Waar begin ‘n mens?

HS, Worcester

So lank deursoek ek die internet na die waarheid. Ek en my eggenote is al meer as 18 jaar gelede gedoop in n sogenaamde vernuwingskerk,(albei in die NGK en in baie christelike huise grootgeword) maar al meer en meer agtergekom dat daar meer moet wees as wat ons geleer word. Ons behoort vandag nie meer aan n kerk nie, maar voel ook regtig ver van Yahweh af. Kerk is vir my een groot leuen, tog het ek elke dag n soeke na die waarheid.

Ek het vanaand op Elim Ministries se website afgekom en kon nie genoeg gelees kry nie. Ek weet dat Yahweh lank al met my praat oor die Torah en Shabbat en uit Babilon wegkom, maar weet nie waar om te begin nie. Kerke het ons deur die jare al so verwar dat ek al soms al die bestaan van Yahweh betwyfel het.

Waar begin ek en my gesin?

Kommentaar

Ek is baie bly jy het van jou laat hoor. Ek wens ek kon vir jou wys hoe baie briewe ons ontvang van mense wat ‘n soortgelyke belewing met die bestaande kerkstruktuur gehad het as julle. Die feite is: talle mense soek na die waarheid, en tog is daar uiteindelik net ‘n handjievol wat deurdruk en aanhou soek, totdat hulle dit gevind het – of ten minste ‘n voorsmakie daarvan gekry het. As ‘n mens eers by daardie punt uitgekom het is jy soos die koopman van Matteus 13:45 wat na mooi pêrels gesoek het en toe hy daardie een baie kosbare pêrel kry, gaan hy weg en verkoop alles wat hy het, en koop dit. Uit my hart uit wil ek julle graag aanmoedig: Druk deur en hou aan soek, totdat julle daardie pêrel gevind het – Yahweh sal julle oor en oor beloon.

Ek kan vir julle materiaal oor baie onderwerpe aanstuur, maar meeste daarvan is reeds op ons webtuiste. Laat weet asb. as daar enige iets is waaroor julle graag meer wil weet. Ons het nie al die antwoorde nie, maar ons kan met julle deel wat in die verlede vir ons gehelp het. Ons maak ook CD opnames van al ons Shabbat dienste, en as julle wil kan ek dit (gereeld) vir julle aanstuur. Daar is reeds heelwat mense regoor die land wat hiervan gebruik maak. ‘n Goeie plek om te begin is om saam met jou gesin (en ander gesinne wat moontlik mag belangstel) op ‘n Shabbat (d.w.s. Saterdag) bymekaar te kom, na een van ons CD’s te luister en dan saam daaroor te gesels. Die Woord laat by ons geen twyfel dat Yahweh se volk, asook die gelowiges in die Messias wat na sy hemelvaart op hulle eie bene moes staan, oor al die eeue vasgehou het aan die opdrag om afgesonderde byeenkomste op die Shabbat te hou (Vgl. onder meer Levitikus 23:3 – die vertalings “heilige vierdag” of “holy convocation” praat duidelik van ‘n samekoms of byeenkoms – al is dit net een gesin).

Dis ook belangrik om ‘n Skrifvertaling te hê waarin die Name van die Vader en die Seun nie met ander woorde vervang is nie en wat in sy geheel so na as moontlik aan die mees oorspronklike manuskripte is. Daar is ‘n Engelse vertaling beskikbaar (“The Scriptures” – die verspreiders is in Johannesburg) en ons versprei ‘n A4 formaat Afrikaanse Vertaling (professioneel gebind met donkermaroen afwerking – ons noem dit “Woord en Getuienis”). Daar is besonderhede hieroor op ons webtuiste.

Sal graag julle adres en tel nommer wil hê vir die toekoms – hopelik is daar geleentheid om mekaar beter te leer ken. Ons wens julle Yahweh se seën en wysheid toe vir hierdie pad.