Voorbereiding vir die verdrukking

JK, Worcester

Ek is naarstiglik op soek na ons eie leiers. Waar is die persone wat begin om voorbereiding te tref vir die Verdrukking en wie gaan die leiers wees in die ‘Wildernis kampe’ en waar gaan dit wees? Ek het my Verdrukking ‘go-bag’ reg, maar dit help nie ek weet nie waarna toe om te gaan en vir wie om te bel nie!

Kommentaar

Die kwessie van te min geestelike leiers om gelowiges te begelei wat ernstig is daaroor om die Skrif voluit deel van hulle lewens te maak, is ‘n werklike probleem en myns insiens ook iets wat betreur moet word.

My eie verstaan van sulke leiers is egter nie heeltemal dieselfde as wat jy in jou email beskryf nie. Ek lees nie in die Skrif dat ons gelowiges (en leiers) moet voorberei vir aanpassing in wildernis kampe nie. As daar sulke kampe of toevlugsoorde geskep moet word, of ander noodmaatreëls getref moet word, indien die situasie aan die einde sodanige reëlings vereis, kan ons Yahweh vertrou dat Hy die plekke, mense en middele wat hiermee verband hou, sal voorsien en sal bekendmaak. Daar is letterlik tientalle gedeeltes in die Skrif wat daarop dui dat Yahweh, op ‘n soewereine manier, die “oorblyfsel” (of uitverkorenes) wat aan Hom getrou bly, aan die einde sal bewaar en sal beskerm. Hierdie bewaring en beskerming sal volgens die Skrif meebring dat sommige gelowiges mag sterf en sodoende nie aan die ekstreme ellende van die laaste dae blootgestel word nie. Ons hoef nie in wildernis kampe te gaan saamtrek, oorlewingsvoorrade bymekaar te maak en rampbestuur toe te pas, terwyl die omstandighede rondom ons nog relatief “normaal” is nie. Niemand van ons weet wanneer die Messias weer kom nie – daarom lê ons “gereed wees” vir sy koms veral op die vlak van gehoorsaamheid aan Yahweh en sy Woord en ‘n onwrikbare vashou aan Y’shua en sy getuienis.