MONUMENTE VAN GELOOF

alternate textDie Parashah van Gen 23:1 tot 25:18 wat “Chayei Sarah” (The life of Sarah) genoem word, beskryf die dood van beide Sarah en Avraham. Sarah se lewe en dood word saamgevat in Gen 23:1-2 “En die lewensjare van Sarah was honderd sewe en twintig jaar. Dit was die lewensjare van Sarah. En Sarah het gesterf in Kieryat-Arba, dit is Gevron, in die land Kenaán; en Avraham het gekom om oor Sarah te rouklaag en haar te beween.” Die vreemde manier waarop vers 1 in Hebreeus geskryf word, het baie mense al laat kopkrap (die uitdrukking “die jare van die lewe van Sarah” word twee maal gebruik – een keer mét haar ouderdom en een keer sonder haar ouderdom). Die bekende Joodse Rabbi, Rashi, se verklaring was dat die eerste deel van die vers ‘n beskrywing van die kwantiteit van die jare van haar lewe was (127 jaar) en die tweede deel ‘n beskrywing van die kwaliteit van die jare haar lewe: Omdat die getal jare in die tweede deel weggelaat word, is die veronderstelling dat “all of them were equally good”.

Avraham se lewe en dood word beskryf in Gen 24:1 (En Avraham was oud en ver op sy dae, en Yahweh het Avraham in alles geseën) en Gen 25:8 (Avraham het die asem uitgeblaas en in goeie ouderdom gesterf, oud en afgeleef – The Scriptures: “aged and satisfied”). As ‘n mens Rashi se verklaring van Sarah se lewensjare wat almal “ewe goed” was, aanvaar, dan beteken dit dat die Skrif vir ons aandui dat beide Sarah en Avraham geseënd en vervuld en tevrede was toe hulle gesterf het. Die versoeking is groot om te vra: Maar hoe is dit moontlik? Op Yahweh se woord moes hulle eers alles verlaat wat vir hulle bekend was. Hulle was skaars in die nuwe land, toe breek daar hongersnood uit en hulle moes vlug na Egipte. Twee keer is Avraham byna doodgemaak omdat hy vir Sarah probeer beskerm het. Saam is hulle geloof tot die uiterste toe beproef omdat hulle vir so lank nie kon kinders kry nie. En dit terwyl Yahweh herhaaldelik belowe het dat Hy vir hulle ‘n nageslag soos die sand van die see sou gee. En dan nog die episode met Hagar en Ishmael en die onophoudelike spanning tussen Sarah en Hagar, die omstrede byvrou in hulle huishouding. En die traumatiese gebeure rondom die opdrag wat Avraham ontvang het om sy seun Yietsgak te gaan offer – ‘n episode wat sommige Skrifverklaarders meen indirek tot die dood van Sarah gelei het. Hoe kan die Skrif sê dat Sarah se lewensjare almal ewe goed was en dat Avraham in alles geseënd was?

‘n Mens verstaan iets van Sarah en Avraham se tevredenheid en geseëndheid as jy na die res van hierdie leesstuk kyk. Na Sarah se dood, spits Avraham hom toe op twee sake: (1) Om ‘n stukkie land in die hande te kry waar Sarah begrawe kan word en (2) Om ‘n vrou vir sy seun Yietsgak te vind. Die eerste het te make met sy eie grond en die tweede met sy eie nageslag. Grondbesit en ‘n groot nageslag was juis die twee kern aspekte van die belofte wat Yahweh soveel keer teenoor Avraham uitgespreek het. Sewe keer het Yahweh vir hom die belofte van landbesit gegee (bv. in Gen 13:14: so ver as wat hy kon sien “na die noorde en suide, na die ooste en weste”) en minstens vier keer die belofte van ‘n groot nageslag (Gen 12:2; 13:16; 15:5 en 17:5).

‘n Stukkie grond by Magpela om vir Sarah te kan begrawe is beswaarlik die vervulling van Yahweh se belofte dat hy die lengte en die breedte van daardie land sou besit. Maar dit was ‘n begin, en Avraham was tevrede. “A journey of a thousand miles begins with a single step.” Eers moes Avraham vir Efron die Getiet smeek om vir die stukkie grond te betaal, maar toe hy uiteindelik instem, vra hy vir hom 400 shekels, wat volgens alle aanduidings hopeloos te veel vir so ‘n stukkie grond was. 800 jaar later het Dawid slegs 50 shekels silwer vir Aruana se dorsvloer betaal! Die punt is egter: Avraham het herhaaldelik die belofte gekry dat Yahweh vir hom, nie net ‘n stukkie grond nie, maar ‘n groot land sou gee. Op hierdie punt, kort voor sy dood, besit hy nog nie eens ‘n stukkie grond waarop hy sy vrou kan begrawe nie en moet hy ten duurste betaal vir iets wat nie eens ‘n breukdeel is van wat aan hom belowe is nie. Maar hy is tevrede en hy beskou homself as geseënd! En die mense wat hom geken het, beskou hom as geseënd! Waarom? Omdat hy die eerste stap geneem het en in die geloof geweet het dat Yahweh die proses sal voleindig. In een van die ou Joodse geskrifte staan daar: “It is not for you to complete the work but it is also not for you to stand back from it.” Om geseënd te wees, is nie noodwendig om die vervulling van Yahweh se beloftes te sien of te smaak nie. Dit is om te weet dat jy op die pad is wat tot hierdie vervulling sal lei en in die geloof die eerste tree te gee, terwyl jy die res aan Yahweh oorlaat.

Wat is die betekenis van Magpela? Verskillende mense en groepe heg verskillende betekenisse aan hierdie bekende baken in die hedendaagse Gevron. Meeste daarvan het met die dood en grafte te make. Avraham en Sarah is daar begrawe. Yietsgak en Rievkah is daar begrawe. Yaakov en Leah is daar begrawe. En volgens ‘n Joodse legende is Adam en Gawah ook daar begrawe. Wat ‘n mens egter nie baie hoor nie, is dat Magpela ‘n monument van geloof is. Magpela is die bewys, tot vandag toe, dat Avraham Yahweh se beloftes geglo het en volgens daardie geloof geloop en gelewe het. Die Chinese spreuk waarna ons vroeër verwys het, “A journey of a thousand miles begins with a single step” in sy mees oorspronklike vorm, het só geklink: “The journey of a thousand miles begins beneath one’s feet.” Om die pad van geloof met ‘n reis te vergelyk, beteken minstens drie dinge: (1) jou voete moet plat op die aarde wees – moenie vir jou ophou met teorieë en raaiskote en abstrakte idees oor geloof nie; (2) jy moet bereid wees om jou voete te gebruik – die voordele van die reis gaan nie na jou toe aangerol kom nie, en (3) die reis begin onder jou eie voete – hier en nou, sonder om uit te stel, sonder om te huiwer.

Die Hebreërskrywer (in Heb 11) het ‘n lysie gemaak van sommige van die dinge wat ons voorlopers in die geloof gedoen het, as ‘n teken dat hulle die reis van die geloof vol-uit geloop het. Abel het begeer om ‘n offer te bring wat vir Yahweh aanneemlik sou wees; Henog het met Yahweh gewandel en probeer om Hom in alles te behaag; Noag het met eerbiedige vrees die ark gereed gemaak sodat diegene wat Yahweh uitgekies het, gered kon word; Avraham het in gehoorsaamheid weggetrek toe Yahweh hom geroep het; Yietsgak het vir Yaákov en Esau geseën met die oog op die toekoms; Yaakov het vir Yahweh tot in sy ouderdom aanbid (“terwyl hy op die knop van sy staf geleun het”); Yosef het seker gemaak dat die uittog uit Egipte nooit vergeet word nie; Mosheh het geweier om die seun van Farao se dogter genoem te word. En al hierdie voorlopers in die geloof het deur hulle geloof “getuienis ontvang” (m.a.w. hulle is versterk en bemoedig deur die woorde van Yahweh), maar nie een van hulle het die belofte ontvang nie (Heb 11:39). Die geheim is dat hulle volgehou het soos mense wat die onsienlike sien (Heb 11:1; 11:13 en 11:27). Al hierdie dinge het vêrreikende betekenis vir ons.

1. Selfs al sien ons nie die vervulling van Yahweh se beloftes aan ons nie, kan ons nog steeds geseënd en tevrede wees.
2. Geloof maak ‘n mens tevrede en vervuld, al het jy teen die einde van jou lewe nog nie eens ‘n stukkie grond of die bewys van ‘n groot nageslag of die satisfaksie van groot prestasies nie.
3. Die rede waarom geloof vir ons tevredenheid bring, is omdat dit nie in onsself of in ander mense of in ons omstandighede gegrond is nie, maar in Yahweh en in Hom alleen.
4. As ons die woorde van Fil 1:6 reg wil verstaan, “Hy wat ‘n goeie werk in julle begin het, dit sal voleindig tot op die dag van Y’shua die Messias”, moet ons saam daarmee ook die waarheid van die Joodse spreuk erken, “It is not for you to complete the work but it is also not for you to stand back from it.”
5. As ons die gebed van Psalm 90:12 reg wil bid, “Leer ons om ons dae so te tel dat ons ‘n wyse hart mag bekom”, moet ons leer om nie die een dag met die ander dag te vergelyk nie, en ook nie die “goeie seisoene” met die “minder goeie seisoene” nie, maar liewer raak te sien dat Yahweh deurlopend sy hand oor ons gehou het en dat ons daarom seker kan wees dat Hy dit ook in die toekoms sal doen. Die dae of die jare van ons lewe bestaan nie net uit getalle of losstaande gebeurtenisse nie – Yahweh gee daaraan ‘n kwaliteit wat maak dat ons kan sê: “all of them were equally good”.
6. Kom ons begin om rondom ons te kyk na die talle monumente van geloof wat ons so maklik vergeet wanneer ons ons in ‘n seisoen van swaarkry en kleingeloof bevind.
7. Wanneer ons bitter min sigbare bewyse kan sien van Yahweh se beloftes van seën, bly daar vir ons drie dinge oor om te doen: (1) Kyk eers af na jou eie voete en die aangewese pad wat van jou voete af, vorentoe loop, en (2) kyk dan vorentoe na Y’shua die Leidsman en Voleinder van ons geloof en (3) begin om met volharding die wedloop te loop wat voor jou lê (Heb 12:1-2).

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »