DAAR’S GENESING IN TEREGWYSING

alternate textSommige Joodse kommentators verwys na die boek van Devariem as “The Book of Reproofs” – “Die Boek van Teregwysings”. Devariem kan as ‘n latere kommentaar op die voorafgaande 4 boeke van die Torah beskou word (“Deuteronomium” – die naam wat die Griekse skrywers later aan hierdie boek toegeken het – beteken “tweede wet” of “herhaling van die wet”) en in die eerste gedeelte van die boek word ‘n kort samevatting gegee van die 40 jaar in die woestyn en word daar veral klem gelê op die talle kere dat die volk ongehoorsaam en rebels teenoor Yahweh was. Die bedoeling van Devariem is om terug te kyk (na die pas afgelope 40 jaar, wat in baie opsigte vol mislukkings en laagtepunte was), maar ook om vorentoe te kyk, na die toekoms, na die voortbestaan van die volk en na die vraag of hulle nog steeds ernstig is daaroor om die beloftes van die Torah te ontvang en die seën waarvan dit praat, hulle eie te maak. Daarom is daar baie teregwysings (“reproofs”) in hierdie boek. Dis asof hierdie laaste boek van die Torah die boodskap wil oordra: Moenie dat alles wat die afgelope 40 jaar gebeur het, tevergeefs blyk te wees nie. Moenie dat die lesse wat julle in die proses geleer het, soos mis voor die son verdwyn nie. Moenie die guns en die barmhartigheid en die vergifnis wat julle keer op keer uit die hand van Yahweh ontvang het, onder julle voete vertrap nie.

Dat die boek Devariem ten diepste ‘n Boek van teregwysings is, kan alreeds in die eerste vers gesien word – nie net in die manier waarop die boek begin word nie, maar ook in die beskrywing van die plek waar die woorde van hierdie boek aan die volk oorgedra word. Op watter manier word die boek begin? Die boek begin so: “Dit is die woorde (Heb: devariem) waarmee Mosheh die hele Yisraél toegespreek het …”. Daar is net twee ander plekke in die hele eerste gedeelte van die Torah (Gen tot Num) waar ons dieselfde uitdrukking, “dit is die woorde”, aantref. Die eerste volg net na Ex 19:5: “As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, sal julle my eiendom uit al die volke wees”. Die tweede keer is in Ex 35:1: “Dit is die woorde wat Yahweh beveel het, om dit te doen …”. Wat is so besonders aan die feit dat hierdie vyfde boek van die Torah begin met die aankondiging: “Dit is die devariem …”? Beteken “devariem” nie maar net woorde nie? Die antwoord is “ja” en “nee”. Kyk na albei die verse wat ons hier bo genoem het – beide praat van devariem as iets wat gedoen moet word. Devariem is woorde wat net sin maak as dit met dade opgevolg word. As daar nie dade ná die woorde volg nie, is dit bloot leë klanke wat geen betekenis en geen waarde het nie.

Kom ons kyk na ‘n paar voorbeelde van hoe die woord, devariem in die boek, Devariem, en in ander boeke van die Skrif gebruik word: “So het ek julle dan in daardie tyd al die dinge (devariem) beveel wat julle moet doen” (Deut 1:18); “En as al hierdie dinge (devariem) oor jou kom, die seën en die vloek wat ek jou voorgehou het …” (Deut 30:1); “Waarom doen julle sulke dinge (devariem), dat ek van hierdie hele volk julle slegte dinge (devariem) moet hoor?”(1 Sam 2:23); “U kneg het al hierdie dinge (devariem) op u woord gedoen …” (1 Kon 18:36). Uit hierdie voorbeelde kan mens duidelik sien dat devariem nie net dade impliseer nie, maar dat dit inderdaad ook dade is. Die woorde wat Yahweh reg aan die begin, in die boek Genesis, gespreek het, was in werklikheid skeppingsdade, soos “Laat daar lig wees”, “Laat daar ‘n lugruimte wees”, ens. Net so is die woorde wat in die Torah uitgespreek word, ‘n manier van lewe, ‘n lewenstyl, ‘n patroon van doen wat pas by die Een wat ons gemaak het, wat vandag nog aktief en werksaam is en begeer dat ons elke dag sy wil moet uitvoer.

Ons het vroeër gesê dat die bedoeling van die Boek, Devariem, ook gesien kan word in die beskrywing van die plek waar al hierdie woorde aan die volk gegee is. Hoe word die plek beskryf? Ons vind dit in die laaste gedeelte van vers 1: “Oorkant die Yarden, in die woestyn, op die Vlakte, teenoor die Rietsee, tussen Paran en Tofel en Lavan en Gatserot en Di-Zahav.” Daar is seker nie nog ‘n gedeelte in die hele Skrif waar daar só ‘n lang, onsamehangende beskrywing van EEN plek gegee word nie. Ons weet dit moes êrens oorkant die Yarden (die Jordaanrivier) gewees het. Die 40 jaar was nou so te sê verby en die volk was gereed om die Jordaanrivier oor te steek en die Beloofde Land in te neem. Maar was dit op die vlakte of in die woestyn; as dit in die woestyn was, watter woestyn? Was dit by Gatserot of by die Rietsee / Rooisee (volgens die meeste kaarte is Gatserot ver van die Rooisee af en ook ver van die Jordaanrivier). Waar is Tovel en Lavan en Di-Zahav en waarom word hierdie drie plekke nooit in enige beskrywing van die roete deur die woestyn genoem nie?

Hierdie onsekerheid en wydverspreidheid van die plekke wat in vers 1 genoem word het sommige kommentators tot die oortuiging gebring dat dit glad nie bedoeling in hierdie vers was om ‘n spesifieke plek te beskryf nie. Hulle meen dat dit eenvoudig ‘n seleksie was van sommige van die plekke en situasies waar die volk hulle tydens die 40 jaar in die woestyn bevind het. Nou is die vraag: Is daar ‘n gemene faktor? Wat het die skrywer laat besluit om net mooi daardie plekke te noem en nie ander plekke ook in te sluit nie? As mens ‘n bietjie dieper kyk, sien jy die patroon: Dit was almal plekke en situasies waar die volk in ongehoorsaamheid téén die woorde van Yahweh gehandel het en sy Gees bedroef het. In die heel eerste vers kan mens inderdaad sien dat die boek Devariem ‘n boek van Teregwysing is – teregwysing wat daarop gemik is om die volk weer op die regte pad te bring en te verseker dat hulle geloof nie ontspoor nog voordat hulle die Beloofde Land binne-gaan nie.

Die eerste verwysing (behalwe die woorde “oorkant die Yarden” wat moontlik die enigste letterlike beskrywing van die posisie van die volk was) was eenvoudig: “in die woestyn”. Ons tref hierdie selfde woorde aan in die beginstadium van die 40 jaar periode: Exo 16:2: “En die hele vergadering van die kinders van Yiesraél het teen Mosheh en teen Aharon in die woestyn gekerm.” Die volgende vers sê dat hulle gewens het dat hulle in Mietsrayiem kon woon (en selfs kon sterf) waar hulle by die vleispotte gesit het en volop brood geëet het. Hierdie teregwysing is gemik op die voortdurende gekla van die volk en die gees van ontevredenheid en onvergenoegdheid wat kort-kort na vore gekom het.

Die tweede verwysing is die woorde “op die vlakte”. Hierdie vlakte verwys na alle waarskynlikheid na die vlakte van Moav en die verskriklike sonde van die aanbidding van Baál Peór wat die volk daar begaan het (Num 25). Hierdie teregwysing is in die eerste plek gemik teen afgodediens en is bedoel om die volk opnuut daaraan te herinner dat Yahweh die enigste Elohiem is en dat Hy alleen aanbid en vereer moet word. Die woord Peór is afgelei van ‘n woord wat “gaping” of “opening” beteken en die aanhoor van hierdie woord sou ook hierdie duidelike boodskap inhou: Moenie in jou geloof en in jou navolging van Yahweh enige gaping of opening toelaat wat daartoe kan lei dat iets of iemand tussen jou en Hom kan inskuif nie!

Die derde verwysing is “teenoor die Rietsee” en hierdie woorde sou die volk heel moontlik herinner aan die woorde van Num 21:4: “Toe trek hulle van die berg Hor af weg op pad na die Rietsee om die land Edom om te trek; maar die siel van die volk het op die pad ongeduldig geword.” Ongeduld is een van die eienskappe wat kort-kort kop uitgesteek het en wat tot vele oortredings gedurende die 40 jaar periode gelei het. Hierdie teregwysing is net so ook op ons van toepassing: Moenie dat ongeduld, en ‘n onvermoë om te wag op Yahweh, meebring dat jy sy seën en sy gemeenskap misloop nie!

Die vierde verwysing is na “Paran” en daar bestaan min twyfel dat die volk hier aan die uitstuur van die 12 verspieders sou dink, wat vanuit Paran plaasgevind het (Num 13). Die houding van die 10 verspieders (Yahushua en Kalev uitgesonderd), by hulle terugkoms, was ‘n houding van ongeloof en vrees omdat hulle Yahweh se woord nie onvoorwaardelik kon glo nie.

In die vyfde verwysing moet “Tofel” en “Lavan” waarskynlik saam gelees word. Aanduidings is dat daar nie sulke plekke op die roete deur die woestyn was nie, maar deur die twee woorde langs mekaar te plaas, kom die volgende betekenis na vore: “die veragting of die slegmaak van iets wat wit is” en ons het hier heel moontlik ‘n verwysing na Num 21:5: “Waarom het U ons uit Mietsrayiem laat optrek om in die woestyn te sterf? Want daar is geen brood en geen water nie, en ons siel walg van die ellendige brood.” Hier sien ons ‘n blatante veragting van die (witkleurige) manna wat Yahweh voorsien het en een van die voorvalle in die woestyn waaroor niemand trots sou wees nie (en direk tot die plaag van die giftige slange en die oprig van die koperslang gelei het).

Die sesde verwysing is na Gatserot, die plek waar Mieryam en Aharon vir Mosheh gekritiseer het en smalend vir hom gevra het: Het Yahweh dan net met Mosheh gepraat? (Num 12). In die gedeelte word dit duidelik dat hierdie minagting van die outoriteit wat deur Yahweh daar gestel is, as ‘n sonde beskou word wat “in dwaasheid” begaan is en onder meer daartoe gelei het dat Mieryam met melaatsheid gestraf is. Ook hierdie bestraffing is vir ons, vandag, baie veelseggend!

Die sewende verwysing is na “Di-Zahav” – nog ‘n plek wat nie geïdentifiseer kan word nie, maar wat vertaal kan word as “te veel goud” en heel moontlik ‘n verwysing is na die sonde met die goue kalf. Wat was die eintlike sonde met die goue kalf? Te midde van al die verklarings wat uit alle oorde vir hierdie donker episode gegee word, staan hierdie een vir my voorop: Die menslike neiging om die Almagtige te wil sien en te wil voel en te wil ervaar, sodat ons as mense Hom kan hanteer en selfs kan manipuleer soos wat ons goed dink (‘n basiese oortreding van die tweede Gebod). Dit kom in ons dag op talle maniere na vore en die boek Devariem waarsku onteenseglik teen hierdie tendens!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »