MOENIE DIE BEGIN UIT DIE OOG VERLOOR NIE!

alternate text is ‘n spreekwoord wat lui: “Goed begonne is half gewonne.” (Engels: “Well begun is half done”). As ‘n saak op die regte manier aangepak word en reg begin word, is die kanse goed dat dit gaan slaag. As die fondasie reg gelê word, sal die gebou of die projek nie later ineen stort nie. En, volgens die Skrif, as ‘n mens die motivering en die oortuiging en die entoesiasme en die toewyding wat jy aan die begin gehad het, verloor, is jy op ‘n gevaarlike plek en het dit nodig geword om terug te keer na jou eerste geloof (1 Tim 5:12), die eerste beginsels van die woorde van Elohiem (Heb 5:12), jou eerste liefde (Opb 2:4) en jou eerste werke (Opb 2:5).

Die feit dat die Skrif begin met die woorde “In die begin het Elohiem die hemel en die aarde gemaak”, is vir ons as gelowiges van absolute kardinale betekenis. Reg aan die begin was Elohiem daar. Reg aan die begin het Hy alles gemaak. En as die kroon van sy skepping het Hy die mens gemaak. Ons het ons bestaan aan Hom te danke. Ons bestaan hier op aarde het geen betekenis, as ons dit van Hom af probeer los-leef nie. Ons mens-wees, ons bestaan as skepsels (“created beings”) sal nooit koers kry as ons ons begin en ons oorsprong by die Skepper uit die oog verloor, of selfs verloën nie. Vir iemand wat glo dat sy eie bestaan hier op aarde by ‘n persoonlike Skepper begin het, is dit natuurlik en logies om hierdie Skepper op te soek, sy Naam te leer ken en sy wil te probeer naspeur. Dit is wat dit in wese beteken om die pad van geloof te bewandel – om elke deeltjie van jou bestaan in verband te bring met die Een wat jou gemaak het.

As ‘n mens slegs die Voor- Messiaanse Geskrifte neem (of die TaNaK – bestaande uit 39 boeke in ons Bybel, maar oorspronklik slegs 24 boeke: Samuel, Konings, Kronieke, Esra-Nehemia en die 12 kleiner profete, saam gegroepeer as enkel boeke), dan begin die bundel by die inleidings-uitspraak van Gen 1:1, “In die begin het Elohiem die hemel en die aarde geskape” en eindig dit met 2 Kron 36:23 “So sê Koresh, die koning van Persië: Al die koninkryke van die aarde het Yahweh, die Elohiem van die hemel, aan my gegee, en Hy het my opgedra om vir Hom ‘n huis te bou in Yerushalayiem wat in Yehudah is. Enigeen onder julle wat aan sy volk behoort – mag Yahweh sy Elohiem met hom wees, en laat hom optrek!” Die laaste vers in die TaNaK sluit duidelik aan by die eerste vers van die TaNaK. Die sleutelwoorde, Elohiem, hemel en aarde kom in albei verse voor. Die Elohiem wat hemel en aarde geskape het, is die Een wat die koninkryke van die aarde gee aan wie Hy wil. Hulle wat erken dat Hy alleen die Skepper is, is ook hulle wat die reg het om aan sy volk te behoort, of by sy volk aan te sluit. Van hulle word gesê: Mag Yahweh, hulle Elohiem met hulle wees, sodat hulle met vrede kan optrek na die plekke waarheen hulle wil optrek, en met oortuiging die dinge kan doen wat hulle wil doen.

As ‘n mens die Na-Messiaanse Geskrifte (of die Nuwe Testament) neem en jy begin met Markus (wat as die oudste van die vier Evangelies beskou word), dan begin hierdie bundel ook met ‘n inleidings-uitspraak in Mark 1:1, “Die begin van die goeie nuus van Y’shua die Messias, die Seun van Elohiem” en dit eindig met Openbaring 22:19-21 “En as iemand iets van die woorde van die boekrol van hierdie profesie wegneem, dan sal Elohiem sy deel wegneem uit die boom van die lewe en uit die afgesonderde stad en uit die dinge waarvan in hierdie boekrol geskryf is. Hy wat dit getuig, sê: Ja, Ek kom gou. Amein, ja kom, Meester Y’shua! Die guns van die Meester, Y’shua sy met almal!” Reg aan die einde van die Skrif in sy geheel, kan ‘n mens nog steeds die lyn optel, wat van die begin af daar was. Die verwysing na “Elohiem” en “die boom van die lewe” verwys terug na die Skepping en die begin van die Skepper se pad wat Hy met die mense van hierdie wêreld gestap het. Die verwysing na die Meester Y’shua verwys terug na die eerste vers van Markus wat Y’shua beskryf as die Messias en die Seun van Elohiem. “Meester” (Grieks: “kyrios”) is ‘n oorkoepelende titel wat reg deur die Nuwe Testament gebruik word, om uitrukking te gee aan die feit dat Y’shua van Nasaret nie net as die beloofde Messias geïdentifiseer is nie, maar ook dat Hy as Rabbi of Leermeester sy volgelinge onderrig het, en uiteindelik soos Rom 1:4 dit stel, “met krag verklaar is as die Seun van Elohiem deur die opstanding uit die dode”. Op hierdie manier sluit die einde van die Nuwe Testament een honderd persent aan by die begin van die TaNaK, maar ook by die begin van die Nuwe Testament, oftewel, die bedeling van die Messias. In sy grootheid het Elohiem nie net die hemel en die aarde geskape nie, Hy het ook sy Seun na hierdie wêreld gestuur en so vir ons sy guns laat leer ken – soveel só dat ons die laaste seënwens van die Skrif volledig vir onsself kan toe-eien: Mag die guns van die Meester Y’shua met julle almal wees! Opvallend is ook die feit dat beide testamente met ‘n seënwens eindig wat byna woordeliks ooreenstem, met die enigste verskil wat opgesluit lê in die besonderse guns wat ons deur die koms van Y’shua ontvang het: TaNaK: “Mag Yahweh, julle Elohiem, met julle wees, sodat julle kan optrek soos julle wil!” en Nuwe Testament: “Mag die guns van die Meester Y’shua met julle almal wees!”

