SHABBAT: KLIMAKS VAN DIE SKEPPING

alternate textTwee weke gelede het ons oor Noag gepraat wie se naam “rus” beteken en gesien dat daar ‘n verband tussen Noag en die Messias is, want Jesaja 11:10 het voorspel dat daar ‘n wortel en ‘n takkie uit die stam van Isai sou voortkom wat ‘n banier vir die nasies van die wêreld sal wees en wie se rusplek (“manoag”) voortreflik (“kavod”) sal wees. Met ander woorde, in hierdie nasaat van beide Noag en Dawid sal mense ‘n soort rus vind wat met voortreflikheid, gewigtigheid en diepe betekenis gevul is. Die tragedie is dat ons geagte kerkvaders van die tweede en die derde eeu dit goed gedink het om die rus wat in die Messias gevind kan word, los te maak van die rus van die Shabbat – dat hulle die rus van die Shabbat heeltemal verwerp het en aan die Christelike kerk tot vandag toe ‘n verwronge idee van die Shabbat nagelaat het. Want, het hulle gesê, die Shabbat is vir die Jode gegee, terwyl die Messias vir die res van die wêreld gekom het. Vandag is dit duidelik dat hierdie siening van die vroeë kerkvaders NIE op die volle waarheid van die Skrif gebou was nie, maar gebore was uit ‘n obsessie om alles wat ‘n “Joodse” kleur het, uit die Christelike geloof te verwyder.

Die vierde gebod (oor die Shabbat) is die enigste gebod wat melding maak van die feit dat Yahweh die Skepper van hemel en aarde is. Skepping en Shabbat is onlosmaaklik aan mekaar verbind – in ses dae het Yahweh geskape en op die sewende dag het Hy gerus. Ons kan nie sê ons glo in die Skepping, maar ons glo nie in die Shabbat nie. Elke keer as die Skrif verklaar dat Yahweh die hemel en die aarde geskape het, verklaar dit by implikasie dat Hy op die sewende dag gerus het. Die grootste verskil tussen Yahweh en die sogenaamde gode van die nasies wat Hom nie ken nie, is dat Hy in ses dae die hemel en die aarde geskape het en op die sewende dag gerus het. Daarom sê Jer 10:10-12 “Yahweh is waarlik Elohiem, Hy is die lewende Elohiem … Die magtiges wat die hemel en die aarde nie gemaak het nie, sal vergaan van die aarde af en onder hierdie hemel uit … Yahweh het die aarde gemaak het deur sy krag … en die hemel uitgespan het deur sy verstand.” Om die Shabbat te verwerp, is nie om jou rug op die Jode te draai nie, dis om jou rug te draai op die waarheid dat Yahweh die Skepper van hemel en aarde is. In Exodus 31:17 lees ons hierdie woorde: “In in ses dae het Yahweh die hemel en die aarde gemaak, maar op die sewende dag het Hy gerus en Hom verkwik.” Die Hebreeuse woord vir “en Hy het hom verkwik” is “vayinnafash”, waarin die woord “nefesh” voorkom, wat normaalweg met “siel” verklaar word. Na aanleiding hiervan het sommige verklaarders al gesê dat Yahweh Hom nie net verkwik het op hierdie dag nie – Hy het op hierdie dag ook aan sy skepping ‘n “siel” gegee. Om die rus van die Shabbat uit die week weg te neem, het dieselfde uitwerking as wanneer jy die siel uit ‘n mens sou wegneem – dit verloor die doel en betekenis van sy bestaan!

As ‘n mens die dag van die Shabbat met die ander ses dae van die week vergelyk, lyk dit op die oog af of daar nie veel van ‘n verskil is nie – In Engels kan dit selfs met dieselfde naam beskryf word: Shabbat = “the Rest (Afr. “rus”) of the Week”; die ander ses dae = “the rest (Afr. “res”) of the week”. Maar die hart en die wese van Shabbat is totaal anders as die res van die week!

Vir ses dae probeer ons ons uiterste bes om selfversorgend te wees; op die Shabbat leer ons om Yahweh toe te laat om vir ons te sorg.

Vir ses dae fokus ons op die waarde van projekte en plekke en planne en programme; op die Shabbat fokus ons op die waarde van tyd en die manier waarop ons Skepper na tyd kyk.

Vir ses dae werk ons daaraan om vir onsself ‘n plek van veiligheid en shalom in hierdie wêreld te skep; op die Shabbat betree ons die plek van veiligheid en shalom wat Yahweh vir ons in hierdie wêreld geskep het.

Vir ses dae word ons gedryf deur ons koorsagtige gejaag om genoeg bymekaar te maak. Op die Shabbat vind ons rus in die wete dat ons in Yahweh reeds genoeg het.

Vir ses dae hou ons net op met werk as ons moeg of siek of verward of afgedank is. Op die Shabbat hou ons uit eie keuse op met werk om Hom te eer wat ons in staat stel om te werk.

Vir ses dae dink ons aan beloning en verdienste. Op die Shabbat dink ons met groot dankbaarheid aan die guns en seën en gawes van Bo.

Vir ses dae jaag ons dinge na wat vir ons oorvloed en voortreflikheid kan bring. Op die Shabbat hou ons op met ons gejaag en geniet die oorvloed en voortreflikheid van Yahweh wat ons rondom ons kan sien.

Vir ses dae voel ons skuldig as ons nie besig bly en iets doen nie. Op die Shabbat gee ons uitdrukking aan die waarheid dat ‘n mens nie hoef te DOEN om te kan WEES NIE.

Vir ses dae is ons blootgestel aan die modes en die geite en die spelreëls van hierdie wêreld. Op die Shabbat bely ons dat die spelreëls van die wêreld nie die reëls van Yahweh oortref nie.

Vir ses dae word ons omring en opgeslurp deur die gees van ons tyd. Op die Shabbat staan ons opsy sodat die vars bries van hierdie dag ons soos ‘n aangename lentegeur kan omring.

Vir ses dae is daar noodwendige beperkinge op ons leefstyl as afgesonderdes in hierdie wêreld. Op die Shabbat kry ons die geleentheid om iets van die afgesonderdheid van Yahweh tot binne-in hierdie wêreld in te dra.

Vir ses dae hou ons aan met elke taak totdat daardie taak voltooi is. Op die Shabbat kies ons om op te hou, soos mense wat vrygeraak het van die “deadline” om take te voltooi, omdat hulle weet dat Yahweh alles sal volbring.

Vir ses dae beoefen ons die menslike eienskap van om alles te doen wat in jou mag is om te doen. Op die Shabbat gee ons plek aan die verhewe eienskappe van selfbeheersing, terughouding en tot rus kom wat ons by Yahweh geleer het.

Vir ses dae kan ons so obsessief besig met dinge raak dat dit ons gemoed en karakter negatief kan beïnvloed. Op die Shabbat word ons verkwik en kry ons kans vir herstel – onder meer ook van die emosionele skade aan ons gemoed en karakter.

Vir ses dae stoei ons met die wêreld en probeer ons om goeie saad in die aarde te plant. Op die Shabbat gee ons aandag aan die saad van die ewigheid wat reeds in ons eie siel geplant is.

Vir ses dae van die week word ons met ‘n warboel en ‘n verskeidenheid van boodskappe gebombardeer. Op die Shabbat leer ons daardie fyn ingesteldheid om Yahweh se stem binne hierdie geraas te kan uitken.

Vir ses dae van die week moet ons tevrede wees met die korrupsie, verwarring en wanorde wat dreig om hierdie wêreld te verswelg. Op die Shabbat kry ons geleentheid om deel te neem aan die ritme en orde wat Yahweh in sy skepping ingebou het.

Vir ses dae van die week beleef ons daagliks ons diepe behoefte om Yahweh beter te kan hoor en dieper te kan vertrou. Op die Shabbat neem ons “time-out” om hierin te kan groei.

In ons bestaan van elke dag kan ons normaalweg onderskeid maak tussen dinge wat goed en reg is en dinge wat so uitstaande is dat jy nie anders kan as om dit uit te sonder en eenkant te plaas nie. In die filosofie word daar normaalweg net gesoek na dit wat goed en reg en logies is. In die wêreld hou meeste mense hulle daagliks besig met dinge wat alledaags en gewoon is. Die Skrif leer ons egter dat ons nie net dit wat goed en alledaags is moet najaag nie, maar ook dit wat afgesonder is. Aan die einde van elkeen van die ses skeppingsdae het Yahweh verklaar dat dit goed was. Oor die sewende dag het hy verklaar dat dit afgesonder was – so uitstaande en so vol van betekenis en so swanger van belofte dat mens nie anders kan as om dit eenkant te plaas en plek in jou lewe daarvoor te maak nie. Abraham Heschel het gesê: “The seventh day has the flavor of the seventh heaven and was given as a foretaste of the world to come … Unless one learns how to relish the taste of Sabbath … one will be unable to enjoy the taste of eternity in the world to come.” Shabbat is die raakpunt tussen die skepping en die mens se hunkering terug na sy Skepper. Ons behoort nie hierdie hunkering op enige manier te onderdruk of te ontken nie. Ons behoort die gawe van die Shabbat soos ‘n kosbare skat te koester en vir ons nageslag te bewaar! En nie net ons nie, maar almal wat erken dat Yahweh die Skepper van hemel en aarde is, behoort met hulle hele hart terug te keer na hierdie dag wat so ‘n wesenlike deel van die ontwerp en die plan van ons Skepper is!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »