Watter dag is Shabbat?

MB, Stellenbosch

Ek glo ook dat die sabbatdag die 7de dag van die week is, maar gister lees ek op een van die websites, wat ook YAHWEH volg dat Saterdag vernoem is na Saturn en dat as ‘n mens Saterdag as die sabbatdag hou, gee jy eer and “Saturn” en nie aan YAHWEH nie.

Hulle glo dat ons kalender nie YAHWEH se kalender is nie en dat die sabbatdag eerder op ‘n Dins/Woensdag val. Ek is nie seker watter een hulle hou nie.

Ek en my familie het van sowat 2 jaar gelede begin uitvind oor al die verkeerde goed wat aan ons deur die kerke vertel word en ook van al die geheime organisasies wat eintlik satan aanbid. Ons was geskok en het ook begin huis skoonmaak en al die goed met verkeerde tekens begin verwyder. Ek het toevallig julle website ontdek en dit was regtig fantasties om alles te lees.

Ek het in die NG kerk grootgeword en is ook daarin aangeneem, maar is al jare nie meer daar nie.

My ouers het ook dikwels oor die sabbatdag en doop en ander sake van die kerk gewonder.
Ongelukkig kon hulle nooit die waarheid uitvind nie en is al lankal oorlede.

Kommentaar

Dit was aangenaam om van jou te hoor. Het self ook al gehoor van die standpunt waarna jy verwys, maar dink nie ‘n mens hoef dit té ernstig op te neem nie. As ons volgens die herkoms van die name van die dae van die week moes oordeel, is daar nie eintlik een dag van die week wat “kwalifiseer” om die Sabbatdag te wees nie. Die verwarring en die vermenging wat met verloop van tyd rondom die Sabbat ingetree het, is aan mense se toedoen te wyte en beslis nie omdat Yahweh, of sy Woord ons hieroor in die duister laat nie. Ons kan seker wees die Messias het die Sabbat op die regte dag gevier en daar is geen twyfel nie dat die Jode (en getroue volgelinge van die Messias) sedertdien (tot vandag toe) nog nooit ‘n fout gemaak het om elke sewende dag as Sabbat te vier nie.