DIE KUNS OM TE LAAT GAAN

alternate textDie naam van hierdie week se Parashah (“Beshalag” – wat gaan oor die gedeelte van Gen 13:17 tot Gen 17:16) beteken “Toe hy laat gaan het”. Dit verwys natuurlik na Farao wat, uiteindelik, ná 10 plae en baie smart vir homself en sy mense, onder andere die dood van al die eersgeborenes, die volk laat gaan het. Daar is veral ses vrae wat hierdie “beshalag” voorafgegaan het – drie vrae wat Farao in sy arrogansie self gevra het en drie verdere vrae wat andere aan hom gevra het, wat uiteindelik sy arrogansie in oorgawe laat verander het: Eers die drie vrae van arrogansie: (1) Ex 5:2 Wie is Yahweh na wie se stem ek moet luister om Yiesraél te laat trek? (2) Ex 5:4 Waarom hou julle die volk van hulle werk af? (3) Ex 5:5 Wil julle werklik die Israeliete laat ophou met hulle werk?

En dan die drie vrae van oorgawe: (4) Ex 10:3 Hoe lank weier jy om jou voor My te verootmoedig? – die vraag wat Yahweh self, deur sy kneg Mosheh, aan Farao gevra het; (5) Ex 10:7 Hoe lank sal die man vir ons ‘n strik wees? – die vraag wat Farao se eie dienaars vir hom gevra het, met verwysing na Mosheh; en (6) Ex 10:7 Weet jy nog nie dat Mietsrayiem te gronde gaan nie? – ook ‘n vraag wat sy eie dienaars vir hom gevra het. Eers wou Farao eenvoudig nie toegee nie. Hy wou nie skiet gee nie. Hy kon nie laat gaan nie. Maar uiteindelik moes hy eerlik met homself wees en baie mooi dink oor die laaste drie vrae wat soos ‘n donker wolk oor hom kom hang het. Mietsrayiem wás besig om te gronde te gaan. Die land het skade gekry; mens en dier het swaar gely onder die 10 plae; Mosheh se knaende pleidooie het net nooit opgehou nie. Die mens, Mosheh, het vir hom ‘n strik geword (letterlik: ‘n haak waarmee diere aan hulle neuse gehaak word); al die eersgeborenes is dood en boonop het die skrik van Yahweh, die Elohiem van die Hebreërs, selfs oor sy eie dienaars gekom. Hy kon nie meer weerstand bied nie. Hy moes hom eenvoudig voor Yahweh verootmoedig en oorgee en die volk laat gaan.

Maar Farao was nie die enigste een wat vrae gevra het en vrae moes beantwoord nie. In Parashah Beshalag verskuif die toneel van Farao se vrae, na die volk se vrae en ook Mosheh en die ander leiers se vrae. In die hart van hierdie leesstuk lê die episode van die Manna – brood wat spesifiek Manna genoem is om die volk daaraan te herinner dat hulle, ná hulle uittog uit Egipte net nooit opgehou het om “Mah” (“wat”, “vir wat”, “waarom”) te vra nie. En omdat húlle aanhoudend “Mah” gevra het (Wat maak ons hier? Wat is dit? Waarom moes ons trek? Waar moet ons kos kry? En nog honderde ander vrae waarmee hulle hulle eie leiers en selfs vir Yahweh bevraagteken, aangekla en verwyt het), het Mosheh ook begin om vrae te vra – vrae teenoor die volk en vrae teenoor Yahweh. En só het die aanhoudende vrae van beskuldiging, selfgerigtheid en kortsigtigheid (ongeveer 16 vrae in hierdie leesstuk alleen) – veral van die volk se kant af, maar in ‘n mindere mate ook van die leiers se kant af, uiteindelik daartoe gelei dat niemand van die oorspronklike groep mense (behalwe Yahushua en Kaleb) in die beloofde land ingegaan het nie.

Vrae vra is nie verkeerd nie. Dit kan ‘n goeie ding wees. Dit kan mens by die waarheid uitbring. Dit kan sonde en ongeregtigheid en korrupsie aan die lig bring. Dit kan ‘n uitlaatklep wees. Dit kan help om die pyn en die seer wat binne-in jou is ligter te maak. Dit kan maak dat jy met Yahweh en met mense in gesprek tree en op so ‘n manier groei in jou geloof. Dit kan verhoed dat jy in jouself en in jou eie gedagtes en in jou eie afsondering verstrengel raak en heeltemal moed verloor. Solank dit nie vrae van beskuldiging en selfgerigtheid en kortsigtigheid is nie. Solank jou vrae nie ‘n obsessie word en ‘n verskoning om nie aan die Woord van Yahweh gehoorsaam te wees nie. Solank jou vrae nie so allesoorheersend word dat jy nie meer die grootheid en die goedheid van Yahweh kan raaksien nie.

Farao is nie ‘n karakter wat ons normaalweg as ‘n model voorhou en wie se voorbeeld ons wil volg nie. Maar miskien kan ons kers opsteek by die naam van die Parashah van hierdie week en die feit dat daar ‘n deurbraak gekom het toe Farao uiteindelik besluit het “om te laat gaan”. Die tipiese vrae wat die volk gevra het is vrae waarmee hulle nog méér kettings om hulleself gedraai het as wat hulle in Egipte om hulle gehad het. In plaas van vry kom het hulle selfs nog meer verslaaf geraak – verslaaf aan die leuen dat mense rondom hulle gedurig antwoorde en oplossings aan hulle verskuldig is. Wil julle hê ons moet hier sterf? (14:11) Wat het julle ons aangedoen? (14:11) Het ons dan nie vir julle gesê ons wil nie trek nie? (14:12) Wat moet ons drink? (15:24) Wat moet ons eet? (16:8) Wat se soort brood is dié? (16:15) Waarom moes ons trek? (17:3) Is Yahweh in ons midde of nie? (17:7). Wat is dit wat moes gebeur sodat hierdie volk werklik kon vryraak? Hulle moes leer om te laat gaan. Hulle moes die les leer wat die volk in Sagaria se tyd geleer het, met die visioen van die kandelaar en die oliekan wat deur die twee olyfbome gevoed word: Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê Yahweh van die leërskare (Sag 4:6). Nie deur in arrogansie en selfsug aan te dring op antwoorde nie, maar deur te wag op my Gees, sê Yahweh van die leërskare. Nie deur in ongeduld te verwag dat jou swaarkry of jou hindernis of jou hartseer in een oogwink moet verdwyn nie, maar deur partykeer net op te kyk na Yahweh, sonder om ‘n vraag te vra. Dit maak ‘n mens seer om te laat gaan. Maar uiteindelik gaan dit nog seerder wees om NIE te laat gaan nie. Dis CS Lewis wat gesê het: “Getting over a painful experience is much like crossing monkey bars. You have to let go at some point in order to move forward.”

One moet oppas om dit nie verkeerd te verstaan wanneer die Skrif ons aanmoedig om te laat gaan (of: “to let go”) nie. Dit beteken nie in die eerste plek om niks te doen nie. Farao moes nie NIKS doen nie. Hy moes net ophou om Yahweh, en die weë van Yahweh te weerstaan (Engels: resist). Hy moes sy eie gestoei teen die feite en die waarheid en die grootheid van Yahweh se werke en die onkeerbaarheid van Yahweh se beloftes laat staan. Hy moes dit doen waarvan Jes 43:18-19 praat: “Dink nie aan die vorige dinge nie, en slaan geen ag op wat vroeër gebeur het nie. Kyk, Ek (Yahweh) gaan iets nuuts maak; nou sal dit uitspruit; sal julle dit nie merk nie? Ja, Ek maak ‘n pad in die woestyn, riviere in die wildernis.” En net vyf verse vroeër staan hierdie aangrypende woord: “Ek werk, en wie kan dit keer?” (Jes 43:13). Farao het nog nie baie met Yahweh te make gehad nie. Maar dit wat hy in sy kort “ontmoeting” met Yahweh beleef het, het hom geleer dat jy nie net handjies kan vou en vashou wat jy het, as Yahweh praat nie. Jy moet luister. Jy moet optree. Jy moet laat gaan. Toegepas op ons eie situasie beteken om te laat gaan dat ons ons eie manier van doen moet laat gaan, fyn na Yahweh se woorde moet luister, in die geloof daaraan vashou dat Hy ‘n pad in die woestyn kan maak en in ons harte die woord bewaar dat as Hy werk, kan niemand dit keer nie.

Om te laat gaan beteken ook om op geen manier te verslap in jou toewyding aan Yahweh nie. ‘n Gedeelte in die Skrif wat hierdie waarheid bevestig, is Job 17:8-9. In hierdie gedeelte praat Job oor die verskriklike (selfs tragiese) dinge wat soms met die opregtes gebeur, maar dan sê hy: “Die opregtes is daaroor ontsteld, en die onskuldige kom teen die korrupte mense in opstand. Nogtans hou die regverdige vas aan sy weg, en die wat rein van hande is, neem toe in krag.” Die regverdiges laat vaar aan die een kant, maar hou vas aan die ander kant: Hulle laat vaar hulle opstandigheid en hulle ontsteltenis en hulle selfbejammering, maar hulle hou vas aan hulle weg (die een wat Yahweh aan hulle bekend gemaak het) en bly glo in sy grootheid en sy woorde van bemoediging. En wat is die gevolg daarvan? Hulle neem toe in krag. Hulle word sterker in die proses. “Die wat op Yahweh wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie” (Jes 40:31).

Maar dan beteken “om te laat gaan” veral ook dat ons die angstigheid, die onsekerheid, die moedeloosheid en die frustrasie dat ons nie antwoorde op ons vrae kry nie, moet laat gaan en die woorde van Yahweh in ons harte bewaar. Kom ons laat die Skrif self hieroor die laaste woord spreek:

Mat 11:28 Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.
Fil 4:6 Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by Elohiem.
Jud 1:21 Bewaar julleself in die liefde van Elohiem, terwyl julle die barmhartigheid van ons Meester, Y’shua tot die ewige lewe verwag.
Jak 1:2-3 Ag dit louter vreugde, my broers, wanneer julle in allerlei versoekinge val, omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk.
Ps 46:10 Laat staan en weet dat Ek Elohiem is; Ek sal hoog wees onder die nasies, hoog op die aarde.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »