DIE GESKUD VAN YAHWEH SE SIF

alternate text 19 is een van die duidelikste hoofstukke in die Torah wat beide die aspekte van liefde tot Yahweh en liefde tot die naaste beklemtoon. Die hoofstuk begin sommer met die intrapslag met ‘n hele mondvol: “Afgesonder (letterlik: “ Afgesonderdes” – “kedoshim”) moet julle wees, want Ek, Yahweh julle Elohiem, is afgesonder” (vers 2). Dat sommige vertalings hier die woord “heilig” gebruik, is jammer. Hier het ons te make met ‘n soort afgesonderdheid wat nie bewys word met ‘n spesiale soort kleredrag, of ‘n spesiale amp, of ‘n spesiale manier waarop jy jou woorde uitspreek of ‘n spesiale kerklike roetine wat jy een maal per week volg nie . Dis ‘n leefstyl wat jou hele lewe in beslag neem en wat in die res van die hoofstuk uitgespel word. Hoe lyk hierdie leefstyl? Dit kan in twee hooftemas verdeel word – om Yahweh lief te hê en om jou naaste lief te hê. Hoe bewys ‘n mens jou liefde tot Yahweh? Daar is geen onduidelikheid in hierdie hoofstuk nie. Jy doen dit deur jou lewe te bou op die eerste tafel van die Tien Woorde. Die merkwaardige van Levitikus 19 is dat die hele eerste tafel (al vyf die eerste vyf gebooie) in ‘n beknopte formaat deur twee opeenvolgende verse weergegee word: Lev 19:3-4: “Elkeen moet sy moeder en sy vader vrees (5), en my Shabbatte hou (4). Ek is Yahweh julle Elohiem (3). Begeef julle nie tot die afgode nie (1) en maak vir julle geen gegote afgode nie (2). Ek is Yahweh julle Elohiem.” Verder is dit net so merkwaardig dat die woorde “Ek is Yahweh” of “Ek is Yahweh julle Elohiem” nie net in hierdie twee verse nie, maar reg deur die hele hoofstuk aanhoudend gebruik word (altesaam 15 keer) – ‘n duidelike aanduiding dat die derde gebod (oor die ydellike gebruik van die Naam van Yahweh) niks te make het met die aantal kere wat ‘n mens die Vader se Naam gebruik nie, maar eerder met die vervalsing, die ontwyding en die vertrapping van sy Naam, asook ‘n onvermoë om te erken dat Hy Yahweh is, iemand met ‘n Naam, en nie net sommer enige ander magtige nie.

Die tweede hooftema van Levitikus 19 is liefde tot ons naaste en ons hoor in hierdie hoofstuk nie net een keer nie, maar twee maal dat ons ons naaste en selfs die vreemdelinge, moet liefhê soos onsself (vers 18 en 34). Ook wat hierdie tema betref, word ons nie in die duister gelaat nie. Levitikus 19 spel dit uit dat liefde tot die naaste na vore kom wanneer ‘n mens die tweede tafel van die Tien Woorde gehoorsaam – wanneer jy nie steel en bedrieg en vals sweer of op enige manier jou naaste benadeel nie (Lev 19 noem onder meer voorbeelde soos verdrukking, selfsug, weerhouding van voorregte aan sommiges, partydigheid, haatspraak, ens). In ‘n hele aantal van die gesprekke wat Y’shua met sekere indiwidue gehad het, het Hy die aspek beklemtoon dat die Torah saamgevat kan word met hierdie twee hooftemas: Liefde tot Yahweh en liefde vir die medemens. Een van hierdie gedeeltes (Mark 12:28-34) vorm deel van die voorgestelde leesstuk van hierdie week.

Daar is ‘n baie interessante tendens wat na vore kom as mens Mark 12 vergelyk met twee ander hoofstukke in die Nuwe Testament waarin Y’shua (net soos in Mark 12) ook oor sekere aspekte van die Torah met ‘n hoofsaaklik Joodse gehoor gepraat het. Hierdie twee hoofstukke is Matteus 22 en Lukas 20. In al drie hierdie hoofstukke (Markus 12 ingesluit) praat Y’shua met sy gehoor oor sekere aspekte van die Torah. In Matteus 22 en Markus 12 wys Hy pertinent op die verdeling tussen die twee hooftemas, naamlik liefde tot Yahweh (ingesluit die belydenis dat Yahweh één is) en liefde tot jou naaste. En in al drie hierdie hoofstukke word vermeld dat Y’shua op ‘n sekere punt iets gesê het wat gemaak het dat niemand (van die Jode) dit meer gewaag het om aan Hom vrae te vra nie. Mat 22:46 “… ook het geeneen van daardie dag af dit meer gewaag om Hom vrae te stel nie”; Mar 12:34 “… en niemand het dit meer gewaag om Hom vrae te stel nie”; Luk 20:40 “… en hulle het Hom nie meer iets durf vra nie”.

Die vraag is wat presies dit is wat Y’shua gesê (of gevra) het wat gemaak het dat die Jode skielik hulle aptyt vir vrae vra en gesels verloor het. Die antwoord is verstommend! In al drie hierdie gedeeltes het die Jode begin stil bly toe Y’shua van die tema van die Torah af oorgegaan het na die vraag “Wie sê die mense is Ek?” Mat 22:42 “Wat dink julle van die Messias?” Mar 12:35 “Hoe sê die skrifgeleerdes dat die Messias die seun van Dawid is?” Luk 20:41 “Hoe is dit dat hulle sê dat die Messias die seun van Dawid is?” Wat is die rede vir hierdie skielike stilswye net mooi wanneer Y’shua oor die identiteit van die Messias begin gesels met die implikasie dat Hy moontlik self die beloofde Messias kan wees? Een van die drie hoofstukke, Mark 12:10, gee vir ons ‘n leidraad: “Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ‘n hoeksteen geword”. Ons sien hier ‘n vroeë aanduiding dat die steen wat deur Yahweh uitverkies is, deur die bouers verwerp gaan word. Hy gaan vir hulle ‘n steen van aanstoot wees. Van die Jode se kant af word daar geredeneer en vrae gevra en selfs geprys tot op ‘n punt, maar wanneer hulle met die moontlikheid gekonfronteer word dat hierdie een in hulle midde dalk die beloofde seun van Dawid kan wees, raak hulle gelaat skoon bleek en hulle monde so droog dat hulle nie meer ‘n enkele woord kan uitkry nie!

‘n Verdere leidraad oor wat werklik hier aan die gebeur was, kom uit die derde gedeelte wat deel vorm van hierdie week se voorgestelde leesstuk, Amos 9:7-15. ‘n Sleutelvers hier is Amos 9:9 “Ek sal die huis van Israel onder al die nasies skud soos wat ‘n sif geskud word, maar daar sal geen korrel op die grond val nie.” Hierdie vers word gewoonlik só verstaan dat dit impliseer dat die huis van Israel beproewing en swaarkry sal beleef (in ‘n sif geskud sal word), maar dat die hele huis van Israel, sonder uitsondering, gered sal word (geen korrel sal op die grond val nie). Hierdie vers moet egter saam met die voorafgaande vers gelees word: Amos 9:8 “Kyk, die oë van die Meester Yahweh is gerig teen die sondige koninkryk, en Ek sal dit van die aardbodem vernietig; maar Ek sal die huis van Yaákov nie totaal vernietig nie, sê Yahweh”. Die een vers sê Yahweh sal die huis van Yaákov nie totaal vernietig nie en net die volgende vers: geen korrel van die huis van Israel sal op die grond val nie. Kom ons hoor wat sê die res van die Skrif. Jes 10:20 En in daardie dag sal die oorblyfsel van Yiesraél en die wat ontvlug het van die huis van Yaákov, nie meer voortgaan om te steun op hom wat hulle slaan nie; maar hulle sal steun op Yahweh, die Afgesonderde van Yiesraél; Jes 46:3-4 Luister na My, o huis van Yaákov en die hele oorblyfsel van die huis van Yiesraél, julle wat deur My gedra is van die moederskoot af … tot die grysheid toe sal Ek julle dra … Ek sal julle dra en julle red; Sefanja 2:7 Dit sal die deel wees van die oorblyfsel van die huis van Yehudah … Yahweh hulle Elohiem sal op hulle ag slaan en hulle nood verander. In Rom 9:27 sluit Shaúl (Paulus) by hierdie tema van die oorblyfsel aan en haal hy woordeliks aan uit Jes 10:22: “Al is die getal van die kinders van Yiesraél soos die sand van die see, net die oorblyfsel sal gered word.” In dieselfde gedeelte haal hy ook aan uit die boek Hosea en sê hy dat Yahweh onomwonde verklaar het: “Ek sal die wat nie my volk is nie, my volk noem.”

Wat die volk Israel betref, is daar dus ‘n sif wat geskud word, maar dis ‘n omgekeerde proses in vergelyking met die sif wat vir koekbak gebruik word. Dis die “oorblyfsel” wat agterbly in die sif – hulle wat aan Yahweh getrou was, wat sy Torah in hulle harte bewaar het en aan sy beloftes vasgehou het – van hulle is daar geen korrel wat op die grond sal val nie. Y’shua se gesprekke met die Yehudiem bring aan die lig dat daar sommiges is wat onder die naam “huis van Israel” of “huis van Yehudah” bekend staan, wat “deurval” soos wat die sif meer en meer geskud word. En die Skrif openbaar verder dat daar andere is wat NIE van nature deel van Yahweh se volk is nie wat nou sy volk genoem word en wat (op absolute verrassende wyse!) ook nie deurval as die sif geskud word nie en dus ook deel van die oorblyfsel is. Die een, groot verdelende faktor is die Steen wat deur die bouers verwerp is. Die kritiese drempel wat gaan bepaal of jy deurval of nie, is dit vraag wat jy maak met die Seun van Dawid wat ook die Messias en die Seun van Elohiem genoem word. Daar is sommiges wat dink die Torah alleen is genoeg, daar is ander wat meen die Torah is uitgedien en onnodig. Daar is sommiges wat oordrewe klem lê op die uitspreek van die Shema en die feit dat Yahweh één is, daar is ander wat nie kan loskom van die valse idee dat Yahweh drie is nie. Daar is sommiges wat hulle toelê op die bestudering van die Parashot, daar is ander wat hulle toelê op die gawes van die Gees en die tekens van die eindtyd. Daar is sommiges wat die 613 wette van die Torah tot in die fynste detail analiseer en daar is ander wat hulle skuldig maak aan die gerieflike, maar oppervlakkige redusering van die hele Torah tot die twee hooftemas van vertikale en horisontale liefde. Maar die vraag is wie is dit wat skielik onverklaarbaar stilbly as jy oor die Messias en oor sy ware identiteit begin praat. Laat ons nie oorgerus raak oor waar ons staan met betrekking tot geloof en die Messias nie. Onthou die oorgerustheid van Kefa (Petrus) en die Messias se woorde aan hom: Luk 22:31 “Kyk, die Satan het vurig begeer om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie; en as jy eendag bekeerd is (of omgedraai het), moet jy jou broers versterk.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »