Ons en die Jode

SV, Simonstad

In ‘n artikel wat ek gelees het (en vir jou gestuur het) lyk dit asof Yahwe die regte egte Jode op ‘n ander wyse gaan oordeel as ons nie-jode. Miskien moet ek dit net weer lees en oordink. Dit klink asof ons wat in Yeshua is, dit soveel makliker het. Die hou van al die commandments is nie ‘n oordeel oor ons nie, maar die liefdesgebod is die belangrikste en daaruit kom die begeerte om die gebod teenoor Yahwe en jou naaste te hou. In elk geval… die stukkie het my brein bietjie rondgeskud.

KOMMENTAAR

Eerstens miskien net ‘n waarneming wanneer dit kom by mense se opinies aangaande die verhouding tussen Joodse gelowiges en nie-Joodse gelowiges. Oor al die jare dat ek al probeer het om ‘n studie van hierdie komplekse verhouding te maak en onder meer na sogenaamde kundige mense se opinies gekyk en geluister het, het ek tot die slotsom gekom dat dit tot ‘n groot mate ‘n geval is van soveel hoofde, soveel sinne. Daar is ‘n warboel van verskillende idees daarbuite oor hierdie onderwerp en baie hiervan is direk in stryd met mekaar. Ek het dit nog altyd nodig gevind om te sif, sover as wat ek lees (of luister), selfs wanneer dit die opinie is van iemand in wie ek andersins groot vertroue het.

Ek kan saamgaan met baie van die stellings in hierdie artikel: Die funksie wat die tossels vir die Yehudiem het; sy siening dat daar nie van nie-Jode verwag word om die Torah op die “Joodse manier” te onderhou nie (dit kan duidelik in die Skrif in ‘n hoofstuk soos Handelinge 15 gesien word); die begeerte van sommige nie-Jode (soos ons) om nader aan die Yehudiem te beweeg omdat Yahweh nog steeds by hulle is en volhou met sy plan met hierdie volk wat Hy as die “appel van sy oog” geïdentifiseer het; die feit dat ‘n interpretasie van die Skrif, gestroop van die Hebreeuse oorsprong, duisende gelowiges op ‘n dwaalspoor laat beland het en die stelling dat dit net die “divine presence” is wat uiteindelik die mense van alle nasies sal help om in die weë van Yahweh te wandel.

Daar is egter vir my ‘n paar probleme in hierdie stuk. Daar word heeltemal te veel van die superioriteit en die leidende (en lerende) rol van die Yehudiem in die toekoms gemaak. Daar word myns insiens ook te veel klem geplaas op die “oral Torah” of die mondelinge oorleweringe wat vir meeste Jode presies net soveel gewig dra as die geskrewe Torah. Die hele korpus van mondelinge oorleweringe wat met die Torah te make het (en wat in geskrifte soos die Talmoed en die Mieshna vervat is) druis in baie gevalle ín teen die gees en die bedoeling van die geskrewe Torah en is myns insiens een van die vernaamste redes waarom soveel Jode nie vir Y’shua van Nasaret as die beloofde Messias kan aanvaar nie. Persoonlik dink ek nie dat ons vir ‘n dag of ‘n tyd in die toekoms moet wag vir Sag 8:23 om waar te word nie. Dit gebeur al reeds dat nie-Jode in hulle harte geraak word deur die besondere verhouding waarin Yahweh tot sy volk Israel staan en dat hulle (soos ons ook gedoen het) sê: “Ons wil met julle saamgaan want ons het gehoor dat Elohiem met julle is.” As ons met hulle “saamgaan”, dan word ons nie Jode nie. Ons bly nie-Jode wat in die Joodse Messias glo en wat dieselfde houding teenoor die Torah het as wat Hy gehad het. Ons probeer om nie die foute van die Jode te herhaal nie (hardnekkigheid; opstandigheid; doofheid vir die waarskuwings en die profesieë van die profete; versnippering, vermenigvuldiging, verandering en vervlakking van die Torah; die onvermoë om in Y’shua as die Messias te glo; die verwerping van die Messiaanse Geskrifte; ensovoorts).

Die skrywer is reg wanneer hy sê dat die Torah in die toekomstige bedeling geleer en geïmplementeer sal word, maar ek sien nie dat hierdie toepassers van die Torah slegs etniese Jode gaan wees nie. Dit sal hulle wees wat hulle hoop en verwagting in Y’shua as die Messias geplaas het en wat saam met hom as konings en priesters sal regeer. En die Torah wat hulle as maatstaf sal gebruik, sal “torah” of “torot” in die ware sin van die woord wees: Die “lering” of “leringe” wat van Yahweh af kom, wat in lyn sal wees met sy karakter en sy ewige boodskap, wat relevant vir daardie besondere tyd sal wees en wat nie op enige manier deur mense aangepas of verskraal sal word nie.

Hoe moet ons die Torah hou in die bedeling waarin ons op die oomblik is? In die gees en die gesindheid wat Y’shua geopenbaar het en waarmee Hy sy vroeë volgelinge geïnspireer het. Hierdie gesindheid is duidelik nie ‘n afskaffing of afwatering van die Torah nie, maar ‘n terugkeer na die eintlike bedoeling, naamlik liefde tot Yahweh en liefde tot die naaste – iets wat die Yehudiem in Y’shua se tyd tot ‘n groot mate verloor het. Plaas dit ‘n ondraaglike juk op ons skouers? Nee, want ons is deur die geloof aan Y’shua verbind en kan met groot oortuiging sy voorbeeld volg – sy juk is sag en sy las is lig!

Hoop dit help ‘n bietjie. Ons kan verder hieroor gesels as jy wil.