LIEFDE VIR SY WOORDE

alternate textDie twee mees bekende Hebreeuse woorde wat met liefde te make het, is “ahav” en “ahavah”. Saam, word hierdie twee woorde ongeveer 250 keer in die Ou Testament gebruik. Die interessante ding is dat net sowat 20 van hierdie 250 sinne waarin die woorde “liefde” of “liefhê” voorkom, pertinent sê dat Yahweh sy volk lief het of sal liefhê. Net 8 persent gaan oor Yahweh se liefde vir sy volk! Die res gaan oor ander vorme van liefde. En natuurlik, verreweg die meeste van die “liefdesverse” in die Skrif is ‘n oproep dat ons vir Yahweh sal liefhê. Om na hierdie stukkie statistiek alleen te kyk is natuurlik uiters misleidend. Yahweh het sy liefde teenoor sy volk deur en deur bewys met dade van verlossing, barmhartigheid, lankmoedigheid, goedgunstigheid, vergifnis, beskerming en selfs nog baie ander manier. Dis nie nodig vir Hom om woorde soos “ahav” of “ahavah” te gebruik nie. Die manier waarop Yahweh by uitnemendheid sy liefde teenoor sy volk betoon is nie om liefdeswoorde te praat nie, maar om liefdesdade te betoon.

Die verdere interessante feit is dat meeste van die 20 plekke waar Yahweh sê dat Hy sy mense lief het of sal liefhê, word gekoppel aan die oproep dat hulle sy woorde en sy lering (of sy Torah) sal liefhê. Die voorgestelde leesstuk van hierdie week begin met Deut 7:12-13 “Omdat julle na hierdie verordeninge sal luister en dit hou en vervul, sal Yahweh jou Elohiem vir jou die verbond en die goedertierenheid hou wat Hy jou vaders besweer het; en Hy sal jou liefhê en jou seën en jou vermenigvuldig”. Hierdie is die tweede van die 20 plekke waarin Yahweh sy liefde vir sy volk verklaar. (Die eerste is Deut 4:37). En hierdie verklaring is ineengeweef met die veronderstelling dat die volk sy verordeninge sal “hou en vervul”. Die derde liefdesverklaring van Yahweh teenoor sy volk, kom ook in die leesstuk van hierdie week voor, in Deut 10:15: “Maar net aan jou vaders het Yahweh ‘n behae gehad om hulle lief te hê, en Hy het julle, hulle nageslag na hulle, uit al die volke uitverkies, soos dit vandag is.” Hierdie liefdesverklaring word gekoppel aan Deut 10:12-13 “Wat eis Yahweh jou Elohiem van jou as net om Hom te vrees, in al sy weë te wandel, Hom lief te hê, Hom te dien met jou hele hart en met jou hele siel, en sy gebooie en insettinge te hou?”

Kom ons kyk na sommige van die liefdesverklarings van Yahweh se kant af, in die res van die Skrif. Spr 15:9 “Die wandel van die afvallige is vir Yahweh ‘n gruwel, maar hom wat geregtigheid najaag, het Hy lief.” (Let daarop dat dit hier gaan oor sy liefde vir hulle wat geregtigheid najaag). Sefanja 3:17 “Yahweh jou Elohiem is by jou, ‘n held wat verlossing skenk. Hy verheug Hom oor jou met blydskap; Hy swyg in sy liefde; Hy juig oor jou met gejubel.” (Hierdie uitspraak word gemaak teenoor mense wat na Yahweh se stem luister en sy tugtiging aanneem – vers 2 – asook hulle wat nie sy Torah verkrag nie – vers 4 – en Hom met ‘n eenparige skouer dien – vers 9). Maleagi 1:1-2 “Ek het julle liefgehad, sê Yahweh.” (Hierdie hoofstuk vorm ‘n eenheid met hoofstuk 2, waar hierdie liefde gekoppel word aan die veronderstelling dat die “Torah van waarheid in hulle mond” sal wees – Mal 2:6 – en dat hulle die sal ophou om in die weg van Yahweh te wandel nie – Mal 2:9.)

Niemand kan dit ontken dat alle mense smag na liefde nie. Die tema van liefde steek sy kop uit op elke terrein van die samelewing. As jy mense se aandag wil trek, praat net met hulle oor liefde, of vertel ‘n storie wat oor liefde gaan. Daarom is daar soveel films en boeke en musiek en selfs kursusse en konferensies oor liefde. Dit is in die DNA van mense ingebou om te wil liefhê en liefgehê te word. En omdat dit die Skepper is wat hierdie DNA in ons ingebou het, behoort ons by die Skepper (in sy Woord) te gaan kers opsteek om meer uit te vind oor liefde. Hoe lyk ware liefde? En hoe betoon of bewys ‘n mens jou liefde?

Ons het nou reeds gesien dat Yahweh verkies om sy liefde met dade te bewys, eerder as om aanhoudend te sê dat Hy ons lief het. Die omgekeerde is ook waar. Wat ons Skepper in die eerste plek van ons verlang, is nie om aanhoudend liefdesverklarings teenoor Hom te maak nie, maar eerder om ons liefde te bewys en uit te leef. En die een manier waarop ons ons liefde behoort uit te leef, volgens die Skrif, is om Yahweh se woorde lief te hê en sy woorde en sy weë na te volg. Om net te verklaar dat ons Hom liefhet, is nog nie ‘n bewys van ons liefde nie, maak nie saak of ons so ‘n verklaring teenoor onsself of teenoor ander mense of teenoor Yahweh self maak nie. Toe Y’shua met sy volgelinge oor die eindtyd gepraat het, het Hy vir hulle gesê dat die liefde van die meeste mense in die laaste dae sal verkoel (Mat 24:12). Het Hy bedoel dat die mense in die laaste dae minder oor liefde gaan praat of minder boeke oor liefde gaan lees of minder na liefdesliedjies gaan luister? Nee, Hy het baie duidelik nie so iets in gedagte gehad nie. Hy het gepraat daarvan dat mense Yahweh se weë gaan verlaat en nie meer hulle lewens volgens sy woorde gaan inrig nie.

Ek het die laaste tyd na talle boeke gekyk waarin daar na redes en oplossings gesoek word vir die toenemende wegbeweeg en selfs aversie van godsdiens en geloof. Kerke loop leeg, mense verklaar openlik dat hulle nie meer glo nie, omdat hulle moeg is vir die gestaltes van geloof en die wrange vrugte van die godsdienste van die wêreld. Daar is al hoe meer stemme wat pleit vir vernuwing op die terrein van geloof en godsdiens: sommiges pleit vir “religionless Christianity”; andere sê ons moet geheel en al ontslae raak van die “garment of Christianity”; al hoe meer oproepe word gehoor vir ‘n “restructurings of our institutions”; daar is stemme wat opgaan vir “more romantic, forms of experiential, pluralistic religion”; in die media word daar geluide gehoor van “the new spirit of a global ethic of environmentalism” wat die plek moet inneem van die tradisionele patrone van kerk-wees en die tipiese etiese uitsprake wat net op die Skrif gebaseer is; in aansluiting hierby meen sommiges “we should move away from religion and come closer to true spirituality”; daar is oproepe vanuit verskeie oorde vir ‘n soort “interfaith awakening without doctrines of salvation”, “a new sense of the mystical unity of all mankind” en “the vital power of harmony between man and nature”, terwyl al hoe meer mense glo dat wat nodig is vandag, is “waking up and seeing the world as it is, not as it was” (met verwysing na Lot se vrou wat in ‘n soutpilaar verander het toe sy omgekyk het).

So ‘n ruk gelede het iemand met die naam Anne Rice haar “bedanking” as Christen amptelik op Facebook bekend gemaak: “Today I quit being a Christian. I’m out. I remain committed to Christ as always, but not to being ‘Christian’ or to being part of Christianity.” En dan volg sy dit op met hierdie uitspraak: “I refuse to be anti-feminist. I refuse to be anti-artificial birth control. I refuse to be anti-Democrat. I refuse to be anti-secular humanism. I refuse to be anti-science. I refuse to be anti-life. In the name of Christ, I quit Christianity and being Christian. Amen.” Vir Anne was daar net te veel “anties” in die Christelike geloof. As sommige mense na óns kyk en die praktyk van ons geloof, sou hulle seker ook bygevoeg het: I refuse to be anti-pork and I refuse to be anti-christmas.

Die feite van die saak is dat daar oor die geskiedenis heen, letterlik honderde sulke vernuwings en oplewings en periodes van herstel en ontwaking plaasgevind het – elke keer teen die agtergrond van dinge wat begin skeef loop het en ook teen die agtergrond van nuwe insigte wat en nuwe openbarings wat mense gekry het, binne die veranderende tye waarin hulle geleef het. Ons weet klaar dat “religionless Christianity” nie die oplossing is nie. Ons weet ook dat die herstrukturering van kerke en institusies nie gaan help nie. Om meer romantiese vorms van geloof na te jaag is ‘n gejaag na wind (Iemand het my eendag gebel en gesê hy soek een van daardie “funky” gemeentes om by aan te sluit, waarop ek vir hom baie gou verduidelik het dat hy nie by ons gehelp gaan word nie). Die antwoord lê ook nie in meer geestelikheid, ‘n ander stel etiese waardes of groter harmonie tussen die mens en die skepping nie. En om te pleit vir die verwydering van die woord “anti” uit die praktyk van ons geloof uit, is ‘n manier om die gees van die Anti-Messias aan te wakker en ‘n duidelike aanduiding dat mense nie wil voorgeskryf word wat om te doen nie.

Die enigste manier om terug te keer na ons eerste liefde, daardie eerste gestaltes van entoesiasme en verwondering oor die grootheid en die liefde van Yahweh, wat ‘n mens aanhou inspireer en motiveer om te bly staan by dit waarvan jy oortuig is en te bly glo in die Een wat jou by die naam geroep het en te bly wandel op hierdie pad van geloof, is om terug te keer na Yahweh se woorde en afstand te doen van enige deeltjie van jou lewe wat afwyk van die patroon wat Hy met sy woorde neergelê het. As ons weet dat die liefde van Yahweh die grootste geskenk is wat iemand ons kan gee, waarom sou ons enigiets doen om hierdie liefde van ons af weg te stoot en iets anders in die plek daarvan na te jaag?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*

:nice: :wink: :up: :glad: :ooo: :oops: :lol: more »