoer en ‘n koninkryk wat uiteindelik vir ons wat aan Hom verbind is, ‘n lewende werklikheid gaan wees.

‘n Bietjie later in sy rede hoor ons vir Y’shua sê:  “Moenie julle kwel oor jul lewe – wat julle sal eet en wat julle sal drink nie; of oor jul liggaam – wat julle sal aantrek nie … Maar soek eers die koninkryk van Elohiem en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Mat 6:25-33).  Daar is Iemand wat verhewe is bo die dinge van hierdie wêreld en daar is ‘n soeke in hierdie lewe wat belangriker is as die soeke na aardse sekuriteit en welvaart.  Met die wysheid wat ons van Yahweh ontvang het en ter wille van andere wat op ons staatmaak, moet ons ‘n sinvolle bestaan maak hier op aarde, maar in die proses mag ons nooit ons prioriteite omkeer of ons oog afhaal van die Een wat verhewe is en ons van sy verhewe waardes van geregtigheid en vrede kom leer het nie.

In die volgende hoofstuk, wat nog steeds deel uitmaak van die derde gedeelte van hierdie week se leesstuk, hoor ons hoe Y’shua (in dieselfde Bergrede) sê:  “Nie elkeen wat vir My sê: Meester, Meester!  sal ingaan in die koninkryk van die hemel nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is.   Baie sal in daardie dag vir My sê: Meester, Meester, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam demone uitgedryf en in u Naam baie kragte gedoen nie?  En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie.  Gaan weg van My, julle wat ongeregtigheid bedryf!   Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met ‘n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het (Mat 7:21-24).  Anders as wat baie mense dink, het Y’shua hom nie self as die Verhewe Een beskou nie.  “Nie elkeen wat vir My sê: Meester, Meester!  sal ingaan in die koninkryk van die hemel nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is”.  Die eerste vier temas van die “Ons Vader gebed” (Yahweh se woonplek, Yahweh se Naam, Yahweh se koninkryk en Yahweh se wil) kom al vier weer in hierdie gedeelte ter sprake.  Wat egter hier uitstaan, is die duidelike waarskuwing:  Woorde en werke, selfs wonderwerke, wat los staan van die woorde en werke van die Verhewe Een, ons hemelse Vader, en wat nie in absolute gehoorsaamheid aan Hom gedoen is nie, sal uiteindelik sonder betekenis wees.  Aan sulkes sal gesê word:  “Gaan weg van My, julle wat ongeregtigheid bedryf!”  Die woord wat hier met “ongeregtigheid” vertaal word, is “anomia” en dit beteken heel letterlik:  mense wie se lewenstyl téén die wet of téén die Torah indruis.  Wat is die Torah anders as die leringe van die Afgesonderde en Verhewe Een?  Die riglyne en die beginsels en die opdragte wat Hy vir ons gee wat sal maak dat daar iets van die hemelse, iets wat verhewe en voortreflik en inspirerend is, in hierdie wêreld ingebou word en daarvan ‘n beter plek maak as wat dit op enige ander manier ooit sou wees.  Dis die voorbeeld wat sy Seun, Y’shua die Messias, vir ons nagelaat het. En dis die enigste pad wat na die Lewe lei.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »