DIE TORAH HOU DIE SLEUTEL

alternate textEk lees ʼn artikel wat op die webblad “Kletskerk” verskyn het, met die opskrif “Quo Vadis: ʼn Ope brief aan die gereformeerde kerke in die RSA”. In die artikel (geskryf deur Jurie van den Heever, ʼn bekende professor verbonde aan die Universiteit van Stellenbosch) word baie van die tradisionele standpunte en leerstukke van kerke en selfs duidelike uitsprake wat in die Skrif voorkom, bevraagteken en onder verdenking geplaas. Die ondertoon van die artikel is baie duidelik: Nie net het meeste van die kerke vir eeue lank die plot heeltemal gemis nie. Jy kan boonop ook nie die boodskap van die Skrif glo nie. Dit is oudmodies, fabelagtig en onwetenskaplik. In die artikel haal hy iemand aan wat die vraag gevra het: “Wie wil nou deel van ʼn kerk wees wat van niks meer seker is nie?” En dan antwoord die professor self op hierdie vraag deur, op tipies Joodse manier, nog ʼn vraag te vra: “Wie wil nou deel wees van ʼn kerk wat nie die waarheid praat nie?” En na aanleiding van hierdie laaste vraag het Jurie van den Heever, behalwe hierdie artikel, ook ʼn paar boeke geskryf en die titel van een van hierdie boeke is nogal heel insiggewend: “Wat moet ons met die kerk doen?”

Ek kon met sommige dinge saamstem wat die professor in sy artikel geskryf het. Ongetwyfeld is daar dinge wat in baie kerke geleer en beoefen word, wat meer op tradisies en onakkurate belydenisse as op die suiwer Woord van Yahweh gebaseer is. Ek kon egter nie met hom saamstem wanneer hy in sy artikel sekere pertinente en sentrale feite in die Skrif ontken, soos dat Yahweh die soewereine Skepper van hemel en aarde is en dat sy Seun, Y’shua, die beloofde Messias is en dat hierdie Y’shua van Nasaret gesterf en uit die dood opgestaan het nie. ʼn Blogskrywer op die internet met die skuilnaam “Naturalchurch” het hierdie hele debat nog ʼn stappie verder geneem en na aanleiding van die Professor se boek “Wat moet ons met die kerk doen?”, ʼn artikel geskryf met die opskrif “Wat moet ons met Jurie van den Heever doen?”

Naturalchurch skryf in sy Blog dat die professor dieselfde fout maak wat baie kerkgangers ook maak: Hulle plaas die Skepper onder verdenking omdat die kerk vreeslike dinge aan hulle gedoen het, soos om Apartheid goed te praat, hulle lidmate verbied het om te dans en hulle selfs gedreig het met ʼn hel waar demone hulle tot in lengte van dae gaan martel. Naturalchurch skryf in sy Blog: “Ek ken nie hierdie god van wie jy praat nie, Jurie. Hy het niks met my uit te waai nie, en dit voel vir my ʼn bietjie verwaand dat jy insinueer dat ek en ander oor ons geloof moet besin omdat jy joune verloor het (of nooit gevind het nie). Jy laat my dink aan ʼn vreemdeling wat my in die middel van die nag wakkerklop en vertel dat ek my vrou moet los omdat sy huweliksverhouding nie op dreef kom nie. Hy het my innige simpatie, maar ek gaan nie na hom luister nie.”

Hierdie hele debat (en ander debatte soos hierdie) is nog lank nie klaar nie. Al hoe meer mense begin deesdae van voor af om oor geloof te besin. Al hoe meer mense kom by jou huis of by jou werk of by jou inkopie-plek aan en sê jou geloof is verkeerd (soos die man wat met sy eie huwelik sukkel en toe vir sy buurman gesê het om sy vrou te los). Al hoe meer mense wonder wat hulle met die kerk moet doen en stem saam met die stelling: Wie wil nou deel van ʼn kerk wees wat van niks meer seker is nie? En meeste van ons stem saam met die professor as hy sê: Wie wil nou deel van ʼn kerk (of selfs net ʼn huisgemeente) wees wat nie die waarheid praat nie? Die punt is net: Die waarheid is vir ons nie net beperk tot die wetenskap nie. Waar kom mense in elk geval aan die idee dat die wetenskap die enigste kriterium is of iets die waarheid is, of nie? Ons sien en ons hoor duidelik die Hand en die Stem van Yahweh in die Skrif en ons is oortuig daarvan dat daar nie ʼn meer betroubare Bron van waarheid is as Hy nie. En as ons ontdek het ʼn kerk of geloofsgroep praat nie die waarheid nie, dan soek ons nie die fout by Yahweh of by sy Woord nie. Nee, dan toets ons of hulle wat sy Woord op ʼn sekere manier aan ons oorgedra het, nie dalk ʼn fout gemaak het nie. Erger nog: of hulle ons nie dalk mislei en in die proses van iets baie kosbaars beroof het nie.

Die vraag is net: Hoe het dit gebeur dat kerke en huisgemeentes en geestelikes wat tradisioneel as die “draers van die waarheid” in enige samelewing gefunksioneer het, skielik nie meer vertrou kan word nie en sogenaamde “waarhede” verkondig wat direk van mekaar verskil – op só ʼn manier dat dit wat A as waarheid beskou en dit wat B as waarheid beskou, mekaar geheel en al uitsluit? Daar kan baie redes hiervoor aangevoer word, maar persoonlik dink ek dat die verwerping (of selfs net die verdagmaking) van die Torah, baie met hierdie probleem te make het. Die integriteit van die Skrif in sy geheel het in die spervuur begin kom toe die integriteit van die Torah in die spervuur begin gekom het. Laat ons hieroor geen illusies hê nie. Die Torah is die Bron waaruit die Skrif te voorskyn gekom het. Sonder die Torah is die Skrif, of die Woord van Yahweh, onvolledig en ondenkbaar. Die woord “Torah” word 219 keer in die Voor-Messiaanse Skrifte gebruik en die Griekse eweknie hiervan, die woord “nomos”, amper net soveel keer (197 keer) in die Na-Messiaanse Skrifte. Y’shua van Nasaret, en elkeen van sy dissipels, en almal wat deur die getuienis van die dissipels in Hom geglo het – ook die apostel Shaúl – het net die grootste respek en agting vir die suiwer Torah gehad en het dit as “die volmaakte Torah van die vryheid” en as die “koninklike Torah” beskou wat konsekwent deur gelowiges “vervul” moes word – net soos Y’shua (volgens sy eie verklaring) die Torah “vervul” het (vgl. Mat 5:17-19; Jak 1:25 en Jak 2:8). In die Na-Messiaanse Skrifte het die woord “nomos” weliswaar soms ʼn negatiewe kleur – nie omdat die Torah op sigself negatief of sleg of afgeskaf is nie, maar omdat mense daaraan getorring het en mensgemaakte reëls en regulasies daarby probeer voeg het en dit op die nuwe gelowiges afgedwing het. Die resultaat hiervan was katastrofies – veral in ʼn gemeente soos Galasiërs – net soos wat dit menslike inmenging en menslike getorring aan die Woord is wat vandag die hele Skrif onder verdenking geplaas het.

Vandag is daar ʼn hernude noodkreet dat ons onvoorwaardelik moet liefhê, maar dit word gedoen sonder om die Torah in berekening te bring en sonder om te luister hoe duidelik en ongekompliseerd die Torah oor liefde praat. Volgens die Torah is liefde vir Yahweh en gehoorsaamheid aan sy gebooie onlosmaaklik aan mekaar verbonde (vgl. Ex 20:6; Deut 5:10; Deut 7:9; Deut 11:1,13,22; 30:16). Hy wat die Vader liefhet, behoort outomaties ook sy gebooie en sy instruksies en sy leringe (letterlik: sy “torot”, meervoud van “torah”) lief te hê. Die Messias het dit geleer (Joh 15:10) en sy volgelinge het dit ook geleer (1 Joh 5:2-3). Wanneer die absoluut misleidende boodskap vandag verkondig word dat (net) die Messias die Torah vervul het en dat ons nie meer daaraan gebind is nie, ruk jy die fondasie van die gebod om Yahweh lief te hê, weg en moet jy nie verwag dat enige mens gaan weet hoe jy nou eintlik vir Yahweh moet liefhê nie.

Die noodkreet dat ons onvoorwaardelik moet liefhê, gaan natuurlik vandag veral daaroor dat ons ons naaste moet liefhê. Maar ook in hierdie opsig word die perspektief van die Torah by die venster uitgegooi. Wat is die perspektief van die Torah? Een van die vernaamste perspektiewe van die Torah wanneer dit kom by naasteliefde, is dat naasteliefde van alle kante af omring word deur die grense van Yahweh se beginsels van geregtigheid – soveel só dat as iemand byvoorbeeld sy naaste moedswillig doodmaak, dan moet daardie persoon doodgemaak word. Dan moet mense nie na vore kom met selfgemaakte argumente soos dis liefdeloos of teen die beginsel van menseregte om iemand wat oortree het, dood te maak nie. En wanneer dit wel gebeur dat die Torah se begrensing van naasteliefde as minderwaardig en oudmodies afgemaak word, soos dit in ons land en in baie ander lande reg oor die wêreld gebeur, dan lei dit tot die soort chaos en misdaad en korrupsie wat ons vandag beleef. En die belangrikste van alles: Ons dink ons verstaan wat liefde is, maar ons verstaan bitter min daarvan want ons weier om die Skepper se perspektief hieroor te aanvaar!

Nog ʼn noodkreet wat vandag oor en oor gedreunsing (“gechant”) word, is dat niemand tog net ons vryheid van ons moet wegneem nie. En wanneer iemand op hierdie jollielorrie (“bandwagon”) geklim het, is dit nie lank voordat hy vir jou sê dat die Torah ʼn soort juk is en dat Paulus in Gal 5:1 daarteen gewaarsku het dat ons ons nie onder die juk van diensbaarheid moet laat inbring nie. Dis wat die Torah aan ʼn mens doen, sê hierdie mense. Maar wat Paulus gesê het is dat dit mense is wat van ander mense slawe maak, nie die Torah nie, en dat jy van jouself ʼn slaaf kan maak as jy die sonde dien en nie die vergifnis van Y’shua in jou lewe aanvaar nie. Ons behoort aan die Torah verbind te wees soos wat kinders aan die leringe van hulle ouers verbind is. In hierdie sin behoort ons dus BINNE die Torah te wees. Ons behoort nie aan menslike leerstellinge en “eerste beginsels” (ʼn tipiese begrip uit die wêreld van die filosofie en die wetenskap in die tyd van Shaúl) gebind te wees, soos wat slawe aan die opdragte van hulle slawedrywers uitgewer is nie. Dit is die toestand wat Shaúl beskryf as ONDER die Torah. Maar nêrens in die Skrif het vryheid enigiets met bandeloosheid en wetteloosheid te make nie. Wanneer iemand na jou toe kom en die suiwer Torah, waaroor Psalm 119 só liries kon raak en wat Y’shua na sy diepste betekenis volledig onderhou het, as iets voorstel wat jou vryheid van jou gaan wegneem, kan jy maar weet dat die waarheid êrens nek omgedraai word. En soos die professor tereg gesê het, “Wie wil nou deel wees van ʼn kerk of ʼn organisasie wat nie die waarheid praat nie?”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »