Waar begin mens?

SO, Johannesburg

Ek weet nie eers waar om te begin nie. Ek het, veral op Youtube, my eie “navorsing” gedoen. Ek glo jy word gelei om te sien wat die waarheid is. Dit is vir my verskriklik belangrik. Almal om my dink ek het die kluts kwytgeraak en dat hulle eers met hulle Ds, Pastore, ens. sal praat. Wat my verbyster is dat ons so verkeerd geleer word. Is dit doelbewus of onwetend? Omdat alles vir my nou heeltemaal nuut is, weet ek nie hoe en waar om te begin nie. Ek het leiding nodig. Ek het nog nooit so dom in my lewe gevoel nie. Ek verstaan nie die nuwe kalender nie. En nog ‘n probleem is dat ek by ‘n stadion werk wat beteken ek werk elke tweede Saterdag. Ek bly in Johannesburg en weet nie van enige groepe waar ek kan aansluit nie. Het jy enige raad?

KOMMENTAAR

Dankie dat jy vrymoedigheid geneem het om te skryf. Sal probeer om van jou vrae te beantwoord, maar moenie huiwer om weer te skryf en te vra wat op jou hart is nie.

Gee predikante doelbewus verkeerde lering? Nie regtig nie. Hulle is geleer om op ‘n sekere manier na die Skrif te kyk en ander maniere te verwerp. Hulle is nie “oop” daarvoor om die Skrif bloot te lees soos dit na ons toe kom nie. Hulle sal dit nooit erken nie, maar is geïndoktrineer en dink vir geen oomblik dat hulle verkeerd is nie.

Vir iemand soos jy wie se oë vir die dinge begin oopgaan het wat duidelik in die Skrif staan maar wat leermeesters nie vir jou geleer het nie, is my raad om te begin deur eenvoudig daardie dinge te doen wat deur die Skrif geleer word – een vir een en bietjie vir bietjie. As jy ontdek het dat die Shabbat nooit geskrap is nie, begin om die Shabbatte waarop jy nie werk nie, te rus en jou af te sonder om die Woord te bestudeer. Kom in die patroon om nie jou inkopies op die Shabbat te doen nie. Bid intussen dat die Vader dit vir jou moontlik sal maak om elke Shabbat te rus. Ek glo dat Hy die begeertes van ons harte ken en ons gebede in hierdie opsig sal verhoor.

As jy oortuig is dat dit belangrik is om die Name van die Vader en sy Seun aan te roep, soos wat elkeen van ons voorlopers in die ou tyd dit gedoen het, begin om dit te doen in jou gebede, lofprysing en gesprekke met mense. Dit bring ‘n dimensie in ‘n mens se geloof wat onbeskryflik is. Kry vir jou ‘n vertaling soos Woord en Getuienis of The Scripures sodat jy nie elke slag “die Here” of “the Lord” lees waar daar eintlik “Yahweh” moes gestaan het nie. Gaan lees gerus op ons webblad vir meer inligting oor die feeste en ander aspekte van die Torah. Daar is ‘n handige soekvenster op elke bladsy waarin jy bloot die woord kan intik waaroor jy meer inligting verlang, byvoorbeeld “Pesag” of “Shavuot” of “onrein kosse”. Ook Engelse begrippe want daar is baie artikels in Engels. En skryf weer as jy ‘n spesifieke vraag of vrae het. Kyk op hierdie bladsy vir meer inligting oor groepe naby aan jou.