Ons sal goed doen as ons te alle tye die suiwere en korrekte beginpunt van ons geloof voor oë hou. As ‘n mens na die inhoud en die eienskappe van die Bybelse geloof van ons dag kyk en jy vergelyk dit met die geloof van die eerste gelowiges van wie daar in die boek van Handelinge gepraat word, is dit beslis een van die eerste vrae wat ons vir onsself moet afvra: Is ons geloof nog ‘n voortsetting en ‘n getroue weerspieëling van die geloof wat ons by daardie eerste Messiaanse gelowiges kan sien? Het ons ons kontinuïteit met die Begin behou? Of het ons dalk in die strik van Spreuke 20:21 getrap: “’n Erfporsie wat aan die begin haastig bymekaar geskraap is – die einde daarvan sal tog nie geseënd wees nie”? Het die generasies van gelowiges sedert die tyd van die Messias nie dalk die flater van Prediker 10:13 begaan nie, wat daarop neerkom dat as die begin van die woorde van jou mond dwaasheid is, dan sal die einde van die woorde van jou mond skadelike onverstandigheid wees (Engels: “mischievous madness”)?

Die apostel Jakobus (Yaakov) is een van die manne in die Nuwe Testament wat daarvoor gepleit het dat die begin nie uit die oog verloor moet word nie. Toe daar ‘n belangrike besluit geneem moes word oor hoe presies die gelowiges uit die heidendom die Torah moes onderhou, het hierdie Yaakov, die leier van die gemeente in Jerusalem, die toon aangegee in Hand 15:13-18: “Broeders, luister na my! Shiemón het vertel hoe Elohiem in die begin uitgesien het om ‘n volk uit die heidene vir sy Naam aan te neem. En hiermee stem die woorde van die profete ooreen, soos geskryf is: Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawied weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel, sodat die oorblyfsel van die mense Yahweh kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, sê Yahweh wat al hierdie dinge doen. Aan Elohiem is al sy werke van ewigheid af bekend.” Yaakov bring die nodige perspektief wanneer daar sekere kritieke besluite geneem moet word toe die gemeentes van Y’shua nog in hulle babaskoene was. Dit was Elohiem se plan van die begin af om ‘n volk uit die heidene vir sy Naam aan te neem. Nie ‘n nuwe geloof nie. Nie ‘n nuwe volk nie. Nie ‘n volk wat Israel sou uitsluit nie, maar ‘n volk wat ‘n oorblyfsel van beide Israel en ander nasies sou insluit. Dit is wat met die herstel of die her-oprigting van die vervalle hut van Dawid bedoel word. Aan die een kant moet daar nie van die gelowiges uit die heidendom verwag word om besny te word nie, maar aan die ander kant is hulle saam met die Joodse gelowiges déél van die herstelde hut van Dawid en sou hulle Shabbat na Shabbat in die Torah onderrig word.

Yaakov was ‘n uiters strategiese rolspeler in die vroeë geskiedenis van die geloof wat ons vandag ook as ons geloof beskou. Yaakov was die broer van Y’shua (Mark 6:3), ook bekend as Yaakov die Regverdige, omdat hy altyd die Torah nougeset onderhou het, en een van die eerste getuies dat Y’shua uit die dood uit opgestaan het (1 Kor 15:3-8). Volgens Hegesippus (‘n Joodse bekeerling tot die geloof in Y’shua en ‘n geskiedskrywer van die tweede eeu ná Messias) was Yaakov die een wat in die tempel deur die tempel owerhede vermoor is omdat hy aan die een kant volledig aan die tempel aktiwiteite deelgeneem het, maar aan die ander kant bely het dat Y’shua die deur of die poort na die Troon van Elohiem is. Hierdie Yaakov (nie te verwar met Yaakov, die seun van Sebedeus nie) is ‘n sleutelfiguur om die boodskap van die Nuwe Testament reg te verstaan. Die Nuwe Testament verkondig nie ‘n nuwe geloof nie. Dit verkondig die herstel van die vervalle hut van Dawid. Dat Shaúl of Paulus nie ‘n ander boodskap as Y’shua verkondig het nie, word bevestig deur Yaakov, die een wat histories tussen Y’shua en Shaúl gestaan het en wat op ‘n dag in die midde van die apostels opgestaan het en die gelowiges in Jerusalem daaraan herinner het dat aan Elohiem al sy werke van ewigheid bekend is. Wat beteken dit? Dit beteken dieselfde as wat in Jes 46:9-10 beskryf word: “Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek Elohiem is, en daar is geen ander nie; Ek is Elohiem, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen”. As ons Skepper, Yahweh, altyd handel met ons volgens dit wat Hy aan die begin oor ons besluit het en dit wat Hom aan die begin behaag het (m.a.w. dit wat sy wil reg aan die begin was), dan is dit niks minder as reg nie dat ons ook, net soos Yaakov en die vroeë gelowiges, nooit van die patroon van die begin moet afwyk nie en nooit moet toelaat dat enige iets of enige iemand die fondament en die waarheid van die begin, uit ons geloof moet probeer wegneem nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »