Romeine 14: Kos of Shabbat?

AM, Gauteng

Kan jy vir my meer lig werp op die gedeeltes in Rom 14: 5, 15 en 20? Hoe is dit van toepassing op die Shabbat en dan ook op die rein en onrein voedsel? Kommentaar

Rom 14 handel myns insiens glad nie oor die Shabbat nie en ook nie oor rein en onrein kosse nie. Dit sou baie vreemd gewees het as Shaul (Paulus) in ‘n afdeling wat uit die staanspoor oor kos handel (sien vers 2 en 3), ewe skielik van deuntjie verander en vir een en ‘n halwe vers (vers 5 en 6a) oor die Shabbat praat, net om daarna (bv. vers 6b, 14, 15, 17, 20, 21, 23) weer oor kos te praat. Daarby moet ons in gedagte hou dat die Shabbat “kwessie” tóé nog glad nie ‘n kwessie was nie! Dis eers heelwat later in die vroeë geskiedenis dat sommiges daarop begin aandring het dat “Joodse” gebruike soos die Shabbat nie nagevolg moet word. In Shaul se tyd was daar nog geen sprake van die verwarring rondom die Shabbat wat vandag wêreldwyd mense se verstaan van die Skrif belemmer nie.

Dieselfde geld ook ten opsigte van die verbod teen die eet van onrein kossoorte. Dit was eenvoudig nie ‘n kwessie nie omdat daar ‘n duidelike voorskrif in die Woord hieroor was. In die Handelinge tyd (met die “nuwe” bedeling waarin heelwat mense uit die heidendom by die ware geloof aangesluit het) was daar net enkele kwessies waaroor die apostels duidelike riglyne neergelê het, omdat hulle gemeen het dat die “nuwe” situasie dit genoodsaak het – en dan spesifiek ten opsigte van “kwessies” waaroor daar nie reeds duidelike voorskrifte in die Woord (Ou Verbond) bestaan het nie. Hierdie riglyne het onder meer bepaal dat gelowiges uit die heidendom nie verplig moes word om hulle te laat besny nie, maar hulle wel moes hou aan die verbod teen besoedeling deur enigiets wat met afgodery te make het (sien Hand 15). Die kos wat in sommige slaghuise verkoop is en wat sg. “aan afgode geoffer is” het onder hierdie tweede bepaling geresorteer, maar daar was ook baie “grys areas” wat toegelig moes word.

Hierdie twee aspekte was in baie van die jong gemeentes ‘n groot steen des aanstoots en daarom het Shaul dikwels hierna verwys in sy briewe. Die hele Rom 14 gaan oor die vraag of dit geoorloof is vir ‘n gelowige om vleis te eet wat (moontlik) vooraf aan afgode geoffer is. Die “dae” waarvan vers 5 en 6 praat, is na alle waarskynlikheid “vasdae” (soos verduidelik in die nota in Woord en Getuienis) – met ander woorde dae waarop hoegenaamd niks geëet moes word nie. Omdat hierdie “vasdae” te make gehad het met Joodse tradisies (en dus nie ‘n pertinente voorskrif van die Woord was nie) het Shaul hom daarvan weerhou om ‘n sterk uitspraak hieroor te maak.