DIE GESLAG VAN AVRAHAM

alternate textIn die Torah leesstuk van hierdie week (Gen 23 tot 25), word daar na die dood van beide Avraham en sy vrou Sarah verwys. Sarah het 127 jaar oud geword en Avraham 175 jaar. Avraham en Sarah het gesterf, maar hulle nalatenskap duur voort tot in ons dag: Die land wat later as die Beloofde Land bekend sou staan, word só genoem omdat dit die land is wat Yahweh met ʼn eed aan sy kneg Avraham beloof het. Die Een wat Homself as die Almagtige in die Skrif geopenbaar het, word as Yahweh, die Elohiem van Avraham, Yietsgak en Yaákov aan ons voorgehou. Die volk wat hierdie Een vir Homself uitgekies het, word die nageslag van Avraham genoem – ʼn geslag van mense van wie Avraham die vader is. Die verbond wat die raamwerk vorm waarbinne die Skrif tot stand gekom het, word die verbond met Avraham of die Avrahamitiese verbond genoem. Die gelowiges in die Messias – selfs hulle wat nie fisiese nasate van Avraham is nie – word kinders van Avraham genoem, omdat hulle Elohiem vrees soos wat Avraham Hom gevrees het (Hand 13:26); omdat hulle in Hom glo soos wat Avraham in Hom geglo het (Rom 4:3) en omdat hulle in die Messias glo wat die saad van Avraham is (Gal 3:16).

Deur die geskiedenis was daar al bittere stryd en misverstand en selfs wedersydse veroordeling oor wié en wát die nageslag van Avraham nou eintlik is en oor wat die Skrif se posisie oor byvoorbeeld die Moslems is – wat tradisioneel gesien word as die nasate van Yieshmaél (Ismael) en dus streng gesproke ook déél uitmaak van die geslag van Avraham. Meeste van ons is gekondisioneer om nie eintlik aan die Moslems ʼn plekkie onder die son van Yahweh se guns en verslossing te gun nie. Ons vergeet dat Yahweh op ʼn keer na die noodroep van Yieshmaél geluister het en aan Haghar (sy ma) ʼn kragtige belofte (en ʼn seënwens) oor hierdie seun en sy nageslag gegee het en dat Yieshmaél (nes Yaákov) 12 seuns gehad het wat later as leiers onder die afstammelinge van Yieshmaél gereken sou word (Gen 17:20; Gen 21:17-18 en Gen 25:16).

Die laaste keer dat daar in die Skrif oor Avraham en Sarah gepraat word, is in die sewende laaste boek van die Skrif, 1 Kefa of 1 Petrus, waar ons in 1 Pet 3:5-6 die volgende woorde lees: “Vrouens moet aan hulle mans onderdanig wees … soos Sara gehoorsaam was aan Avraham en hom meester genoem het; wie se kinders julle geword het as julle goed doen en geen enkele verskrikking vrees nie.” Meeste mense raak deesdae rooi om die kieue as mens die tema aanroer van vrouens wat aan hulle mans onderdanig behoort te wees. Ek dink nie almal verstaan mooi wat die Skrif werklik daarmee bedoel nie. Maar dis nie waaroor ons vandag praat nie. Wat ons vandag moet raaksien, is die tweede gedeelte van hierdie vers: Hulle wat goed doen en geen enkele verskrikking vrees nie, word kinders van Sarah en Avraham genoem. Ek en Hannelie het so iemand ontmoet en ʼn paar gesprekke met hom gehad, ongeveer ʼn maand gelede. Hy was ʼn Moslem en ek moes tot my eie verleentheid van sommige van my eie, ingeburgerde vooroordele teenoor Moslems ontslae raak. Hierdie man het meer vrug gedra en groter “boldness” aan die dag gelê oor sake wat met reg en geregtigheid te make het, as baie ander mense wat om “geloofsredes” niks met Moslems te make wil hê nie. Johan en Jana, wat op die oomblik in Indië is en vir weke lank in ʼn gebied gewoon het waar hulle byna op ʼn daaglikse basis met Moslems te make gekry het, kan nie uitgepraat raak oor die gasvryheid en die nederigheid en die liefde wat hulle onder die Moslems van Indië beleef het nie!

Wanneer ons oor die nageslag van Avraham praat, is daar natuurlik ook ʼn ander kant van die muntstuk. Dit gaan oor die vraag of fisiese Israel nog steeds die nageslag van Avraham is en of ons vandag ʼn nuwe definisie aan die begrip “geslag of nageslag van Avraham” moet toeken. Meeste van ons is bewus daarvan dat daar reeds kort na die aardse lewe van Y’shua ʼn neiging was onder Christene om ʼn uiters kritiese houding teenoor die Jode in te neem en uitsprake te maak wat daarop neerkom dat Yahweh die Jode as sy volk verwerp het en begin het om vir Hom ʼn nuwe volk uit al die nasies van die aarde saam te roep – almal wat tot geloof gekom het in Y’shua as die Messias. Hierdie standpunt sou later as “Replacement Theology” bekend staan. Tydens die Reformasie in die 16de eeu het die “Replacement Theology” ʼn nuwe bloei-tydperk beleef en die reformatore soos Martin Luther het met absolute venyn teenoor die Jode uitgevaar en die Skrif op ʼn bedenklike manier ingespan om Jode-haat onder die Christene aan te blaas.

Een van die reformatore wat nie heeltemal so bekend soos Martin Luther was nie, maar ʼn tydgenoot (en ʼn naamgenoot) van hom en iemand wat net so krities teenoor die Jode was (en ook ʼn Duitser), is Martin Bucer (uitgespreek: Butser). Martin Bucer is vandag (11 November 2017) presies 526 jaar gelede gebore en het nie altyd oor alles met sy tydgenote soos Martin Luther saamgestem nie. Hy het een keer die volgende uitspraak gemaak, toe daar ʼn geskil tussen hom en een van sy tydgenote was: “If you immediately condemn anyone who doesn’t quite believe the same as you do as forsaken by Christ’s Spirit, and consider anyone to be the enemy of truth who holds something false to be true, who can you still consider a brother? I for one have never met two people who believed exactly the same thing. This holds true in theology as well.” By ʼn ander geleentheid het hy gesê: “We must seek unity and love in our relationships with everyone, regardless of how they behave toward us.” ʼn Mens kry die indruk dat Bucer aan hierdie stuk wysheid vasgehou het, BEHALWE as dit by die Jode gekom het. As jy met Jode te doene kry, (só blyk dit uit Bucer se optrede later) hoef die Gees van die Messias nie jou gedrag te beïnvloed nie en geld geen Skriftuurlike beginsel wat oor ʼn mens se optrede teenoor ʼn broer of ʼn suster gaan nie.

Die “later” waarvan ons hier praat, was in die jare tussen 1530 en 1540 toe daar ʼn besluit in die Duitse streek van Hesse geneem moes word oor watter regte en voorregte die Jode mag geniet. Op daardie stadium het daar regoor Duitsland taamlike streng maatreëls gegeld wat baie beperkinge op die Joodse gemeenskappe gelê het. Die landgraaf (ʼn soort goewerneur) van Hesse het vir Martin Bucer gevra om aanbevelings te maak oor hoe daar teenoor die Jode in daardie streek opgetree moes word. Martin Bucer se antwoord was skokkend en ongenaakbaar. Weens die feit dat Judaïsme ʼn valse godsdiens is, het Bucer gesê, was dit nie verkeerd van ʼn Christen magistraat om te weier om hulle enigsins te verdra nie. Hy het Deut 28 aangehaal en gesê hulle was ongehoorsaam aan die verbond en moes daarvoor gestraf word. Geen sinagoges mag opgerig word nie; niemand mag ʼn afskrif van die Talmoed besit nie en bekering tot die Christendom is ook nie ʼn opsie nie. Op grond van Deut 28:43-44 (“Hulle sal die kop wees, maar julle die stert”) moes die Jode slegs in die mees degraderende beroepe van die provinsie geplaas word: steenkoolmakers; rioolverwydering en die hantering van karkasse van diere. ʼn Groot aantal Jode het, deels as gevolg van hierdie aanbevelings van Martin Bucer, die streek van Hesse verlaat en in ander dele van Duitsland gaan bly.

Toe die Yehudiem (of die Jode) in Johannes 8 met Y’shua geredeneer het omdat Hy onder meer vir hulle gesê het “Julle sal die waarheid ken en die waarheid sal julle vry maak”, het hulle probeer roem daarop dat hulle die nageslag van Avraham was. Y’shua se antwoord was: “As julle die kinders van Avraham was, sou julle die werke van Avraham doen.” Maar in sy hart het Y’shua nie die Jode, of enige ander groep mense, verwerp nie. Hy het hulle nie afgeskryf nie. Hy het nie ʼn streep deur hulle getrek nie. Hy het hulle met ʼn gees van sagmoedigheid en geduld en begrip vermaan en begelei en tot met sy dood volgehou dat Hy gestuur is vir die verlore skape van Israel. En selfs ná sy opstanding uit die dood, só lees ons in Joh 21, het Hy vir sy goeie vriend en dissipel gesê: Laat my lammers wei – met andere woorde: Moenie die verlore skape van Israel afskryf nie. Moenie die ander skape wat nog nie in die stal is, verwaarloos nie. Moenie enige skaap wat die potensiaal het om in te kom, met jou woorde of jou optrede verhinder om in te kom nie.

Die gees van mense soos Martin Luther en Martin Bucer is vandag nog met ons: Mense wat aanspraak maak dat hulle navolgers van die Messias is, maar nie die gesindheid van die Messias openbaar nie. Dit maak nie saak hoe belangrik jy jouself ag nie. Dit maak nie saak dat jou naam Martin Luther of Martin Bucer is nie. Dit maak nie saak hoe bekend jy is vir die dinge wat jy gesê het nie. Dit maak nie saak of jy ʼn Jood of ʼn nie-Jood is nie. As jy ʼn volgeling van die Messias of ʼn ware nasaat van Avraham wil wees, moet jy die werke van Avraham doen en die voorbeeld van die Messias navolg. En hierdie voorbeeld is nie om mense af te skryf nie. Ook nie om mense te probeer vernietig omdat hulle nie met jou saamstem nie. Ook nie om ʼn denkpatroon van “ons” en “hulle” aan te neem nie. Dit was Yahweh se plan van die begin af dat mense uit alle nasies in Avraham en sy nageslag geseën sou word. Ons moet seker maak dat ons op geen manier téén hierdie plan praat of werk nie en dat ons nie mense uitsluit wat eintlik bedoel was om ingesluit te word nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »