DIE SOORT GESONDHEID WAT SAAKMAAK

alternate textDie Torah lesing van hierdie week (Deut 11:26 – 16:17) begin weer met die tema van seën en vloek – net soos ons nou al reeds dikwels tevore teëgekom het – nie net in die boek van Devariem (Deuteronomium) nie, maar ook in die res van die Torah. Daar is geen onduidelikheid nie: Yahweh belowe sy seën aan hulle wat kies om Hom te gehoorsaam en waarlik na sy insettinge en gebooie te luister. Maar daar word geen doekies omgedraai oor die ander kant van die muntstuk nie – hulle wat nie ernstig oor gehoorsaamheid is nie en hulle wat nie wil luister na sy gebooie nie en hulle wat afwyk van die weg wat Hy bekendgemaak het, gaan nie die seëninge ontvang wat Yahweh vir sy afgesonderde volk bedoel het nie. Ja, hulle mag dalk voorspoed in sommige aspekte van die lewe beleef (dinge soos rykdom, status, roem en mag), maar die volle seën van Yahweh (met konsekwensies nie net vir hierdie lewe nie, maar ook vir die lewe hierna) sal hulle nie ken nie – nie so lank as wat hulle doelbewus hulle rug draai op Yahweh en sy woorde nie.

Wat is die sentrale temas van hierdie week se Torah porsie, wat bekend staan as Parashah Re’eh? Die woord “re’eh” beteken om te kyk of te sien en dit kom uit Deut 11:26 waar Mosheh sê: “Kyk, ek hou vandag vir julle seën en vloek voor …” Miskien is dit nodig dat ons ook vandag mooi moet kyk – nie net met ons fisiese oë nie, maar met die oë van ons hart en met die oë van ons verstand. Soms kyk mens mos, sonder om te sien! Soms is ‘n mens se oë net eenvoudig nie ingestel om te sien wat die Vader wil hê jy moet sien nie. As mens bloot oppervlakkig na hierdie hele groepering van hoofstuk 11 tot 16 kyk, is een van die eerste dinge wat opval die feit dat daar dikwels na “eet” verwys word. Die Hebreeuse woord “agal” (om te eet) kom nie minder nie as 42 keer in hierdie parashah voor. So beteken dit die Torah is behep met eet en eetgewoontes en dieetkunde en gesonde en ongesonde kosse? Die antwoord is ‘n duidelike NEE – beslis nie op dieselfde manier as wat ons wêreld vandag daarmee behep is nie! Die vernaamste rede waarom daar 42 keer na “eet” verwys word in hierdie week se parashah is omdat Devariem 14 daarin voorkom en die hele Devariem 14 bevat voorskrifte oor rein en onrein vleissoorte. Soos: Jy mag nie varkvleis en perdevleis en leeuvleis en hondevleis eet nie en jy mag nie seekos eet wat nie beide vinne en skubbe het nie en ‘n taamlike lysie van ander lewende wesens wat deur die Skepper nooit as kos bedoel is nie.

Nie net hier in Devariem 14 nie, maar ook Wayiekra (Levitikus) 11 word dit as ‘n “gruwel” beskryf om hierdie verbode soorte vleis te eet. Maar die punt is, dit gaan nie in die eerste plek oor gesonde en ongesonde kosse nie (al het die mediese wetenskap intussen uitgevind dat sommige items van hierdie lysie jou baie siek kan maak). Die keuse om gesond te eet is ‘n keuse wat mens met jou gesonde verstand moet neem, sonder om die Skrif te misbruik of te verdraai om jou besluit te regverdig en andere wat nie so besluit het, skuldig te laat voel. Vir my is dit ironies dat die wêreld vandag totaal obsessief oor kos geraak het, maar dat die Skrif en sy duidelike riglyne oor rein en onrein kosse glad nie in hierdie obsessiewe tydsgees ‘n plek vind nie. Om maar net een voorbeeld te noem: “Banting” is op almal se lippe en skielik gaan mense uit hulle pad uit om weer die vet in hulle diëte terug te bring, maar geen woord word gerep van die Skrif se duidelike verbod teen die eet van die vet van diere nie. Weet die Skrif iets oor gesondheid wat ons nie weet nie? Nee, nie noodwendig nie, maar die Skrif weet iets oor die Skepper, die Een wat ons gemaak het, en oor sy volmaakte wil vir ons lewe en oor daardie dinge wat regtig saak maak in hierdie lewe. ‘n Mens kan nie ‘n fout maak as jy kies om hierdie Een te gehoorsaam nie.

Maar wat dan van Y’shua? Sê die Skrif nie vir ons dat Y’shua alle vleissoorte rein verklaar het nie? Dit is jammer dat hierdie persepsie tot in ons dag toe deur so baie mense geglo word. Y’shua het nie een enkele gebod van sy Vader herroep of verklarings gemaak wat sekere dele van die Torah uitgekanselleer het nie. Om seker te maak dat daar by niemand enige misverstand behoort te wees nie, het Hy dit in soveel woorde uitgespel: “Moenie dink dat Ek gekom het om die Torah of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. Want amein Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een letterdeel van die Torah ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie. Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense so leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemel; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemel” (Mat 5:17-19). Die hoofstuk wat gebruik word om te sê dat Y’shua alle kossoorte rein verklaar het, is Mark 7 waar sommiges gesien het dat Y’shua met ongewaste hande eet en Hom daarvoor verkwalik het. (Dit gaan in hierdie hoofstuk glad nie oor rein en onrein vleissoorte nie!) Y’shua beroep Hom dadelik op die Torah. Hy wys hulle daarop dat hande-was ‘n menslike tradisie is en nie ‘n voorskrif van die Torah nie en dat sommiges in die gewoonte gekom het om aan tradisies vas te hou terwyl hulle die eintlike (geskrewe) Torah nalaat. Ons sien dus dadelik, en duidelik, dat Y’shua (ook hier) baie sterk aan die Torah vashou en andere wil aanmoedig om dieselfde te doen.

Uiteindelik sê Hy (vir hulle wat meen dat goeie kos wat met ongewaste hande geëet word, jou onrein sal maak) dat dit wat mens eintlik onrein maak, nie van buite af kom nie, maar van binne af (soos slegte gedagtes, hebsug, boosheid, ensovoorts). Of jy nou jou kos met skoon hande of met ongewaste hande eet, verander op geen manier aan dit wat in jou hart aangaan nie. En dan, om verder te illustreer, gee Y’shua ‘n beskrywing van die proses wat in mens se liggaam plaasvind as jy kos inneem. Asof die mense dit nie geweet het nie (asof hulle nie kon sien nie!) sê Hy vir hulle dat die kos wat mens inneem, nie deur jou hart gaan nie, maar deur jou maag en dat dit uiteindelik weer uitgeskei word, sodat jou liggaam aan die einde van hierdie proses in dieselfde toestand van reinheid (of onreinheid) is, as wat dit was voordat jy geëet het. Sommige entoesiastiese (maar verblinde) Skrifverklaarders het in die verlede hierdie uitspraak van die Messias op ‘n gruwelike manier verdraai, as sou Y’shua ‘n openbare aankondiging gemaak het dat alle kosse nou as rein verklaar word! Niks is verder van die waarheid as dit nie. As dit so was, sou sy dissipels dit sekerlik ook gehoor het en so toegepas het en ons weet dit was nie die geval nie, want toe Kefa (Petrus) omtrent 14 jaar later ‘n hemelse visioen in Handelinge 11 gehad het, het hy duidelik te kenne gegee dat hy nog nooit sy lippe aan enige van die onrein vleissoorte van Devariem 14 gesit het nie.

Dit is deesdae baie algemeen om sterk opinies oor kos by mense te hoor. In die Skrif word die woord “sterk” met baie aspekte van die geloof verbind maar net ‘n handjievol kere met kos en eetgewoontes. Een van die kere is Devariem 12:23, wat in hierdie week se Torah lesing voorkom: “Staan daarom net vas “(Heb. “gazak” = “om sterk te wees”) dat jy die bloed nie eet nie …” Volgens die Skrif moet ons sterk daarop staan om die voorskrifte in verband met kos te hou soos wat Yahweh dit beveel het. As jy sterk voel oor ‘n aspek wat met kos te make het, maar dis nie ‘n voorskrif van die woord nie, maak dan seker dat jy dit nie met geloof verwar of op dieselfde vlak van prioriteit as die voorskrifte van die Woord plaas nie. In die Messiaanse Skrifte (Nuwe Testament) word die woord “sterk” ook enkele kere met kos verbind, wanneer Shaúl (Paulus) byvoorbeeld ‘n onderskeid maak tussen gelowiges wat sterk is in sake wat met kos te make het en gelowiges wat swak is in sake wat met kos te make het. Wie is die swakkes en wie is die sterkes wanneer dit by kos kom? Volgens die apostel is die swakkes hulle wat onsekerheid of twyfel in hulle harte het oor die eet van sekere kossoorte, soos vleis wat moontlik vooraf aan afgode gewy is. Die sterkes is hulle wat nie dieselfde onsekerheid of twyfel in hulle harte het nie. Wat staan die sterkes te doen? Hulle mag die swakkes nie veroordeel nie. Hy moet die sogenaamde swakke volledig aanneem in die geloof en hulle as ware broers en susters in die Messias aanvaar en liefhê. Dit gaan nie hier oor uitdruklike voorskrifte in die Skrif oor kos nie. As die Skrif ‘n sekere opdrag gee, al is dit oor kos, en jy hou nie by daardie voorskrif nie, word jy nie as “sterk” of “swak” beskryf nie. Jy word as ongehoorsaam en hardnekkig en rebels beskryf en dan pas dit jou om van nuuts af te gaan kyk en te toets of jy die Skrif volg soos wat Yahweh dit aan ons voorhou en of jy die Skrif volg soos wat mense (wat in wese die Torah verwerp) dit al die jare aan ons voorgehou het.

Shaúl (Paulus) het tereg aan die Romeine geskryf dat die koninkryk van Elohiem nie voedsel en drank is nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Afgesonderde Gees. Almal van ons weet egter wat ‘n gelaaide onderwerp die onderwerp van kos is. En ons weet ook van ‘n ander uitspraak van Shaúl wat met die laaste dae en met kos te make het: “In die laaste tye sal sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste aanhang … en gebied dat die mense hulle moet onthou van voedsel wat Elohiem geskape het om met danksegging gebruik te word deur die wat die waarheid ken” (1 Tim 4:1-3). Deur die guns van Yahweh ken ons die waarheid. Ons weet watter voedsel Yahweh geskape het om met danksegging gebruik te word. En ons weet met hoeveel emosie die onderwerp van kos belaai is. Laat ons ook hierin optree met die liefde en die sensitiwiteit en die verdraagsaamheid, maar ook met die soort gehoorsaamheid wat ons by ons Meester, Y’shua die Messias geleer het!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »