DIE KRAG VAN SHABBAT

alternate textHierdie week se Torah lesing sluit in die bekende Shemot (Exodus) 20, met die tien woorde wat Yahweh vir Yiesraél op die berg Sinai gegee het – te midde van donderslae en blitse en die geluid van ramshorings en rook wat uit die berg uitgeborrel het. Soms vergeet mense dat Yahweh hier direk met die volk gepraat het – anders as tevore, toe Hy met Mosheh alleen op die berg gepraat het. Daarom dat die volk in vers 19 vir Mosheh sê: “Spreek u met ons, dat ons kan luister; maar laat Elohiem nie met ons praat nie, anders sterf ons.” Daar was egter ‘n rede waarom Yahweh die tien woorde op só ‘n sigbare en hoorbare wyse aan die volk oorgedra het. Hierdie rede word in vers 20 deur Mosheh aan die volk verduidelik: “Elohiem het gekom om julle te beproef en dat sy vrees voor julle oë mag wees, sodat julle nie sondig nie.”

Soms wonder ‘n mens hoe dit gebeur het dat soveel mense hulle vrees vir Yahweh êrens langs die pad verloor het. Dink maar aan die manier waarop die vierde Woord (of vierde gebod) deur die geskiedenis heen deur mense hanteer is. Die Woord oor die Shabbat: “Onthou die dag van die Shabbat, dat jy dit afsonder. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die Shabbat van Yahweh jou Elohiem; dan mag jy geen werk doen nie – jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie. Want in ses dae het Yahweh die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het Yahweh die dag van die Shabbat geseën en dit afgesonder.”

Die Rooms Katolieke Kerk het op een stadium eenvoudig die vierde gebod uit hulle kategismus verwyder en die tiende gebod in twee verdeel sodat daar weer tien gebooie kan wees. Meeste ander kerke glo en leer hulle lidmate dat die sewende dag nie meer ‘n spesiale dag is nie. Trouens, só sê meeste kerke, die sewende dag MAG NIE as ‘n spesiale dag gehou word nie, omdat die Tien Gebooie nie meer bindend is nie – Y’shua se koms het ‘n einde daaraan gebring. Sommige van hierdie kerke verkondig dat die eerste dag van die week nou in die plek van die sewende dag gekom het. En te midde van al die onsekerheid oor die sewende dag wat deur kerklike besluite en kerklike leerstellings veroorsaak is, is daar vandag net ‘n handjievol mense oor die hele wêreld wat nog enigsins waarde heg aan die vierde Woord wat Yahweh self, op ‘n duidelik hoorbare en sigbare manier, sowat 3400 jaar gelede op die berg Sinai uitgespreek het. Het Yahweh ooit daarna vir enige mens gesê dat die vierde gebod geskrap is? Nee. Het Hy ooit enige aanduiding gegee dat die Shabbat nie meer belangrik is nie? Nee. Het Hy ooit deur enige van sy profete, insluitend Y’shua die Messias, te kenne gegee dat die Shabbat net vir ‘n sekere periode bedoel was? Nee. Het Hy ooit deur enige van sy profete, insluitend Y’shua die Messias, te kenne gegee dat die Shabbat net vir die Jode bedoel was? Nee.

Ons kan natuurlik leer by die Jode wanneer dit kom by hulle waardering vir die Shabbat en die vrees vir Yahweh wat sommiges openbaar in die manier waarop hulle hierdie dag eer. Daar is ‘n beroemde ware verhaal wat die krag van die Shabbat illustreer en die beloning wat dit inhou wanneer iemand bereid is om die Shabbat te eerbiedig. In die vroeë 1900’s, voordat die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek het, was daar ‘n Poolse gesin wat baie arm was en besluit het om een van hulle dogters na ‘n familielid in Amerika te stuur om dáár ‘n beter bestaan te gaan maak. Die naam van hierdie dogter was Rose Goldstein.

Rose, wat toe maar 12 jaar oud was, is deur haar pa na die Poolse hawe toe geneem van waar sy per boot na Amerika sou vertrek. Vir hierdie pa was dit een van die moeilikste dinge wat hy ooit gedoen het – om sy jong dogter op ‘n boot te laat klim in die wete dat hy haar na alle waarskynlikheid nooit weer sal sien nie. Toe hulle moes groet het hy vir haar gesê: “My kind, onthou dat die Almagtige sy oog elke oomblik oor jou hou. Onthou sy gebooie en moenie nalaat om dit te doen nie. Moet nooit vergeet nie dat nog meer as wat die Jode nog altyd die Shabbat onderhou het, het die Shabbat nog altyd die Jode onderhou. Dit sal moeilik wees in hierdie nuwe land. Moenie vergeet wie jy is nie. Hou die Shabbat, maak nie saak hoe groot die prys is nie.”

Rose het by haar onbekende familie in Amerika aangesluit en kort daarna werk gekry by ‘n klerefabriek in New York. Alles was baie vreemd vir haar en baie anders as waaraan sy gewoond was in Poland, maar sy het haar pa se laaste woorde onthou en was vas beslote om die Shabbat te hou. Daar is van haar verwag om weeksdae en Shabbatte by die fabriek te werk, maar sy het vir ‘n ruk lank daarin geslaag om die Shabbat werkery vry te spring. Sy het eenvoudig ‘n verskoning uitgedink en vóór elke naweek vir haar baas in kennis gestel dat sy nie die Saterdag kan werk nie. Haar baas het besef dat dit oor die Shabbat gaan en dat sy nie op dié dag wou werk nie. Na ‘n paar weke het hy haar ingeroep en gesê: “Ek hou van jou werk en ek hou van jou. Maar hierdie Shabbat gedoente moet nou end kry. Hierdie Saterdag kom jy fabriek toe of anders kan jy maar ‘n nuwe werk gaan soek.”

Rose se familie, by wie sy gebly het, het geglo dat geloof kinderagtig en oudmodies is. Hulle het geweet dat sy nie Saterdae gaan werk het nie en het haar gereeld daaroor aangespreek en gesê dat werk skaars was en sy nie kon bekostig om haar werk te verloor nie. Sy het hulle vertel van die dreigement van haar baas dat sy haar werk sou verloor as sy die volgende Shabbat nie gaan werk nie. Hulle het haar byna gesmeek om die verstandige ding te doen en daardie Shabbat te gaan werk.

Rose was in ‘n tweestryd. As sy nie gaan werk nie, gaan sy glad nie meer ‘n werk hê nie. En as sy gaan werk, verraai sy haar geloof en ignoreer sy haar pa se laaste woorde aan haar. Dit was die moeilikste paar dae van haar lewe. Na ‘n bittere worsteling besluit sy om nie te gaan werk nie. Daardie Shabbat oggend is sy uit die huis uit, net soos elke ander oggend, en haar familie was verlig omdat hulle gemeen het dat sy werk toe gegaan het. Maar sy het deur die strate van Manhatten gaan loop en na die duiwe op die plein gaan kyk en aan die Poolse Shabbat liedjie met die woorde “Op die Shabbat kom selfs die duiwe tot rus” gedink. So, tussen die duiwe, het sy begin om tradisionele Shabbat liedjies te sing en dit afgewissel met trane van onsekerheid en verwarring omdat sy haar werk sou verloor en waarskynlik ook deur haar familie beskuldig en dalk verwerp sou word.

Toe dit begin donker raak en die Shabbat verby is, het sy teruggekeer na die huis van haar familie. Toe sy by die deur van die huis inkom, kon sy die verbasing op die gesigte van haar huismense sien. “Waar was jy die heeltyd?” het hulle gevra. “In die stad” het sy geantwoord. “Was jy dan nie by die fabriek nie?” het hulle weer gevra. “Nee, en nou gaan ek my werk verloor ”. “Het jy nie gehoor nie?” vra hulle vir haar. “Daar was ‘n vuur – die hele fabriek het afgebrand en meer as 100 mense is dood.” Op daardie oomblik het Rose die woorde van haar pa onthou: “Nog meer as wat die Jode die Shabbat onderhou het, het die Shabbat die Jode onderhou.” En sy het geweet: Daardie dag het die Shabbat háár onderhou.

In Wikipedia word hierdie voorval só beskryf: The Triangle Shirtwaist Factory fire in New York City on March 25, 1911, was the deadliest industrial disaster in the history of the city of New York and resulted in the fourth highest loss of life from an industrial accident in U.S. history. It was also the second deadliest disaster in New York City … until the destruction of the World Trade Center 90 years later. The fire caused the deaths of 146 garment workers, who died from the fire, smoke inhalation, or falling to their deaths. Most of the victims were recent Jewish and Italian immigrant women aged sixteen to twenty-three; the oldest victim was 48, the youngest were two fourteen-year-old girls.

Party hou nie die Shabbat nie, omdat hulle dink dat die oudmodies is. Party, omdat hulle nie die betekenis van Y’shua se koms na hierdie wêreld reg verstaan nie. Party, omdat hulle dinge in Shaúl se briewe inlees wat nie daar staan nie. Dan is daar ander wat die Shabbat net so effentjies “koester”, maar dit altyd duidelik stel dat hulle dit nie doen omdat dit ‘n “wet” is nie. En dan is daar nog ander wat hulle in die romantiese sy van die Shabbat verlekker, die kerse en die gebede en die rituele, maar nog nooit gevoel het dat die Shabbat ‘n prys van hulle vra nie. Kom ons kies vandag opnuut om die Shabbat te onderhou, uit vrees vir Yahweh die Almagtige. Dan sal ons opnuut verstom staan oor die ontsettende krag van hierdie dag en oor die inherente vermoë wat dit het om óns te onderhou, meer as wat ons die Shabbat onderhou!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »