‘N DAGBOEK MET ‘N HART

alternate textDie boeke van 1 en 2 Kronieke word miskien nie so gereeld soos die Psalms gelees nie, maar daar is iets besonders in hierdie boeke vir ons opgesluit. Baie mense het al gewonder waar die naam “kronieke” vandaan kom. Almal van ons onthou vir Gus Portokalos, die pa van die “bride to be” in “My Big, Fat, Greek Wedding” en sy groot liefde vir die Griekse taal: “Give me a word, any word, and I show you that the root of that word is Greek” het hy altyd gesê. Kronieke is ook só ‘n woord. Dit kom van die Griekse “chronos” wat onder meer in die Afrikaanse woord “sinchroniseer” gesien kan word en dit beteken eenvoudig TYD of TYE. Die boeke van Kronieke is ‘n beskrywing van die tyd of tye van die konings van Israel. Eintlik kom dit van die Hebreeuse begrip “Divré Hayamim” wat letterlik die “dinge, sake of rekords van die dae” beteken. Die twee boeke van Kronieke (1 en 2 Kronieke) is presies dit – die rekords of die dagboek van die dae van die konings van Israel. Die interessante feit is dat die benaming “Divré Hayamim net EEN KEER in 1 en 2 Kronieke self voorkom, maar dat dit 37 keer in die res van die Skrif voorkom – die meeste keer in die hele Skrif dat die naam van ‘n enkele boek in ander boeke genoem word (1 en 2 Kronieke was aanvanklik net een boek en ons gaan dit vandag slegs as een boek hanteer). Die tipiese manier waarop daar na Kronieke in die ander boeke verwys word, kan gesien word in hierdie voorbeeld: 2 Kon 21:25 “En die verdere geskiedenis van Amon, wat hy gedoen het, is dit nie opgeskryf in die Kroniek boekrol van die konings van Yehudah nie?”

Wat is so besonders aan Kronieke? Ek wil hierdie vraag só beantwoord: Die feit dat ons hier met ‘n rekordboek, ‘n dagboek, ‘n administratiewe boekrol, ‘n daaglikse roetine-boek te make het wat nooit uit die oog uit verloor waaroor dit eintlik gaan in die lewe nie. Hoe weet ons dit? Ons weet dit onder meer omdat die woord “hart” 64 keer in hierdie boek voorkom, gemiddeld een keer per hoofstuk (daar is 65 hoofstukke in die boek). Ons weet dit omdat die totale aantal kere dat woorde soos siel en gees en lewe en guns en barmhartigheid en goedertierenheid en liefde in Kronieke voorkom, ongeveer 66 is. Dus word daar gemiddeld 2 keer per hoofstuk oor dinge in hierdie administratiewe boekrol gepraat wat ‘n mens nie normaalweg in ‘n so ‘n tipe dokument sou verwag nie. Kronieke se verborge boodskap is dat ons nie die hart uit ons daaglikse aktiwiteite moet haal nie. Om met sake van die dag besig te wees, beteken nie dat ons tussendeur die sake van die hart mag verwaarloos nie. Watter soort taal gebruik ons in ons daaglikse omgang met mense? Verstaan ons die kuns om ons joernaal-taal en ons vertel-taal, met die taal van die hart in te kleur, sodat dit nie meer net blote taal is nie, maar ‘n manier om vir iemand te wys dat hy of sy vir jou kosbaar is. Dis net die hart wat sin en betekenis aan die “alledaagsheid” van ons lewe kan gee. Die woordeboeke sê dat die Hebreeuse woord vir hart met “understanding, courage, awareness, comfort, intellect, care and wisdom” te make het. Om bloot deur die “ropes” te gaan en elke dag se sake aan te pak sonder die kwaliteite van begrip en respek en medelye en omgee en sensitiwiteit en hartlikheid, gaan die vreugde en die vrede uit jou uit tap sodat jy later soos ‘n uitgedroogde lap voel. Kom ons kyk net na ‘n paar van die “hart” gedeeltes in die boek van Kronieke.

1 Kron 12:33 “Van Zevulon het 50 000 aangesluit, toegerus vir oorlog met allerlei krygswapens en hulle was nie met ‘n dubbele hart nie” (Hebreeus: “Lo Lev valev”; Amplified: “with undivided heart”; NIV: “with undivided loyalty”; LB: “totally loyal”; The Message: “unswervingly loyal” New Life Version: “as if they had one heart”). Wat het van die aspek van “lo lev valev” – “onverdeelde lojaliteit” in ons dag geword? Mens sien dit nie eintlik meer in gemeenskappe nie. Dit het ‘n vergete aspek in werk- en besigheid-etiek geword. Verhoudings tussen mense staan op onvaste grond omdat dubbelhartigheid en onegtheid en oneerlikheid en gebrek aan lojaliteit ‘n inkomplek gekry het en selfs gemeentes spat soms uitmekaar omdat daar nie ‘n sterk genoeg begeerte by elkeen is om sy of haar hart met die harte van ander te verenig nie. ‘n Mens dink hier aan die uitdaging wat Joshua in Joshua 24 voor die hele volk gestel het: Kies vandag wie julle wil dien – as dit vir julle verkeerd is om Yahweh te dien, volg dan die magtiges van die Amoriete – wat my betref: Ek en my huis, ons sal Yahweh dien! Mag Yahweh vir ons ‘n hart gee soos Joshua, want toe die volk nog in die woestyn was en die harte van 10 van die 12 verspieders versmelt het, het hy (saam met Kaleb) van harte (en uit één hart) met die volk gepraat en hulle oortuig dat Yahweh die Beloofde Land in hulle hand sal oorgee (Joshua 14:7-8).

1 Kron 17:19 “Yahweh, ter wille van u kneg en ooreenkomstig u hart het U hierdie hele groot saak gedoen om al hierdie groot dinge bekend te maak.” Die groot dinge wat Yahweh in hierdie hoofstuk aan Dawid bekend gemaak het, is dat sy seun, Salomo, die tempel sou bou en dat Dawid se koninkryk, deur sy seun Salomo en sy verdere nageslag, ‘n ewige koninkryk sou wees. Dis die enigste keer in die hele Skrif dat daar so direk na die hart van Yahweh verwys word en dat ons hoor dat die Almagtige iets “ooreenkomstig sy hart” bekend gemaak het (2 Sam 7:21 beskryf presies dieselfde gebeurtenis met byna identiese woorde). ‘n Vraag wat ons gerus weer en weer vir onsself kan afvra, is of ons regtig daarop ingestel is om te weet hoe die Vader se hart vir ons klop. Wat Hy in sy hart van ons verlang en vir ons begeer. En of dit wat in sy hart is, dalk anders is as wat in ons hart is. Ons almal weet en besef dat Hy ons harte ken. Maar ken ons sy hart en doen ons genoeg moeite om sy hartklop te leer ken? Dink net hoeveel anders sal ons dagboeke begin lyk as ons daarop ingestel word om na die hart van ons hemelse Vader te lewe!

1 Kron 22:19 “Rig nou julle hart en julle siel daarop om Yahweh julle Elohiem te soek”. Hierdie is Dawid se woorde aan almal wat sou help met die bou van die tempel. Verbeel jou ‘n bouer sê dit vandag vir sy handlangers! Verbeel jou die bestuurder van ‘n groot besigheid sê dit vir sy personeel! Verbeel jou ‘n president sê dit vir sy kabinet! Verbeel jou iemand skryf aan die einde van ‘n gewone dag die volgende inskrywing in sy dagboek: “Dit het vandag nie so maklik gegaan nie maar ek het my hart en my siel daarop gerig om Yahweh te soek in alles wat ek gesê en gedoen het.” Baie mense sal sê: Maar so iets pas net nie meer in ons wêreld nie! Ons norm is nie die wêreld wat sy Skepper uit die prentjie uitgehaal het nie. Ons norm bly steeds die Woord en die wêreld het vandag daardie norm nodiger as ooit tevore. Die wêreld waarin ons leef kan dóén met die andersoortige wysheid van Yahweh en sy Woord. En in hierdie tyd waarin depressie aan die orde van die dag is – dikwels omdat daar rigtingloosheid en doelloosheid in mense se lewens inkruip, kan dit ons lewens ingrypend verander as ons na hemelse waardes begin soek en dit weer déél van ons dagboeke maak!

2 Kron 6:14 “Yahweh, Elohiem van Yiesraél, daar is in die hemel of op die aarde geen Elohiem soos U nie, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir u knegte wat voor u aangesig wandel met hulle hele hart.” As ons steeds wonder daaroor of dit vandag nog relevant is om die Skepper met ons hele hart en siel te soek (sien vorige paragraaf), dan behoort hierdie vers ons te oortuig. Ons inspirasie vir só ‘n kopskuif kom nie uit onsself nie, dit kom nie van ander mense nie, dit kom ook nie van die gees van hierdie wêreld nie. Dit kom van die Een van wie die Skrif onomwonde verklaar: Daar is nie nog Iemand in die hemel of die aarde soos Hy, wat só gereed staan om sy guns en sy getrouheid te bewys teenoor hulle wat Hom met hulle hele hart soek en met hulle hele hart voor Hom wandel nie. Ek het ‘n gevoel die moderne mens het sy kapasiteit om reg te soek, verloor. Ons weet hoe om te soek – dis verseker. Google en die internet gaan byna in sy geheel oor SOEK. Maar dáár soek mense om beter te kan sien en te verstaan en te beleef. Om na Iemand of Iets te soek wat jy nie kan sien nie, is byna ongehoord in ons dag. Om na iets te soek wat op die vlak van die hart en die siel en die gees lê, is ‘n dimensie waarop die moderne mens sy rug gedraai het omdat hy met die beginsel van “SIEN IS GLO” gebreinspoel word. Y’shua het geweet hoe belangrik hierdie kopskuif is toe Hy vir Tomas gesê het: “Omdat jy gesien het, het jy geglo – geseënd is hulle wat nie gesien het nie en tog geglo het!”

2 Kron 32:6-8 “Hiskia het na hulle hart gepraat en gesê … by ons is meer as by hom (die koning van Assirië). By hom is ‘n vleeslike arm, maar by ons is Yahweh onse Elohiem om ons te help.” Hiskia het hier met sy soldate gepraat. Ek dink nie dit sou ver verkeerd wees om die beginsel wat Hiskia hier noem, op die verhouding tussen ‘n gelowige man en ‘n gelowige vrou van toepassing te maak nie. Twee mense wat Yahweh aan hulle kant het, kan ook na mekaar se harte praat en sê: By ons is meer as by hulle (wat Yahweh nie erken nie). Hulle steun op ‘n vleeslike arm, maar ons steun op Yahweh. Ons bou ons verhouding op Hom. In ons liefde vir mekaar, vind ons ons inspirasie by Hom. Om te vergewe is nie maklik nie, maar ons leer dit by Hom. Om mekaar volledig te aanvaar, is deksels moeilik – veral in die begin van ‘n verhouding – maar ons motivering is die feit dat Hy ons aanvaar, net soos ons is. Dit herinner nogal aan Prediker 4:12 wat sê ‘n driedubbele koord word nie maklik verbreek nie. As dit net twee is en hulle maak net staat op hulleself – hulle vleeslike arm – dan is dit ‘n koord wat maklik kan breek. Maar as dit ‘n driedubbele koord is – met die weg van Yahweh wat soos ‘n derde, onverbreekbare ankertou in die koord van twee mense in ‘n verhouding ingeweef is, dan het daardie twee mense die volste reg om te sê: “By ons is meer as by hulle!”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »