DIE NAAM VAN YAHWEH JOU ELOHIEM

alternate textOns het ʼn hele tydjie gelede begin met ʼn reeks oor die Tien Woorde (Tien Gebooie) wat ons eers moes onderbreek toe die feeste aangebreek het. Tot sover het ons by die eerste twee Woorde stilgestaan (Geen Ander Magtiges en Geen Gesnede Beeld). Vandag gaan ons na die derde Gebod kyk: “Jy mag die Naam van Yahweh jou Elohiem nie inhoudloos maak nie”. Sommige vertalings vertaal hierdie gebod só onakkuraat dat mens amper moet raai wat dit nou eintlik vir jou probeer sê. Kom ons kyk net vir ʼn oomblik na die bekende Afrikaanse vertaling wat meeste van ons van kleins af gehoor het: “Jy mag die Naam van die Here jou God nie ydellik gebruik nie”. Die feite is: Daar staan nie “Here” in die teks nie (nie eens die Hebreeuse, grammatikale weergawe van “Here” nie). So hierdie vertaling laat jou totaal in die duister oor watter Naam jy nie mag ydellik gebruik nie. Verder meen ons nou al vir baie lank dat “God” nie ʼn geskikte vertaling vir “Elohiem” is nie – doodeenvoudig omdat die woord “God”, wat sy etimologie (of oorsprong) betref, oorspronklik uitsluitlik na sekere afgode en magtiges van heiden-nasies verwys het. In die latere ontwikkeling van hierdie woord het dit gebruiklik geraak om die woord “God” (met ʼn hoofletter) te gebruik om na die Elohiem van die Skrif van die Skrif te verwys. Maar die vraag bly steeds: Waarom moet ʼn mens ʼn woord gebruik wat uit ʼn heidense konteks kom om na Yahweh, die enigste, ware Elohiem te verwys, as jy die woord kan gebruik wat die Skrif self gebruik om na Hom te verwys, naamlik die woord “Elohiem”? Dis weliswaar ʼn Hebreeuse woord, maar in Afrikaans en in Engels (en in elke ander taal onder die son) is daar letterlik duisende leenwoorde wat uit ander tale kom, en wat met groot gemak in die taal wat vir daardie spesifieke groep bekend is, gebruik word. En, om alles te kroon, bevat die tradisionele vorm van hierdie gebod ʼn werkwoord wat vaag, dubbelsinnig en argaïes is: “ydellik gebruik”. Meeste mense meen dat “ydellik gebruik” so te sê dieselfde as “gebruik” beteken. So eintlik sê hierdie gebod vir hulle: Jy mag hierdie Naam nie gebruik nie. Niks is verder van die waarheid en die eintlike bedoeling van die derde gebod nie!

In die afgelope week luister ek na ʼn praatjie oor die radio waaraan ʼn sekere bekende teoloog deelgeneem het. Hy sê toe onder meer iets soos die volgende: Geestelike leiers moet minder oor die hemel preek en meer oor die sosiale en ekonomiese brandpunte van ons dag. Dalk is hy nie so ver verkeerd nie. Want in sy wese is die boodskap van die Skrif ʼn praktiese boodskap, wat vir mense van vlees en bloed bedoel is, mense wat in hierdie wêreld, met sy konkrete en ingewikkelde probleme en hindernisse en vraagstukke, moet probeer oorleef. Om gedurig net boodskappe oor die hemel te moet hoor, kan mense uiteindelik frustreer en vir hulle laat voel: Dis niks meer as “a pie in the sky when you die” nie. Dalk is dit een van die redes waarom meeste gelowiges hulle skouers ophaal wanneer jy oor die Vader se Naam praat, en sê: Wat maak dit nou eintlik saak? Dis net ʼn naam. Watter verskil maak dit aan hoe ons in hierdie wêreld moet leef?

Persoonlik dink ek dit maak ʼn groot verskil. ʼn Mens sou baie redes hiervoor kon gee, maar ek wil my bepaal by dit wat die Skrif self oor die Naam sê en na die manier waarop hierdie Naam reg deur die Skrif gebruik word. Meeste mense sal verbaas wees om uit te vind hoe prakties die Woord is wanneer dit kom by die Naam van die Allerhoogste. Sy Naam is nie ʼn teorie of ʼn formaliteit nie. Sy Naam is nie iets wat Hy “net vir die rekord” aan sy volk bekend gemaak het nie. Nee, wanneer sy Naam, Yahweh, in die Skrif gebruik word, of wanneer die woorde “sy Naam” of “my Naam” of “die Naam” in die Skrif gebruik word, is dit in verreweg die meeste gevalle om te beklemtoon wat Hy vir sy mense wil DOEN. Die woord “Yahweh” kan letterlik vertaal kan word as “die Een wat was en wat is en wat sal wees”, maar dit sou grammatikaal ewe korrek wees om dit só te vertaal: “die Een wat laat gebeur het en wat nou laat gebeur en wat sal laat gebeur”. Wanneer hierdie Naam in die Skrif gebruik word (of selfs net geïmpliseer word) sien ʼn mens die Skepper van hemel en aarde in aksie – die Een wat laat gebeur, die Een wat doen, die Een van wie Y’shua gesê het: “My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook” (Joh 5:17).

Hier is net ʼn paar voorbeelde van hierdie duidelike tendens in die Skrif: “Op elke plek waar Ek julle my Naam sal laat onthou, sal Ek na jou toe kom en jou seën” (Ex 20:24); “Ek sal … voor jou die Naam van Yahweh uitroep en Ek sal goedgunstig wees vir wie Ek goedgunstig wil wees, en My ontferm oor wie Ek My wil ontferm” (Ex 33:19); “So moet hulle dan my Naam op die kinders van Yiesraél lê; en Ek sal hulle seën” (Num 6:27); “En al die volke van die aarde sal sien dat die Naam van Yahweh oor jou uitgeroep is, en hulle sal vir jou vrees” (Deut 28:10); “Loof Yahweh, roep sy Naam aan, maak sy dade bekend onder die volke ” (1 Kron 16:8); “En hulle wat u Naam ken, sal op U vertrou, omdat U die wat U soek, nie verlaat nie, o Yahweh” (Ps 9:10); “Deur U sal ons ons teëstanders omstoot; in u Naam sal ons hulle vertrap wat teen ons opstaan” (Ps 44:5); “Om my Naam ontwil vertraag Ek my toorn, en om my roem ontwil bedwing Ek My jou ten goede, om jou nie uit te roei nie” (Jes 48:9); “Wie is daar onder julle wat … in duisternis wandel en geen ligstraal sien nie? – laat hy vertrou op die Naam van Yahweh en steun op sy Elohiem!” (Jes 50:10); “Toe Ek saam met hulle in die wêreld was, het Ek hulle in u Naam bewaar” (Joh 17:12).

Die Naam van Yahweh is uiters relevant in die konteks van die groot gebeurtenisse in ʼn gelowige se lewe. Die Een wat hom of haar in daardie gebeurtenisse kan begelei en kan help en kan red, is Iemand met ʼn Naam. En hierdie Een het nie sy Naam vir ons as mense verberg nie. Nee, Hy het sy Naam duidelik en ondubbelsinnig aan die mensdom bekend gemaak. Hy het ʼn patroon in die Skrif laat vaslê van sy Naam wat gebruik word en aangeroep word en gerespekteer word. Toe Hy aan Mosheh in die brandende doringbos verskyn het, het Hy spesifiek (en in geen onsekere taal nie) aan hom gesê dat die Naam Yahweh die Naam is waarmee Hy geken en aangespreek wil word van geslag tot geslag. En later, toe Hy sy Tien Woorde aan sy volk gegee het, het Hy sy Naam ingesluit as die derde van die Tien Woorde en gesê Hy verwag van sy volk dat hulle sy Naam, Yahweh, sal respekteer en dit nie inhoudloos sal maak nie. Ek dink nie ʼn mens kan die Naam van die Almagtige méér inhoudloos maak as om dit brutaal en in die meeste Bybelvertalings, sonder enige verduideliking, op 6800 plekke in die Skrif uit te laat en met ʼn gewone woord soos “Here” of “Lord” te vervang nie. ʼn Woord wat, in vergelyking met die Naam Yahweh, totaal inhoudloos en betekenisloos is nie. En verder: Maak ʼn mens dan nie die Naam van die Almagtige inhoudloos as jy wéét wat sy Naam is, maar wanneer jy Hom aanroep in gebed, dan noem jy Hom nie by sy Naam soos wat die aartsvaders en die profete en die Messias dit gereeld en sonder enige huiwering gedoen het nie?

Wie is die Een wat met Mosheh gepraat het in die woestyn? ʼn Mens kan op baie plekke in die Skrif ʼn antwoord op hierdie vraag kry, maar kom ons kyk net na die eerste vers van hierdie week se Torah leesstuk: Numerie (of Bemiedbar) 8:1 “En Yahweh het met Mosheh gepraat en gesê …”. Tot wie het Mosheh en die volk gebid wanneer hulle in die nood was in die woestyn? Die antwoord kom weer eens duidelik na vore in die Torah leesstuk van hierdie week. Num 10:35-36 “En as die ark wegtrek, het Mosheh gesê: Staan op, Yahweh, dat u vyande verstrooi kan word en u haters voor u aangesig kan vlug. En as dit rus, het hy gesê: Keer terug, Yahweh, na die tien duisende van die duisende van Yiesraél!” Wat het die volk gedoen as daar ʼn vuur was, soos wat daar die afgelope week vure in die Weskaap was wat vernietiging gesaai het soos nog selde tevore in Suid Afrika gesien is? Num 11:2 (nog steeds deel van hierdie week se Torah leesstuk) “Toe het die volk na Mosheh geroep, en Mosheh het tot Yahweh gebid; en die vuur het doodgegaan.” Hoe het die Vader na Homself verwys as Hy met Mosheh en die volk gepraat het? Num 11:23 “Maar Yahweh sê vir Mosheh: Sou die hand van Yahweh te kort wees? Nou sal jy sien of my woord vir jou uitkom of nie.” Die Naam van Yahweh was gedurig in die midde en in die harte en op die lippe van die volk. Hulle het sy Naam met vrymoedigheid aangeroep, sonder om dit inhoudloos te maak. Sonder om dit ydellik te gebruik. En so het hulle die diepste bedoeling van die derde gebod uitgeleef en eerbiedig!

Ons het in die verlede al dikwels na verskeie belangrike perspektiewe rondom die Naam van die Allerhoogste in die Skrif gekyk. Maar een aspek waarna ons nog nooit spesifiek gekyk het nie, is die aspek van konteks – om met ander woorde nie bloot die vraag te vra “Wat sê sekere verse oor die Vader se Naam” nie, maar ook die vraag “In watter konteks word daar in dié gedeeltes na die Vader se Naam verwys?” Ons kan dus nou afsluit deur na ‘n aantal van die mees bekende verse in Psalms en Jesaja te gaan kyk, en hoedat hierdie verse, in hulle breër konteks (minstens in die hoofstuk waarin dit staan) direk gekoppel word aan een of ander aspek wat met die Naam van Yahweh te make het:

Ps 8:4 Wat is die mens dat U aan hom dink, en ‘n seun van Adam dat U hom besoek?
Vers 1: O Yahweh, onse Meester, hoe voortreflik is u Naam op die hele aarde!
Ps 22:23 Julle wat Yahweh vrees, prys Hom! Al die nakomelinge van Yaákov, vereer Hom!
Vers 22: Ek wil u Naam aan my broers vertel, in die vergadering U prys.
Ps 23:1-2 Yahweh is my herder; niks sal my ontbreek nie. Hy laat my neerlê in groen weivelde…
Vers 3: Hy verkwik my siel; Hy lei my in die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil.
Ps 116:12 Wat sal ek Yahweh vergeld vir al sy weldade aan my?
Vers 13: Ek sal die beker van verlossinge opneem en die Naam van Yahweh aanroep.
Jes 48:10 Ek het jou gelouter … Ek het jou beproef in die smeltkroes van ellende.
Vers 9: Om my Naam ontwil vertraag Ek my toorn en … bedwing Ek My jou ten goede.
Jes 51:16 En Ek het my woorde in jou mond gelê en in die skaduwee van my hand jou verberg.
Vers 15: Yahweh van die leërskare is my Naam!
Jes 52:7 Hoe lieflik is op die berge die voete van hom wat die goeie boodskap bring.
Vers 6: Daarom sal my volk my Naam leer ken.
Jes 54:7 Vir ‘n klein oomblik het Ek jou verlaat, maar met groot ontferminge sal Ek jou vergader.
Vers 5: Want jou Maker is jou Man; Yahweh van die leërskare is sy Naam!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »