Om Pesag te hou as jy nie gedoop is nie

GA, Gauteng

Die Pasga begin binnekort en ek het nog nie regtig ‘n idee hoe om dit te vier/gebruik nie. Sommige sê dat ek nie die Nagmaal kan gebruik as ek nie gedoop is nie, ander sê weer dit maak nie saak nie want ons is onder die nuwe verbond. Verduidelik vir my asseblief stap vir stap hoe dit gedoen word. Ek het die Waarheid ‘n klein rukkie terug eers uitgevind en ek probeer soveel moontlik meer uitvind daaroor, ek dink dat ek partymaal eers probeer loop en ek sit nog nie eens regop nie!

KOMMENTAAR:

As jy toegang tot ons webblad het kan jy gerus die woorde “pesag” en “pesach” by die soekfunksie op die webblad (“Search our site”) insleutel en kyk na die artikels daar wat oor die pasga handel. Ons het gister by ons Shabbat diens ook oor hierdie tema gepraat en jy kan die notas en die audio boodskap HIER aflaai.

Ek sien niks in die Skrif wat iemand wat nie gedoop is, diskwalifiseer om aan die Pesag maaltyd deel te neem nie. Die Pesag maaltyd (wat eintlik die oorsprong van die begrip “nagmaal” is) was uiteraard aanvanklik net vir die Jode bedoel, maar die Skrif dui aan dat diegene wat tot geloof in die Messias gekom het by die “oorspronklike olyfboom” (Israel) ingeënt word en daarom ook deel kry aan al die voorregte van die verbond. Die doop van gelowiges in die Messias is ‘n baie belangrike element van ons “inlywing” by die Messias en daar behoort nie hiermee getalm te word nie, maar ek meen dat as iemand waarlik in die Messias glo en Yahweh wil behaag, dan mag hy/sy aan die Pesagmaaltyd deelneem.

“Hóé” hierdie maaltyd ingeruim word, is myns insiens nie so belangrik soos die “dat” nie. Pesag het geweldig betekenis vir ons (dink bv. aan die Messias se aankondiging, die aand voor sy dood, dat die beker die nuwe verbond in sy bloed is) en daarom moet ons die pesag vier – al is dit in ander se oë nie “op die regte manier” nie. Ons gebruik matzo’s (ongesuurde brood) en druiwesap by hierdie geleentheid en was ook mekaar se voete (na die voorbeeld van die Messias), vier ‘n fees met ‘n kort boodskap, lekker samesang en hou ‘n gesamentlike en gesellige ete, op voorwaarde dat daar geen kos met suurdeeg bedien word nie. Hierdie byeenkoms vind plaas e.k. Maandag aand hier in Vishoek, wat streng gesproke alreeds die eerste dag van Ongesuurde Brode is.

Verder maak ons vooraf ons huise skoon sodat daar in die week vanaf Maandag aand tot volgende Maandag aand geen suurdeeg in ons huise aangehou word nie. Aan die einde van die Week van Ongesuurde Brode (volgende Ma. oggend/middag hou ons weer ‘n gesamentlike byeenkoms en ete). Diegene wat werk, word aangemoedig om e.k. Dinsdag (die eerste dag van Ongesuurde Brode) en vlg. Maandag (die laaste dag van Ongesuurde Brode) verlof in te sit by hulle werk.

Dit, in kort, is hoe ons die komende fees benader. Hoop dit bring bietjie meer duidelikheid.