Wat doen mens op die Shabbat?

YM, Mpumalanga

Ek vind Elim Ministries baie insiggewind en “n aanwins. Dis vir my besonders om die waarheid oor Yahweh en Sy woord te leer! Die regte benamings van Yahweh ens.

Ek het “n vraag oor die Shabbat? Wat mag gedoen word op die rusdag van Yahweh, is dit ‘n dag wat ek moet afsonder soos in tyd alleen met Yahweh, mag ek soos in geen werk verrig nie, mag ek nie in ‘n openbare plek wees dan nie, ek is so bietjie in die duister hieroor! Ek weet dit begin van sonsondergang op ‘n vrydag tot sonsondergang saterdag, maar ek wil weet wat moet ek doen! Die Torah is vir my belangrik soos die skrif se ek kan nie al die ander gebooie onderhou maar die een verbreek nie! Kan jy ASB vir my lig gee op die onderwerp sodat ek beter begrip het?

KOMMENTAAR:

Dis lekker om van jou te hoor. Die Shabbat is, soos jy self sê, bedoel om ‘n rusdag te wees. Die Skrif sê daar mag geen werk op hierdie dag gedoen word nie. Ons weet uit die Skrif dat dit nie beteken jy mag nie loop of opstaan of ligte aktiwiteite doen wat nie werke is wat jou moeg maak nie. Y’shua het deur die gesaaides geloop en koring gepluk en dikwels op plekke gekom waar daar ander mense was en siekes gesond gemaak op die Shabbat. Dus is die werk wat jy nie behoort te doen nie, in die eerste plek beroepswerk, maar dan ook ander tipes aktiwiteite – dinge wat jou moeg maak en uitput, of jou tyd in beslag neem sodat jy nie die Shabbat behoorlik kan hou of jou weghou van die byeenkoms saam met ander gelwoiges wat ook die Shabbat eerbiedig – wat volgens Lev 23:3 een van die dinge is wat ons op die Shabbat BEHOORT te doen. Koop en verkoop word spesifiek verbied. So ook die tipiese manier van kos voorberei wat in die res van die week gevolg word. ‘n Mens kan al die voorbeidings vir etes op die Shabbat vóór Vrydagaand of ná Saterdagaand doen. Die beginsel van Jes 58 dat ‘n mens op hierdie dag nie jou gewone gang (van die res van die week) moet gaan nie, is ‘n goeie riglyn. Dit is in ‘n neutedop wat die Skrif duidelik oor die Shabbat sê. Daar is grys areas wat moeilik is, dit weet ons almal, maar dit behoort al hoe meer die begeerte van ons harte te wees om Yahweh te eer deur hierdie dag (wat op vier plekke in die Skrif ‘n “teken” genoem word van ons verbintenis met Hom) só in te rig dat mense rondom ons waarlik die verskil kan sien.